Radiodramas: 2020-New Voices-program (Kunstekaap)

  • 0

Menán van Heerden gesels met Rafiek Mammon oor die Kunstekaap se meertalige 2020-New Voices-program in die tyd van COVID-19. Die teaterproduksies word vanjaar as radiodramas uitgesaai.  

Rafiek Mammon

Rafiek, jy is die mentor van die 2020-New Voices-ontwikkelingsprojekte en die regisseur van Miela’s box deur Tasneem Daniels (een van die radiodramas). Wat behels die 2020-program en hoe verskil dit van dié van vorige jare?

Artscape se New Voices-program is enig in sy soort omdat dit geleenthede bied aan skrywers (gesoute skrywers of jong skrywers) om hul werk volledig te vervaardig. Artscape betaal vir alles – van regisseurs tot akteurs en bemarking asook die ontwikkeling van die teks met die skrywers. Gewoonlik kry elke produksie ’n speelvak van sowat ’n week in die Arena-teater en die proses loop vanaf Februarie tot Oktober jaarliks. Die verskil hierdie jaar is dat die program omskep is om op radio te speel as radiodramas. Miela’s box is anders in die sin dat dit as ’n NATi Jong Sterre-inskrywing ontwikkeling was deur die Suidoosterfees, NATi en die Jakes Gerwel-stigting en is in samewerking met Artscape as radiodrama geborg.

Weens die COVID-19-regulasies word kunstefeeste, musiekkonserte, paneelbesprekings, lesings ens op aanlyn platforms aangebied. Verhoogstukke skuif vanaf die verhoog na die radio of dit word aanlyn as luisterdramas aangebied. Hoe word ’n verhoogstuk vir radio aangepas? Is daar spesifieke voordele/nadele?

Natuurlik is al die inskrywings vir die New Voices-program vir die teater geskryf. Aanpassing speel dus ’n belangrike rol. Ons het dus regisseurs gekies wat radio as medium ken en wat die tekste effektief kan verwerk, in samewerking met die skrywers. Iets wat jy visueel sou voorstel op die planke moes nou omskep word om as klank voorgestel te word. Daar is baie meer ruimte om jou verbeelding te gebruik met net klank tot jou beskikking. Ek sou sê dit is nie noodwendig voor- of nadele nie, maar dit is nogal ’n uitdaging, omdat die tekste nie ingestuur was as radiodramas nie. Radiodramas het ’n spesifieke styl. Daar is heelwat gevalle wat jy as vanselfsprekend aanvaar op die verhoog wat moes verander om sin te maak vir radio.    

Miela’s box is einde Junie op Radio 786 (100.4 FM) uitgesaai. Watter ander dramas gaan uitgesaai word, in watter tale en op watter stasies?

Die volgende een is in Afrikaans, met die titel Die aasvoël, geskryf deur Elton Louw en met regie deur Denver Vraagom. Die spelers is André Samuels en Denver Vraagom. Dit is meer van ’n komiese perspektief op inbrake. Dit debuteer op RSG. Die datum moet nog vasgestel word. Dan is daar ’n Engelse stuk met die titel Close call, geskryf deur Ann Juries-May met regie deur Dara-Beth Kometz, wat handel oor verkragting binne ’n verhouding. Dit gaan op Fine Music Radio debuteer. Die laaste een is in Xhosa. Dit is getitel Ekugqibeleni en is geskryf deur Lungile Nqophiso, en dit handel oor sosiale aspekte in ’n klein gemeenskap. Die radiostasie waarop dit gaan debuteer moet nog gekies word. Na al die dramas hul premières geniet het, sal dit dat by ander stasies ook uitgesaai word. Ons sal die publiek op hoogte hou van die skedules. 

Die dramas word ook op gemeenskapsradiostasies uitgesaai. Wat is die waarde van gemeenskapsradio, oor die algemeen en mbt radiodramas?

Gemeenskapsradio is toeganklik en bring dramas in die voorhuise van mense wat miskien nie teater toe sou gekom het nie. Dit is ook iets waarmee baie van die ouer geslagte grootgeword het. Ek dink byvoorbeeld aan die ou Springbokradio-dramas wat ons so aandagtig na geluister het voor die tyd van video’s en die hedendaagse “box sets” en hope, hope seisoene van “series” op die kassie.

Die kunste trek swaar tydens die inperking. Enige advies vir kunstenaars in hierdie moeilike tyd?

Moeilike tye inderdaad. Almal probeer sin maak en kunstenaars probeer geld maak om te oorleef. Ek is nie die grootste aanhanger van streaming nie, maar verstaan hoekom ons dit moet doen. Ek sou sê, doen wat jy moet om relevant en aan die lewe te bly, en om kreatief te bly, maar probeer altyd om te onthou waarom jy in die eerste plek teater gemaak het. Kwaliteit is nog altyd van die uiterste belang.

Luister en lees meer oor Miela’s box:

#opdielug met Tasneem Daniels

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top