Die groot drie: ’n onderhoud met François Verster

  • 0

Die groot drie
François Verster
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776090181

François Verster vertel vir Naomi Meyer van sy boek Die groot drie, wat pas benoem is vir die kykNET Rapport-boekprys se niefiksieafdeling.

François, Die groot drie is pas benoem op die kortlys van niefiksieboeke vir die kykNET Rapport-boekprys. Baie geluk! Wie is hierdie groot drie na wie die titel verwys?

Dankie Naomi. Dis DC Boonzaier, TO Honiball en Fred Mouton. Hulle is die enigste voltydse spotprenttekenaars wat Die Burger sedert sy ontstaan in diens gehad het. Daar was soms, baie selde, persone wat uitgehelp het as iemand siek was, soos Jacques van Wyk, Maree Mouton en Johan Stapelberg, maar Boonzaier, Honiball en Fred Mouton het elkeen minstens 30 jaar lank gereeld spotprente geteken.

Jy is die argivaris van Naspers, en ek neem aan dat die geskiedenis jou interesseer. Waarom het hierdie drie spotprentkunstenaars jou genoeg aangegryp om navorsing oor hulle te doen?

Inderdaad, dalk selfs in oordaad: ek het kwalifikasies in algemene geskiedenis (honneurs), ekonomiese geskiedenis (MA), kultuurgeskiedenis (DPhil) en mediageskiedenis (MA), en was ook geskiedenisonderwyser, dus is my belangstelling in geskiedenis onteenseglik daar. Ek dink ek het van kleins af van ’n goeie storie gehou en geskiedenis op skool is die een vak wat immers hieraan voldoen. Verder is beide Boonzaier en Fred Mouton verlangs familie, dus het ek altyd by my ouers van hulle gehoor. Ek en my broer teken en skilder ook van jongs af, en ons ouers is ook kunstig, so dis dalk maar in die bloed. Ek self het ook illustrasies vir ’n paar boeke gedoen en almal sê altyd Fred se invloed is nogal merkbaar – ek beskou dit as ’n groot kompliment! Ek het ook van so lank ek kan onthou strokiesboeke gelees en Honiball se Adoons-hulle was ’n gunsteling. Toe ek in 2007 vir Naspers kom werk het, het ek reeds besef dat dit uitsonderlik is dat ’n koerant in 100 jaar net drie spotprenttekenaars gehad het, en van daar dan later die boek. Ek hoop om in 2018 met ’n boek oor Boonzaier se lewe te begin.

Handel die boek net oor hierdie spotprentkunstenaars? Of handel dit ook oor die geskiedenis van die Afrikaanse pers?

Dit handel hoofsaaklik oor die werk van die spotprenttekenaars, maar daar is ’n gedeelte oor Die Burger se ontstaansgeskiedenis en oor die land se geskiedenis ter wille van konteks. Die leser moet ’n gevoel van die verskillende historiese tydperke kry en bewus wees van tydsgees.

Die onverwagsheid van humor, die kommentaar wat dit uitspreek, die gevaar van satire. Wat het jy tydens jou navorsing uitgevind omtrent hierdie drie kunstenaars – en wat het jy vasgestel omtrent die nasie wat vir hulle lag (of wat vir hulle kwaad word)?

Humor en satire werk natuurlik die beste as die leser die boodskap snap en die uitgebeelde persone herken, so hoe beter die lesers ingelig is, hoe groter is die spotprent se trefkrag. Sedert die Anglo-Boereoorlog (veral) het die Afrikaanse burgers verpolitiseer, en toe Die Burger op die toneel kom (juis as hulle mondstuk), was geletterdheid redelik laag, maar hulle kon die spotprente verstaan, want hulle was bekend met die politiek en die rolspelers. Die gevaar van satire is net dat jy nie die mán te veel moet speel nie, eerder die bal – val die onreg aan wat gepleeg word, nie alewig die persoon wat dit pleeg nie, anders kan die simpatie na die oortreder verskuif. Geen volk hou daarvan om tereggewys te word nie; almal wil glo hulle is die goeie ouens en die slagoffers – Suid-Afrikaners is geneig tot ’n slagoffermentaliteit – so dis beter as ons eie spotprenttekenaars ons herinner aan ons vooroordele. Daarom is dit goed dat die politieke-spotprent-toneel nie meer die alleenspeelplek van wittes is nie. Honiball was bekend as die persoon wat Afrikaners vir hulself leer lag het, dog deur die gebruik van bobbejaankarakters wat enige kultuur kan verteenwoordig.

Kan jy een spotprent van elkeen van hierdie kunstenaars uitsonder wat vir jou uitstaan as die mees treffende?

Sjoe, hulle het elkeen duisende prente geteken. Hoewel al drie uitstekende politieke prente geteken het (Fred steeds), het Boonzaier dalk tog die skerpste penprikke gemaak – hy was die politieke dier, die aktivis, van die drie, en Honiball was ’n goeie strokiesverhaalskepper, vol kaperjolle en humor, en Fred die beste "all-rounder" van die drie wat estetika, boodskapoordrag en goedige humor by tye betref.

Drie prente, werklik redelik arbitrêr gekies, want daar is net te veel:

Honiball het hier vir Jan Smuts as ’n liegbek uitgebeeld, want hy plaas hom in die geselskap van Oom Kaspaas, ’n eie skepping en destyds baie bekende Afrikaanse grootliegkarakter – so beweer Honiball dan dat jy nie vir Smuts ernstig kan opneem nie.

Fred Mouton gebruik die metafoor van "uit die kas kom" hier treffend: hy gooi dit egter netjies om, sodat die kerk uit die kas moet kom, nie die gay lidmate nie. ’n Treffende aanklag teen ’n magtige instansie, maar steeds vol deernis.

Boonzaier se grootste skepping, die fiktiewe Hoggenheimer, wat hy talle male gebruik het om kapitalisme aan te val. Hoggenheimer was so bekend dat hy selfs in woordeboeke opgeneem is. Sy neus en sigaar kon net om ’n hoek uitsteek, dan weet die lesers wie dit is. Hier beeld Boonzaier hom as ’n standbeeld vir kapitalisme uit.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top