Lam ter slagting deur Madelein Rust: ’n lesersindruk

  • 2

Lam ter slagting
Madelein Rust
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799390063

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

“There is good and evil among every kind of people. It’s the evil among us who rule now.” (11)

Madelein Rust se Lam ter slagting (2018), ’n spanningsverhaal, handel oor die verdwyning van ses meisies wat ná drie dae se marteling in die Vrystaat se Nasionale Botaniese Tuin weggegooi word. Weens hul gesigbeserings is dit vir die polisie moeilik om die slagoffers te identifiseer.

As gevolg van die polisie se gebrek aan vordering met die saak word hulp van buite ingeroep. Renata Malan en Stefan Coetsee van die onafhanklike speuragentskap Malan & Coetsee word aangestel om die polisie met die ondersoek te ondersteun.

Aanvanklik is daar min leidrade, wat tot weinige vordering in die saak lei (16–7). Dit is eers met die identifisering van die eerste slagoffer dat Renata en Stefan se aandag op ’n eienaardige kerk, die Noagsgemeente, gevestig word. Dit word vir hulle gou duidelik dat hierdie kerk ’n verskuilde kultusgroep is wat lede breinspoel om hulle oorspronklike lewe en identiteit prys te gee. Lede van die kerk skenk baie of al hulle geld en besittings aan die kerk en gaan lewe op een van die kerk se plase. So, glo die lede, reinig hulle hulself van hul ou sondige lewe en word hulle deel van God se uitverkorenes. Dit is by hierdie kerk waar Malan en Coetsee aansienlik sukkel om inligting oor die vermiste meisies te kry (82–90).

Sake raak nog meer eienaardig wanneer die patoloog, Samuel Akande, aankondig dat die slagoffers soortgelyke beserings toon as beserings wat tydens seksspeletjies by ’n kerker in die dorp opgedoen word (120–1). Verder blyk dit dat die moordenaar deur ’n groep Vrymesselaars versteek word (141–5, 218–26)

Madelein Rust | Foto: Gert Duvenage

Madelein Rust spandeer in haar roman heelwat tyd daaraan om die leser te mislei en die moordenaar tot aan die einde te versteek. Dit word bewerkstellig deur Renata en Stefan wat heelwat rondry en mense ondervra en dreig, polisie wat hulle agtervolg, die kerk wat nie veel samewerking toon nie, ander karakters wat vermoor word, en verskeie doodloopstrate of valse bewerings. Alhoewel sy haar taak goed uitvoer, veroorsaak dit dat die verhaal uitgerek word. Dit is ook effens frustrerend dat die grootste deel van die boek daaraan gewy word om die leser te mislei, terwyl die ontrafeling van die moorde in drie kort hoofstukke uiteengesit word. Die karakter wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir die meisies se verdwyning en marteling, maak ook nie eens ’n verskyning in daardie toneel nie. Dit is ’n groot antiklimaks.

Verder word daar nie veel diepte aan die karakters in die roman gegee nie. ’n Voorbeeld hiervan is dat daar min verduideliking gegee word waarom Stefan en Renata beide in ’n kinderhuis was:

"Is die Piet ’n sociopath, Kleinmuis?" Die naam wat Stefan haar in die kinderhuis gegee het ... (19)

Dit is die enigste verwysing na die feit dat beide hierdie karakters in ’n kinderhuis was. Daar word geen verdere verduideliking of herinnering van hul tyd in die kinderhuis aan die leser verskaf nie. Dit is asof die skrywer hierdie feit gebruik bloot om ’n stereotiepe karakter aan die leser oor te dra, byvoorbeeld dat beide Stefan en Renata moeilike lewens gehad het en nie mense vertrou nie. Al waar daar ‘n bietjie meer verduideliking gegee word, is wanneer Renata oor haar pa nadink:

Daar is te veel van haar pa in haar, te veel van George Alfred Hill wat in haar skuil. Soos die res van die moordenaars in haar familie het George Alfred Hill nog altyd ’n goeie rede gehad vir moor ... Sy haat hom nie meer oor die tien seksmisdadigers se gewelddadige dood nie, nie eens meer oor haar ma en grootouers se dood daarna nie. (32–3)

Al wat daar verder met bostaande inligting gedoen word, is dat Renata nie met Stefan in ’n verhouding wil tree nie omdat sy bang is vir die familiemoordgeen wat in haar skuil. Rust slaag egter nie daarin om Renata se innerlike struweling daaroor effektief oor te dra nie. Renata is bekommerd daaroor hoofsaaklik wanneer sy ’n lewe saam met Stefan begeer:

"Stefan Coetsee het toe vir iemand anders geval." Die hond draai sy kop skeef en bestudeer haar. "Ek sê maar net dat jy ook weet." ’n Groot sluk wyn. ’n Volbloedman soos Stefan kan seker ook net so lank geduldig wees terwyl sy die gemors in haar kop probeer opruim ... "Liewe Vader, stel jou net voor hoe dit sou wees as ek en hy saam was. Geen kinders nie, want my gene kweek moordenaars. En stel jou voor hoe dit vir hom sal wees as ek so mal word soos my voorsate en mense begin vermoor." (32)

Aan die einde van die roman, wanneer Renata op die moordenaar se hakke is, ervaar sy ’n ontstellend lekker gevoel as gevolg van die adrenalien: “Daardie onheilige opgewondenheid bruis deur haar” (287).

Die innerlike konflik oor haar familiegeskiedenis en gene kon egter sterker oorgedra gewees het, byvoorbeeld deur terugflitse van haar kinderdae en tyd in die kinderhuis, nagmerries en ’n konfrontasie met die moordgeen wanneer sy die moordenaar opgespoor het. Daar is ’n geleentheid aan die einde van die roman waar Renata haar diepste bekommernisse en begeertes aan Stefan ontbloot:

"Is jy okay Kleinmuis?" Sy snik. "Ek is ’n moordenaar, Stefan. Ek het die moordgeen. Al die biologiese merkers wat wys wie en wat ek is. Ek was nog altyd te bang ..." En sy kruip in die holte van sy gesonde arm in en vertel hom van die vrees en die dinge wat die toekoms vir haar en die mense in haar binnekring mag inhou. (301)

Die manier waarop Madelein Rust dit aan die leser oordra, ontneem die toneel van erns en trefkrag. Rust vertel vir die leser wat gebeur eerder as om dit uit te beeld deur die karakters se dialoog en aksies. Dit rammel die toneel af en maak dit onnodig dramaties en vlak.

Die titel van die roman verwys na die slagoffers wat as lammetjies opgeoffer word tydens die proses van reiniging (284). Die moordenaar offer hulle op omdat hulle volgens die moordenaar se perspektief nie rein genoeg is nie en dus gereinig moet word. Verder klink die titel soos ’n direkte vertaling van Roald Dahl se kortverhaal “Lamb to the slaughter” (1953) – ’n kortverhaal wat handel oor ’n vrou wat haar man vermoor met ’n bevrore lamsboud teen die kop en wat dan later die moordwapen laat verdwyn deur dit aan die speurders te gee om te eet. Daar is egter geen ooreenkoms tussen Dahl se kortverhaal en Rust se roman nie, dus dra die ooreenkoms tussen die titels niks waarde by nie, maar veroorsaak wel dat die titel moontlik onoorspronklik kan voorkom.

Ten spyte van my kritiek, was die roman ’n lekker tydverdryf gewees. Dit het die potensiaal om genot aan vele ander lesers te verskaf.

  • 2

Kommentaar

  • Irene, ek kan nie help om te wonder of jy die eerste twee boeke in die reeks gelees het nie? Dalk sal jou vrae dalk beantwoord gewees het.

  • In haar vorige boeke is die kinderhuis en Alfred Hill-storie mooi uiteengesit. Om alles nou weer te wou verduidelik sou net papier mors.
    Was omtrent 'n lekkerlees en ek kan nie wag vir die volgende boek nie. Al Madelein se boeke is elke sent werd.
    Terloops, ons hoofkantoor is naby die Ou Mark, en ek gaan gereeld daar verby. Maar nou check ek die plek vreemd uit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top