Drie moorde in die baai deur Madelein Rust: ’n lesersindruk

  • 0

Boekomslag: Drie moorde in die baai deur Madelein Rust (Human & Rousseau, 2025)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Drie moorde in die baai
Skrywer: Madelein Rust
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798185080

.......
Ek was presies halfpad deur die boek toe die nuus van haar heengaan breek. Ongetwyfeld het ek verder gelees met elke woord wat tot ’n mate heiliger gevoel het. 
.......

Karakters wat in jou hart inkruip, ’n gemaklike vertelstyl en spanning wat jou deur die bladsye laat vlieg, is die wenresep vir Madelein Rust se laaste roman, Drie moorde in die baai, wat onlangs verskyn het.

Ek was presies halfpad deur die boek toe die nuus van haar heengaan breek. Ongetwyfeld het ek verder gelees met elke woord wat tot ’n mate heiliger gevoel het. Ek het ook met nuwe oë na die heldin, Bianca Fabrious, gekyk.

Die storielyn hou by die eenvoudige resep van ’n klein kusdorpie, veelkleurige karakters en drie moorde. Die verdagtes spring uit om elke hoek en draai, en die leser is daar om elke oomblik mee te maak.

Ek het redelik gemaklik deur die eerste 100 bladsye gekom, want ek het geweet die skrywer sal nie teleurstel nie, en sy het nie. Die soetigheid van die skielike aksie het die verhaal kort daarna laat stoomroller.

Die bruismeel in die verhaal is die feit dat jy wéét daar word drie moorde gepleeg – aldus die titel. Jy bly in jou agterkop wonder: Who’s next?

.......
Die bruismeel in die verhaal is die feit dat jy wéét daar word drie moorde gepleeg – aldus die titel. Jy bly in jou agterkop wonder: Who’s next?
.......

Ja, dit is ’n whodunnit, maar hierdie keer met ’n chick lit flair. Kyk maar na die voorblad en Bianca Fabrious se taalgebruik en van – wat ek in my gedagtes na Fabulicious toe verander het.

In chick lit word sekere aannames oor vroue gemaak – die heldinne word as sterk vroue uitgebeeld wat aanvanklik deur een of ander krisis gaan, maar wat nie meer aan die slagoffermentaliteit vasklou as hulle sterker aan die anderkant uitkom nie (Ragaišienė 2008:70). Ons heldin, Bianca, is die toonbeeld van dapperheid en innerlike transformasie.

Balducci (2011:37) meen dat as daar na romantiese verhoudings in chick lit gekyk word, die fokus meer op die vroue se groei en ontwikkeling in die verhouding is, waar daar in ’n tradisionele roman na beide die man en vrou se ontwikkeling in die verhouding as fokuspunt gekyk word. Ja, Bianca se romantiese belangstellings is wel daar, maar dit is nie die end all en be all nie.

Elke hoofstuk is ook in maklik verteerbare porsies opgedeel wat in ’n goeie ritme gelees kan word.

Haar woordgebruik is soos speserye wat keurig gekies is. My gunsteling is wanneer sy van “regstellende werk” op bladsy 169 praat. Die benamings van Hilux, die kat, en Kaptein Ken maak die buitelyne van die karakters duideliker.

Die slothoofstuk som alles in ’n neutedop op. Ek sou egter die proeseltjies langer wou uitrek, net soos my gunstelingnagereg wat nie moet opraak nie.

Ek beveel Drie moorde in die baai beslis aan; nie net omdat dit die skrywer se laaste roman is nie, maar omdat sy dit regkry om lesers vir ’n wyle na ’n ander wêreld te neem.

Bronne:

Balducci, F. 2011. A different shade of pink: literary thresholds and cultural intersections in Italian chick lit. Doktorale proefskrif. Victoria: University of Wellington.

Ragaišienė, I. 2008. Chick lit as the new woman’s fiction: inscriptions in Marian Keyes’s novel “Watermelon”. Literatura, 50(5):70.

Lees ook:

LitNet wag op jou lesersindruk!

Moederland deur Madelein Rust: ’n boekresensie

Siembamba deur Madelein Rust: ’n lesersindruk

Stefaans Coetzee in gesprek met Madelein Rust

Madelein Rust: ’n huldeblyk

Madelein Rust deur my lens

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top