Boekresensie: Daar doer in die fliek deur Leon van Nierop

  • 0

Titel: Daar doer in die fliek: ’n persoonlike blik op die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent
Skrywer: Leon van Nierop
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485304425

In Leon van Nierop het Afrikaanssprekendes die lewende gelyke van die Amerikaanse Roger Ebert en die Britse Philip French. Van Nierop is sonder twyfel een van Suid-Afrika se grootste filmkritici, en Daar doer in die fliek, ’n soort opname en oorsig van hoofsaaklik die Afrikaanse rolprentbedryf, laat die leser vrygewig deel in hierdie fundi se kennis en geesdrif.

Daar doer in die fliek is, soos die gelyknamige kykNET-reeks, ’n reis deur Suid-Afrika se fliekverlede, van heel vroeg in die 20ste eeu tot onlangs toe ’n Pawpaw vir my darling (2016) in bioskope begin draai het. Van Nierop neem die leser saam terug na Harold Shaw se De Voortrekkers (1916) en verken van daar die ontwikkeling van die Afrikaanse filmbedryf teen die agtergrond van ’n veranderende land.

In die eerste vier hoofstukke bied die skrywer interessante perspektiewe op hoe destydse fliekgangers op rolprente gereageer het. Ook die populêre tematiek van vroeë films word hier aangesny, en Van Nierop wys hoe die films uit hierdie jare dikwels gepoog het om kykers bloot te vermaak en iets aan hulle voor te hou wat bekend was, eerder as om hulle vooropgestelde idees en houdings aan te vat. Hoewel dit nie die fokus van hierdie boek is nie, karteer die skrywer hier ’n parallelle verhouding tussen die Afrikaanse rolprente en die Afrikaanse prosa indertyd. Heelwat van die films uit die dertigerjare word byvoorbeeld gekenmerk deur “’n stewige dosis konserwatisme” en “’n streng Calvinistiese godsdienssin”:

’n Patriargale opvatting, ’n sin vir reg en geregtigheid, die bewaring van norme asook ’n liefde vir die Afrikaanse taal en die behoud daarvan is ... beklemtoon, naas die Afrikaner se verknogtheid aan sy geboortegrond en die plaas as bakermat van die volk en sy voortbestaan. (37)

Die woekerende filmbedryf is gekniehalter deur enersyds ’n gewoonte om suksesvolle resepte tot vervelens toe te herhaal, en andersyds die groeiende mag van die sensuurraad, wat teen die sestigerjare selfs daartoe gelei het dat verspreiders soos Ster en Kinekor (wat later Ster-Kinekor sou word) self aan films gesny het alvorens dié in teaters begin draai het (148–9). Hoewel daar dus teen 1968 al ’n honderd Afrikaanse films vervaardig is (volgens die nuttige lys wat agterin die boek verskyn), het die Afrikaanse rolprentbedryf tóé nog nie daarin geslaag om werklik ernstiger en omstrede onderwerpe aan te sny nie.

’n Dapper en dinamiese film verskyn egter in 1968 en wys dat Afrikaanse films ook meer as veilige vermaak kan wees.

In die bespreking van Jans Rautenbach se Die kandidaat verduidelik Van Nierop hoe dié film ’n blywende indruk op hom as kind gemaak het. Teen die agtergrond van die omstredenheid wat hierdie film in Afrikanergeledere veroorsaak het, verskyn ook grepe uit ’n onderhoud wat hy met Rautenbach gevoer het. Hierdie onderhoude met belangrike figure wat deur die jare voor en agter die skerms in die filmbedryf betrokke was, gee die leser ‘n insig in die omstandighede en uitdagings van die tyd. Soms lewer dit sommer ook net lekker brokkies trivia op – soos dat die sg goue stem, Gé Korsten, se dialoog in die gewilde Hoor my lied (1967) deur Cobus Rossouw oorgeklank is (146), en dat Andries Treurnicht (later die leier van die Konserwatiewe Party) sy lyf ’n slag of wat akteur gehou het (107).

Van Nierop stip uit hoe die koms van die televisie in die sewentigerjare die Afrikaanse filmbedryf weer laat steier het. In die 1980’s sou ’n tendens van platvloerse komedies ’n houvas op die bedryf kry wat volgens dié kritikus byna die einde van Afrikaanse films tot gevolg gehad het. Hierdie stand van sake het immers voortgeduur tot in die negentigerjare, en het gelei tot ’n onverdraagsaamheid jeens enige kritiek wat myns insiens tot vandag nog kop uitsteek – en nie net waar dit filmkritiek betref nie. So skryf Van Nierop:

Resensente wat dit sou waag om hulle [oor die vervlakking van films] uit te spreek, is verkleineer of uitgetrap as “konserwatief” of “probeer dit bietjie self!” [sic] of “donners wat nie ’n clue het waarvan hulle praat nie.” ’n Boeliekultuur [is] geskep waar enigiemand wat die moed gehad het om hierdie tendens aan te vat, beledig is as amateurs wat nie weet waarvan hulle praat nie. (En dit is sagkens gestel.) Die veronderstelling was dat die geld-makers “volmaakte” rolprente gemaak het wat hoegenaamd nie gekritiseer mag word nie, want dit was “uitstekende” produkte bloot omdat dit geld maak. (Meesterstukke soos Paljas, Faan se trein en Die wonderwerker sou dekades later die teendeel by die loket bewys.) (215)

Van Nierop skroom egter nie om sy kritiek oor hierdie films uit te spreek nie. Hoofsaaklik Willie Esterhuizen se flieks loop deur, en word veral beskryf met frases soos “masturbeer-agter-die-kraalmuur-aanslag” (365). Ofskoon dié leser hiermee saamstem, word die herhaling naderhand lastig. As ’n mens egter dié besprekings vergelyk met dié van rolprente waarvan Van Nierop onbeskaamd ’n aanhanger is, is dit duidelik dat die kritikus se pen ewe swaar oor die nekke van alle films hang.

Een van die laaste en besonder knap hoofstukke in die boek handel oor Van Nierop se rol agter die kamera. As draaiboekskrywer van die baie goeie Ballade vir ’n enkeling (2015) vertel hy onderhoudend van die hele proses om ’n storie uiteindelik op die skerm te kry, en ook hoe hy self onder die kritici moes deurloop.

In die voorwoord skryf Van Nierop dat hy gepoog het om ’n toeganklike geskiedkundige oorsig van die Afrikaanse filmbedryf te skryf. Hierin het hy beslis geslaag. Die styl is ontspanne, sonder dat daar ingeboet word aan die deeglike en skerpsinnige ontleding waarvoor Van Nierop bekend is. Hy erken ook wanneer sy oordeel verkeerd was (293). Aan die fondamente van Van Nierop se kritiese blik is dus ’n goeie skeut selfbesinning, waarin hy mens telkens herinner dat kritici nie sodanig op ’n enkele tekortkoming moet fokus dat hulle die “breë prentjie” uit die oog verloor nie (436).

Met die skryf van hierdie resensie het ek hard probeer om Van Nierop se raad te volg. Daar doer in die fliek het vir my ’n paar uur se heerlike leesgenot ingehou. Die teks is informatief en indringend, en ’n nodige balans word gehandhaaf wat hierdie teks vir sy “gewone” (7) lesers toeganklik maak, sonder dat dit te oppervlakkig word. Dit is juis daarom jammer dat die boek mank gaan aan behoorlike taalversorging. Talle spel- en tikfoute ontsier die teks: “oorlewing” word byvoorbeeld in plaas van “oorlewering” gebruik (27); in ’n aanhaling “lig” iemand ’n opinie (318), terwyl daar op die volgende bladsy korrek ’n opinie “gelug” word (319); “hoeveelheid” word verkeerdelik gebruik wanneer “aantal” korrek sou wees (277); en haas onverskoonbaar steek die koppeltekenlose “Suid Afrika” (389) ook kop uit. Hier en daar is ’n anglisistiese neologisme wat maar eerder uitgelaat kon gewees het, soos “ooglekkergoed” (vermoedelik ’n vertaling van “eye candy”, 115, wat dikwels ook in ander media deur Van Nierop gebruik word). ’n Groot steurnis is dat veral die tegniese versorging te kort skiet. Die bekende Dulcie van den Bergh maak haar opwagting as “Dulsie van de Bergh” (48), en word dan later “Dulcie Smit” en “Dulcie van den Bergh” (80). Filmtitels word deurgaans gekursiveer, maar sommiges word nie volledig gekursiveer nie, sodat snaakse setfoute soos die volgende opduik: “Man in die donker” (132), “Eendag op ’n reëndag” (186), “Hoor my lied” (290), ens. Dié foute is steurend, maar dit sou onregverdig wees om dit nie as deel van die geheelbeeld te beskou nie. En dié is goed. Dit beteken egter nie dat lesers maar hiermee vir lief hoef te neem nie, en die uitgewer kon gerus hier meer moeite gedoen het.

Daar doer in die fliek is ’n viering van die Afrikaanse filmbedryf se prestasies, en Van Nierop blyk positief te wees oor die toekoms. Daar moet erken word dat die korpus Afrikaanse films steeds oorheers word deur verhale oor wit karakters wat ’n sekere soort Afrikaans praat. En hieroor sê Van Nierop nie direk veel nie. Met tye kontrasteer die positiwiteit oor die toekoms van Afrikaanse films sterk met ’n pessimisme oor die ervaring van (wit) Afrikaanssprekendes in die hedendaagse Suid-Afrika.

In sy bespreking van ’n Man soos my pa (2015) skryf Van Nierop:

Drome wat nie verwesenlik word in ’n land wat nie meer plek het vir die meeste blankes nie, behoort aanklank by gehore te vind wat onder dieselfde diskriminasie en omgekeerde apartheid deurloop ... Niemand is perfek nie en as die Afrikaners, die bietjie wat nog oorgebly het, nie saamstaan nie, is ons volk gedoem. (375-6)

Miskien is dit juis die aanname dat gehore hierby aanklank sal vind – en Afrikaanse films se dikwelse weiering om self krities te staan teenoor hulle gehore se aanvegbare slagoffermentaliteit, in die openbare diskoers dikwels maar te eenvoudig geskets – wat steeds Afrikaanse films terughou. Miskien moet rolprente ook die ervaringswêrelde wat hulle uitbeeld verruim tot dié van die breër Afrikaanssprekende publiek, want die films wat tans nog in teaters draai, is met enkele uitsonderings merendeels afgestuur op wit gehore. Maar dit vir eers daar gelaat. Soos Van Nierop sien ek uit na die toekoms van Afrikaanse flieks.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top