KI en die vryskutwoordsmid: ’n fundamentele verskuiwing in strategie en rigting

  • 0

...
Die gevolge van KI vir die vryskutarbeidsmark is enorm. Dit het die mat onder skrywers se voete uitgepluk.
...

Dit was, om Anne Carson aan te haal, “’n alsdeurdringende stygstroom van angs”.

Die eerste twee maande van die jaar is vir vryskutskrywers, -vertalers en -redigeerders altyd maer tye na Kersfees. Ons moet wag tot uitgewers weer hulle ritme kry.

Helaas, teen begin Maart 2023 het daar ’n beklemming in my opgestyg.

Vir vyf jaar was my dagboek maande vooruit beset. En toe skielik niks nie, behalwe ’n los werkie hier en daar, beslis nie genoeg om rekeninge te betaal nie.

Dit was nie net ek nie, het ek later uitgevind. Teen Desember 2023 het een vertaler 30–40% minder verdien as wat sy in 2020 verdien het. ’n Skrywer van Mosselbaai vertel my sy verdien nou, in 2025, minder as die helfte van wat sy in 2022 verdien het.

’n Dekade lank het dit vir vryskuttaalwerkers al moeiliker geraak, soos tariewe stilgestaan1 het. Hierdie ding was egter iets heel anders. Ons praat hier van ’n skielike, byna algehele uitwissing van ons vermoë om ’n bestaan te maak.

Wat het verander?

In Maart 2023 is ChatGPT 4 geloods.

“Die impak van ChatGPT was feitlik onmiddellik vir my,” sê Kirsten Holmes. “Om en by Maart 2023 het werk erg begin wegval. In Augustus daardie jaar het ek my eerste volle week sonder werk beleef, wat toe my eerste maand sonder werk geword het.”

Minnie Desaivre, ’n veeltalige vertaler met internasionale kliënte, moes twee aftree-annuïteite wissel. Sy onttrek nou die maksimum uit ’n klein pensioen wat ontydig uitbetaal word van die annuïteite.

“Ek het spekboomblatjang gemaak en by ’n plaaslike padstal verkoop. Dit het 10 maande gevat om 20 flesse te verkoop,” sê sy. Sy het huurders ingeneem. Sy het aansoek gedoen om ’n Takealot-afleweraar te word, en toe haar aansoek afgekeur is, het sy dit oorweeg om ’n koeksitter te word.2

’n Groot aanlyn meningspeiling wat in Julie 2024 deur McKinsey gedoen is, het bevind dat 63% van die organisasies wat deelgeneem het, juis op generatiewe KI staatmaak om teks te skep of met teks te werk. Hierdie syfer sou waarskynlik nou al gestyg het – die aptyt vir KI word aangeblaas, soos amper alle ander dinge, deur die onversadigbare begeerte na meer wins in ’n korter tyd. Die nuutste verslae toon immers dat 78% van alle maatskappye reeds KI gedurende 2025 in hulle besighede gebruik het.

Omdat generatiewe KI op taal gebou is, is dit nie vreemd dat skryfwerk een van die eerste beroepe is waaruit gate gehap word nie. Skrywers, vertalers en redigeerders is die kanonvoer wat op die voorfront afgemaai word deur die eienaardige menslike drang om tegnologie te laat seëvier in die wêreld van arbeid, teen ’n koste wat selde in die ekstatiese opskrifte oor produktiwiteit verskyn.

...
Omdat generatiewe KI op taal gebou is, is dit nie vreemd dat skryfwerk een van die eerste beroepe is waaruit gate gehap word nie.
...

“KI,” sê ’n vryskutvriendin met meer as 30 jaar ondervinding in die bedryf, “is soos Liewe Jesus. Dis die nuwe verlosser.”

Soos baie ander skrywers, redigeerders en vertalers, het sy geen ander keuse nie as om vinnig te leer hoe om haarself bruikbaar te maak vir die maatskappye wat nog struikel oor die laaste reste van menslike arbeid, om hulself met die nuutste “nuwe normaal” te belyn . Om met kennis te werk, is ’n moordende besigheid. As die tegnologie jou inhaal, word jy nutteloos.

“Ons (mediamense) is nou maar veranderingsfiks. KI bespaar tyd en help mens om meer produktief te wees. Dit help met die sleurwerk. Ek is van nature ’n positiewe mens, en ek glo skeppende mense gaan altyd skep. KI neem nie die drang vir skep weg nie,” sê sy.

’n Jong grafiese ontwerper vertel my dat sy kliënte en base verag wat vir haar uitdrukkinglose, onbruikbare, KI-gegenereerde opdragte stuur wat hulle baie keer nie eers gelees het nie. Tog, wanneer sy presies die teenoorgestelde doen, prys hulle haar daarvoor. Intussen voel sy vasgevang tussen haar ontreddering oor die omgewingsverwoesting wat KI saai en haar eie behoefte om by te bly met die tegnologie.

“Daar is nie ’n enkele dag dat ek nie ’n bietjie siek voel wanneer ek forseer word om KI te gebruik nie,” sê sy.

Die gevolge van KI vir die vryskutarbeidsmark is enorm. Dit het die mat onder skrywers se voete uitgepluk. Aanpasbaarheid – ook om te leer om die einste tegnologie wat jy aanstootlik vind te benut, soos baie al moes doen – is ’n natuurlike en selfbehoudende reaksie. Verarming, aan die ander kant, is ’n gevolg met eksistensiële vertakkings wat oorlewingsvrees laat ontvlam.

Vir skrywers sonder spaargeld of inkomste aangevul deur voorgeslagtelike rykdom, of diegene wat nie lewensmaats met ’n inkomste het wat hul hele huishouding aan die gang hou nie, is skielike armoede hulle lot.

“Ek is twee maande agter met my huispaaimente, twee maande agter met my kredietkaart, een maand agter met al my versekering en skuld die veearts R12k,” sê Desaivre. “Maar ek is op regtige goeie drugs om te keer dat my gemoed val, en so ploeter ek voort.

“Vandag doen ek transkripsiewerk vir ’n bestaande kliënt. Wou dit nie doen nie, maar dit betaal £165. Dit is my grootste kliënt, wat voor 2021 aan my ’n minimum van £1 500, soms tot by £3 000, per maand gegee het.”

Holmes sê: “Ek het baie maande van die hand in die tand gelewe. Dit is verlig toe ek my verlore inkomste met betaalde blogging vervang het.”

Holmes het ’n Facebook-plasing geskryf waarin sy aan haar vele getroue lesers verduidelik waarom sy nie langer haar inhoud verniet kan weggee nie.

“Mense is nie bewus dat hulle besig is om menslike skrywers van die eiland af te stem nie,” vertel sy my.

Ditto.

As ek nie my eie nuusbrief na Substack geskuif het in 2022 nie – pure geluk en een of ander genade dat dit voor die ineenstorting was van 2023 – en nie my lesers die opsie gegee het om vir my skryfwerk te betaal nie, kan ek met sekerheid sê dat ek in daardie jaar sou gesukkel het om te eet.

Teen die draai van die eeu, toe ek uit die nuuskantoor na vryskutwerk geskuif het, het ek R2,50 per woord verdien. Die gemiddelde tydskrifartikel was 1 200 woorde lank, wat vir my R3 000 per artikel besorg het. Met moeite kon ek ses per maand skryf – ontsettend moeilik wanneer jou werk gebaseer is op navorsing en onderhoude – en net genoeg verdien om my kostes te dek.

Drie-en-twintig jaar later, met my betaalde Love Letter, het ek, op die meeste, R2 000 verdien om die ongeveer 4 000 woorde per maand te produseer. Daardie R2 000, hoe min dit ook al was, het my gered.

Tuistes soos Patreon en Substack bied ’n geleentheid aan skrywers om hulle geld direk uit lesers se betalings te maak, maar sukses hier berus swaar op faktore soos of jy al klaar ’n gevestigde lesersgemeenskap elders opgebou het, of ’n lys e-posse wat jy kan ontgin.

Dit hang ook af van jou aptyt om konstant mense na jou werk te dryf deur middel van die sosiale media wat deur geheimsinnige en veranderende KI-algoritmes regeer word. Dáái is ’n moeilik ding vir baie skrywers, wat van nature privaat mense is vir wie selfpromosie verdoemend is.

Die ander struikelblok met betaalde blogging is om betalingsmetodes op te stel: Skrywers uit Afrika, Indië en die Globale Suide word nie altyd goed bedien deur die betaalstrukture op hierdie webtuistes nie.

Dan, boonop, blyk die spoggerige “organiese groei” waarby skrywers in die VSA en Kanada baat vind op hierdie tuistes, nie toepaslik te wees op skrywers elders in die wêreld nie.

Transformasie na nuwe weivelde

’n Gevolg wat minder bedreigend is as verarming, is transformasie. In besigheidsjargon is die woord hiervoor pivot: ’n fundamentele verskuiwing in strategie en rigting.

Om as ’n alleenloper in die wêreld van geldverdien te wees, het die voordeel dat net een persoon hoef te “pivot” om aan te pas by veranderende tye. Maklik is dit egter nie. Nuwe opleiding kos geld, en wanneer jy dubbeld so hard werk vir ’n derde van die inkomste wat jy oorspronklik aangebied is, is dit moeilik om balletspronge na nuwe inkomstebronne te maak.

Tiah Beautement, wat leer om ’n hondeafrigter te word, het onlangs geskryf oor die vele navrae aan woordsmede om KI se skryfwerk reg te maak, iets wat ek self dadelik geweier het om te doen, want om ’n vertaalde werk menslik te laat klink, neem meer tyd as die vertaling self; die betaling wat aangebied word, is boonop soms tot twee derdes minder. Meer nog: Dit is sieldodend en meer as net ’n bietjie beledigend.

Beautement sê: “Die hele affêre is neerdrukkend, en nee, om in die puppy training-sfeer in te gaan, sal dit nie magically regmaak nie. Ek kan nie dekades se ondervinding uit my gat uit trek nie; dit vat tyd om op te bou.”

Die samelewing verarm

Woordmense kán aanpas. Hulle is die afgelope drie jaar al besig met die gimnastiek wat KI vereis, maar die verlies van hulle vaardigheid het ’n domino-effek wat nie onmiddellik sigbaar is vir die besighede wat hulle in diens gehad het nie.

As voorbeeld dien skryfwerk om maatskappye se vindbaarheid op die web te verbeter, sogenaamde SEO- (Search engine optimisation-) skryfwerk . Dit is ’n vaardigheid waaroor baie inhoudskrywers beskik, maar met KI maak SEO (skynbaar) minder saak. Minder verkeer word nou na klein besighede se webtuistes gelei, en hulle inkomstes ly daaronder. Ja, baie sal aanpas – dit het ons tydens Covid gesien – maar dit gaan dalk ’n rukkie neem voordat die samelewing besef wát ons alles verloor wanneer ons ons skrywers verloor.

Dan is daar die algemene aftakeling van kennis en kritiese denke, die klakkelose geloof dat as KI jou ’n antwoord bied, dit die korrekte antwoord is.

...
KI is nié intelligent nie, ’n feit wat algemeen misgekyk word.
...

KI is nié intelligent nie, ’n feit wat algemeen misgekyk word. KI se paaiende, onderdanige reaksies op vrae beteken nie KI kan dink, redeneer of empatiseer nie. Ten spyte daarvan volg private gebruik van kletsbotte ’n patroon: Mense gebruik dit meestal as ’n adviseur (49%), anders as ’n beplanner (40%) of ’n “kreatiewe” vennoot.

Ek lees oor KI-ontwikkelinge en bly daagliks op hoogte daarvan. Die skitteroogentoesiasme daarvoor – selfs van mense wat passievol is oor klimaatsverandering en redelose verbruik – fassineer my. Ek is al meer as een keer vertel my weerstand teen KI het met onkunde te doen.

“Wanneer mense my sê dat ek KI haat omdat ek nie weet wat dit kan doen nie,” sê ’n tydskrifsubredakteur wie se oorlewing in haar bedryf daarvan afgehang het dat sy geleer het om KI te gebruik, “wil ek vir hulle sê nee, dis presies omdat ek weet wat KI is dat ek voel soos ek voel daaroor. Heel duidelik weet jy sélf nie veel van KI nie.”

Op ’n persoonlike vlak: Soos ek my lewe herrangskik sedert die botte my as ’n vertaler en redigeerder vervang het, verkies ek om nie met KI om te gaan nie. My redes is veelvuldlig, en hulle het min te doen met die feit dat dit ’n beroepsomkeer vereis het. My posisie, terloops, word na verwys as “KI-veganisme”, het ek onlangs verneem. Ek sou “KI-geheelounthouer” verkies, maar die waarheid is eintlik dit: ’n Mens kán nie ’n geheelonthouer wees nie. Hierdie ding is nou ingeweef in ons bestaan.

Ek kan egter kies om KI vermy waar ek kan, en ek weier volstrek om KI te vra om iets te doen wat ek self kan doen. Dit is ’n voorreg wat ek as vryskutwerker het. Ek koester daai voorreg.

Wetend hoe onbetroubaar KI is, vermy ek mense wat KI-waswater op hulle sosialemediaplasings opdis. Wanneer iemand op ’n Facebook-groep om advies vra en iemand anders sê “Ek het KI gevra”, voel ek effe histeries: Kry mense nie skaam om dit te sê nie?

Duidelik nie.

Nou die dag hoor ek ’n gesprek waarin een man vir ’n ander vra of hy KI gebruik.

“Heeltyd!”

Sy opgewondenheid was so enorm hy moes dit uitroep.

Waarvoor gebruik hy dit? wou sy gespreksgenoot weet.

Luid en oortuig van sy saak noem hy vir die hele koffiewinkel die lys takies wat hy uitkontrakteer vir, soos hy klaarblyklik glo, ’n klein, kostelose towerdienskneg wat agter sy skerm sit en bevele uitvoer.

Hy het heel duidelik nog nooit oorweeg dat KI nóg gratis, nóg magies is nie. En menslik is dit beslis nie.

Hierdie luide botlekker sluit sy uitbarsting af met: “En as my dogter siek word, vra ek net KI wat om te doen!”

As ek nie alleen was nie, sou ek my oë gerol het.

Met die ontredderende hebsug van tegnobase en die kwylende kruiperigheid van die vroegopnemers; tussen die oordeelsdagvoorspellings van die klik-aas-nee-seggers; tussen die vals slyk van botkopie en nare botkuns; in die middel van ’n tegnologiese coup d’état wat alles verander, vind ek dat ek meestal verveeld is.

Dit is dieselfde reaksie wat ek het op teks wat “geskryf” is deur KI, wat in realiteit net ’n rangskikking is van syfers in geloofwaardige patrone, nie ’n uitdrukking van menslike taal nie. Soos een van die mense met wie ek ’n onderhoud gevoer het, dit stel: “Dis sielloos, kleurloos, generies en korrek.”

Om John Warner aan te haal na die dood van die groot skryfafrigter Peter Elbow vroeër die jaar: “One of the gifts of the existence of large language models has been to demonstrate the gap between machine prose and that which can be produced by a unique human intelligence.”

*

Karin Schimke skryf ’n weeklikse Love Letter vir haar lesers. Sy werk as ’n privaat skryfafrigter en spookskrywer. Sy vertaal, skryf en redigeer ook soms nog vir diegene wat menslikheid verkies. Sy werk meestal in Engels, dus is hierdie stuk vertaal deur haar en die vertaler, argitek en digter Andries Samuel. ’n Engelse weergawe sal later op Love Letter gepubliseer word.

Notas:

1 Dit was nie die gewone kwessie van “vryskuttariewe hou nie tred met inflasie” nie. Nee; tariewe het gemiddeld met omtrent 5,5% sedert ons jaar van inperking gestyg.

2 Hierdie satiriese essay is deur Minnie Desaivre as privaat korrespondensie aan Karin Schimke gestuur. Schimke het Desaivre genader oor moontlike plasing saam met haar beraadstuk op LitNet. Desaivre het goedgunstiglik ingestem dat “Cake sitting to ward off AI” geplaas mag word.

Cake sitting to ward off AI

Lees en kyk ook:

Karin Schimke: Ingrid Jonker award ceremony speech

Karin Schimke: Sol Plaatje Award for Translation in 2016 to 2018: acceptance speech by Karin Schimke

Mercia Coetzee: Digters, denkers en datamasjiene: Wie se werk is dit?

Frederik de Jager: Mens versus masjien: ’n nuwe opstand teen die Berg Olimpus?

Bettina Wyngaard: Wat sê Bettina? Hoekom ek weier om KI te gebruik

Anke Theron, Tumi Steyn en Linki Brand: Goue lint my storie begint: Kunsmatige intelligensie (KI) en kinderboekillustrasies

Freek Robinson en Deon Opperman: Ja vir KI in die skeppende bedryf!

Karin Schimke and Naomi Meyer: Navigate: an interview with Karin Schimke

Anné Hendrik Verhoef: Kunsmatige-intelligensie-Jesus-kletsbotte se uitdaging vir teologie: ’n verkennende studie

Bettina Wyngaard: Wat sê Bettina? Wanneer KI hallusineer

Crito (Kerneels Breytenbach): Ek sing ’n ou, ou liedjie

Stefaans Coetzee and Joanne Hichens: Stefaans Coetzee in conversation with Joanne Hichens

Freek Robinson en Pieter Geldenhuys: Die toekoms is nie meer dieselfde nie

Nini Bennett-Moll: Heil die Leser! Sameer Rawjee: KI in perspektief

Burgert A Senekal: SteedsDink met LitNet Akademies: Burgert Senekal oor sy akademiese navorsing

Naomi Meyer and Karin Schimke: Karin Schimke’s gap year: an interview

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top