Jeremeo Le Cordeur gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020

  • 0

Tydens Julie 2020 het vyf skrywers hul skrywersresidensie by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos voltooi. 

Volgens die Jakes Gerwel Stigting is die fokus van dié residensieprogram (aangebied in samewerking met PEN Afrikaans) veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie. 

Van links: Jeremeo Le Cordeur, André Trantraal, Veronique Jephtas, Khadija Tracey Heeger en Olivia Coetzee

Menán van Heerden gesels met Jeremeo Le Cordeur oor sy ervaring en sy werk.

Jeremeo Le Cordeur

Jeremeo, baie geluk met Vulture Productions se Standard Bank Ovation vir Ouma Lilly & haar Klong-videoreeks as deel van vanjaar se virtuele Nasionale Kunstefees Makhanda. 

Watter stories wil jy oor Ouma Lilly vertel? Watter video is jou gunsteling?

Dankie. Die toekenning was onverwags. Ek was besonders dankbaar ek het al die beeldmateriaal van Ouma deur die afgelope paar jaar behou. Dit het my byna drie weke gevat om die projek aanmekaar te sit. Ek is so dankbaar vir die oorweldigende ondersteuning van die #Oumalilly-aanhangers – en die feit dat my ouma nou op 94 ’n "Award Winner" is.

My gunstelingbeeldmateriaal is waar Ouma Lilly my nuwe kar vir die eerste keer sien. Dit is ook die oorspronklike video wat viral gegaan het:

Ek is tans besig om ’n bundel te skryf, met gedigte, tonele en monoloë wat fokus op die liefde tussen ’n ouma en haar kleinkindklong. Stories uit my en Ouma se verlede en hede word ondersoek en die temas van erfenis, familie, welstand, godsdiens en gemeenskap word in diepte verken.

Lees Jeremeo se voorlesing van "Klein Plasie". Hierdie gedig is deel van die bundel "Ouma se Klong" (werkstitel)

In ’n onderhoud met LitNet en Radio 786 het jy meer oor Vulture Productions vertel. Fotografie van verhoogproduksies is deel van jou platform. 

My fotografie het my sedert 2016 blootgestel aan ’n buffet van teaterproduksies wat ek met my betroubare lense kon observeer. Ek geniet dit opreg om produksies te bespeur deur my lens en ek voel ek het ’n phantom limb wanneer ek ’n vertoning sonder my kamera observeer.

Watter foto's is jou gunstelinge?

Mama (skrywer en regisseur: Chenal Kock, Kunstekaap, Vrystaat Kunstefees en Baxter-teater, 2019)

Phillip Schnetler in Priscilla Queen of the Desert voer "Follie! Delirio vano è questo! Sempre libera" van La traviata op. Kunstekaap, 2017.

Kudu (skrywer en regisseur: Lwanda Sindaphi, Baxter-teater, 2018)

Klippe wat val (geskryf deur Philip Rademeyer, Toyota US Woordfees, 2017/2018)

Ukuwa Kwe Nkaba (skrywer en regisseur: Mthombisi Mpandle, Baxter Zabalaza-wenner, 2019)

Triple Axel (skrywer en regisseur: Nico Scheepers, Toyota US Woordfees, 2020)

Die Garage (geskryf deur Rafiek Mamon, Toyota US Woordfees, 2020)

In Slavenhuis 39 (geskryf deur Herschelle Benjamin, Toyota US Woordfees, 2019/2020)

Weens die COVID-19-regulasies word kunstefeeste en toneelstukke op aanlyn platforms / radio aangebied. Jou Ouma Lilly & haar Klong-videoreeks is ’n voorbeeld van hoe mense se stories aanlyn vertel kan word.

Wat is die moontlikhede mbt aanlyn luisterdramas, radiodramas en aanlyn platforms vir die kunste in hierdie tyd?

Ons lewe nou in ’n tyd waar wifi en ’n foon met ’n eenvoudige kamera wonderwerke kan verrig. My grootste uitdaging was om net skouer aan die wiel te sit en hierdie tyd te gebruik om my vaardighede te ontwikkel, al was dit hoe klein. Ek wou nie myself in ’n posisie plaas waar ek moet wag vir iets om te gebeur nie. Dit is hoekom ek myself uitgedaag het om vir die eerste 21 dae van lockdown daagliks ’n video te skryf, verfilm en redigeer vir my sosiale-media-platforms. So het ek myself op hierdie basis nuwe vaardighede geleer en ook sodoende my vriende, volgers en familie op hoogte gehou oor die senutergende verwikkelinge van COVID-19 met ’n ligte invalshoek.

Ek het uit my slaapkamer tonele van my een-man-produksie, Dude wa’s my Bakkie?, opgeneem! Dit was gedoen vir die Baxter Radioprojek. Partykeer moet jy die beste maak van ’n situasie wat jou om elke hoekie beproef. Ek het my vrye tyd gebruik om myself redigeringsvaardighede te leer deur doodeenvoudig YouTube tutorials te gebruik as studiemateriaal. Selfstudie kan wonders verrig met selfdissipline en determinasie. Onverwags het my self-studie handig gepas gekom met die "Ouma Lilly & haar klong" dokumenter. In hierdie dokumentêr moes ek al my nuutgevonde kennis gebruik en ek is beloon met die silwertoekenning by die Standard Bank Ovation Awards.

Congratulations to Vulture Productions on their Standard Bank Ovation for OUMA LILLY & HAAR KLONG - a collection of...

Posted by National Arts Festival Makhanda on Sunday, July 19, 2020

Die beeldmateriaal wat ek moes gebruik van Ouma Lilly in Ouma Lilly en haar klong was op ’n slimfoon verfilm. Dit is belangrik om nie jouself te beperk deur te dink dat jy duur kameras, duur kursusse of die beste redigeringsprogramme altyd benodig nie. Maak shabba met wat jy het!

Daar is reeds ’n paar digitale platforms gestig om kunstenaars se werk bloot te stel. Die Vfringe-platform by die Nasionale Kunstefees is steeds oop, en 90% van kaartjieverkope gaan direk na die kunstenaar. South African Theatre on Demand is ons eie Netflix vir teaterstukke. Hulle het so pas produksies vrygestel wat Vrouedag, sowel as die Kirvan Fortuin Concert in die kollig plaas. Dan is daar ook kunstenaars wat produksies op sosiale-media-platforms soos WhatsApp ontwikkel. Verandering is onvermydelik, en hoe ons by verandering aanpas, definieer dikwels wie ons is.

Jou Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020 het onlangs tot ’n einde geloop. Wat neem jy van hierdie ervaring weg? 

Die drie weke in Paulet Huis was ’n ontploffing van kreatiwiteit en ’n eiland van vrye denke. Alles wat ek as skrywer nodig gehad het, was voorsien en ek is steeds oorweldig met die vrygewigheid. Ek kon uiteindelik myself in ’n veilige en gerespekteerde spasie vind waar ek kon skryf sonder om gesteur te word deur daaglikse beproewinge. Ons skrywers het mekaar aangemoedig, ondersteun en op ’n respekvolle manier uitgedaag. Die personeel, Theo Kemp, Tjoppie Ferreira en Elsie September was amazing en het my onmiddellik tuis laat voel. Ek het tydelik met imposter syndrome gesukkel, maar deur die verloop van die skrywerresidensie moes ek myself herinner dat elke skrywer of kunstenaar sy eie formule en proses het.

Die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis, Somerset-Oos

My werkstasie

Ek het die huis met skrywers van kleur gedeel en dit het ruimte gebied vir ingewikkelde gesprekke en die deel van verskeie perspektiewe. Die konfrontasie van perspektiewe was uitdagend, maar wel ’n uiters lonende prosedure. Ek het my in ’n spasie bevind waar ek skryf vanuit ’n nuwe perspektief wat ek nie oorspronklik beplan het nie. Stories wat ek nie besef het was van soveel belang nie, dra nou beduidende gewig en dra veel sterker by tot die tematiek van my skryfwerk.

Lees en luister ook

Olivia Coetzee gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020

André Trantraal gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020

Jong dramaturge gesels oor Jakes Gerwel Skrywersresidensie

#opdielug met Jeremeo Le Cordeur

Jerry, an unconventional hero and Dude, wa’s my bakkie? at the Suidoosterfees

Mama at the Artscape: an interview

Lees ook op Voertaal

Jakes Gerwel Stigting-skrywersresidensie: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Miriam Van hee

Identiteit en versweë geskiedenisse: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Rachida Lamrabet

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top