Boekresensie: Hermann Giliomee: Historikus – ’n Outobiografie

  • 1

Hermann Giliomee: Historikus – ’n Outobiografie
Hermann Giliomee

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624066835

Die studie van geskiedenis behoort tot wysheid te lei. Ongelukkig is die teenoorgestelde egter waar: dit lei dikwels eerder tot vooroordeel en veroordeling. Die jongste boek van Hermann Giliomee, sy outobiografie, bied wyse antwoorde op die vraag hoe omstrede kwessies in die geskiedenis – ook die kwessie van skuld – hanteer behoort te word.

Op die skutblad van die outobiografie van die Afrikaanse historikus Hermann Giliomee is ’n aanhaling uit die werk van CW de Kiewiet, wat vier insiggewende werke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis geskryf het. Dit lui: “The study of history is a training in humility. After more than twenty-five years of studying and writing I am impressed by the great difficulty of being an historian.” Dit sluit aan by die laaste hoofstuk in die boek, waar Giliomee vertel van sy gesprek met Meron Benvinisti, voormalige onderburgemeester van Jerusalem en administrateur van Oos-Jerusalem en ’n man met ’n doktorsgraad in konflikbestuur, wat besluit het om die politiek vaarwel toe te roep en sy besluit soos volg gemotiveer het: ’n mens kan nie ’n stad bestuur asof ’n derde van sy bevolking nie bestaan nie.

Dit het my onwillekeurig laat terugdink aan ’n geleentheid in 1988 toe ek ’n vergadering van ’n vooraanstaande Afrikaanse kultuurorganisasie namens die Geskiedenisdepartement waarvan ek lid was, bygewoon het. Die bespreking het in een stadium gehandel oor hoe die 150-jarige herdenking van die Groot Trek behoort plaas te vind. Die voorsitter het klem daarop gelê dat nie-Afrikaanssprekendes ook by die vieringe betrek moet word: Portugees-, Engels- en Duitssprekendes, en ander, moes ook deel van die vieringe wees. Ek het die moed gehad om op te merk dat hy slegs hierdie taalgroepe genoem het en die vraag te stel of die tyd nie aangebreek het om ’n vooraanstaande Zoeloe-persoonlikheid – iemand soos Mangosuthu Buthelezi – ook uit te nooi om aan die herdenking van die Slag van Bloedrivier, en dus die Geloftedagvierings, deel te neem nie. My argument was dat die slag by Bloedrivier vir die Zoeloes ’n ewe belangrike gebeurtenis was as vir die Afrikaners en dat dit vir hulle in die lig van die groot lewensverlies meer traumaties as vir die Voortrekkers was. Die reaksie van ’n professor en hoof van ’n Geskiedenisdepartement by die vergadering was: “Ons kan aan hulle sê slegs wenners word uitgenooi om deel te neem en nie verloorders nie.” Die eerste gedagte wat by my opgekom het, was: ek dog die Afrikaners glo dat God hulle die oorwinning gegee het; moet ons dan nou kraai oor “óns” oorwinning? Anders gestel: “Whê. Ons het tog gewen en ons wil nie weet wat julle van die Slag van Bloedrivier dink nie!” Ek het dit nie hardop gesê nie, maar ek heelwat skewe kyke oor hierdie aweregse voorstel van my gekry.

Dié houding oor die eie geskiedenis staan in direkte kontras met die beskeidenheid waarvan De Kiewiet praat in sy uitspraak hier bo. En by hierdie beskeidenheid sluit Giliomee se stelling in die slothoofstuk aan: “Daar is baie in die Afrikaner-geskiedenis van die afgelope honderd jaar waarop ek trots is en ook baie waaroor ek skaam is.”

Onder die dinge waarop hy trots is, noem Giliomee, interessant genoeg, die opkoms van Afrikaans as literêre en wetenskapstaal en haal hy die uitspraak van die taalpraktisyn Susan Roets hieroor aan, waarin sy verwys na die bydraes wat almal tot die vaktaal gemaak het – “aan tersiêre inrigtings, in die media en as skrywers en digters”. In dié verband verwys hy dan na die wyse waarop die taal hom as mens, as akademikus en as historikus gevorm het. Dis hierdie liefde van hom vir die taal wat hom in die jongste verlede kras uitsprake laat maak het oor die besluit van die Universiteit Stellenbosch se ondergeskikstelling van Afrikaans as voertaal – ongeag wat die rektor en bestuurslede probeer voorgee in hul ontkenning van die emosionele en opvoedkundige rol wat taal te speel het en van die belang van taal in die oordrag van kennis.

Onder die dinge waaroor Giliomee skaam is, noem hy die Sharpeville-slagting, die dood van Steve Biko in polisieaanhouding en die hartelose toepassing van die Groepsgebiedewet. Hy verklaar ronduit dat hy eers met die skryf van die boek Nog altyd hier gewees tot die besef gekom het watter traumatiese belewenis dit vir sowat 3 000 bruin mense in die middedorp van Stellenbosch was om daarvandaan uitgeban te word na die rand van die dorp by wat tans Cloetesville is. Dit is hierdie onder meer eerlikheid van Giliomee wat dié outobiografie so boeiend maak.

Tussen die eerste en laaste hoofstukke vind ’n mens ’n magdom van belewenisse geboekstaaf, beginnende by wat hy noem sy “eerste les oor hoe mag werk” terwyl hy primarius van die manskoshuis Simonsberg was, en sy ontsteltenis toe die universiteit na sy mening nie by sy onderneming oor straf gebly het in verband met ’n voorval toe ’n groep Simonsbergers een aand ’n dameskoshuis “binnegeval” het nie. Dit dui op selfstandige denke wat toe reeds by hom aan die ontwikkel was en wat later in sy bydrae tot die geskiedskrywing en sy deelname aan die politieke debat in die land uitdrukking gevind het.

HB Thom

Een van die hoofstukke wat ek as historikus die fassinerendste gevind het, was die een met die titel “Leerling-historikus”, wat handel oor die Geskiedenisdepartement aan die Universiteit Stellenbosch in die jare sestig. Die rektor, HB Thom, het vroeër ’n leidende rol as departementshoof gespeel. Giliomee beklemtoon Thom se siening dat die Afrikanerhistorici die Afrikaners moes help om hul politieke uitdagings te verstaan en dat die verhaal van die stryd wat die Afrikaners se voorouers teen onsimpatieke owerhede gevoer het, hulle in staat moes stel om ’n sin van eiewaarde te ontwikkel. Daarby moes die geskiedskrywing volgens Thom die beginsel van rasseskeiding uitlig en toon watter belangrike rol “differensiasie” tussen hulle en die Britse koloniste, en veral tussen hulle en die swart bevolking gespeel het. Hy haal in hierdie verband Thom uit die voorwoord van Die lewe van Gert Maritz aan waar hy verwys na die “die onvergeetlike Afrikaners wat […] met hul primitiewe voorlaaiers die grootste deel van Suid-Afrika aan barbarisme ontruk en vir die wit beskawing gewen het.” Min of meer in dieselfde kategorie plaas Giliomee Van der Walt, Wiid en Geyer se tweedelige werk van altesaam 1 400 bladsye, Geskiedenis van Suid-Afrika (1955), die eerste wetenskaplike geskiedenis in Afrikaans. AJH van der Walt en JA Wiid was albei historici, maar AL Geyer was ’n voormalige redakteur van Die Burger en later hoë kommissaris in Londen. Die keuse van ’n voormalige redakteur as medeskrywer bevestig Thom se siening van die Universiteit van Stellenbosch as ’n “volksuniversiteit”. Volgens dié begrip was die Afrikaners verreweg die hoofakteurs in die geskiedverhaal van die land wat verantwoordelik was vir “die christendom en beskawing en by name wet en orde en vooruitgang in die geskiedenis,” soos Thom dit gestel het. Oor die swart mense in die binneland word daar slegs geskryf in terme van die Kompanjiesbewind se inboorlingbeleid aan die Oosgrens, terwyl die “Boesmans” se rol afgemaak word as lastig vir die wit setlaars en die “Hottentotte” bloot geskets word as verskaffers van vee aan die bewind in Kaapstad en mense wat hul beesterykdom “verkwansel” het.

’n Mens besef die enorme ontwikkeling en klemverskuiwing wat in die geskiedskrywing plaasgevind het wanneer jy die genoemde benadering vergelyk met dié van latere werke waarin Giliomee ’n aandeel gehad het, by name The shaping of South African Society, 1652–1820 (1979) onder redakteurskap van hom en Richard Elphick, wat ook in 1982 in Afrikaans verskyn het as ’n Samelewing in wording: Suid-Afrika, 1652–1820. In dié boek is weggebreek van “wit” geskiedenis of volksgeskiedenis in feitlike isolasie en is sterk klem gelê op die groepsverhoudinge tussen koloniste, slawe, Khokhoi en vryswartes, en het die Khoikhoi meer as net figurante in die drama van die Kaapse geskiedenis geword. In hierdie verband wei Giliomee uiters insiggewend uit oor sy ontmoeting en latere samewerking met die Kanadese navorser Richard Elphick, destyds ’n doktorale student van die historikus Leonard Thompson wat in 1968 in Suid-Afrika was vir sy navorsing oor die Khoikhoi. Hy beskryf Elphick as “een van die subtielste en innoverendste historici wat oor Suid-Afrika werk” en erken dat hulle vriendskap en samewerking ’n groot vormende invloed op sy loopbaan gehad het.

Insiggewend is ook die erkenning deur Giliomee van die rol wat die genoemde Leonard Thompson in sy lewe gespeel het. Thompson en die antropoloog Monica Wilson was die redakteurs van deel I van Oxford History of South Africa wat in 1969 verskyn het, met ’n tweede deel wat twee jaar later gevolg het. Vir die eerste keer het die Groot Trek in hul benadering nie sentraal in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gestaan nie, maar is dit gesien as ’n “indringing” waarop die swart nasies in Natal en op die Hoëveld moes reageer.

Die jaar 1973 wat Giliomee deurgebring het aan Yale-universiteit, een van die Ivy League-instellings in die VSA, word ook deur hom as uiters invloedryk bestempel en hy is erkentlik oor die deure wat Thompson vir hom oopgemaak het. Dít ten spyte daarvan dat hy Thompson beskryf as ’n man met ’n groot ego en ’n dun vel.

Afgesien van Afrikaanse historici wat in die jare voor en ná die Tweede Wêreldoorlog in Europa – veral Nederland – studeer het, het min of geen Afrikaanse historici tot in daardie stadium hierdie soort blootstelling aan denkrigtings oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die buiteland gehad nie. Tydens sy verblyf in die VSA het sy ontmoeting met C Vann Woodward, die skrywer van The strange career of Jim Crow, wat oor die evolusie van rasseverhoudinge in die VSA handel en wat in een stadium beskou is as die bekendste historiese werk in Amerika, ook ’n invloed op sy denke oor die geskiedenis gehad. Hierdie ontmoetings het daartoe bygedra om sy benadering tot rasseverhoudings in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te slyp.

Uit ’n historikus se oogpunt is Giliomee se opmerkings oor ander vakgenote verfrissend eerlik en besonder fassinerend. Oor Floors van Jaarsveld was hy minder vleiend. Hy skryf dat Van Jaarsveld ernstige bedenkings gehad het oor sy voorneme om ’n jaar by Yale deur te bring en haal sy waarskuwing aan om die verleiding te weerstaan om “daar die ideologie van die Amerikaanse liberalisme oor te neem”. Hy erken egter dat Van Jaarsveld in meer tale oor sy vakgebied gelees het as enige ander Suid-Afrikaanse historikus en slaan sy Die ontwaking van die Afrikaanse nasionale bewussyn (1957) en die bundel opstelle Lewende verlede (1961) hoog aan.

Hy gee ook aan ander Afrikaanse Suid-Afrikaanse historici erkenning daarvoor dat hulle die probleem raakgesien het van die gebrek aan beskikbare bronne oor die verlede wat kon gehelp het om ’n meer ewewigtige geskiedsbeeld daar te stel. PJ (Piet) van der Merwe van Stellenbosch skryf hy hoog aan en noem hom die verpersoonliking van “wetenskaplik-objektiewe” geskiedskrywing en ’n formidabele leermeester, hoewel hy ook verklaar dat hy swak klasgegee het en dodelik vervelig kon wees wanneer hy die geskiedenis van sy spesialiteitsterrein, die trekbeweging, in die fynste besonderhede probeer uitpluis het. (Ook ek kan getuig van Van der Merwe se deug as leermeester in die wetenskaplike metode na aanleiding van die wyse waarop hy ons in die honneursklas laat tel het hoeveel spiese van die Matabele ná die slag van Vegkop buite die laer gevind is, aan die hand van tydgenootlike getuienis wat onder meer in Gustav Preller se Voortrekkermense opgeneem is.) Giliomee merk egter heeltemal tereg op dat die teorie, filosofie en metodiek van geskiedenis by Stellenbosch skromelik verwaarloos is.

Giliomee erken ook die invloed wat Stellenbosse dosente in ander vakgebiede, soos Johan Degenaar in filosofie, op sy denke gehad het en noem in hierdie verband ’n besprekingsgroep wat Degenaar tot stand gebring het. In die sogenaamde junior groep was daar uitstaande jong dosente soos Frederik Van Zyl Slabbert van sosiologie, André du Toit van staatsfilosofie en Wolfgang Thomas van ekonomie. Dit is hierdie soort blootstelling wat Giliomee homself gegee het wat hom onderskei van so baie Suid-Afrikaanse historici wat hulle slegs eng en streng by die soort geskiedskrywing van die ou skool beperk. Dit was saam met Du Toit dat hy in 1983 vir deel 1 van die bundel Afrikaner Political Thought: Documents and Analyses verantwoordelik was.

Ander Stellenbosse akademici wat volgens Giliomee sy denke beїnvloed het, was SP Cilliers, hoof van sosiologie, Nic Olivier van Bantoereg en Jan Sadie van ekonomie. Hulle was almal van mening dat die streng apartheidsbeleid van Hendrik Verwoerd radikaal aangepas behoort te word en het soms saam met Japie Basson van die Verenigde Party ’n informele besprekingsgroep op die plaas Joostenberg tussen die Paarl en Kaapstad bygewoon. Hulle is in die Afrikaanse pers die “Stellenbosse liberaliste” gedoop en deur die Engelse pers die “Cape liberals”. Giliomee benadruk egter dat toe Wimpie de Klerk in 1967 tussen “verligtes” en “verkramptes” onderskei het, hy en Slabbert-hulle hul nooit as verligtes beskou het nie, omdat hulle nie deel van die Nasionale Party of die Broederbond was nie. Hulle het egter wel in die Afrikaanse koerante en op platforms aan die universiteit hulle standpunte gestel.

As boorling van Porterville waar daar, soos in so baie Kaaplandse dorpe, ’n beduidende bruin bevolking gewoon en gewerk het, skryf Giliomee met groot eerlikheid en openheid oor sy steun vir burgerskap vir bruin mense in die sewentigerjare. Nege en twintig Afrikaner-akademici het in 1971 in Pretoria ’n verklaring uitgereik waarin hulle volle burgerskap vir bruin mense bepleit het en kort daarna het 109 akademici, hoofsaaklik van Stellenbosch, hul voorbeeld gevolg. Sy naam was ook op dié lys. Hy verklaar: “My steun vir bruin regte het gewortel in die besef dat die politieke uitsluiting van bruin mense besig was om mense met dieselfde taal en kultuur as Afrikaners heeltemal te vervreem.”

Dié boek bevat insiggewende leesstof wanneer Giliomee oor verskeie vooraanstaande politici kommentaar lewer. Oor Van Zyl Slabbert, wat in 1986 ontnugterd uit die parlement gestap het omdat hy dit as irrelevant beskou het, skryf hy dat hy dit as ’n positiewe stap beskou het. In teenstelling met die mening van baie ander waarnemers dat dit ’n versaking van die rol van die opposisie was, beskou Giliomee dit as ’n noodsaaklike stap om die dooiepunt in die politiek te breek. Hy beskryf Slabbert as “een van die groot tragedies in die liberale politiek”. Nogtans het hy Slabbert, tot verbasing van baie kommentators, ingesluit in Die laaste Afrikanerleiers: ’n Opperste toets van mag wat in 2012 verskyn het.

Wat Verwoerd betref, vermeld hy die opwinding wat onder jong Afrikaner-intellektuele geheers het oor sy voorgestelde omvorming van apartheid van “onverbloemde wit baasskap tot ’n ‘statebond’ wat uiteindelik sou bestaan uit ’n wit staat of twee en ’n aantal vooruitstrewende swart state”. Later skryf hy (in hoofstuk 14, getitel “Op wie se rekening?”) dat hy nie van voorneme was om Verwoerd as die groot sondebok in die Afrikaners se geskiedenis uit te sonder nie. Hy haal die kritiese artikel in die tydskrif Time aan waarin Verwoerd beskryf word as “one of the ablest white leaders Africa has produced”. Oor Bantoe-onderwys, wat deur baie as Verwoerd se mees omstrede nalatenskap beskou word, omdat dit na bewering minderwaardige onderwys vir swart kinders sou beoog het, wys hy daarop dat die onderwys nie wesenlik anders as wit onderwys was nie. Hy verwys in dié verband daarna dat die begroting vir swart onderwys van 1962 tot 1967 met 50% gegroei het en van 1967 tot 1972 met 87%. Hy haal ook vir Kathleen Heugh, ’n gesaghebbende op die gebied van voertaal, aan wat in 1999 in die International Journal of Educational Development geskryf het dat moedertaalonderwys tot ’n skoolverlatingskoers van 83,7% vir swart leerlinge in 1976 gelei het. In 2013 het dié navorser ook in die Annual Review of Applied Linguistics beweer dat swart onderwys onder die Nasionale Party-regering deur twee fases gegaan het. Die eerste fase, van 1955 tot 1976, het na haar mening swart skoliere bevoordeel, terwyl die tweede fase nadelig vir hulle was, omdat moedertaalonderwys toe tot drie of vyf jaar beperk is. Hy sluit die bespreking oor dié kwessie af met die opmerking: “Ek het baie keer gewonder waarom die radikale opposisie in Suid-Afrika Verwoerd uitsonder as dié politieke sondebok.”

PW Botha, FW de Klerk en John Vorster

Oor PW Botha, vir wie Giliomee in 1988 die eerste keer die naam “Groot Krokodil” gebruik het in ’n rubriek in Die Burger wat hy onder die skuilnaam “Die man wat weet” geskryf het, is daar waardevolle kommentaar, te veel om hier by die naam te noem. Baie lesers sal veral belangstel in die gegewens en kommentaar omtrent die sogenaamde Rubicon-toespraak op 15 Augustus 1985 in Durban wat Giliomee weergee, en sal moontlik graag weer ’n slag krities daaroor wil lees.

Oor FW de Klerk se onderhandelingspolitiek is daar ’n stewige bydrae van 22 bladsye na aanleiding van briefwisseling wat tussen Giliomee en Dave Steward, tans die stafhoof van die FW de Klerk-stigting, plaasgevind het. Dit is ontketen deur ’n artikel wat Giliomee op die webwerf Maandblad Zuid-Afrika geskryf het na aanleiding van Mandela se aftrede. Hy skryf self dat hy in Maandblad Zuid-Afrika ’n verhaal in drie reëls opgesom het wat hy in meer as 150 bladsye vertel in The last Afrikaner leaders: a supreme test of power wat in 2012 verskyn het. Lesers wat belangstel – en daar sal baie van diesulkes wees – kan self in The last Afrikaner leaders hieroor gaan lees.

Oor John Vorster is daar min in hierdie boek te vinde. Giliomee skryf dat ten tye van sy terugkeer uit die VSA in 1973 groot kommer by politieke waarnemers bestaan het oor die politieke stagnasie wat teen hierdie tyd by die Vorster-regering ingetree het. Tydens ’n onderhoud het Vorster in April 1980, nadat hy alreeds uit die politiek getree het, aan hom in antwoord op ’n vraag gesê dat die polisieskietery op skoolkinders tydens die Soweto-opstand van 1976 te wyte was aan gebrekkige intelligensie en dat die polisie nie voorbereid daarop was dat swart skoolkinders in opstand kan kom nie. Oor Vorster se vermoëns as politikus en staatsman skryf hy nietemin dat dié onderhoud hom laat begryp het waarom Henry Kissinger ná samesprekings in Wes-Duitsland Vorster as baie intelligent bestempel het. Later beskryf hy Vorster as die mees enigmatiese van al die leiers met wie hy gepraat het.

Nelson Mandela word verskeie kere in die boek genoem. Giliomee haal vir Johan van der Merwe, eers hoof van die Veiligheidpolisie en daarna kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie, aan oor die Kodesa-onderhandelinge waar hy sê dat De Klerk en sy onderhandelaars grootliks mislei is deur Mandela se aanvanklik inskiklike houding. Hy voeg by dat die polisie oor baie jare ’n intensiewe studie van Mandela gemaak het en dat hy telkens gewaarsku het dat hy ’n uiters gevaarlike politieke teenstander is. Tog was Mandela in 1996 versoenend genoeg, toe ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit Stellenbosch aan hom toegeken is, om te sê dat daar minstens een universiteit moet wees wie se hooftaak die voortgesette ontwikkeling van Afrikaans is. Soos bekend, het Jakes Gerwel daarna as voorsitter van ’n komitee van die Departement Hoër Onderwys aanbeveel dat daar twee universiteite aangewys moet word wat ’n spesiale verantwoordelikheid sou hê vir die ontwikkeling van Afrikaans. Daarvan het egter dadels gekom.

Dit bring ons by die taaldebat. Hieraan word ’n volle 30 bladsye in die boek gewy. Lesers van hierdie outobiografie is in alle waarskynlikheid uit nuus- en koerantberigte alreeds goed bekend met Giliomee se passie vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch, waarvoor die organisasie Gelyke Kanse hom ook beywer. Giliomee het eers aan ’n Afrikaanse universiteit gestudeer en klasgegee en het daarna dosent aan ’n Engelstalige universiteit (Kaapstad) geword, maar erken op bladsy 29: “Afrikaans het my in staat gestel om universele kennis in my eie taal baas te raak en my op die beste manier uit te druk.” Hy maak die stelling dat dit ’n onlosmaaklike deel van sy maatskaplike identiteit geword het en dat hy ná die verskyning van sy boek The Afrikaners: Biography of a people in 2003 dikwels gevra is wat deurslaggewend in die Afrikaners se opkoms in die 20ste eeu was. Sy antwoord was altyd: moedertaalonderwys en toegewyde onderwysers.

Dié uitspraak is dalk te verwagte van iemand wie se pa ’n toegewyde onderwyser en skoolhoof was. Daar steek egter meer in dié antwoord as dit. Giliomee haal naamlik die historikus Tony Judt aan wat die volgende stelling gemaak het: “The view from nowhere does not work.” Judt het dit gesê omdat hy die geskiedenis beskou as ’n storie wat ’n verteller nodig het en dat ’n verteller êrens moet staan. Daarom sê Giliomee dat hy vanuit ’n Afrikaner-agtergrond gekyk het na die geskiedenis en die probleme van die hede wat daaruit voortgevloei het. Hy het egter terselfdertyd besef dat hy “goed lig kan opsteek by ’n historikus met ’n ander perspektief as [sy] eie”. Hy skryf in dié verband dat hy en Richard Elphick saam in die slothoofstuk van The shaping of South African society die totstandkoming van die vroeë Kaapse samelewing ontleed het en erken openlik: “Ek het in hierdie samewerking meer oor geskiedskrywing geleer as in al die klasse op Stellenbosch.”

As onbeskaamde Afrikaanse akademikus het Giliomee betrokke geraak by die taalstryd aan die Universiteit Stellenbosch. Daarom was hy van die begin af daarby betrokke saam met ander vooraanstaande Afrikaners soos Breyten Breytenbach, soos in hoofstuk 15, “Om te wees wie jy is”, meegedeel. Hy het saam met Ton Vosloo van Naspers en Breytenbach, wat net sy liefde vir sy moedertaal verteenwoordig het, ’n byeenkoms op 30 November 1996 gereël waar 200 mense opgedaag het. Antjie Krog het by dié geleentheid gesê sy wil nie onder ’n sambreel van kleure staan wat “antiregering, anti-ANC, anti-Waarheids-en-Versoeningskommissie, anti-Engels, anti-nasiebou” is nie. Breytenbach se betekenisvolle vraag in reaksie hierop was: “Antjie, wat wil jy hê moet ons doen? Na Groentemarkplein stap met ’n tou om ons nekke en vra: ‘Hang ons asseblief op?’” Van toe af was Giliomee intens betrokke by die taalstryd. Oor die T-opsie wat in 2005 selfs in die Departement Afrikaans ingestel is, skryf Giliomee: “As daar iets was soos ’n ‘taal-staatsgreep’ was dit presies waarmee ons nou te doene gehad het.” Die res van die verhaal is reeds bekend.

Allister Sparks

Giliomee was (en is) egter nie net “taalstryder” nie. Hy het ook in 2002 sy liefdeswerk The Afrikaners: Biography of a people voltooi waarvan die Afrikaanse verwerking in 2004 verskyn het. In hoofstuk 11 noem hy dit “’n ongewone biografie”. Dié werk span waarskynlik die kroon op sy produktiewe loopbaan as historikus. Hy skryf dat hy dié werk aangepak het onder meer in reaksie op die boek van die koerantman Allister Sparks, The mind of South Africa, wat in 1991 verskyn het, waarin Sparks die Afrikaners uitbeeld as die “mees agterlike element van die Westerse beskawing in moderne tye”, asook in reaksie op ’n nuwe geslag Afrikaners wat probeer aantoon het “met hoeveel afkeer hulle die Afrikaners se geskiedenis en resente politieke geskiedenis bejeën”. Laasgenoemde reaksie van sommige Afrikaners was waarskynlik die gevolg van gebeure soos Steve Biko se dood in gevangeskap, die drakoniese wette in verband met aanhouding sonder verhoor, die doodskiet van skoolkinders tydens die Soweto-opstand van 1976 en natuurlik die Sharpeville-slagting van 1960.

Giliomee erken openlik dat hy by die aanpak van hierdie selfopgelegde taak voor die vraag te staan gekom het of dit vir hom moontlik is om onbevange oor die Afrikaners te skryf. Hy wou nie as ’n nasionalistiese historikus skryf nie, maar as historikus wat nie sy agtergrond wegsteek nie. Hy het geweet hy sou in dié boek ’n aspek van die Afrikaners se verlede moes hanteer soos “hul noodlottige omhelsing van apartheid” soos hy dit noem. Hy het uiteindelik besluit om wat hy noem “die baie dun maar ook baie belangrike skeidslyn tussen apologie en empatie” te eerbiedig en sy benadering was “om apartheid te benader as iets wat nuut ondersoek moet word”. Uiteindelik was die boek ’n groot sukses ná ’n resensie in die hoog-aangeskrewe The Economist.

The Afrikaners: Biography of a people is baie leesbaar geskryf – soos ’n goeie roman, omdat Giliomee die tegnieke van goeie storievertellers gebruik het en die twee romanskrywers Karel Schoeman en JM Coetzee die konsephoofstukke laat lees het. Hy verduidelik dat hy in die subtitel die woord biografie gebruik het, maar dat die woord as ’n metafoor vertolk moet word en nie as ’n letterlike beskrywing nie.

JM Coetzee en Karel Schoeman

Giliomee verduidelik in die outobiografie hoekom hy die siening verwerp dat die skeppers van apartheid deur die Nazibewind in Duitsland beїnvloed is. Wat die oorsprong van die woord apartheid betref, verwys hy na ’n pamflet van 1929 waarop Richard Elphick afgekom het getitel Die NG Kerk van die OVS en die Naturellevraagstuk, waarin toesprake tydens ’n konferensie van die Vrystaatse NG Kerk oor sendingwerk onder swart mense voorkom, toe ds JC du Plessis die woord apartheid in sy toespraak gebruik het. Sy argument was dat “heidene” gekersten moet word sonder dat hulle hul eie rasse-identiteit verloor en dat hulle in hul eie gemeentes georganiseer moet word. Hy het terselfdertyd ’n eksklusiewe NG Kerk bepleit om die “aparte” voortbestaan van ’n minderheid blankes te verseker. In 1935 het die gefedereerde NG Kerke die idee aanvaar dat die sending- en onderwysbeleid gebaseer moes wees op die taal, geskiedenis en gebruike van die onderskeie volke. Giliomee het dus tot die gevolgtrekking gekom dat “apartheid ’n produk van sowel die Afrikaner-nasionalisme as die NG Kerk se benadering tot sending” was. Die begrip apartheid het dus sy ontstaan by die NG Kerk gehad. Sodoende is ’n halwe waarheid in die geskiedenis die nek ingeslaan. Giliomee verwerp dus ’n neiging in die literatuur om apartheid in suiwer morele terme te beskryf. Dit beteken egter nie dat hy apartheid soos dit later ontwikkel het en toegepas is, probeer goedpraat het nie. Hy noem dit as stelsel in The Afrikaners trouens “aaklig”.

Daar wás uiteenlopende menings oor The Afrikaners na die verskyning daarvan. JM Coetzee het egter op die agterbuiteblad die boek beskryf as “a history of the Afrikaners written by a proud and even patriotic Afrikaner who is nevertheless critical in his approach and untainted by Afrikaner nationalism. It includes an account of the origins and demise of apartheid that must rank as the most sober, objective and comprehensive we have.”

Dit is jammer dat die onverkwiklike gebeure van 1977, toe sowel Giliomee as Diko van Zyl aansoek gedoen het om die pos van professor in Suid-Afrikaanse geskiedenis in die Departement Geskiedenis in die plek van Piet van der Merwe, wat einde daardie jaar sou aftree, in die outobiografie opgeneem moes word. Dit wil voorkom asof Giliomee onregverdig behandel is en dat onware bewerings omtrent sy werk en doktorale proefskrif gemaak is. Die waarheid het egter ’n manier om uiteindelik uit te kom en die lys van 18 werke in die outobiografie net voor die register, waarvan Giliomee óf alleenouteur óf medeskrywer was, getuig van sy meriete as historikus en denker.

Giliomee se eerlike benadering tot die geskiedenis, soos dit oorvloedig uit hierdie outobiografie blyk, word kernagtig saamgevat op bladsy 79: “[Hoe] kan die studie van die geskiedenis mense, en veral die Afrikaners, bewus maak van die wyse waarop hulle van Engelse politieke, ekonomiese en kulturele oorheersing bevry is en andersyds hulle inspireer om vir vryheid vir almal in Suid-Afrika te veg?”

Hy haal daarna aan wat hy noem CW de Kiewiet se “ode aan die geskiedskrywing” uit The anatomy of South African misery wat in vertaalde vorm soos volg lui:

Die funksie van geskiedenis is om wysheid en ervaring tot elke geslag se beskikking te stel. ’n Lewenskragtige en onafhanklike geskiedskrywing is meer as ’n kulturele ornament.

Dit is ’n onmisbare agent vir wyse en suksesvolle aksie in alle menslike probleme. In die akademiese wêreld kom die geskiedskrywer se kuns naaste aan staatsmanskap. Sonder historici kan ’n samelewing nie ryp word en kan dit ook nie op ’n wyse manier besluite neem nie. Daar is ’n reële verband tussen demokrasie en ’n vrye, geїnspireerde geskiedskrywing ...

Op sy beste is geskiedenis die plek waar alle kennis ontmoet.

Giliomee het aan hierdie beskouing van die rol van die geskiedenis en geskiedskrywing in die samelewing getrou gebly. Die outobiografie getuig daarvan.

Die 18 boeke uit Giliomee se pen – soms saam met medeskrywers – wat net voor die register te vinde is, getuig van sy verbasende produktiwiteit en veelsydigheid. Daarin kom die “suiwer” historiese werke voor wat vars interpretasies van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelewer het. Om ‘n uitspraak van Giliomee in hierdie werk ietwat uit konteks aan te haal: “Opkomende historici sal met die lees van dié boek meer oor geskiedskrywing leer as in al die klasse op universiteit.”

Foto van Hermann Giliomee: Naomi Bruwer

  • 1

Kommentaar

  • Ek hoop die oud-geskiedkundiges wat Giliomee so verdag probeer maak het op Stellenbosch kry baie skaam.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top