Boekresensie: Huilboek deur Ryk Hattingh

  • 3

Huilboek
Ryk Hattingh
Human & Rousseau, 2016
ISBN: 9780798172493

Dit is nou byna 20 jaar sedert die publikasie van oudjoernalis Ryk Hattingh se Witskrif (1997). Die skrywer van onder andere ook Die tonnel (1984) en Ignatius Brand (1990) het Suid-Afrika teen die draai van die millennium verlaat en saam met sy gesin ’n nuwe nes in Nieu-Seeland gaan skrop. En soos Suid-Afrikaners al gesien het, kan uitgeweke skrywers dan vir ewig stil word, soos in die ingewikkelde geval van Peter Blum. Soms word hulle stem nog skerper en belangriker, soos in die geval van Elisabeth Eybers, wat tydens al haar jare in Nederland nog altyd in haar moedertaal gedig het. Laat ons ook nie vergeet van JM Coetzee nie, wat steeds romans skryf van waar hy ingeburger in Australië woon.

Hattingh se Huilboek is ’n outobiografiese novelle wat hoofsaaklik handel oor die verteller, Ryk, se emigrasie, maar ook terugdelf in sy herinneringe van sy grootwordjare in Benoni en sy dwelmverslawing wat bygedra het tot die besluit om Suid-Afrika vaarwel te roep vir die “twee ou eilandjies” wat “[ronddryf] soos twee drolle doer onder in die see” (64).

Die titel van die boek verwys na ’n voorval in die verteller se kinderjare, as ’n huilerige, “mislik[e]” seuntjie, toe sy ma vir hom ’n boekie gegee het waarin hy telkens ’n kruisie moes trek wanneer hy wou huil. Ofskoon dit vir ’n duidelik sensitiewe kind as afleiding moes dien, is dit dan die idee van die huilboek – dus treurmare, lamentasie en hartseer verhaal, maar ook lofsang vir die rykheid van menslike ervarings en herinneringe – wat struktuur aan Hattingh se novelle gee.

Jonger lesers sal dalk nie van Ryk Hattingh weet nie – enersyds weens die lang publikasiestilte wat op sy emigrasie gevolg het, en andersyds omdat hy nie ’n groot gekanoniseerde naam soos ’n Brink, Joubert of De Vries is nie. Oor die nietigheidsgevoel wat met ’n bewustheid van hierdie feit gepaardgaan, wonder die karakter in Huilboek dan

[of] iemand skielik gaan vra wanneer laas het julle ’n storie van Ryk Hattingh gelees en ai tog, hoe mis ’n mens nie sy alternatiewe, aweregse benadering tot dinge nie. Sy vreemde fiksies. En wat het in elk geval van hom geword? Laas het ek gehoor hy woon nou in Nieu-Seeland. Van alle plekke. Fokken cop-out as jy my vra. Wie het nou ooit gedink dat hy ’n glyer sal word? En fokken Nieu-Seeland! Jissis. Vervelig verby. (64)

Die liriese novelle is saamgestel uit ’n reeks episodiese spronge tussen die karakter se reeds genoemde grootwordjare aan die Oos-Rand, snitte uit die deurmekaar negentigerjare (waartydens die protagonis met ’n hewige dwelmverslawing worstel), asook vertellings oor sy aankoms en sy gesin se bestaan in Nieu-Seeland. Dit is heelwat om in 159 bladsye te verpak, maar Hattingh se verhaal vlot omdat die betrokke ervarings en herinneringe van die hoofkarakter dig met mekaar verweef word.

’n Afrikaanse ekspat-teks wat spesifiek handel oor landsverlating kan maklik in ’n moeë afskietery van Suid-Afrika ontaard. Vroeg al in die verhaal wil die leser amper dink dit is wat Huilboek inhou wanneer die karakter Ryk die clichéredes aanvoer waarom mense emigreer: “Die misdaad tuis, die geweld, die onsekerheid, die gebrek aan intelligente leierskap, die snelle Zimbabwefisering van alles, die ineenstorting van infrastrukture, die korrupsie ...” (17). Terwyl veral die gewelddadige misdaad Ryk en sy gesin se besluit tog beïnvloed, ontkom Huilboek aan afgesaagdheid omdat die verhaal die emigrasieproses vanuit die staanspoor problematiseer: Ryk en sy gesin is om verskeie redes vort.

Ryk se aanpassing in sy nuwe tuiste is moeilik, en om die vreemdheid te besweer en te voorkom dat hy weer in ou slagysters trap, moet hy sy verlede begin verwerk, soos wat hy hom verdiep in sy tuinwerk om sy nuwe huis. Die terugblikke op sy kinderjare verken sy verhouding met sy ouers (hoofsaaklik sy pa, wat skynbaar nie geskroom het om sy seun lyfstraf toe te dien nie) en ’n karakter wat tegelyk alomteenwoordig en afwesig is. Outa Toon was ’n tuinier in die diens van ’n jong Ryk se gesin wat ’n merkbare indruk op die seuntjie gemaak het. Soos die verhaal vorder, poog die karakter om lewe in sy herinneringe van hierdie man te blaas. Dit is deur hierdie verkenning dat die novelle daarin slaag om vreugde en hartseer realisties aan te bied. Ten spyte van die deernisvolle herinneringe aan outa Toon en die onvermoë om ’n wrede afgestorwe vader te verstaan, kan die karakter betekenis vind, al besef hy ook goed “[d]aar is nie ’n app wat die verlede ongedaan kan maak nie” (157).

Ryk Hattingh se Huilboek is ’n boek wat wys hoe ou herinneringe en nuwe ervarings gloedvol kan saamsmelt om ’n onopgesmukte verhaal te vertel. Mag hy nie weer so lank stil wees nie.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top