...........
Teen 2030 sal KI in 60% van alle industrieë teenwoordig wees. ... In die media sal KI artikels kan skryf wat op gebeure geskoei is wat sekondes gelede plaasgevind het, feite nagaan, foto’s versamel, bronne verifieer en getuienis wat op sosiale media verskyn, in betroubare artikels omskep.
...........
In Fritz Lang se film van 1927, Metropolis, ervaar een van die hoofkarakters ’n hallusinasie: Hy sien hoe die robotte en masjinerie van dié futuristiese stad die tempel van die afgod Moloch is. Niksvermoedende mense word deur die blink masjiene verslind.
In 2023 is ons naby aan Metropolis: Elke mens het ’n slimfoon in die hand, motors begin hulself bestuur, Google weet klaarblyklik alles van jou af en oorlede sangers en akteurs keer vanuit die dood terug. Ons het ’n samelewing van ene en nulle geword. Die oorgang was só vinnig en effektief dat ons eens briewe vir mekaar gepos het, by die telefoon op ’n Saterdagaand gesit en wag het en nou mekaar se WhatsApps ignoreer en vyande op Facebook blok. Suutjies kruip die digitale aar van die komper tot binne jou diepste wese. En daarsonder kan ons nie. Tel ’n bietjie hoeveel minute tik verby voordat jy soggens na jou foon begin soek? Ons is permanent gekoppel aan ’n siellose wese wat ’n taal praat wat ons kwalik verstaan, maar ons lewens deurvloed. Wie is hierdie “ding”; hierdie slim ding?
Wie is die gogga in die komper?
Niks. En ook eintlik alles. Jou rekenaar, tablet, slimfoon, motor, yskas en televisie is niks meer as ’n spul drade, plastiek en soldeersel nie. Dis ’n dooie ding sonder krag. Maar met net ’n kwertsie elektrisiteit verander selfs die mees onskuldige toestel in ’n luistervink soos min.
...........
KI is die toekoms en heelparty mense bewe in hul broeke daaroor. Robotte gaan my werk steel! Hulle gaan alles oorneem! Daar is niks meer privaatheid oor nie! Waar gaan dit eindig? Dit gaan nie eindig nie.
...........
Dit begin natuurlik alles by die internet of ’n soekenjin. Hoe bak ek nou weer daai lekker koek? Hoe ver is dit van hier tot by Memel? Hoe laat begin die film? Hoe warm gaan dit vandag word? Wat was die Springbokke se score? Die oomblik dat jy iets van die internet af vra, maak jy die gogga wakker. Jy sien, die internet en al die slim algoritmes daaragter weet nie wie presies jy is nie, dit sou onwettig wees, maar hulle weet presies wat jy dóén. En omdat ons almal iets doen, is dit net ’n kwessie van tyd voordat jy met advertensies van koekblikke tot rugbytruie gebombardeer word. Vir die algoritmes van die tegnosfeer is jy nou ’n nommer wat aan sekere toestelle gebind is en van sekere goed hou. Nog meer onrusbarend dalk, ’n nommer wat spesifieke plekke op spesifieke tye besoek om spesifieke dinge met ’n spesifieke bankkaart te koop.
Skaakmat
Ja, maar ek gebruik nie die internet nie, hoor ek jou sê. Helaas. Die tegnoreuse van die wêreld het saamgesweer om jou uit te pluis. Dink mooi: As jy nie ’n Apple-foon het nie, het jy eintlik maar ’n Android-foon. En wie dink jy besit Android... Google natuurlik! En wat van Facebook? Besit hulle ook nie WhatsApp én Instagram nie? Net tussen Android, Apple en Facebook is daar 7 biljoen gebruikers wat listig hul doen en late daagliks verklap. Daar word gekyk na waarna gebruikers kyk, waarna hulle soek, met wie hulle praat, waaroor hulle praat, waarheen hulle gaan en waarop hulle geld spandeer.
Wie ons hiervoor moet bedank, is Lou Montulli, die oer-oupa van die HTTP Cookie. HTTP staan vir Hypertext Transfer Protocol. Dit is hoe rekenaars met mekaar praat. Cookie is kort vir “magic cookie”, ’n kort blitsdata wat tussen twee verwerkende rekenaars uitgeruil word om ’n spesifieke aksie of gebeurtenis te onthou.
Dit skuil op jou rekenaar en foon en hoe langer jou spesifieke cookies data versamel, hoe meer weet hulle van wat jy alles aanvang. Só word jy verpak saam met miljuisende ander mense wat na dieselfde dinge as jy kyk, besoek of nasoek. Hierdie “gehoor” wat op aksies in die werklike, fisiese lewe gebaseer is, word dan aan adverteerders verkoop. Nou maak daai advertensie vir hardloopskoene nadat jy die Comrades ge-google het sin, nuh?
Vanwaar, Gehasi?
Dit eindig nie by advertensies nie. Ons staan op die drempel van ’n rewolusie en daardie cookie in jou komper is broodnodig vir ons vooruitgang as ’n spesie. Die stukkies inligting wat jou rekenaar oor jou aandra, handel oor meer as net dít waarop jy geld blaas. Deur jou dop te hou, leer rekenaars die mensdom ken.
In 1950 vra Alan Turing die vraag: “Kan rekenaars dink?”, en Isaac Asimov publiseer die grensverskuiwende boek, I, Robot. Die crux van die saak was: Mense gebruik logika en inligting om besluite te neem, hoekom kan rekenaars dit dan nie ook doen nie?
Dit was meestal wensdenkery. Vóór 1949 kon rekenaars net inligting stoor. Nie opdragte nie. Sou dit eendag moontlik wees om opdragte tesame met inligting te stoor? En as ons dit kan regkry, sou kompers logiese gevolgtrekkinge kon maak? Dis tog net doodeenvoudige wiskunde, redeneer Turing en Asimov.
...........
Wie is die gogga in die komper? Niks. En ook eintlik alles. Jou rekenaar, tablet, slimfoon, motor, yskas en televisie is niks meer as ’n spul drade, plastiek en soldeersel nie. Dis ’n dooie ding sonder krag. Maar met net ’n kwertsie elektrisiteit verander selfs die mees onskuldige toestel in ’n luistervink soos min.
...........
Hulle was reg. Teen 1957 word ’n konferensie gehou waar die slimste kundiges bymekaargebring word om lewe in Turing en Asimov se teorie te blaas. Net daar word die term “Kunsmatige Intelligensie” of KI gebore. Die mens alleen dink nie meer alleen nie. Die toets vir sukses sal die Turing-toets wees: ’n Rekenaar moet die meerderheid van mense kan oortuig dat hulle nou met ’n mens te doen het.
Oor die volgende paar dekades gebeur die volgende: IBM se superrekenaar Deep Blue klop die wêreldskaakkampioen, Garry Kasparov. ’n Motor ry vir die eerste keer sonder ’n bestuurder. Watson, ’n ander superrekenaar, wen die mees gewilde vasvraprogram op Amerikaanse televisie. Digitale persoonlike assistente verskyn in slimfone. ’n Duisend rekenaars span saam om ’n kat tussen miljoene video’s op YouTube suksesvol te eien. ’n Chatbot genaamd Eugene Goostman slaag glo die Turing-toets. ChatGPT word vrygestel en amper onmiddellik belê Microsoft $10 biljoen daarin.
Sit dit af, sit dit af!
KI is die toekoms en heelparty mense bewe in hul broeke daaroor. Robotte gaan my werk steel! Hulle gaan alles oorneem! Daar is niks meer privaatheid oor nie! Waar gaan dit eindig?
Dit gaan nie eindig nie. Jou wêreld is alreeds omring deur KI. Dink maar aan die wasmasjien wat die bondel klere weeg. Die yskas se termometer wat die verkoeling op ’n somersdag opwaarts verstel. Die mediese fonds wat jou kroniese medikasie foutloos by die naaste apteek bestel. Die Uber wat sopas voor jou voordeur gestop het.
Daar word geskat dat teen 2027 die KI-industrie 276 biljoen dollars in waarde sal bereik. En 1.8 triljoen dollars net drie jaar daarna. Huidig is daar 3 definisies vir KI: Swak, Algemeen en Super. Oftewel, Machine Learning, Deep Learning en Neural Networks.
...........
Huidig is daar 3 definisies vir KI: Swak, Algemeen en Super. Oftewel, Machine Learning, Deep Learning en Neural Networks. Swak KI is die baie slim Siri of Google Assistant. ... Selfs ChatGPT val in hierdie kategorie. ... Super KI is ’n rekenaarprogram wat beter vaardigheid en kognitiewe vermoë as die mens sou besit.
...........
Swak KI is die baie slim Siri of Google Assistant. Hul funksies is beperk tot vooropgestelde antwoorde wat met data op die internet aangevul word. Selfs ChatGPT val in hierdie kategorie.
Algemene KI is masjiene wat hul eie funksies kan aanpas soos hulle take doen om daaruit te leer. As’t ware, ’n rekenaarprogram met menslike intuïsie. Voorbeelde hiervan is Google DeepMind se AlphaGo, wat onlangs menslike spelers uitoorlê het in ’n strategiespel wat al 3000 jaar gespeel word.
Super KI is ’n rekenaarprogram wat beter vaardigheid en kognitiewe vermoë as die mens sou besit. Die rekenaar se binnegoed en “denkpatrone” sal dié van die menslike brein se neurale netwerk weerspieël en dan verbysteek.
Kalmeer vir my, toe?
KI is in sy kinderskoene. Huidig bestaan Swak KI meestal en steeds is die debat aan die gang: Moet ons dit afsit?
In elke industrie waar KI toegepas word, is daar nog net meer werksgeleenthede geskep. Teen 2030 sal KI in 60% van alle industrieë teenwoordig wees.
Die toepassings van KI is verreikend.
In die mediese industrie sal dokters binnekort op digitale multidissiplinespesialiste kan staatmaak. Elke siekte, elke diagnose, elke uitkoms sal in sekondes geweeg word om dokter en pasiënt by te staan.
In die landboubedryf sal KI gewasse en vee vir siektes monitor, selektief besproei en bespuit, versendings kan sorteer, grondvoeding beheer en oeste akkuraat vooruit skat en gevolglik boerderymetodes aanpas.
In die finansiële sektor sal KI bedrog kan keer voordat dit gebeur, klantediens selfs ná werksure verskaf, jou huislening goedkeur sonder enige papierwerk, jou versekeringseis uitbetaal sonder dat ’n mens in die proses betrokke was en outomaties die beste aftreepolis vir jou uitwerk en namens jou op die aandelemark handeldryf.
...........
KI is maar net rekenaars wat nou ook aan die menslike ondervinding deelneem.
...........
In vervoer sal KI motors, busse, bote en dalk selfs vliegtuie kan bestuur, verkeersknope oplos deur die spoedgrense outomaties aan te pas, die presiese sekonde voorspel wanneer jou motor, vliegtuig of trein sal opdaag en vlieënde taxi’s ’n realiteit maak.
In onderwys sal KI sillabusse outomaties aanpas in lyn met die leerder se vordering of die opleier se oogpunt, handboeke onmiddellik vertaal, video’s voorlees, eksamens saamstel, vraestelle daarna merk en klasskedules opstel en aanpas soos benodig.
In die media sal KI artikels kan skryf wat op gebeure geskoei is wat sekondes gelede plaasgevind het, feite nagaan, foto’s versamel, bronne verifieer en getuienis wat op sosiale media verskyn, in betroubare artikels omskep.
Al hierdie bogenoemde wonders is nie ’n skim op die veraf horison nie. Dit is praktiese KI wat vandag alreeds toegepas word. Die oorsprong daarvan is data. Algoritmes is honger vir data. Hoe meer vir hulle gevoer word, hoe beter word die besluitneming. Dit is só: Om aan Marmite te dink net om daarna ’n Bovril-advertensie te sien, maak ’n mens ongemaklik. Die feit is egter dat ons almal aan mekaar verbind is deur ons doen en late. KI is maar net rekenaars wat nou ook aan die menslike ondervinding deelneem.
> Lees meer oor kunsmatige intelligensie op LitNet hier.
> Lees ook:
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer
Die metaversum: Web 3.0 en die opkoms van digitale leefwêrelde
Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns
AfriKI: Kunsmatige Intelligensie-gedigte in Afrikaans | Videolesing in Engels en Afrikaans
In gesprek met ChatGPT, ’n kunsmatig-intelligente rekenaartoepassing
Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld
Kommentaar
Sjoe…!
Uitstekend, Sidney Gilroy.
Die fout wat almal met KI maak is dat rekenaars, selfs superslim rekenaars, is op logika, algoritmes, en data gebaseer. Dít wat die mens suksesvol maak is ’n onlosmaaklike verbintenes tussen logika en emosie. KI is nog nie in staat tot emosie nie. Hoe programmeer jy emosie in ’n rekenaar? Op data? Logika? Dan praat mens nie eers van bewussyn nie.