
- Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.
Het jy geweet jy kan ’n volkleur- realistiese illustrasie skep met slegs een sin? Dit is natuurlik te dankie aan AI, oftewel KI (kunsmatige intelligensie).
KI is die vermoë van ’n rekenaar, deur middel van ’n algoritme, om ’n taak te verrig wat voorheen slegs deur ’n persoon verrig kon word. Die meeste mense ken dit as ChatGPT, wat eintlik maar net een spesifieke KI-model is. Ons besef dit dalk nie aldag nie, maar die produkte van KI is besig om oral in ons lewens in te kruip.
In beginsel is die konsep van KI nie sleg nie. Ons soek ’n masjien wat vir ons die vervelige, langdradige en puntenerige takies vinnig en sonder moeite kan verrig. Dit klink eintlik skadeloos, indien dit reg en eties gebruik word.
Wie onthou die opkoms van die internet en al die waarskuwings wat ons gehoor het? Moenie alles wat jy op die internet lees, vertrou nie. Verifieer jou feite. Moenie dit gebruik nie, want jy weet nie waar daardie inligting vandaan kom nie. Is al hierdie dinge nie ook waar omtrent KI nie? In hierdie aflewering, lywiger as gewoonlik, gaan ons kyk na die impak van KI op kinderboeke, spesifiek op die kwaliteit, gehalte en werksproses agter die illustrasies vir kinderboeke.
Daar is verskillende opinies oor die gebruik van KI in die illustrasie-, ontwerp- en visuele kunste-bedryf en selfs nog meer menings daaroor.
Wanneer dit by kinderboeke kom, is daar ook belangrike vrae oor die etiek. Vrae oor hoe geloofwaardig die illustrasies lyk en selfs in die boekbedryf ten opsigte van boekomslagkuns.
Ons het gaan aanklop by twee gevestigde illustreerders om te hoor wat hulle dink en wat hul beskouings is omtrent die gebruik van KI, en of hulle dit in hul werksproses gebruik om illustrasies te skep.
Internasionale grafiese ontwerper en illustreerder – Linki Brand
Linki Brand is ’n grafiese ontwerper en kinderboekillustreerder wat tans in Dale in Noorweë woon saam met haar gesin. Sy is ’n voltydse programbestuurder by ’n spesialiteitsinstansie vir grafiese ontwerp in Noroff, Noorweë. Voor dit was sy woonagtig in Skotland weens haar man se werk. Alhoewel sy ’n gebore Suid-Afrikaner is. Van haar eerste illustrasiewerk is in Bettiesbaai in die Wes-Kaap ten aanskoue van die groot oop see geskep.
Sy het goedhartig ingestem om ’n ellelange lys vrae deur middel van e-pos te beantwoord rondom die impak van KI op haar werk en hoe sy dit benut in haar werksproses.
Hoe lank is jy al werksaam as ’n grafiese ontwerper en professionele illustreerder, spesifiek van kinderboeke?
Ek is omtrent 18 jaar in die bedryf – as grafiese ontwerper sedert 2007 en as kinderboekillustreerder vanaf 2018. Ek werk nie tans aktief as ’n kinderboekillustreerder nie, aangesien ek ’n voltydse programbestuurder van ’n grafiese ontwerp-kursus is by Noroff.
Wat is jou voorkeur-illustrasiestyle en -tegnieke?
Ek het altyd digitaal gewerk. Maar deesdae – as ek kans kry om ’n voorblad te ontwerp of te teken – verkies ek ’n kombinasie van digitaal en handwerk. Juis as reaksie teen KI (maar dit beteken nie dat ek KI verwerp nie – ek gebruik dit ook!).
Het jy enige ervaring met digitale illustrasieplatforms en -instrumente?
Ja, Procreate. En dan Photoshop en InDesign vir uitlegwerk.
Hoe vertroud is jy met KI-illustrasietegnologieë soos Dall-E, Midjourney of Stable Diffusion?
Redelik vertroud. Ek eksperimenteer al vanaf Kersfees 2022. Eers met Midjourney en toe met Dall-E deur middel van ChatGPT.
Het jy al enige KI-instrumente in jou eie werk gebruik? Indien wel, hoe het jy dit gebruik?
Ek het, ja! Maar as boustene. Soos collagewerk – ek voeg verskillende dele by om iets self te skep. ’n Voorbeeld hiervan is die voorbladontwerp vir ’n Jaar in my lewe deur Louis Pretorius.
Indien jy dit gebruik het, wat was die reaksie van kliënte of uitgewers op KI- ondersteunde illustrasies?
Ek het die gebruik van KI met die uitgewer bespreek. Hulle was van mening dat ek dit kan gebruik nes mens ’n stock image sou gebruik – en as boublok om ’n ontwerp te maak. Solank alle elemente self gegenereer is en erkenning gegee word as dit deur iemand anders gegenereer is.
Is daar ’n fundamentele verskil tussen illustrasiesagteware en -programme wat ’n persoon gebruik om digitaal te illustreer, teenoor KI-illustrasietegnologieë? Hoe sal jy die belangrikste verskille aan iemand wat niks daarvan weet nie, verduidelik?
........
Ek sien KI as nog ’n instrument. MAAR dis belangrik om aan die stuur te wees en iets te kan verfyn en verwerk totdat dit presies is wat jy wil oordra aan die ontvanger. Dit is maklik om meegesleur te raak en dat die KI jou lei. Jy moet as’t ware die dirigent van die orkes bly.
........
Albei is instrumente in die hand van ’n menslike skepper. Solank daar ’n menslike perspektief betrokke is en jy aan die stuur van sake bly en nie blindelings die KI-skepping gebruik nie, is daar tog betekenis en waarde. Ek sien KI as nog ’n instrument. MAAR dis belangrik om aan die stuur te wees en iets te kan verfyn en verwerk totdat dit presies is wat jy wil oordra aan die ontvanger. Dit is maklik om meegesleur te raak en dat die KI jou lei. Jy moet as’t ware die dirigent van die orkes bly. Daar is natuurlik etiese kwessies – die feit dat die image generator AI’s deur kunswerke (geskep deur mense) opgelei is; kunstenaars wat nie toestemming gegee het nie. So die etiek daarvan is nie ’n uitgemaakte saak nie. Maar dit help nie om jou kop in die sand te druk en te maak asof dit nie bestaan nie. Dit is hier en ons moet ondersoek hoe dit eties en nuttig gebruik kan word.
Kom ons gesels oor die impak van KI op die algemene bedryf. Watter veranderinge het jy opgemerk in die manier waarop uitgewers of kliënte illustrasiewerk benader sedert die opkoms van KI-instrumente?
Ek kan eerlikwaar nie sê nie, omdat ek nie meer so nou betrokke in die bedryf is nie. Maar ek weet KI word reeds ten volle geïmplementeer in die grafiese ontwerp-bedryf en vir kommersiële doeleindes gebruik.
Volgens jou is daar beslis en sonder twyfel spesifieke opdragte of projekte wat nou eerder aan KI toegewys sal word in plaas van ’n tradisionele illustreerder. Sou jy sê dat jou werk bedreig word deur KI? Op watter manier sou dit jou werk bedreig of al dan nie?
Ja. Daarom moet ons onsself herbesin as skeppers van beelde en probeer vriende maak met KI en dit op die mees sinvolle manier gebruik. Dis ’n vreemde tydperk. Rebellie gaan mens nie ver bring nie, versigtige nuuskierigheid wel. Hou aan karring.
Hoe vergelyk die gehalte van KI-gegenereerde illustrasies volgens jou met tradisionele, “mensgemaakte” illustrasies, spesifiek vir kinderboeke?
Dis nie sleg nie. Mens kan ongelooflike goed maak – veral as jy ’n opgeleide oog het. Die internet is egter tans gevul met aaklige KI-skeppings deur mense wat min omgee oor kuns of visuele kommunikasie.
Is daar spesifieke elemente van kinderboekillustrasies wat KI suksesvol naboots of nie kan naboots nie?
Dit kan baie style naboots van baie bestaande illustreerders – hier kom die etiese probleem weer in. (Hulle het nooit toestemming gegee dat hulle werk gebruik word as opleidingsmateriaal nie.) Die KI-skepping is nie altyd presies wat die prompt was nie – wat ’n goeie en ’n slegte ding is. Dit kan mens frustreer as jy iets superspesifieks wil hê. Maar aan die ander kant skep dit dus nog ’n leemte wat ’n ontwerper of illustreerder kan vul.
Watter unieke estetiese of emosionele kwaliteite bring menslike illustreerders na kinderboeke wat KI moontlik nie kan repliseer nie?
’n Unieke uitgangspunt. Die menslike skepper bring saam met hulle ’n persoonlike uitdrukking van tyd en plek en ervaring en weet instinktief wat met ’n teikenmark sal resoneer.
Het jy ’n verandering in die volume van jou werk of in opdragte opgemerk sedert die opkoms van KI-illustrasie-instrumente?
Nee, ek werk tans in ’n ander hoedanigheid. Maar ek is seker daarvan daar word minder gebruik gemaak van klassieke illustreerders teenoor vroeër. Dié wat wel KI gebruik, kan nou vinniger en meer werk produseer. Dit is dalk die uitweg.
Het KI-tegnologieë jou vergoedingstruktuur of die tariewe wat jy kan vra, positief of negatief beïnvloed?
Ek kan nie hier rêrig antwoord nie. Ek wonder of die illustreerders wat dit gebruik, altyd eerlik daaroor is. Dit is tans vreeslik taboe.
Het jy die behoefte ervaar om jou vaardighede aan te pas of nuwe tegnieke te leer om relevant te bly in ’n KI-gedrewe mark?
Ja. Ons moet. Dit is al uitweg. Aanpassing en toekomsstrategieë is oorlewing.
Watter strategieë of aanpassings het jy ontwikkel om met KI-gegenereerde illustrasies mee te ding of daarmee saam te werk?
Ek ding nie mee nie. Ek werk saam met dit. Nou om meer openlik daaroor te praat. Met studente is ons tans besig om ons kurrikulum te ontwikkel sodat hulle kritiese denke en visuele vaardighede ontwikkel met KI aan hul sy. Ek het nie die antwoorde nie, maar ek is soekend. Die geheim is om human agency (menslike agentskap) te behou en bewus te wees dat KI bloot ’n spieël is van bestaande dinge – dit skep nie rêrig unieke, nuwe dinge nie. Maar jy, in gebruik van KI en met jou unieke insigte, kan nuwe dinge skep.
Jy beskou KI-instrumente as ’n potensiële hulpmiddel vir haar kreatiewe proses, eerder as ’n plaasvervanger. Hoe sien jy die toekoms van werklike, menslike illustreerders in die kinderboekbedryf namate KI-tegnologieë verbeter?
As orkesdirigente. Bly wakker, moenie aan die neus gelei word deur KI nie, maar gebruik dit as ’n assistent.
........
Die werklike taai tameletjie kom by die etiese en kopieregkwessies. Die manier waarop KI werk is deur reeds bestaande kunswerke en beelde te gebruik om ’n nuwe saamgestelde beeld te skep.
........
Die werklike taai tameletjie kom by die etiese en kopieregkwessies. Die manier waarop KI werk is deur reeds bestaande kunswerke en beelde te gebruik om ’n nuwe saamgestelde beeld te skep.
Wat is jou mening oor die etiese kwessies rondom KI-illustrasies wat bestaande kunswerke gebruik om te leer?
Dit suig. Maar hoe dan anders? Ek weet nie. Dis ingewikkeld. Ek is jammer vir die illustreerders wat tans ’n lewe probeer maak en wie se unieke werk gebruik is om hierdie masjiene op te lei.
Het jy enige bekommernisse oor kopiereg of intellektuele eiendom met betrekking tot KI-gegenereerde illustrasies?
Kopiereg en KI is onversoenbaar – die rou KI-beeld is deur niemand anders as ’n masjien geskep nie. En kopiereg geld dus nie. Maar iemand wat KI as boublokke gebruik het en iets nuut geskep het, kan seker wel kopiereg daarop plaas – die eindproduk is deur ’n mens aanmekaargesit. Amper soos ’n Dada-collage wat bestaan uit bestaande knipsels.
Hoe dink jy moet die bedryf KI-illustrasies benader in terme van erkenning, toeskrywing en vergoeding?
Ek weet eerlikwaar nie. Ek dink die publiek en veral die kreatiewe bedryf is tans oor die algemeen gekant teen KI – so om dit te vermeld gaan negatiewe reaksie ontlok. Selfs as mens dit gebruik as boublokke. Ek dink wel, as KI rou gebruik word, met ander woorde onveranderd en net soos die masjien dit gegenereer het, moet dit vermeld word. Dit is die regte ding om te doen. Maar as dit omskep word in iets heeltemal nuuts, met ’n duidelike menslike hand daarin, is die aparte KI-beelde niks anders as stock images nie (en mens hoef nie erkenning aan ’n stock image te gee in ’n ontwerp nie).
Kom ons gesels nou meer oor die opvoedkundige en kulturele aspekte van byvoorbeeld kinderboekillustrasies. Hoe goed vaar KI-gegenereerde illustrasies in die uitbeelding van kulturele diversiteit en inklusiwiteit in kinderliteratuur?
Veral in ’n Suid-Afrikaanse konteks. Wel, dit produseer waarop dit opgelei is – en alle style en kulture word dus nie ewe sterk verteenwoordig in die opleidingsmateriaal nie. Dit is ’n pluspunt en skep dus ruimte vir unieke illustreerders (op hierdie stadium nog). Iets soos Disney of ’n generiese cartoon styl is vervolmaak met KI, omdat dit so baie materiaal gehad het om op te leer. Ander meer naïewe kunsstyle is moeiliker om na te boots met KI, maar dit sal seker binnekort ook verbeter.
Is daar spesifieke Suid-Afrikaanse kulturele elemente wat jy voel KI sukkel om akkuraat uit te beeld?
Ja. Dit neig om meer Amerikaans te wees en verstaan min van ons unieke samestelling in Suid-Afrika. Maar dit kan wel ’n goeie natuurtoneel skep wat eg Suid-Afrikaans lyk.
Is daar enige aspekte wat Afrikaanse kinderliteratuur of die aanleer van taal kan beïnvloed – byvoorbeeld dat illustrasies nie by die teks pas nie.
Miskien kan ek net sê dat die uitgewer noukeurig te werk moet gaan met enige visuele materiaal in boeke – dat dit opvoedkundig akkuraat moet wees. Daar is ’n geneigdheid om KI-amnesie te ontwikkel en net vinnig ’n oplossing te plaas sonder om na die detail te kyk (soos wat ’n ervare illustreerder sou). Wees waaksaam – vra ’n vars, kundige oog om krities daarna te kyk.
Watter impak dink jy het KI-illustrasies op kinders se visuele geletterdheid en waardering vir kuns?
........
Kinders is reeds skepties oor alles wat hul sien aanlyn. Die visuele gryp hulle nie aan soos geslagte voor hulle nie, want daar is ’n oormaat. Betekenisvolle visuele kommunikasie het wel nog ’n plek – eintlik meer as ooit tevore – om deur al die ander geraas te sny.
........
Kinders word reeds stomp gemaak deur al die visuele informasie daarbuite. KI (veral dié wat nie juis fyn beoordeel is nie) voeg by tot daardie visuele kakofonie. Kinders is reeds skepties oor alles wat hul sien aanlyn. Die visuele gryp hulle nie aan soos geslagte voor hulle nie, want daar is ’n oormaat. Betekenisvolle visuele kommunikasie het wel nog ’n plek – eintlik meer as ooit tevore – om deur al die ander geraas te sny.
Kan jy voorbeelde deel van illustrasies wat jy geskep het, wat jy glo KI nie kon repliseer nie?
Ek dink KI sal op ’n manier al die aparte elemente van my illustrasies kan skep. Maar om dit saam te bring met die regte konteks en uitgangspunt gaan baie moeilik wees.
Het jy enige spesifieke advies vir opkomende illustreerders wat ’n loopbaan in die KI-era wil betree?
Werk saam met die KI-monster en nie teen dit nie. Maar maak spasie vir analoogtyd. Weg van alle skerms. Kry jou eie styl êrens tussen die berge weg van tegnologie af, want mense gaan beter bind aan iets wat handgemaak en uniek lyk in vergelyking met al hierdie generiese, glanserige KI-gemors wat tans verskyn. Maar dit help nie om niks te weet daarvan nie. Gebruik dit om sekere dele van jou proses makliker en vinniger en meer effektief te maak.
Is daar enige ander gedagtes of perspektiewe oor KI en kinderboekillustrasie wat jy met ons wil deel?
Ek glo unieke skeppers sal aanhou bestaan. Die bedryf gaan weer eens gelouter word – net die mees talentvolles en mees aanpasbares gaan oorleef.
Anke Theron: Kyk gerus na die video hier onder om te sien hoe Brand haar ontwerp en illustrasieproses vir Louis Pretorius se opkomende jeugroman verduidelik.
Weens die aard en gebruik van KI in verskillende domeine, sal daar altyd verskillende menings wees oor die gebruik daarvan. Nie almal sal altyd saamstem oor hoe om dit te gebruik nie, en of ons dit wel moet gebruik.
Suid-Afrikaans-gebaseerde illustreerder – Tumi K Steyn
Ontmoet vir Tumi K Steyn. Sy is ’n illustreerder wat gevestig is in die kinderliteratuurgenre en as jy mooi kyk, pronk haar naam op verskeie pragtige kinderboeke.
Sy het van jongs af ’n passie vir teken en die versameling van prenteboeke gehad, en dit het uiteindelik haar loopbaan as illustreerder gevorm. Sy het reeds op 18 haar eerste boek vir ’n internasionale skrywer geïllustreer en sedert 2013 fokus sy ook op die plaaslike mark (Lapa Uitgewers). Haar illustrasies het al in kinderboeke, tydskrifte en opvoedkundige publikasies verskyn, onder meer in Fanie Viljoen se Die dag toe die draak kom, Jaco Jacobs se Minki-reeks, Engela Duvenage se Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika, asook in Stories vir pikkies en peuters en gereeld in Vrouekeur. In 2014 is haar werk internasionaal raakgesien toe dit as een van die wenners in TheBookDepository.com se boekmerkkompetisie gekies is. Buiten haar liefde vir illustrasie, geniet sy dit om nuwe potlode te gebruik, te lees en die natuur te waardeer. Sy woon in Johannesburg, waar sy met verskillende kunsvorme en kunsvlyt eksperimenteer, en saam met haar twee besitlike katte leef (NB Uitgewers).
Hoe lank is jy al werksaam as ’n professionele illustreerder of skeppende werker van kinderboeke? Wat is jou vernaamste illustrasiestyle en -tegnieke? Het jy enige ervaring met digitale illustrasieplatforms en -instrumente? Watter mediums verkies jy?
Ek is ’n bekroonde illustreerder met meer as 10 jaar ervaring in digitale en tradisionele illustrasietegnieke. Ek werk hoofsaaklik met digitale illustrasie-instrumente. Ek het nog nooit en sal nooit KI in enige gedeelte van my werksproses gebruik nie.
Is daar ’n fundamentele verskil tussen illustrasiesagteware en -programme wat ’n persoon gebruik om digitaal te illustreer, teenoor KI-illustrasietegnologieë? Hoe sal jy die belangrikste verskille verduidelik aan iemand wat niks daarvan weet nie?
Daar is ’n algemene wanpersepsie dat digitale kuns beteken “die rekenaar doen alles vir jou”. Dit is onwaar. Die gebruik van ’n verfkwas of ’n Apple Pencil behels dieselfde begrip van proporsies, perspektief, kleurteorie, ensovoorts. ’n Suksesvolle illustreerder het ook gewoonlik ’n persoonlike styl wat deurkom in enige medium wat hulle gebruik. Dit is iets wat die kunstenaar self moet ontdek deur oefening en ervaring. Dit kan nie deur ’n rekenaar geskep word nie. Met KI het ons egter die punt bereik waar die rekenaar wel kuns kan skep sonder dat die gebruiker enige talent of kunservaring benodig. Dit verg slegs ’n paar woorde om ’n “kunswerk” te genereer wat op die oog af “volmaak” is. Die werklikheid van KI-kuns is dat dit ’n vorm van plagiaat is wat kreatiwiteit versmoor.
........
Die werklikheid van KI-kuns is dat dit ’n vorm van plagiaat is wat kreatiwiteit versmoor.
........
Hoewel KI indrukwekkend daarin kan slaag om sekere visuele elemente van kinderboekillustrasies na te boots – soos helder kleure, eenvoudige vorms en selfs ’n mate van stylvariasie – sukkel dit dikwels om die subtiele emosionele lae en die unieke estetiese handskrif van menslike illustreerders volledig te repliseer. Menslike kunstenaars bring nie net tegniese vaardigheid nie, maar ook ’n diepgaande sensitiwiteit en intuïsie wat die emosionele wêreld van kinders raak. Dit is moeilik om in algoritmes vas te vang. In terme van kulturele diversiteit en inklusiwiteit, kan KI-gegenereerde beelde soms ’n oppervlakkige verskeidenheid uitbeeld, maar mis dit dikwels die fyn kulturele nuanses wat noodsaaklik is, veral in ’n Suid-Afrikaanse konteks waar geskiedenis, taal, simbole en tradisies ’n groot rol speel. Elemente soos tradisionele kleredrag, gebruike of selfs landskapdetails kan maklik verkeerd of stereotipies uitgebeeld word. Hierdie tekortkominge raak direk aan Afrikaanse kinderliteratuur en onderrig, aangesien illustrasies nie bloot versiering is nie, maar betekenis uitbrei, tekste verdiep en leerders help om die verhaal emosioneel en kognitief te verwerk. Om nie eers te praat van taalvaardigheid nie. Wanneer KI-illustrasies nie by die teks aansluit nie, of kultureel wanverteenwoordigend is, kan dit die leerproses benadeel, die boodskap afwater en die potensiaal van die boek om verbeelding en empatie te ontwikkel verswak.
Watter impak dink jy het KI-illustrasies op kinders se visuele geletterdheid en waardering vir kuns?
Om kinderboeke te skep is ’n uiters belangrike taak wat met insig en ervaring benader moet word, sodat die stories kinders positief beïnvloed. KI kan nie vertrou word om veilige of opvoedkundige materiaal vir kinders te skep nie. Daar is bewys dat KI dikwels geen begrip van reg of verkeerd het nie, of dat dit gewillig is om morele konsepte te misbruik vir eie doeleindes. Prenteboeke is ook ’n kunsvorm waar die teks en illustrasies mekaar moet aanvul om die emosies van die storie oor te dra. Om ’n teks te versier met generiese KI-illustrasies sal nie die nodige nuanses, liggaamstaal en verbeeldingrykheid aandui nie. Gebruik van KI verwyder ook die menslike konneksie wat so belangrik is om empatie en sosiale vaardighede oor te dra in kinderboeke. KI sukkel om kulturele verskille te verstaan, omdat dit hoofsaaklik opgelei is deur Westerse media. In ’n land soos Suid-Afrika, is dit uiters belangrik dat kinders hulself en hul maats in boeke herken en dat kinderliteratuur ons veelrassige samelewing getrou uitbeeld. Vandag se kinders benodig stories wat deur mense in hulle eie gemeenskappe geskep is, sodat hulle rolmodelle vir identiteit en gesonde sosialisering kan hê. Massa-geproduseerde media met Westerse invloede is die teenoorgestelde van alles wat Suid-Afrikaanse kinderliteratuur uniek en lewendig maak. In ’n land waar algemene geletterdheid ’n uitdaging is, kan ons nie bekostig om ons kinders se opvoeding oor te laat aan ’n masjien vol foute en gestroop van menslikheid nie.
Die gebruik van bestaande kunswerke om KI te leer hoe om nuwe illustrasies te skep, bring ernstige etiese vrae na vore. Aangesien dit die oorspronklike kunstenaars se werk benut sonder hul toestemming en dikwels sonder enige vorm van erkenning. Dit lei weer tot groot bekommernis oor kopiereg en intellektuele eiendom, want dit kan neerkom op ongemerkte toe-eiening van kreatiewe arbeid en unieke style. In só ’n situasie raak die lyn tussen kreatiewe inspirasie en plagiaat al hoe onduideliker. Wat is jou opinie hieroor, Tumi?
Die etiese vraagstukke rondom KI-illustrasies is kompleks, omdat die tegnologie dikwels op bestaande kunswerke leer sonder dat die oorspronklike kunstenaars se toestemming gevra of erkenning gegee word. Dit wek ernstige regskwessies en bekommernisse oor kopiereg en intellektuele eiendom, aangesien dit kan lei tot uitbuiting van kunstenaars se unieke style en kreatiewe arbeid. Daar is ’n vrees dat die grens tussen inspirasie en plagiaat al hoe meer verdof wanneer KI-gegenereerde beelde as “nuut” aangebied word, terwyl dit in werklikheid dikwels sterk op bestaande werk steun. Daarom behoort die boek- en uitgewersbedryf baie versigtig en omsigtig om te gaan met die erkenning van menslike illustreerders. Daar moet ook gekyk word na die impak op vergoeding, omdat menslike illustreerders baie meer ure neem om hul werk te skep as KI-modelle wat op hul werk opgelei word of hul style naboots.
Hoe dink jy moet die bedryf die balans handhaaf tussen tegnologiese vooruitgang en die beskerming van kreatiewe regte, en verseker dat kunstenaars nie hul bestaansreg in die proses verloor nie?
Skrywers en uitgewers in Suid-Afrika het hard geveg om kopiereg te beskerm teen onregverdige wetgewing. Dus, om gebruik te maak van KI wat byna uitsluitlik opgelei is deur die oorspronklike werk van mense wat nooit daarvoor vergoed sal word nie, is uiters oneties. KI-kunswerke, hoe “oorspronklik” dit ook al mag verskyn, is ’n vorm van plagiaat. Selfs al word dit slegs as inspirasie gebruik, is dit nog steeds ’n manier om geld en data te gee vir korporasies wat duisende mense se harde werk gesteel het. Toe Photoshop gewild geword het in die 2000’s, was daar kommer oor foto’s en ander media wat verander en versprei sou kon word sonder kopiereg. Met KI het daardie kommer ’n kopieregnagmerrie geword wat ons almal bedreig. Slegs deur saam te staan en te veg vir kreatiwiteit, eerlikheid en menslikheid, kan ons die kern van Suid-Afrikaanse kinderliteratuur beskerm.
........
Skrywers en uitgewers in Suid-Afrika het hard geveg om kopiereg te beskerm teen onregverdige wetgewing. Dus, om gebruik te maak van KI wat byna uitsluitlik opgelei is deur die oorspronklike werk van mense wat nooit daarvoor vergoed sal word nie, is uiters oneties
........
Anke Theron: Steyn raak hier ’n baie rou senuwee aan. Nie net vir kinderboekillustreerders nie, maar vir alle skeppende beroepe, soos die advertensiewese, navorsing, onderwys, finansiële bestuur, enige plek waar daar visueel en tekstueel iets geskep kan word deur gebruik te maak van KI. Dit is beide interessant, opwindend en angswekkend wat KI alreeds kan doen.
In hierdie aflewering van “Goue lint, my storie begint” het ons na twee uiteenlopende indrukke en menings gekyk rondom die praktyk van visuele ontwerp en illustrasies vir kinderboeke. Dit is belangrik om in ag te neem dat hierdie tegnologie nie gaan verdwyn nie. In baie opsigte is programme soos ChatGPT hier om te bly en waarskynlik die Google van die toekoms. Die vrae waaroor ons werklik bekommerd moet wees, is: Hoe gaan ons dit gebruik? Hoe gaan ons dit vir ons kinders leer gebruik? Soos Linki Brand tereg sê: Wees bewus van wat aangebied word. Lees daaroor en kyk nie net na die inhoud wat jou kind lees nie, maar hoe daardie inhoud aangebied word. ’n Enkele illustrasie dra veel meer betekenis en waarde as ’n duisend woorde.
Bibliografie
Brand, L. 2025. Persoonlike onderhoud via e-pos.
Lapa Uitgewers. 2025. Tumi K. Steyn profiel. https://www.panmacmillan.co.za/authors/tumi-k-steyn/132325 (7 September 2025 geraadpleeg).
N.B. Uitgewers. 2025. Tumi. K. Steyn profiel. https://www.nb.co.za/af/authors?authorId=1905 (7 September 2025 geraadpleeg).
Pan Macmillan Uitgewers. 2025. Tumi Steyn profiel. https://www.panmacmillan.co.za/authors/tumi-k-steyn/132325 (7 September 2025 geraadpleeg).
Steyn, T.K. 2025. Persoonlike onderhoud via e-pos.
Lees ook:
Goue lint, my storie begint: Kunsmatige Intelligensie (KI) en kinderboeke
Goue lint, my storie begint: Die impak van tegnologie op kinders en boeke
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer
Elders gesien: Kinderboeke deur kunsmatige intelligensie geskep?
Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke

