Lynthia Julius is LitNet en die Tuishuise se tweede inwoonskrywer op Cradock

  • 0

Die Tuishuise en Victoria Manor, Cradock

...
Tydens dié verblyf kan skrywers vir ’n maand lank sonder sorge in die Karoodorp tuisgaan om in betreklike stilte en afsondering aan ’n skryfprojek te werk.
...

Lynthia Julius (Foto verskaf)

Lynthia Julius het ’n sagte plekkie vir die underdog, soos haar ma se oom, Broertjie.

Sy vertel:

Broertjie het in sy dae verskriklik gesteel en die ou was kort-kort tronk toe, maar die ding wat ons nou nog laat lag, is dat Broertjie drie keer een hond gesteel het en drie keer daai selfde hond verkoop het. Ek kom vandag op ’n brief af wat Broertjie in 1994 vir my ma uit die tronk gestuur het. Ek is in 1993 gebore. Ek weet daai brief moet ’n kortverhaal word. Broertjie is een van die slimste mense wat ek ken en as goed anners was, wie weet, dalk het Broertjie eendag ’n prof geword.

Geleenthede kom nie vir almal nie, en soms moet jy maar ore toedruk om vorentoe te kom. Lynthia Julius weet maar te goed. Waar sy bly, lawaai die studente soms “tot die oggendure en jy kan maar vergeet van die verskil tussen showing en telling in jou kortverhaal.”

Kortverhale. Dit is einste waaraan Lynthia gaan werk daar in Cradock as LitNet en die Tuishuise se tweede inwoonskrywer.

Hier in Cradock kan ’n skrywer rustig skryf

Haar omstandighede het haar nie gekeer om haar meestergraad in skeppende skryfwerk, onder leiding van Francois Smith en Henning Pieterse, te voltooi nie. As deel van haar verhandeling het sy ’n tweede digbundel, Klipkont, geskryf wat tans wag op keuring by ’n uitgewery.

Julius lees voor uit haar debuutbundel

Haar eerste bundel, Uit die kroes, is bekroon met ’n Suid-Afrikaanse Letterkundeprys. Dit het ook die kortlyste gehaal van die UJ-debuutprys, die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys.

Julius het in 2017 die Avbob-kompetisie gewen. Sy het onlangs met haar PhD begin en het pas as dramaturg gedebuteer met My kroon se krank, wat sy saam met Veronique Jephtas geskryf het.

Hoe dan nou die prosa wat sy wil skryf? Sy sê oor haar studieleier: “Francois Smith het van ek in my eerste jaar was van my MA vir my gesê ek moet begin fokus op prosa. Ek het niks gesê van die folder op my laptop wat klaar daar was met my kortverhale in nie.”

Rede om te glimlag

Boonop wen sy in 2022 die US Woordfeesbundel se kortverhaalwedstryd met “Plat lê soos ’n Minora blade”. Dit is ’n keiharde verhaal oor ’n moderne jong vrou wie se boyfriend haar verlaat het, wat in gesprek is met Jesus. By geleentheid sê die Jesus-figuur vir haar: “As jy maar net jou mans so versigtig gekies het soos jy ’n 5 kg-hoendersak by Shoprite uitkies. Dan het jy nie nou so hartseer hier gesit nie.”

Die meisie antwoord hom dan: “My ouma het gesê jy moet nooit ’n man in die kerk vat nie. Kerkmanne slat vir jou onner jou rok in. En hulle tel elke stuk hoender in die Shoprite-sak.”

Lynthia Julius en Grant Jeftas

En nou wil Lynthia die tyd in Cradock gebruik om aan die res van haar verhale te skaaf. Sy sê:

Ek was in 2000 in graad een en in 2011 in matriek en in daai klomp jare het ons nie een keer op skool ’n gedig, ’n kortverhaal of ’n roman behandel wat gaan oor die Noord-Kaap nie. Ek het geweet as ek nie sulke literatuur op rakke sien van boekwinkels nie, moet ek dit self skryf.

Met die instelling van Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap bring LitNet goeie nuus vir skrywers wat ruimte nodig het om ongestoord met die muse, of met wifi-passwords van Jerusalem, in gesprek te tree.

Julius verduidelik: “In die Noord-Kaap praat ons nie van godsmanne nie. As jy ’n godsman is, is jy ’n wifi password van Jerusalem.”

Sedert 2022 word die inwoonskrywerskap jaarliks deur LitNet en die Victoria Hotel en Tuishuise in Cradock aangebied. Tydens dié verblyf kan skrywers vir ’n maand lank sonder sorge in die Karoodorp tuisgaan om in betreklike stilte en afsondering aan ’n skryfprojek te werk.

Bibi Slippers in die Victoria Manor in Cradock

In 2022 het LitNet en die Tuishuise die digter Bibi Slippers genooi om as intreeskrywer van die geleentheid gebruik te maak. Sy en haar windhond, Matilda, het ’n maand lank die stilte van die Karoo benut.

Toe Bibi hoor Lynthia is die volgende skrywer, was haar woorde: “Ek is so bly vir Lynthia – sy is ’n force!”

Sy het toe ’n boodskap aan Julius gestuur:

Ek het roetine en klein rituele baie nuttig gevind om vir myself ’n bietjie struktuur te skep, sodat die tyd nie oorweldigend voel nie.  

Probeer soveel as moontlik te voet deur die dorp te beweeg. Dit was ’n heerlike manier om Cradock te verken.

Maak geselsies met die plaaslike mense! Mens hoor allerhande snaakse stories, en almal wil vir jou ietsie gaan wys of jou aan iemand voorstel.

As dit koud raak in die Tuishuisie, kan jy lekker in die son gaan sit en skryf by True Living, of enige van die ander kafees en restaurante in die binnehof by die klein Albertstraat-kompleksie.

Ek hoop jy gaan ’n wonderlike tyd hê.

Groete en liefde vir Lisa en al die lieflike mense van Cradock!

Lisa Antrobus-Ker

Lisa, hier bo genoem, is Lisa Antrobus-Ker, die bestuurder van die Tuishuise en Victoria Manor, ook die organiseerder van die Schreiner Karoo Skrywersfees. Sy vertel graag oor Etienne van Heerden, LitNet se redakteur:

Etienne het aan baie van sy romans hier by ons kom werk, en ons was uit die staanspoor opgewonde toe hy die idee van die inwoonskrywerskap die eerste keer geopper het. Die Tuishuise en Victoria Manor is ’n straat van stories; ons is passievol oor letterkunde en die Karoo.

’n Straat van stories

Van Heerden het sy jeugjare in Cradock en die Karoo deurgebring. Beide is ’n sentrale gegewe in sy boeke. Cradock is ook die tuiste van die Etienne van Heerden Veldsoirée, ’n fees wat deur Darryl David gereël word, en van die Schreiner Karoo Skrywersfees

Lynthia Julius gaan op 1 Julie 2023 haar intrek in die straat van stories neem.

’n Vrou met ’n lieflike bos hare en ’n groot lag

Verlede jaar was daar ’n windhond om Bibi Slippers aan die beweeg te hou. Hierdie jaar kan Cradock se inwoners op die uitkyk wees vir ’n vrou met ’n lieflike bos hare en ’n groot lag. Hou haar maar dop; sy sal ál op die spoor van die underdog loop.

  • Foto’s: Izak de Vries, tensy anders vermeld
Lees ook:

Om te skep: Cradock-paragrawe en lesse van lepels

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap: Doen nou aansoek vir 2023

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: ’n sagte landing vir Bibi in Cradock

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo

My kroon se krank by die KKNK, ’n resensie

"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"

Eietyds en eiesinnig: Lynthia Julius "vry met getroude sinne / en ligtekooi met reëls"

US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

Huis, woning, tuiste: Lynthia Julius se inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top