kykNET-Rapport Boekpryse: Kortlyste aangekondig

  • 0

Ná maande van intense leesplesier deur die keurders is die kortlyste vir vanjaar se kykNET-Rapportpryse sowel as die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe skryfwerk pas bekend gemaak. Dié pryse word toegeken vir Afrikaanse boeke wat in 2016 verskyn het.

Soos verlede jaar bevat die kortlyste vir die kykNET-Rapportpryse vir fiksie die name van gevestigde skrywers sowel as van debuutskrywer Valda Jansen met haar besondere elegie aan verlore liefde, Hy kom met die skoenlappers. Laasgenoemde is ook benoem vir die Jan Rabie-Rapportprys. ’n Handvol ander sterk vrouestemme het eweneens hul kleim afgesteek met buitengewoon ryk verhale. Celesté Fritze (Verlorenkop), Ilse van Staden (Goeie dood wat saggies byt), Anneli Groenewald (Die skaalmodel) en Hester Kruger (Een nag en ’n bietjie) verdien spesiale vermelding. Krimi-skrywer Karin Brynard bevind haarself met Tuisland, ’n misdaadverhaal wat die lot van die Kalahari-San belig, ook op die kortlys van twee pryse, fiksie sowel as film.

Die verkenning van die verlede – en verre verlede – gee steeds perspektief vir die huidige generasie, soms deur die oë van ’n historiese figuur, soms deur dié van ’n gelouterde expat. Daar word veral gewoeker met die Afrikaanse Suid-Afrikaner se plek in ’n groter wêreld. Opvallend is die groeiende besef van ’n huidige geslag se verantwoordelikheid teenoor toekomstige generasies sowel as die omgewing.

By niefiksie in Afrikaans domineer temas uit en oor die geskiedenis steeds. Hoewel dit haas ongelooflik is dat die Anglo-Boereoorlog steeds, ná soveel boeke reeds daaroor verskyn het, die primêre historiese verwysingspunt bly van waar skrywers in Afrikaans hulle Afrikaneridentiteit en -geskiedenis beskou, is daar tog boeke wat iets nuuts en werklik besonders daaroor gelewer het. Daar is egter ook welkome bydraes oor die filmgeskiedenis, kosgeskiedenis, persgeskiedenis en kunsgeskiedenis. Ook die lewe van ’n gesoute geskiedskrywer word verhaal.

Die keurders van die filmprys het ’n ryk keuse gehad met die sterk temas en sprankelende dialoog wat die inskrywings opgelewer het.

Die kykNET-Rapport-kortlyste vir 2017 (alfabeties) is soos volg:

Niefiksie

Broedertwis, Albert Blake (Tafelberg)

Lees Lina Spies se LitNet Akademies-resensie-essay.

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, Elsabé Brits (Tafelberg)

Lees Naomi Meyer se onderhoud met Elsabé Brits en Elsabé Brits se essay oor Emily Hobhouse.

Hermann Giliomee: Historikus – ’n outobiografie, Hermann Giliomee (Tafelberg)

Lees Heinie Heydenrych se resensie.

Daar doer in die fliek, Leon van Nierop (Protea Boekhuis)

Lees Reinhardt Fourie se resensie.

Die groot drie, Francois Verster (Penguin)

Lees Naomi Meyer se onderhoud met François Verster.

Fiksie

Tuisland, Karin Brynard (Penguin)

Lees Wilna Adriaanse se resensie en kyk ’n video van die boekbekendstelling waar Irna van Zyl met Karin Brynard gesels.

Huilboek, Ryk Hattingh (Human & Rousseau)

Lees Reinhardt Fourie se resensie en Naomi Meyer se onderhoud met Ryk Hattingh.

Hy kom met die skoenlappers, Valda Jansen (Human & Rousseau)

Lees Karin Schimke se resensie en Naomi Meyer se onderhoud met Valda Jansen.

Op ’n dag, ’n hond, John Miles (Human & Rousseau)

Lees Naomi Meyer se onderhoud met John Miles en kyk ’n video van die boekbekendstelling waar Louise Viljoen met John Miles gesels.

1795, Dan Sleigh (Tafelberg)

Lees Heilna du Plooy se LitNet Akademies-resensie-essay.

Film 2017

Tuisland, Karin Brynard (Penguin)

Lees Wilna Adriaanse se resensie en kyk ’n video van die boekbekendstelling waar Irna van Zyl met Karin Brynard gesels.

Dorado, Tom Dreyer (Penguin)

Lees Louise Viljoen se resensie en kyk ’n video van die boekbekendstelling waar Dawid de Villiers met Tom Dreyer gesels.

Koors, Deon Meyer (Human & Rousseau)

Lees Elzette Steenkamp se LitNet Akademies-resensie-essay.

Al wat ek weet, Marita van der Vyver (Lapa)

Lees Naomi Meyer se onderhoud met Marita van der Vyver.

Pirana, Rudie van Rensburg (Queillerie)

Lees Naomi Meyer se onderhoud met Rudie van Rensburg.

Die keurders vir vanjaar se fiksietoekenning was die joernalis en koördineerder van die US Woordfees se boekeprogram Elmari Rautenbach, die ouduitgewer Frederik de Jager, prof. Steward van Wyk (UWK) en die rolprentvervaardiger Gerrit Schoonhoven. By niefiksie het dr. Irma du Plessis (UP), Darryl David (UKZN), prof. Herman Wasserman (UK) en filmvervaardiger Hermann Binge die stiplees gedoen.

Wenners in beide die fiksie- en niefiksiekategorie ontvang elk R200 000, en die wenner van die filmprys R100 000.

Jan Rabie-Rapportprys

Die wenner van die Jan Rabie-Rapportprys vir Afrikaanse debuutromans ontvang R35 000. Ook hier het vroueskrywers hulself laat geld – agt uit die tien titels wat vanjaar ingeskryf is, kom uit ’n vrouepen. Die kortlys (in alfabetiese volgorde) is soos volg:

Verlorenkop, Celesté Fritze (Queillerie)

Lees Janien Linde se resensie en Naomi Meyer se onderhoud met Celesté Fritze.

Die skaalmodel, Anneli Groenewald (Tafelberg)

Lees Francois Verster se resensie en Naomi Meyer se onderhoud met Anneli Groenewald.

Hy kom met die skoenlappers, Valda Jansen (Human & Rousseau)

Lees Karin Schimke se resensie en Naomi Meyer se onderhoud met Valda Jansen.

Die keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys was die digter en skrywer Danie Marais; die boekjoernalis Elna van der Merwe en die ouduitgewer en skrywer Kerneels Breytenbach.

Die wenners van beide pryse, sowel as dié van die kykNET-Rapport-resensiepryse, word op 30 September 2017 by ’n prysfunksie in Kaapstad aangekondig. Die kortlyste vir die resensiepryse word later in Augustus bekend gemaak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top