Aangebied deur LitNet, in samewerking met die Victoria Hotel en Tuishuise, Cradock
Skrywers wat in 2023 vir ’n maand lank rus en vrede nodig het om tyd aan kreatiewe skryfwerk in enige genre te bestee, kan nou aansoek doen vir Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap op Cradock. Dié projek is verlede jaar van stapel gestuur met Bibi Slippers wat as genooide intreeskrywer van die geleentheid gebruik gemaak het.
Die oogmerk van Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap is om aan skrywers wat ruimte nodig het om ongestoord met die muse in gesprek te tree, sorgelose verblyf vir ’n maand in die Karoodorp te bied om in relatiewe stilte en afsondering aan ’n skryfprojek te werk. Die skrywer sal gratis as gas van die Victoria Manor en Tuishuise se selfversorgingshuisies tuisgaan. Hy of sy kan vir 30 dae bly tydens ’n periode wat met die Victoria Manor en Tuishuise beding sal word. Hierdie tydperk sal in die maande Mei, Junie en Julie val.
Aansoekers moet asseblief teen Donderdag 30 Maart 2023 ’n curriculum vitae, ’n halwebladsy-opsomming van die projek waaraan gewerk sal word, en ’n kort motiveringsbrief na Inwoonskrywer@litnet.co.za stuur. ’n Paneel sal daarna ’n een skrywer in konsultasie met die Victoria Hotel en Tuishuise aanwys. Die suksesvolle kandidaat sal vroeg in April 2023 op LitNet aangekondig word.
Van inwoonskrywers word verwag om tydens die verblyf minstens een besoek aan ’n skool in die Cradockse gemeenskap te bring om met leerders en/of opvoeders oor skrywerskap, boeke en lees te gesels. Indien die inwoonskrywerskap met ’n skrywersfees in Cradock saamval, moet die skrywer bereid wees tot een optrede by die fees. LitNet sal ook onderhoude met die skrywer voer en op sosiale media oor die skrywer se ervaring berig.
Van die suksesvolle kandidaat sal verwag word om ’n artikel vir publikasie aan LitNet te lewer na afloop van die verblyf. Lees gerus Bibi Slippers se artikel wat verlede jaar ná haar inwoonskrywerskap op LitNet gepubliseer is:
Die inwoonskrywer sal self verantwoordelik wees vir reiskoste na Cradock, maar LitNet sal R5 000 bydra om dié onkoste te help dek. Etes is nie by die verblyf ingesluit nie. Indien die inwoonskrywer ’n lewensmaat het, is dié persoon welkom om ook gratis tydens die inwoonperiode in die Tuishuis oor te bly.
Etienne van Heerden, LitNet se redakteur, is as skrywer terdeë bewus van die waarde wat ’n skrywersverblyf bied. “Ek het in my lewe só lekker gewerk in skrywersverblywe in onder meer Iowa City, Amsterdam en op die eiland Sylt dat ek nog altyd gehoop het dat ek kan help om iemand vir ’n maand Karoo toe te laat gaan.”
Etienne se verbintenis met Cradock en die Karoo loop nie net terug tot sy jeugjare nie; dit is ook ’n sentrale gegewe in sy boeke. Cradock is ook die tuiste van die Etienne van Heerden Veldsoirée en van die Schreiner Karoo Skrywersfees, waar hy gereeld ’n gas is. Een van die Victoria Hotel se Tuishuise is juis na Etienne vernoem.
Lisa Antrobus-Ker, organiseerder van die Schreiner Karoo Skrywersfees en eienaar van die Victoria Hotel en Tuishuise, som Etienne se verbintenis met die dorp op: “Etienne het aan baie van sy romans hier by ons kom werk, en ons was uit die staanspoor opgewonde toe hy die idee van die Inwoonskrywerskap die eerste keer geopper het. Die Tuishuise en Victoria Manor is ’n straat van stories; ons is passievol oor letterkunde en die Karoo.”
Bibi Slippers het as intreeskrywer tydens haar verblyf aan ’n nuwe digbundel gewerk. Sy het soos volg oor haar ervarings berig:
Lees LitNet se onderhoud met Bibi Slippers oor Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap:
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo
Besoek die webtuiste van die Tuishuise & Victoria Manor.
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.