Sêgoed van Helene de Kock “Ek skryf omdat mense my interesseer. Veral verhoudingsverhale roer my hart. Alhoewel die liefde ’n belangrike onderwerp in my verhale is, staan dit nooit apart van ander verhoudings nie. Die liefde self is verweef in die web van die lewe, glo ek. Ander verhoudings word daardeur geraak – soos die verhouding tussen ouer en kind, die verhoudings tussen broers en susters en ons almal se verhouding met God en die groter wêreld rondom ons.” (afrikaans.com) “Ek het geen literêre pretensies nie; ek skryf moeilik genoeg aan die ontspanningsroman.” (Beeld Kalender, 22 Augustus 1991) “’n Mens moet die genre waarin jy skryf, baie ernstig opneem. Enigeen wat ’n liefdesverhaal lig opneem of ’n verhoudingsverhaal lig benader, weet niks van menswees af nie. ’n Skrywer van hierdie soort verhale moet mense ken, die mens se psige verstaan en weet waarom mense optree soos wat hulle optree.” (Vrouekeur, 27 Mei 2005) “Ek glo jy moet al die aansprake wat die lewe op jou maak na die beste van jou vermoë beantwoord. Skryf is ’n Godgegewe talent wat jy moet slyp en waarvoor jy eendag verantwoording sal moet doen.” (Vrouekeur, 27 Mei 2005) “Sestig duisend woorde spring nie sommer vanself op papier nie, jy moet wérk daaraan. Skryf is ’n ambag, ’n vakmanskap wat sekere vereistes aan jou stel. Dit is ’n populêre mite dat die inspirasie jou skielik oorval. Eers wanneer ek ernstig aan die werk is, dán raak ek werklik begeester.” (Lig, Maart 2003) “Daar word gesê ’n skrywer se lewe is ’n nimmereindigende storie. En dis wat my boei van my skryflewe, wat ek, terloops, heeltemal van my werklike lewe skei. Ek het ’n doodgewone lewe as vrou en ma. Dan is daar in my die skrywer wat genot put uit die moeilike, veeleisende aktiwiteit wat ’n mens skryf noem. Een storie volg noodwendig op ’n ander. Dis miskien hierdie nimmereindigende aspek wat my so vashou dat ek voel ek wil nooit daarmee ophou nie.” (Rooi Rose, 5 Julie 2000) “Om te lees is om op ’n reis na dieptes en hoogtes, ruimtes en ver plekke te gaan. ... Ek dink ’n plek sonder ’n biblioteek is ’n dooie plek. ... Boeke is myns insiens net so belangrik soos kos. Leerders wat nooit lees nie omdat daar eenvoudig nie boeke beskikbaar is nie, sal later honger ly. ’n Honger van die gees is amper net so erg soos die honger na kos.” (Kaapse Bibliotekaris, September/Oktober 2003) Oor haar herinnering aan die biblioteek: “Boekwinkels was in my kinderdae nie altyd naby nie, al het ek aan die Oos-Rand grootgeword. Ek en my predikantpa en onderwyseresma en my sussie was dikwels in die biblioteek. Dit was ’n groot en goedtoegeruste biblioteek. Natuurlik baie minder Afrikaanse boeke as wat tans die geval is. Alhoewel, boeke trek in die huidige klimaat selfs by biblioteke aan die kortste ent. Die plek wat as’t ware die toevlugsoord van ’n boek behoort te wees. Mens kan net hoop dat biblioteke in die toekoms weer goed op die been sal kom sodat álle kinders toegang daartoe het. Sonder boeke sal g’n nasie oorleef nie. Ek glo nie ek sou ‘oorleef’ het sonder boeke in die huis nie. Daarom is dit my hoop dat biblioteke weer as toevlugsoorde vir almal wat graag iets te wete wil kom of net ’n boek wil geniet, sal dien.” (LitNet) Dink sy die ontspanningsroman word in Afrikaans behoorlik as genreprosa behandel en geresenseer, wou Madri Victor weet: “Nee, ek dink nie so nie. ’n Ontspanningsroman is genreprosa wat as sodanig behandel behoort te word. Ontspanningsromans verg net soveel vernuf, vakmanskap en deurdagtheid as ’n literêre roman. Goeie gewilde prosa is inderdaad ’n genre wat, soos wat die naam impliseer, prosa is wat nie minderwaardig is teenoor die letterkunde nie. Dit is uit eie reg ’n genre wat miskien meer op vermaak ingestel is. Van Coller (1990) meen dat daar ‘oorgange, ooreenkomste en raakpunte’ is tussen letterkunde en populêre literatuur. Uit watter hoek goeie gewilde prosa ook al beskou word, dit bly ’n vereiste dat dit inderdaad goed geskryf moet wees. Dit wil sê die skrywer van ’n goeie ontspanningsroman moet die leser kan vermaak en terselfdertyd ’n diepgang in sy/haar roman kan inweef, sonder om toeganklikheid in te boet. Bo alles verg dit dat die skrywer betrokke moet wees by sy/haar roman en aan die estetiese eis van die genre moet voldoen. Dit moet verkieslik ‘verteerbaar maar terselfdertyd boeiend’ wees (Van Heerden). Ek dink ook ’n goedgeskrewe ontspanningsroman behoort ’n behoorlike resensie te kry waar daar aandag geskenk word aan die skrywer se hantering van karakterisering, ruimte-uitbeelding en die gebruik van die ander skeppingselemente. ’n Goeie ontspanningsroman kan wel literêre elemente hê.” (LitNet) “Skryf is aanhou. Dit verg geweldige volharding en ’n mens durf nie op inspirasie wag nie. Inspirasie kom as daar gewérk word. Ek weet dit klink prekerig, maar dis ongelukkig waar. Wat ook seker waar is, is dat ’n boek woord vir woord gestalte kry. Ek hoop ek kan áltyd skryf, maar dit is ’n harde, tydrowende en soms uitmergelende werk. Dit is egter op sigself ’n inspirasie. Ek voel altyd goed as ek klaar geskryf het! Dis ’n goeie teenmiddel vir bedruktheid. Skryf is my passie.” (Vrouekeur, 29 September 2017) Hoekom, dink sy, is haar boeke wat in omnibusse uitgegee word, nog so gewild? “As ’n mens na verkope kyk, lees mense graag die ouer verhale. Die rede is dat dit ’n greep uit ’n ander tyd is. En die weerspieëling van die tydgees is belangrik in enige roman. Mense is nuuskierig oor hoe dinge was.” (Vrouekeur, 29 September 2017) Oor die ouderdom: “Die samelewing se begrip van ouderdom moet hersien word. Gesondheid is vanselfsprekend belangrik, maar ingesteldheid ook.” (LitNet, 14 Oktober 2020) Vir wie skryf sy en wie is haar ideale lesers? “Ek het geen idee nie. Ek skryf ’n verhaal om die verhaal se onthalwe. As iemand daarvan hou en by my lewensbeskouing – soos deur die karakters geopenbaar – aansluiting vind, is dit gaaf. Indien nie, is die boek nie vir hom of haar geskryf nie. Enige roman weerspieël onvermydelik die skrywer se werklikheidsbeeld en ek hou daarvan om aan my siening van die werklikheid getrou te bly sonder om dit die hooftema van die boek te maak. Dit is soos suurdeeg in brood. Hopelik proe die leser dit nie, maar is bewus daarvan dat ’n smaaklike brood baie aan suurdeeg te danke het.” (aan Naomi Meyer op LitNet, 18 Oktober 2019) Wat maak haar nuuskierig oor menseverhoudings? “Waar mense is, is verhoudings onvermydelik. Soos die ou gesegde lui: ‘No man is an island.’ Geen skrywer kan ’n verhaal skryf sonder om aan onderlinge verhoudings aandag te skenk nie. Dis altyd boeiend om oor mense en hul verhoudings te skryf.” (Sarie, 1 Augustus 2019) Watter advies het sy vir voornemende skrywers? “Hou aan met skryf en redigeer sonder ophou. Wees bewus daarvan dat daar so iets soos makroredigering en mikroredigering is. Jy moet holisties na jou werk kan kyk en ook as’t ware kan in zoem om na die fyner besonderhede te kyk. Daarby kan ’n skrywer nie bekostig om kleinserig te wees in hierdie bedryf nie. Skryf soos wat jy skryf want jy is uniek. Doen net jou bes en wees baie nugter oor die hele proses.” (LitNet, 7 Desember 2021) Hoe skep ’n mens spanning in ’n liefdesverhaal? “’n Skrywer behoort nie te veel te gou te verklap nie. Skryf vanuit jou hoofkarakter(s) se perspektief. Hy/sy kan immers nie alles weet nie. Beeld emosies uit. Moenie vir die leser vertel hoe die karakter voel nie. Beeld dit uit in liggaamstaal, innerlike handeling en dialoog. Die leser sal self aflei hoe die karakter voel. Natuurlik is dit moeilik om alles te vertel. ‘Showing versus telling’ bly die ou probleem.” (Huisgenoot, 8 Julie 2022) Watter taboes is daar wanneer ’n mens ’n liefdesverhaal skryf? “Soos in alle aspekte van die lewe is goeie smaak en styl nie onderhandelbaar nie. Ek glo onwrikbaar in die skoonheid van die liefde, en al het karakters nes mense foute, wil ek dit smaakvol uitbeeld. Enigiets wat te eksplisiet is, is vir my taboe. Suggestie werk myns insiens beter. Alle mense het ’n goeie verbeelding.” (Huisgenoot, 8 Julie 2022) Moet mens mik om literêr te skryf om ernstig opgeneem te word? “Toeganklikheid is na my mening ’n voorvereiste vir ’n goeie boek, maak nie saak wat jy ook al skryf nie. ’n Skrywer kan steeds gravitas en diepte in ’n roman uitbeeld deur helder en sober te skryf.” (Huisgenoot, 8 Julie 2022) Wat is die geheim van haar sukses? “Ek neem nooit my skryfwerk saam ‘huis toe’ nie.” (Netwerk24, 17 Augustus 2023) |
Gebore en getoë
Helene de Kock is op 21 November 1943 op Sabie in die Oos-Transvaal gebore, die oudste dogter van Herman en Sylvia van Schalkwyk. Sy word groot in Boksburg waar haar pa predikant van die NG Gemeente Boksburg-Wes was. Helene is lank die enigste kind van die gesin. Haar suster Sunet is agt jaar na haar gebore.
Haar ma was ’n Engels-onderwyseres en het skoolboeke met ’n Suid-Afrikaanse agtergrond geskryf, wat Helene geïnspireer om ook te begin skryf. Haar ma het onder andere ’n Engelse roman, Drums at night, onder die naam Sylvia Bosman geskryf.
Hulle beleef baie gelukkige kinderjare in die pastorie op Boksburg. Van kleins af is Helene aan boeke blootgestel. Haar oupa en haar pa het beide groot boekerye gehad en sy was ’n eenkantkind wat baie gelees het – van Mikro en Heinz Konsalik tot sprokies en legendes.
Sy voltooi haar laerskooljare aan die Laerskool Hennie Basson en gaan na die Hoërskool Dr EG Jansen, waar sy en haar suster by haar ma klas gehad het. Sy was hoofmeisie van die skool. Jare later gee Helene Engels aan dieselfde skool terwyl haar ma departementshoof daar is.
Verdere studie en werk
Na matriek gaan Helene na die Universiteit van Pretoria, waar sy haar BA-graad met Engels en Duits as hoofvakke behaal, asook haar onderwysdiploma. Sy neem ook sanglesse aan die Konservatorium, en dit word ’n groot belangstelling in haar lewe. Sy het klavierlesse op skool geneem en haar pa wou hê dat sy daarmee voortgaan op universiteit, maar sy oortuig hom dat sy eerder sanglesse moet neem. Sy ontvang les by Xander Haagen, Nellie du Toit en later Rina Hugo, en tree as soliste op.
By Tukkies dien sy vir twee jaar in die redaksie van die studentekoerant Die Perdeby en later is sy ook waarnemende redakteur van Vrystaat, ’n streekskoerant van die Oos-Vrystaat.
Helene gee twee jaar onderwys en trou dan met Jos de Kock, tans ereprofessor aan die Universiteit van Pretoria en vroeër visepresident van die Landbounavorsingsraad. Drie kinders word uit die huwelik gebore: Jaco, Herman en Sylvia.
Sy en haar man woon in Pretoria. In Junie 2004 is Jaco in ’n motorongeluk oorlede en die boek As dood lewe word is die uitvloeisel van haar gevoelens na sy dood. Herman is ook ’n predikant en het ’n rubriek in Maksiman en skryf ook vir CUM en LAPA Uitgewers. Ook Sylvia skryf. Helen en Jos het twee kleindogters.
In 1968 gee Helene ook Engels aan die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland. Intussen gaan sy voort met sanglesse in Bloemfontein, waar sy self ook sang gee. In die laat tagtigerjare verhuis die gesin na Bethlehem in die Oos-Vrystaat, waar hulle vir agt jaar woon. Hier gee sy drie jaar lank geskiedenis aan die Hoërskool Voortrekker en tree sy ook op as soliste van die Cantus Choraliskoor. In 1990 word sy deur die Bethlehem Kultuurraad aangewys as Kultuurvrou van die Jaar.
Sy skryf haar eerste kortverhaal in haar tweede jaar op Tukkies. Huisgenoot aanvaar dit en “ek het toe gedink ek kan skryf, maar later uitgevind dat daar tog waarheid is in die spreekwoord een swaeltjie maak nie ’n somer nie, want daarna het elf verhale teruggekom.”
Helene begin weer skryf tydens haar kinders se babajare en na tien jaar word haar volgende verhaal gepubliseer. Sy skryf gereeld artikels vir die tydskrifte Finesse en Taalgenoot. Vervolgverhale verskyn in Huisgenoot en Sarie, asook heelwat kortverhale en novelles, en in 1978 word Die soete dwaling deur PJ de Villiers Uitgewers gepubliseer.
Met haar 80ste verjaardag vertel Helene aan Netwerk24 (5 Desember 2023) dat Koos Human van Human & Rousseau destyds een van haar vervolgverhale in ’n tydskrif gelees het en haar toestemming gevra het om dit in boekvorm uit te gee: “Sedertdien is al my romans uitgegee, en deur verskillende uitgewers. Dit bemoedig my altyd. Koos Human het alle skrywers as ernstige skrywers bejeën.”
Helene het in 1998 haar meestersgraad cum laude in skeppende skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit behaal. Haar hoofonderwerp was “Dieper water: die skep van werklikheidsbeeld in ’n komplekse ontspanningsroman en ’n skryfteoretiese besinning daaroor” en haar roman Dieper water is ’n gevolg van hierdie kursus. In 2014 verwerf sy haar doktorsgraad aan dieselfde universiteit met Die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman.
Helene skryf nou voltyds en gee lesings oor die skryfkuns by die ATKV-Skryfskool aan Noordwes-Universiteit. Sy spreek gereeld leeskringe toe en hou van reis, lees en musiek, maar skryf bly haar eerste liefde. Kuiertyd saam met haar man en kinders is vir haar baie kosbaar.
Helene se skryfwerk dek ’n wye verskeidenheid genres. Sy doen nog steeds joernalistieke werk en skryf resensies van veral liefdesverhale vir koerante. Sy skryf graag oor die liefde, maar lê ook klem op die werklikheid van die lewe en die eise wat die lewe aan verhoudings stel. Oor die genre van goeie gewilde romans laat sy haar in 1991 soos volg uit: “Tot sowat tien jaar terug is ’n mens oor die vingers geraps as jy ’n gewilde roman geskryf het. Ontspanningsromans mag egter nie slordig en snert wees nie. Dit moet goedgeskrewe, egte verhale wees wat reg aan dié genre laat geskied. ’n Mens boet nie noodwendig aan die estetiese in as jy jou boek op die kommersiële mark rig nie. Ek pleit nie vir die goedgeskrewe ontspanningsroman ten koste van literêre werke nie. Ek pleit bloot vir ’n kind uit dieselfde huis.”
In 1988 is Kronkelpad na Vergenoeg benoem vir die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa en so ook ’n Kind vir Vier Oude Vrinde in 1989. Helene was die naaswenner in ATKV/Sarie se vervolgverhaalwedstryd met Sewende somer en Windspoor. In 1988 is sy ook die naaswenner in Rooi Rose se kortverhaalwedstryd met “’n Laaste maal”. Sy wen die derde prys in Sarie/Ou Mutual se kortverhaalwedstryd met “Net nog ’n maal”. In 2000 word Engel op die drumpel aangewys as naaswenner van CBSA se toekennings vir Christelike Publikasies in die kategorie fiksie en in 2003 word Omdat ek Ma liefhet wat deur Helene saamgestel is, aangewys as wenner van CBSA se toekennings vir Christelike publikasies in die kategorie beste geskenkboek.
Kortverhale van haar word onder andere in die bundels Dit kom van ver af en Kruis en dwars opgeneem wat onderskeidelik deur TT Cloete en Jeanette Ferreira saamgestel is en ook in die bundels Bittersoet sewe, Huisgenoot trefferverhale, Liefde in die lae lande en Van liefde en oorlog.
Helene doen goed navorsing as sy ’n boek skryf. Sy lees baie en voer onderhoude met mense om menslike optredes te verstaan. Vir haar boeke oor die wynbedryf het sy gaan kers opsteek by Nietvoorbij buite Stellenbosch en met baie wynmakers gesels. As sy die geleentheid kry, besoek sy en Jos ook die omgewing waarin haar boeke afspeel. Sy glo dat ’n skrywer vertroud moet wees met die omgewing waaroor hy of sy skryf, maar “[n]atuurlik kan jy oor ’n plek skryf waar jy nog nie was nie. Robert Louis Stevenson het Treasure Island geskryf sonder dat hy ooit in Amerika was. Maar ’n mens behoort die plekke te besoek, al kan jy net ’n kort wyle daar deurbring. Skrywers het gewoonlik die besondere gawe om die stemming op te slurp. Wanneer jy jou ruimte oortuigend kan uitbeeld, dra dit definitief tot die sukses van die verhaal by.”
Die belangrikste tema in Helene se boeke is die liefde, en veral haar oorspronklike werke is meermale ontspanningsromans. Die meeste van hierdie vroeër liefdesverhale is later weer uitgegee in 12 omnibusse wat by Human & Rousseau verskyn het.
Haar boeke slaan sedert die publikasie van Abel se dogters in 2003 ’n ietwat ander rigting in. Hoewel hierdie roman, en ook Dieper water (2007), Somersneeu (2010), Debora en seuns (2015) en Debora gaan huis toe (2017) nog almal die liefde as tema het, fokus Helene al hoe meer op die ingewikkeldheid van die verhoudings tussen haar karakters. In haar laaste twee boeke werk sy ook ’n goeie skeut geskiedenis by, en vandat sy in die 1980’s van haar stories in die Riemland van die Oos-Vrystaat gesitueer het, het sy al meer gebruik gemaak van hierdie skilderagtige omgewing as agtergrond vir haar stories.
In Abel se dogters woon Abel Buitendag, ’n wewenaar, met sy drie dogters op ’n plaas in die Oos-Vrystaat. Die dogters raak egter al hoe meer ontevrede met die stil lewe wat hulle op die plaas voer. Hulle pa klou ook nog vas aan dit wat was. Maar wanneer hulle een vir een die plaas verlaat en hulle in ’n nuwe en groot wêreld bevind, beleef hulle al die verskillende fasette van hierdie nuwe lewe. Adelien, die oudste van die dogters, is ’n sielkundedosent in die stad en moet kies tussen twee mans in haar lewe. Maar sy as oudste suster bekommer haar oor die twee jongeres. Die jongste een, Christel, is nog op skool en is alleen op die plaas saam met haar pa wat haar alles toelaat, terwyl Bernadette ’n man gekies het van wie dit blyk dat hy haar nie gelukkig sal maak nie.
In 2007 verskyn Dieper water, en uit die flapteks is dit duidelik dat dit ’n liefdesverhaal is, maar nie sommer net ’n ligte liefdesverhaal nie. In die roman word daar meer indringend gekyk na die verhoudings wat ’n bydrae lewer tot die ontwikkeling van daardie liefde.
Dieper water vertel op ’n akronologiese wyse die storie van Rachel Roux (later Froneman) se lewe vandat sy twaalf is tot in haar sestigerjare en ook van haar verhouding met Hektor Froneman. Hulle twee het al vanaf hul kinderdae ’n besonderse verband. Saam met hierdie verhouding loop ook die verhaal van Rachel se ouma Rachie en oupa Nikolaas en ook dié van Rachel se ouers.
Tesame met hierdie verhaal loop ook die storie van Nadia Froneman, Rachel se kleindogter wat sy glad nie ken nie. Nadia se lewe na haar pa se skielike dood word uitgebeeld en loop saam met haar op die pad na die familieplaas, Diepwater, waar sy gaan besoek aflê – vir die eerste maal in 25 jaar.
In ’n onderhoud met Madri Victor op LitNet vertel Helene meer oor die inspirasie agter die skryf van Dieper water. “Die stimulus vir die roman was my idee dat daar ’n geslag is wat voor of tydens die Tweede Wêreldoorlog gebore is wat noodgedwonge moes gewoond raak aan paradigmaskuiwe of vervreemd raak van hul leefwêreld. Hulle moes byvoorbeeld die digitale en kommunikasie-revolusie leer begryp. Hulle is ook blootgestel aan die hibridisering van werklikheidsbeelde, aangesien hulle sowel die naoorlogse jare as die huidige era rondom die millenniumwending ervaar het. Hul leefwêreld was, na alle waarskynlikheid, blootgestel aan die meeste veranderings en nuwighede waaraan enige generasie nog ooit blootgestel was. Hulle het byvoorbeeld op wetenskaplik-tegnologiese gebied baie dinge vanaf die wye gebruik van plastiek tot die ontdekking en gebruik van antibiotika, hartoorplantings, die landing op die maan en die ontdekking van DNS, ensovoorts beleef. Hulle moes leer om met tikmasjiene te werk en toe rekenaars bemeester. Hulle moes van slingertelefone tot die mees moderne selfone en ipods leer gebruik. Of agterbly en verstar. Hierdie generasie wou ek graag in ’n ontspanningsroman vergestalt.”
Omdat Dieper water die uitvloeisel was van haar M-graad, moes Helene “verskillende vorme van tydgees” (postkoloniaal en postmodern) in die roman uitbeeld. “Ek het dus besluit om die roman oor ’n eeu te laat afspeel. Drie (en meer) storielyne sou nodig wees om dit te kan doen, sodat ek die verskille in vorme van werklikheidsbeeld of vorme van tydgees daar kon stel. Die karakters (vernaamlik die hoofkarakters Rachel en Hektor) sou sedert die Tweede Wêreldoorlog tot en met die einde van die millennium blootgestel wees aan verskillende vorme van tydgees wat hul lewens ten seerste sou beïnvloed. Maar – dit was nog net die idee. Toe moes ek drie storielyne uitdink wat hierdie tema sou kon dra.”
Vir Victor het sy met die lees van Dieper water gevoel asof die storie oor werklike mense en plekke gaan. Sy wou by Helene weet waar sy haar materiaal vir die roman gekry het en of dit op werklikheid gebaseer is. Helene vertel aan haar dat die roman se verhaallyne geensins op die werklikheid gebaseer is nie. Sy het dit versin omdat sy ’n roman moes skryf as deel van haar verhandeling.
“Die drie storielyne (daar is eintlik meer) is werklik bloot gefabuleer. Maar, in énige fiksie is daar elemente van die werklikheid. Daar is byvoorbeeld die werklikheid van my verlies. Ek het, alhoewel dit geensins ’n treurige boek is nie, byna onbewustelik die dood van my oudste kind hierin ingewerk. Verlies is dus ’n tema in die boek. Enige skrywer skryf ook uit herinnering en ervaring. Elemente van my herinnering aan die Oos-Vrystaat, waar ek lank gewoon het, asook my ervarings met mense oor die algemeen vind sekerlik neerslag in die boek soos in enige boek van my. Daar is ook die soeke na identiteit wat in Dieper water voorkom. Feitlik almal van ons in die Nuwe Suid-Afrika is op soek na ’n alternatiewe identiteit wat ons in ons eie land gemakliker sal laat inpas. Dit wat ek dus uit ervaring en herinnering met my saamdra, plus, soos George Weideman dit stel, ‘die wilde perd van die verbeelding’, het geïntegreer en uiteindelik die verhaal gevorm.
“Dis ’n interessante kwessie hierdie, van wat werklik ís en wat nié. Clara Reeve het in 1785 al gesê: ‘The novel is a picture of real life and manners, and of the time in which it is written.’ Enige roman se plot weerspieël dus ’n bepaalde beeld van die werklikheid en hopelik doen die plot van die roman Dieper water dit ook. Enige skrywer se siening van die lewe vind neerslag in sy of haar skryfwerk en my eie beeld van die werklikheid, asook ander vorme van tydgees wat ek in my lewe ervaar het, het sekerlik deel van die grondgedagte of temas van Dieper water geword.”
Of sy van haar karakters op mense wat sy ken, skoei, stel Helene dit onomwonde dat sy nooit by haar vriende “steel” nie, want sy is nie gemaklik daarmee dat sy mense wat sy ken, probeer naboots nie. “Dat sekere eienskappe van mense uiteindelik in die een of ander karakter neerslag vind, is seker ook waar, maar dit word nie bewustelik gedoen nie. My karakters word wel vooraf deeglik uitgedink. ’n Skrywer moet sy/haar karakters baie goed ken voordat daar geskryf word. Ek moes toe karakters skep wat in Dieper water sou pas, byvoorbeeld Ouma Ragie, wat tydens die Anglo-Boereoorlog geleef het, en Rachel Froneman, wat beide die postkoloniale tydperk en die postmoderne tydperk beleef. Sy moes byvoorbeeld soepel genoeg van aard wees om in verskillende eras aan te pas – al sou sy ook, nes die ander karakters in die roman, teen die draai van die millennium begin soek na ’n alternatiewe identiteit. Die ander karakters is ook so geskep en voorgestel sodat hulle in die verhaal pas. Dit mag nou vreemd klink, maar die verhaallyne het ook veel te danke aan die karakters self. Daar is noodwendig en onvermydelik ’n intieme wisselwerking tussen verhaal en karakters.”
Oor die titel Dieper water wou Victor weet wat dit vir Helene simboliseer. Haar antwoord hierop is: “Baie skrywers skryf graag met ’n titel voorop in gedagte. Ek is een van hulle. Ene Rozelle het gesê: ‘Your title is your very first offering to your reader.’ Ek het deur jare lange ondervinding vasgestel dat ek moeilik skryf sonder ’n titel wat vooraf uitgedink word. Toe die idee van hierdie roman begin ontvou, het ek dadelik aan ’n plaas met die naam Diepwater gedink. Die naam het my bloot geval en aangesien daar ’n (uitgedinkte) spruit met diep poele op die plaas sou wees, het dit soos die gepaste naam vir die plek geklink waar ek ’n storie wat oor ’n lang tydperk strek, kon laat afspeel. Op dié denkbeeldige plaas, Diepwater, as basisruimte, sou daar dan drie verhale in drie verskillende periodes afspeel.
“Ek het gedink dat die titel Dieper water moontlik beelde en assosiasies by die leser kan oproep wat hom/haar kan prikkel om die boek te begin lees. Water is so ’n metafoor wat organies uit hierdie konteks kon ontwikkel. Die titel kon hopelik dus reeds ’n beeld by die leser oproep. Die titel Dieper water bevat moontlik sensoriese beskrywing wat ’n aanspraak op die leser se sintuie mag maak.
“Die titel vir hierdie roman was vir my dus byna van meet af aan Dieper water. Nie alleen sou dit dui op die plek Diepwater met sy diep spruit nie, maar die Dieper in Dieper water sou hopelik ook assosiasies wek van simboliese graadverskille in lief en leed. Dit kan ook dui op verskillende tydperke wat dieper die verlede in lê. Ek het gevolglik gedink die titel Dieper water sou wel aanduidend wees van die inhoud van die roman. Die eerste vlak van kommunikasie tussen die skrywer en die leser is dikwels die titel van die werk, waardeur sekere verwagtinge geskep word. Ek sou dus hopelik reeds deur die titel iets soos water, wat ’n sintuiglike aanklank het en soms as simbool kan dien, met die leser kon deel.”
Op LitNet skryf Lenelle Foster: “Dieper water is ‘geen groot letterkunde nie’ (bl 46) – aldus Rachel. Dis nie ‘te elitisties nie, om nie die gewone leser wat die boek hopelik gaan koop, af te skrik nie. Nie te soetsappig nie, om die hogere mense te laat neus optrek nie’ (bl 44). Lesers wat ’n boek soek om mee te ontspan en wat van liefdesverhale hou, sal waarskynlik hierdie roman geniet.”
In 2010 verskyn Somersneeu, waarin Helene vertel van ’n klompie vriende wat in 1999 in hul matriekjaar op ’n Oos-Vrystaatse dorpie woon. Rouke Bruwer, die seun van Barbara, ’n kunstenaar, is die leier van die groep. Sy pa is in Namibië oorlede en hulle het daarna na die Oos-Vrystaat getrek. Hy is dolverlief op die predikant se dogter, Karien. Die res van die vriende is die pragtige Julia, die neefs Robert en Brett van Coller, Matteus Mokoena, Londa Genis en Betsie Ntombela, met Karel en Joubert Gerber, ’n tweeling, wat later ook deel van die groep word.
“Die verhaal volg die lewensverloop van hierdie vriendekring vir die eerste dekade ná skool. Van die vriende vertrek na Londen waar hulle die lewe en mekaar se donker kant leer ken. Skynbare verraad skeur byna die vriendekring uitmekaar, maar uiteindelik leer hulle om mekaar te vergewe.
“Oor die jare heen behou die vriende kontak en bly op hoogte van mekaar se lief en leed deur e-posse en SMS’e wat die wêreld klein en die roman eietyds maak,” skryf Adéle Dempers in Volksblad (5 April 2010). “Somersneeu is ’n liefdesverhaal wat probeer om allerhande wyshede oor te dra. (...) ’n Groot, amper te groot, deel van die verhaal word afgestaan aan Rouke se worsteling oor wat hy moet word. (...) Die ontknoping volg te blitsig en seepglad. Meer besinning oor die aktuele kwessies en Rouke se ma se geheim sou eerder hier gepas gewees het as die byna 250 blaaie wat aan Rouke se gewroeg oor sy toekoms afgestaan word. Ongeag klein irritasies sit ’n mens eindelik tog Somersneeu neer met ’n behaaglike ‘Aa, dis mooi!’ Soos wat dit ’n ordentlike liefdesverhaal betaam.”
Op LitNet is Suzette Kotzé-Myburgh dieselfde mening toegedaan: “Somersneeu sal ongetwyfeld in die smaak val van hierdie skrywer se vele aanhangers – sy is immers een van ons liefdesverhaalskrywers wat al die langste publiseer. Helene de Kock se karakters is altyd mooi en slim, hulle leefwyse stylvol en bevoorreg. Tog beskerm dit hulle nie teen die lewe se swaarkry en pyn nie.
“Benewens dit wat reeds beskryf is, ondersoek die verhaal nog relevante kwessies: ’n man wat ’n recce in die grensoorlog was en sukkel om weer by die samelewing in te pas; die seun van vooraanstaande ouers wat aankondig dat hy gay is én nog ’n paar dorpenaars uit die kas laat klim; ’n identiteit wat jare lank verswyg word en uiteindelik verwarring saai.
“Die verhaal lees glad, hoewel daar heelwat karakters is. Die karakters klink ook soms baie dieselfde – hulle druk hulleself op ongeveer dieselfde manier uit, ouer sowel as jonger karakters, ten spyte van die gebruik van Engelse woorde om laasgenoemde se taal te probeer weergee.”
In 2015 word Helene de Kock se 37ste roman gepubliseer onder die titel Debora en seuns. En met hierdie roman lewer sy weer eens bewys van haar vakmanskap: Dit vertel ’n verhaal wat die leser tot die laaste blad sal boei.
Riette Rust (LitNet) noem dit ’n “historiese verhoudingsroman. Die roman wentel om die vervlegting van twee gesinne se lewens op ’n Oos-Vrystaatse dorpie. Die Tweede Wêreldoorlog dien as agtergrond; ’n milieu wat sterk figureer en sy tol van karakters eis.
“Margot Scott en haar ma, Susan, lei ’n eenvoudige, onopwindende lewe. Hoewel die dorpenaars na Susan as weduwee verwys, het sy nooit met die Britse pa van haar dogter getrou nie. Al wat ma en dogter van die man aangeneem het, is sy van. En al wat Margot van hom het, is ’n foto in sepia.”
Dan kry die Scotts nuwe bure in die vorm van die Schlagerfeldts – Debora, haar invalide-man Dieter en hul drie seuns uit Duits-Suidwes-Afrika. Margot en Debora word baie goeie vriende Debora se jongste seun word haar beste vriend. Hy is in die geheim verlief op die Engelse onderwyseres, terwyl Heinrich, die middelste seun, betrokke is by ’n Joodse meisie.
Maar dis Marnitz, die oudste broer, wat Margot se hart steel. As mediese dokter sluit hy by die oorlog aan, maar moet sy naam verander omdat hy té Duits voorkom. Margot gaan Engeland toe om hom te soek, en om geld te verdien word sy ’n fisioterapeut by Guy’s Hospital.
Riette Rust gaan voort: “Dis in Londen waar sy (Margot) haarself leer ken. Dit kan nie anders nie, want daar moet sy teen die bomme skuil, uitvind wat versperringsballonne is en leer om met minder en valer kos klaar te kom. Kordiet, vrees en bekommernis word deel van haar daaglikse bestaan. Maar ‘die liefde kan dit werd wees,’ bespiegel sy.
“Nie net Margot se karakter ontwikkel nie, maar ook die terughoudende Marnitz word mensliker. Trouens, al die belangrike karakters is geloofwaardig en ontwikkel behoorlik met verloop van tyd.
“Die skrywer het vanselfsprekend die oorlog in besonderhede nagevors, maar die navorsing verdring nooit die storie nie – dis netjies geïntegreer. Die leser kan boonop die verhaal besonder sintuiglik ervaar. (...) Die taalgebruik is dikwels treffend. (...)
“Wat pla, is enkele clichés, waaronder ‘porseleinwit tande’, tande wat ‘wit flits’ en nog ander.
“De Kock weet egter hoe om gepas sensueel te skryf. Die liefdestonele suggereer, eerder as dat dit uitspel. En hoe romanties is dit nie, daar onder in die Anderson-bomskuiling! Uiteindelik word al die los drade tot ’n netjiese eenheid saamgeknoop. Sommige antwoorde of oplossings is dalk net te positief vir die literati. Vir lesers van liefdesverhale werk dit, maar hierdie roman is veel, veel meer as dit.”
Vir Elmari Rautenbach styg Debora en seuns bo die stereotipiese liefdesroman uit in De Kock se dramatiese beskrywing van Londen gedurende die Blitz. “Jy ruik die kordiet, waak saam met die inwoners by kerslig in beknopte Anderson-skuilings, proe die lekkerte van ’n kosbare leksel konfyt op roosterbrood, ’n flou koppie tee.” (Die Burger, 4 April 2015)
Oor die inspirasie agter die ontstaan van Debora en seuns deel Helene haar herinneringe met Elmari Rautenbach (Die Burger, 3 Maart 2015): “Ek is gedurende die Groot Oorlog gebore. My pa was ’n NG predikant; my ma ’n onderwyseres. Ons was, soos die meeste ander mense, maar brandarm met die traumatiese nasleep hiervan. Alles was skaars. As ek reg onthou, het dit meer as ’n dekade geneem om behoorlik op die been te kom. My ouers het dikwels gepraat oor die ná-oorlogse jare, hoe stukkend dié was wat teruggekom het en hoe moeilik verkrygbaar dinge was. Ons het toe al baie by die familie in die Oos-Vrystaat gekuier en ek onthou veral die gestrooptheid van daardie jare.”
Oor haar interessante navorsing oor die oorlog in Londen, wei sy verder uit teenoor Rautenbach: “Die BBC se argiewe is vol wonderlike verhale. Sommige van die sekwense van die boek het ook werklik gebeur. Nou moet ek dadelik byvoeg: die feite is aangepas (nie verdraai nie!) om by die storie te pas. Dan, die dokter wat my mangels as kind uitgehaal het, het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Guy’s Hospital in Londen gewerk en sy weduwee het tydens latere onderhoude lig op die leefwyse daar gewerp. Ek het ook uitgevind fisioterapie, waarin die hoofkarakter haar bekwaam, was daardie tyd nog in sy kinderskoene, en fisioterapeute is eers ‘masseuses’ genoem.”
In 2017 verskyn die volgende boek oor Debora getiteld Debora gaan huis toe. In hierdie verhaal staan die 1960’s–1970’s (toe die Koue Oorlog sy hoogtepunt bereik het) sentraal. Dit was in 2018 op die kortlys vir die ATKV-prys vir liefdesromans.
Helene vertel aan JB Roux (Vrouekeur, 29 September 2017) oor haar besluit om haar roman in daardie tydgleuf te plaas: “Om die Koue Oorlog te betrek, was ’n natuurlike uitvloeisel van die vorige boek, Debora en seuns, waar die jong Debora se pa reeds tydens die Tweede Wêreldoorlog by die Britse intelligensiediens MI6 betrokke was.
“Sy is dus ’n bekende in daardie kringe wat haar in haar kleintyd in Londen sien grootword het. Verder het ek en my generasie natuurlik die Koue Oorlog beleef. Ons was bepaald bewus daarvan en daar is toe al heelwat boeke daaroor geskryf.
“Die Koue Oorlog het reeds omstreke 1947 begin. Dit interesseer my steeds baie. Ek is terloops klaar met die Debora-reeks, maar ek is wel met ’n ander reeks besig.
“Al is daar baie intrige in die boek soos die wêreld van internasionale spioenasie, is daar ’n sterk liefdeselement. Ek noem dié boek ’n liefdesroman. Ek het nog altyd liefdesromans geskryf, maar ek wil beklemtoon dat ’n liefdesroman ook ’n verhoudingsroman is. Liefde bestaan nie in ’n vakuum nie. Daar is altyd ander verhoudings by betrokke, soos dié tussen moeder en dogter of tussen sibbe.
“Dit beteken nié dat romanses – ek het daarvan ook ’n paar geskryf – ’n mindere subgenre is nie. Daar is bloot ’n verskil tussen die twee subgenres. Verder kan ’n verhoudingsroman amper net soveel spanning as enige ander roman bevat. Trouens, ek reken die spanningslyn behoort in dié genre sterk te wees.”
Soos reeds genoem, “leen” Helene nie by bekendes en vriende om haar karakters te teken nie. Maar sy glo wel dat alles wat werklik gebeur, in ’n liefdesroman beslag behoort te kry. “Die wenslikheid daarvan hang af van die manier waarop ’n skrywer dit hanteer. In Debora gaan huis toe is daar sprake van dood en ellende asook groot teleurstellings, tog glo ek dit hoort in die storie.
“Daar is natuurlik, nes in die werklike lewe, lekker dinge ook. Die verhouding tussen die lede van die Schlagerfeldt-familie word, glo ek, eg en warm uitgebeeld. Ek glo aan hegte familiebande, miskien omdat ek bevoorreg genoeg is om dit self te kan geniet. Natuurlik moet ’n mens aan sulke verhoudings werk. Ek dink die feit dat Debora en haar ouma, ook Debora, ’n liefdevolle verhouding het, spruit uit die feit dat ek en my kleindogters, Hanna en Emma, so ’n lekker, spontane verhouding het.”
Die jong Debora in Debora gaan huis toe is ’n dokter. In daardie tyd was vrouedokters nog nie so ’n algemene verskynsel nie. Hieroor vertel Helene aan JB Roux dat sy geen feminis is nie, maar dat sy glo dat ’n vrou haarself op alle terreine moet kan laat geld. En om dit te kan doen, hoef sy nie afstand te doen van dinge soos haar vroulikheid, karakter, styl of intelligensie nie.
Oor hoe sy haar liefdesheld sien, vertel sy aan Roux: “Ek vermoed die blonde Tristan in Debora sal baie vroue se harte warm laat klop, maar ek het nie iets soos die ‘perfekte’ liefdesheld nie. ’n Karakter meld hom aan met foute en al. Tristan is byvoorbeeld nie iemand wat maklik kommunikeer nie. Sy agtergrond maak dit vir hom moeilik. Tog het ek baie van hom gehou. Hy het integriteit en dit is vir my van groot belang.
“Daar sterf mense in die boek en mense wil soms weet of dit vir my moeilik is om op so ’n manier van ’n karakter afskeid te neem. Ja, dis moeilik. Dit verg kophou sodat sulke sekwense nie te emosioneel is nie, maar tog die aakligheid van afsterwe uitbeeld. Maar dit is tiperend van ’n liefdesverhaal wat werklikhede hanteer.
“Ek vermoed ook dat ek met ’n mate van eerlikheid oor die dood van ’n geliefde kan skryf aangesien ons ons oudste kind, Jaco, aan die dood moes afstaan toe hy 33 jaar was. Genadiglik het daar sedertdien 13 jaar verloop en ons het deur die genade van Bo heel geword. Ek en my man, Jos, weet waardeur ouers gaan wat ’n kind afgee. As ’n skrywer so ’n verlies beleef, kry dit byna outomaties neerslag in sy of haar verhale. ’n Mens het eenvoudig groter begrip vir verlies en die implikasies daarvan.”
Op Netwerk24 (15 Oktober 2017) skryf Tania du Toit dat Helene de Kock se “gevestigde hand in verhoudingsontwikkeling binne wisselende milieus” duidelik sigbaar is in hierdie opvolg tot Debora en seuns.
“Volwasse kleinkinders van dié vorige geslag moet in Debora gaan huis toe sin vind binne ’n bestel waarin hulle, soos hul ouers en grootouers, andersdenkend binne die Suid-Afrika van die sestigs leef. Én dan met lewensingrypende gevolge moet saambeur wanneer hulle dienooreenkomstig optree. (...)
“Tuiskoms in alle fasette word bepeins en gedemonstreer in die versteurde verloop van jong liefde binne komplekse lewensruimtes en –‘reëls’. Buiten die romantiese konteks, bied universele vrae oor waar jou huis is en waaraan jy ‘tuiswees’ meet, vir hedendaagse Suid-Afrikaners binne enige verband aktuele gespreksmateriaal.
“Dié verhoudingsroman is ’n gedetailleerde tydsdokument van Suid-Afrika in die sestigs, Brittanje en Europa. Waarneming van plek, situasie en mens figureer sterk, in pas met die karakters as soekendes. Die teks bied ’n jonger geslag lesers insiggewende ‘toegang’ tot hul ouers se gesprekke rondom die destydse Koue Oorlog, aspekte van die lewe binne apartheid (indien jy andersdenkend was) en kodes van die tyd, binne ’n boeiende liefdesverhaal. (...)
“Interessante aanknopingspunte én ontknopings lê in die ruimtes waarbinne karakters telkens liefde soek én vind: bisarre gegewens vol adrenalien of pyn, dog getrou aan konkrete lewensituasies. Humor is daar genoeg, soms fynspot.
“Kontinuïteit tussen die vorige en dié roman is naatloos. ’n Oningewyde leser kan wel Debora gaan huis toe sonder belemmering volg, aangesien die voorgeskiedenis effektief in die teks ingeweef word. Historiese gegewens is deeglik nagevors. Herhaling van hebbelikhede soos ‘swaartillend’, ‘toeskulp’, ‘suiselend’ en ‘skigtig’ kan besnoei word, of die cliché van ‘kobaltblou lig’, maar dit raak piepklein klippies op ’n buitengewone, spanningsvolle hartspad huis toe.”
Ook in 2017 verskyn Kruispad vir Kara by CUM Boeke, ’n liefdesverhaal met ’n christelike strekking. Op Goodreads skryf Amanda oor die boek: “Kara Geertse het alles wat ’n student kan begeer: joolprinses, rykmansdogter en begaafd. En sy het vir Jannes Conradie, skatryk en invloedryk op die kampus. ’n Dramatiese reeks gebeure pluk egter die mat onder haar uit en laat haar sonder heenkome, sonder geld, en helaas sonder geloof dat daar ’n Vader in die hemel kan wees wat omgee vir haar. Gou kom sy agter dat dié wat sy as vriende geag het, haar nie meer wil ken nie, en geensins ondersteun nie. Haar pad kruis met eenvoudige mense wat sterk staan in die geloof wat sy so heftig bevraagteken.
“Met haar liriese taalgebruik en goeie Woordkennis, slaag Helene de Kock daarin om ’n verhaal van verlies, selfondersoek, soeke na God en uiteindelik oorwinning vir haar lesers te skets. Ook die liefde word nie afgeskeep nie. As jy hou van ’n geestelike fiksieverhaal, verweef met ’n besondere liefdesverhaal, kan jy hierdie een maar gerus aanskaf.”
Helene skryf nie net liefdesromans nie. ’n Aantal boeke vir kinders en die jeug het al uit haar pen verskyn, soos Hoor jy die skoenlappers? waarin vertel word van ’n sestienjarige se stryd met haar doofheid, totdat sy besef dat ’n mens nie regtig ore nodig het om werklik te kan hoor nie. Vir kinders skryf Helene boeke met ’n godsdienstige tema, soos Job, die ashoopman, Openbaring, die boek wat ons bly maak en Die eerste nagmaal.
In As dood lewe word (2007) probeer sy om haar emosies te verwerk nadat haar seun, Jaco, in ’n ongeluk oorlede is. Dit is ook in Engels vertaal.
In 2000 word Engel op die drumpel aangewys as naaswenner van Christelike Boekhandel van Suid-Afrika (CBSA) se toekennings vir christelike publikasies in die kategorie fiksie. Sy is die samesteller van ’n paar bundels, soos Vroue van geloof, Omdat ek Ma liefhet, God se mense (in samewerking met Maretha Maartens, Hennie Maartens, Elsje Büchner, Herman de Kock en Christo de Klerk) en ’n Pa soos myne. In 2003 word Omdat ek Ma liefhet aangewys as wenner van CBSA se toekenning vir christelike publikasies in die kategorie beste geskenkboek.
In 2019 verskyn Die kind uit die wingerd by Human & Rousseau. Helene de Kock verduidelik kortliks aan Naomi Meyer waaroor hierdie roman handel: “Die kind uit die wingerd handel kortliks oor Laurens Erasmus wat op driejarige ouderdom uit ’n wingerd aangestap kom. Sy naam is aan sy baadjie vasgespeld. Verder weet hy nie wie hy is of waar hy vandaan kom nie. Mense gee hom ’n tuiste, maar hy bly sy lewe lank ’n buitestander. Later stuur die mense wat hom ‘aangeneem’ het, hom terug Nederland toe om verder te studeer, en die Tweede Wêreldoorlog breek uit. Te midde van die verwoesting leer hy van sy herkoms en vind hy homself.”
Oor haar navorsing vir Die kind uit die wingerd vertel Helene de Kock aan Naomi Meyer op LitNet: “Die skryf van ’n historiese roman verg uiteraard dat mens deeglik navorsing moet doen, en ek besoek graag self die plekke waaroor ek skryf om die atmosfeer te kan peil. Feite kan soms later verkry word. Maar feite op sigself is morsdood tensy die storie dit laat verlewendig. Inligting moet vanselfsprekend korrek wees, maar die storie is wat belangrik is. Dit is fiksie en fiksie moet verkieslik beide intellek én emosies betrek. Mens moet in gedagte hou dat fiksie soms gewigtiger waarhede as die blote feite van geskiedenis kan oordra. Ek het oral en op allerlei wyses navorsing gedoen, ja, maar hoofsaaklik met die oog op die uitwerking wat feite op mense het. Ek het jare gelede met ’n dokter gesels wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Guy’s Hospital in Londen gewerk het. Dit het daardie oorlog vir my as’t ware oopgemaak. Ek het ook met die gewese dekaan van ’n regsfakulteit gesels wat in Leiden gestudeer het. En ek het talle en talle werke oor die oorlog en daardie tydperk gelees.”
Meyer wou ook by Helene weet wat die inspirasie agter die skryf van Die kind uit die wingerd was: “Ek dink inspirasie is ’n populêre mite. Ek raak geïnspireerd eers as ek begin werk het en goed aan die gang is. Ek weet nie wanneer die idee van die kleintjie wat uit die wingerd gestap kom, by my gedaag het nie. Net dat ek dit op ’n dag herken het as ’n moontlike idee vir ’n roman waarvan die tema buitestanderskap kan wees. Die hele roman draai eintlik om die tema dat buitestanderskap, wat verskeie oorsake het, eintlik diep verdriet kan veroorsaak.”
In Vrouekeur van 26 Oktober 2019 is Willie Burger die volgende mening toegedaan oor Die kind uit die wingerd: “Die kind uit die wingerd is ’n lekkerleesliefdesroman. Helene de Kock is uitmuntend met die vertel van hierdie soort verhale. Sy vervleg ook ’n stukkie boeiende geskiedenis oor die hoogs geheime Britse oorlogsprojek met die verhaal, maar die effek van geheimhouding, die impak van die verskrikking en geweld van die oorlog word nie regtig ondersoek nie. Dit staan alles op die agtergrond van die eintlike liefdesverhaal. Baie lesers sal die karakters se innerlike wroeging en worstelings met die weë van die liefde geniet, maar vir ander sal dit tóg so ’n bietjie outyds aandoen, met plaaswerkers wat naamloos op die agtergrond beweeg, bloedlose beskrywings van Londen in ’n bloedige tyd en maklike oplossings vir al die karakters se probleme.”
Louise Viljoen (Maroela Media, 3 September 2019) het baie lekker aan hierdie liefdesverhaal met ’n historiese agtergrond gelees: “Die skrywer is bedrewe daarin om die leser se aandag vanaf die eerste paragraaf vas te vang. Haar skryfstyl is vloeiend en onderhoudend, die karakters, gebeure, taalgebruik en milieu oortuigend. Terwyl die naderende oorlogswolke dreigend saampak en uiteindelik tot volle uitbarsting kom, wonder die leser saam met Laurens of die raaisel rondom sy ma en pa se identiteite ooit opgelos sal word. Die kind uit die wingerd is ’n roman waarin verhoudinge sentraal staan.”
Nini Bennett-Moll (LitNet) se bespreking van Die kind uit die wingerd lui as volg: “Die kind uit die wingerd is omgewe van ’n ouwêreldse ambiance: Dis ’n boek wat ’n welkome toevlug bied teen die knellende hedendaagse Suid-Afrikaanse werklikhede. Die roman bekoor, deels in sy Eurosentriese konteks, deels as historiese opgaaf waarin die doen en late van Afrikaners wat onbeskaamd ’n hoërklasbestaan voer, weergegee word. Die magies-realistiese aanslag temper die harde werklikheid. Verder verdien die boek lof vir die keurige, poëtiese stelwyses. Die hele verhaal is as’t ware getint in verskillende kleure, veral herfskleure en die warm kleure wat met winter en wyn geassosieer word. Die aura van vergangenheit word ook heel treffend op die omslagontwerp in sepiakleure geplet. Die taalgebruik is plek-plek argaïes; segswyses wat in outentieke idioom met die Nederlandse konteks saamgesels. Die fyn woordspel ontgaan die leser ook nie. Die naam Janus is byvoorbeeld nie toevallig nie – die boek suggereer ook die dubbelbetekenis van die mitiese god, Janus, wat vorentoe en agtertoe gekyk het.
“Die verhaallyn in sy geheel beweeg stadig, waarskynlik omdat die roman vertoef by poëtiese beskrywings; die indrink van die poëtiese oomblik word voorop gestel. As personasie is dit Alma Mendels, die yskoue regsprofessor, wat bly verras in haar karakterontwikkeling. Soms het ek egter gevoel dat die onderskeie vertellings doodgeskryf word – die verteller hou aan skryf, selfs lank nadat van hierdie narratiewe ’n versadigingspunt bereik het. Tog lê die waarde van die roman óók in die stadige ontknoping van gebeure: ’n stasis wat fokus op die maak, die vloeibaarheid, en uiteindelik die behoud van kosbare herinneringe. En dat liefde en versoening die verwonding in families, selfs oor generasies heen, kan genees.”
Met haar volgende roman, Elisabet se oorlog (2021), loop Helene in 2022 weg met die ATKV-Woordveertjie vir liefdesromans. Die beoordelaars het as volg oor hierdie roman geskryf: “Elisabet se oorlog is ’n boek wat jou bybly lank nadat jy dit neergesit het, en beslis ’n hoogtepunt in die deurwinterde Helene de Kock se oeuvre. Tussen die blaaie van hierdie boek word fiksionele karakters regte mense, en die leser word noodwendig ’n intieme deel van die wreedheid en ontnugtering wat die oorlog vir hulle meebring. De Kock slaag daarin om dit so goed te beskryf dat jy voel of jy self daar was om die sirenes te hoor loei, die bomme te hoor val en die chaos in die stad te sien. Elisabet se binne-oorlog en pad na geluk is ewe meesleurend. ’n Boek wat meevoer deur die karakters se wel en wee.”
In Mei 2022 was Elisabet se oorlog Netwerk24 se Luisterboek. Die uitgewers gee meer agtergrond oor die verhaal van Elisabet: “Dis 1938 en Elisabet Uys se onrus oor haar voorgenome huwelik groei saam met die gerugte dat daar dalk ’n tweede Groot Oorlog kan uitbreek. Gepantser met ouma Liesbet se raad, besluit sy kort voor haar troue om haar verlowing aan Johannes Barnard te verbreek. Dis nie dat haar jare lange vriend nie goed is vir haar nie; sy is nie oortuig daarvan dat hy werklik op haar verlief is nie.
“En dan is daar Marius Mulder se onhebbelike vraag daardie middag op Stellenbosch wat deesdae gereeld ongevraagd by haar opduik. Sy neem ’n wilsbesluit om vrou-alleen na Europa te reis, ongeag van die tradisies en verwagtinge wat aan haar voorgeskryf is. Sal Elisabet in die oorloggeteisterde Londen vind waarna sy soek? En sal die dokter met die dringende donkerblink blik vir haar vryheid en sekerheid kan bied wat met onvoorwaardelike liefde saamgaan?”
Op LitNet het Helene aan Yolanda Wessels vertel dat Elisabet se oorlog op ware persone se ondervindings tydens die Tweede Wêreldoorlog geskoei is: “Ja, ware persone wat die Tweede Wêreldoorlog meegemaak het, het jare gelede met my oor hul ervarings in Londen tydens die oorlog gesels. Ek het (amper twee dekades gelede) intensief onderhoude gevoer met mense, onder andere ’n dokter, wat tydens die oorlog in Londen woonagtig was. Dié dokter het in Guy’s Hospital in Londen gewerk. Sy vrou was saam met hom daar en het ook daaroor gesels. Hul ervarings is wel aangepas om by die storie te pas al is dit feitelik korrek.”
Trisa Hugo skryf in Rapport (13 Junie 2019) as volg oor Elisabet se oorlog: “Die hoofkarakter, Elisabet Uys, is ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit is en wat besef daar moet meer in die lewe wees as haar behoudende ouers en haar stil, betroubare verloofde. ’n Man van min woorde, te min vir Elisabet.
“Haar soeke na ’n eie identiteit binne ’n multikulturele samelewing én die uiterste omstandighede van die Tweede Wêreldoorlog bring vir haar diepe geluk. Waar Irma Joubert in haar nuutste roman, Na ’n plaas in Afrika (2021), veel meer op feite rakende die oorlog konsentreer, fokus De Kock eerder op interpersoonlike verhoudings teen die agtergrond van die oorlog. Die gevolge van oorlog vir gewone mense, byvoorbeeld kosskaarste en goedere wat onbeskikbaar is, word egter skraps uitgebeeld en lesers voel nie die karakters se intense honger nie. (…)
“Elisabet se oorlog lees maklik, stel nie besondere uitdagings aan die leser nie en behoort wyd aanklank te vind. Dit is egter hoegenaamd nie sonder diepte nie en vertel van ’n ingesteldheid onder die Afrikaner-boeregemeenskap van dekades gelede wat baie mense erge skade berokken het.”
In ’n onderhoud met Carla van der Spuy op LitNet (16 April 2020) gee Helene haar mening oor romantiese spanningsfiksie: “Na my mening is ’n roman se storie die faktor wat die lengte en die struktuur van die roman bepaal. Die storie self kan byvoorbeeld die roman in ’n sekere genre plaas. Vergelyk byvoorbeeld die simplistiese storie van ’n romanse teenoor die veel meer komplekse en werklikheidsgebonde storie van ’n liefdesroman. ’n Gelukkige einde is – anders as in die werklike lewe – ononderhandelbaar.
“Eweneens kan die blote storie van ’n roman dit ook moeilik maak om dit te tipeer as byvoorbeeld suiwer net ’n spanningsverhaal of suiwer net ’n liefdesroman. ’n Liefdesroman kan en moet deesdae ’n redelik stywe spanningslyn handhaaf. Daarby moet deeglik navorsing gedoen word. Lesers weet baie en is weetgierig. Geen skrywer behoort egter die fout te maak om te dink dat ’n romanse makliker sal skryf nie. Inteendeel. Dis ’n gesogte genre met lesers wat presies weet wat hulle wil hê.
“Mens skryf dan ook werklik moeilik aan ’n liefdesroman wat ongeveer ’n honderd duisend woorde bevat. Uit watter hoek ’n liefdesroman ook al beskou word, dit bly ’n vereiste dat dit inderdaad goed geskryf moet wees. Dit wil sê die skrywer daarvan moet die leser kan vermaak en terselfdertyd ’n mate van diepgang in sy/haar roman kan inweef sonder om aan toeganklikheid in te boet,” sê Helene.
In 2022 word Stella se dogters by Penguin Random House gepubliseer nadat hulle aan Helene gevra het om ’n roman vir hulle te skryf. In ’n onderhoud met Amanda Claassens wil sy weet waar die gedagte ontstaan het om ’n roman te skryf oor ’n ma en dogters wat unieke maar tog ook ooreenstemmende probleme het.
Hieroor het Helene de Kock gesê: “Dit is werklik baie moeilik om die oorsprong van ’n boek neer te pen. Die stimulus vervaag sodra mens in alle erns begin skryf. Ek ken die Oos-Vrystaat goed omdat ek lewenslank daar kom en vir amper ’n dekade lank daar gewoon het. Daardie wêreld het my ingetrek en vasgehou. Die ruimte, beide konkreet en abstrak, ken ek dus goed. Ek vermoed ek het toe ek ‘Stella se dogters’ moes skryf, ’n fiktiewe plaas in daardie streek uitgedink en gewonder of daar dalk ’n weduwee boer. Daarvandaan het die karakters ontwikkel. Dit neem gewoonlik ’n hele ruk voordat karakters in my kop as’t ware beslag kry. Hulle ontwikkel natuurlik ook. Verlewendig soos wat die verhaal vorder.”
Stella se dogters vertel die verhaal van Stella Bennet van die plaas Ommekeer in die Oos-Vrystaat en haar drie dogters. Die dogters het almal probleme. Die uitgewers skryf as volg oor dié roman: “Niemand sal Julia glo dat sy in haar huwelik verbaal mishandel word nie. Niemand sal begryp dat Pauli verlief is op die verkeerde man nie, veral aangesien sy so ’n verstandige man aan haar sy het. Niemand sal ooit weet hoe broos Teresa is nie. Want sy is hierdie hardekwas advokaat wat geen man nodig het nie.
“Die drie dogters se lewens word verder gekompliseer deur vier manne (…). Al drie Stella se dogters ly tot ’n mate aan ontkenning, ontkenning van wat werklik is en van wat hulle regtig wil hê. Maar die lewe het ’n manier om die erkenning van waarhede af te dwing.”
Diana se dag word in 2023 deur Human & Rousseau gepubliseer. Hierdie roman vertel die verhaal van Diana Botha, ’n vroulike wynmaker. Die agtergrond is ’n wynplaas op Stellenbosch, ’n gebied waar Diana ’n inkommer is. Die leser leer Diana tydens haar jeugjare ken, vertel Susan Puren (Netwerk24, 17 Augustus 2023): “Kleintyd was Diana se ouers welvarende inwoners van Bloemfontein. Toe haar pa weens finansiële misstappe in die tronk beland, moes sy en haar ma en jonger broer noodgedwonge in ’n arm buurt gaan woon.
“Dit is waar die leser met Diana kennis maak; sy leer hard, skuil pouses in die skool se fietsloods met haar boeke en ná skool pak sy rakke in die plaaslike winkel. (…) Haar pa sterf in die tronk en dan beland haar jonger broer ook in die moeilikheid en word tronkstraf opgelê. Hy verwerp sy ma en suster en later hou hulle selfs op om hom in die tronk te besoek.”
Oor hierdie situasie vertel Helene de Kock tydens die bekendstelling van Diana se dag aan Susan Puren: “Daar is mense wat van so ’n situasie kan wegstap, of wat sterk genoeg is om die las te dra. Diana se broer kon aanvanklik nie die omstandighede verwerk nie en hoewel dit vir haar ook moeilik is, oorkom sy dit, al is dit hoe moeilik.”
In haar matriekjaar verwerf Diana ’n beurs om verder te gaan studeer as ’n wynmaker en sy verhuis na Stellenbosch. “Geluk teenoor ongeluk is die kontras in die boek,” sê Helene aan Puren. “Ek raak ook sosiale kwessies aan en daar is konflik, want ’n storie moet konflik hê en die skrywer moet konflik skep en uitbeeld hoe dit hanteer word.
“Sentraal in die verhaal staan die verhouding tussen ma en dogter, die verhouding tussen ’n ma en haar kind. Maar in Diana se dag is Diana aanvanklik in ’n verhouding met ’n ryk man wat ook ’n aspirant politikus is. En dis ’n komplekse verhouding waaroor sy moet besluit of dit die moeite werd is.”
Oor die navorsing wat sy moes doen om outentiek oor die wynbedryf te skryf, het sy gaan kers opsteek by twee vroulike wynmakers op die wynplaas Kleine Zalze. Hieroor sê sy: “Jy as die skrywer skep ’n ruimte waarbinne jou karakters leef. Dan is daar ook die groter ruimte; in Diana se dag is daar politici en medici en die bruinmense wat op die wynplase werk.”
Anschen Conradie skryf só oor Diana se dag: “Hierdie roman behou die outensiteit waarvan die skrywer haarself reeds as meester bewys het; die omgewing, seisoen en sensoriese gewaarwordings daaruit voortspruitend word ’n metafoor vir die ontwikkeling van die karakters. Midde-in die Kaapse winter, gekenmerk deur skemerlig, grys koue, reën en wind, is daar die knusse koestering van kaggels, koolstowe, rooiwyn, trooskos, sagte lig en beskutting teen die element.
“Duncan is met die spreekwoordelike goue lepel in die mond gebore: ’n welgestelde, charismatiese, dinamiese ekstrovert. ’n Leefwêreld buite die grense van sy eie is vir hom ondenkbaar. Daarteenoor is Lutz ’n beslote enigma; beklad en beskaamd oor sy verlede verdwyn en verskyn hy gereeld soos die hoofrolspeler in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Diana ontwikkel van vrou wat terughoudend en beskroomd is oor haar verlede tot iemand wat met trots aankondig: ‘… ek gaan ’n mooi toekoms beleef juis as gevolg van my verlede’ (bladsy 246).
“Die karakters se lief en leed word met ouwêreldse sjarme vertel (…), ’n tegniek bydraend tot die eindproduk wat een is van ’n eietydse roman, vierkant in die 21ste eeu gewortel: ’n voltooide sirkel van seisoene.” (Netwerk24, 31 Julie 2023)
Getroue lesers van Helene de Kock se boeke sal verheug wees om te hoor dat sy werk aan ’n opvolg van Diana se dag.
Huldigingswoorde met Helene de Kock se 80ste verjaardag in November 2023:
- Jeanette Ferreira, voormalige uitgewer van Helene de Kock se publikasies: “Ek waardeer die standvastigheid waarmee sy in haar geliefkoosde genre, die verhoudingsroman, skryf. De Kock het ’n meestersgraad, sowel as ’n doktorsgraad, in Afrikaanse letterkunde behaal. Die meerderheid van haar verhale sentreer egter om liefde en, belangriker, die kompleksiteit van verhoudings, waarvan romantiese liefde maar een is. Dit is wat sy gekies het en sy maak nie verskoning daarvoor nie. Waarom sou sy? Al haar karakters is mense wat geglo kan word in hul oorkoming van grense, in hul poging om sin te maak van ’n lewe en daaraan sin te gee, iets wat veel moeiliker is as ‘man ontmoet meisie’.” (Netwerk24, 5 Desember 2023)
- François Bloemhof, skrywer: “Ek is ’n waarderende leser van De Kock se boeke oor baie jare heen. Die deernis- en gevoelvolle benadering wat haar lesers oor die dekades heen so leer geniet en waardeer het, is nie iets wat Helene bloot aanskakel wanneer sy besig is om ’n boek te skryf nie. Net so knap soos wat sy haar verhale oor verhoudings en die liefde kan verwoord, so sterk blyk ’n deeglike begrip daarvan in haar omgang met ander mense.” (Netwerk24, 5 Desember 2023)
- Elsa Winckler, skrywer: “Helene is vriendelik, statig en met ’n ouwêreldse sjarme. Ek sou haar skryfwerk as verhoudingsverhale beskryf – sy skryf oor die liefde, ja, maar die manier waarop sy diep in die karakters delf, verleen ’n ekstra dimensie aan al haar verhale. Helene is onbeskaamd ’n Christen en ek soek gereeld op ’n Maandag na haar kort en inspirerende boodskap vir die week wat sy op sosiale media deel. Sy is en bly vir my ’n inspirasie.” (Netwerk24, 5 Desember 2023)
- Phyllis Green, boekeredakteur van Sarie: “De Kock is ’n fyn waarnemer van mense en van die kwessies wat in verhoudings saak maak. Verhoudings tussen karakters dryf die verhale en vertel van gebeure waarmee lesers hulself kan vereenselwig. Helene se puik navorsing verskaf ’n stewige fondament vir haar geskiedkundige verhale, sonder dat die feite ooglopend aangewend word. Maar dis die menslikheid, die empatie en deernis wat sy met haar karakters se dilemmas weergee wat lesers bybly.” (Netwerk24, 5 Desember 2023)
- Truïse Prinsloo, sedert 2019 uitgewer van Helene de Kock se boeke by Human & Rousseau: “Haar karakters spreek van egtheid en elke storie word met ouwêreldse sjarme eie aan haar persoonlike menswees vertel. Sy is veral ’n meester met die skep van ruimte, en span dikwels die natuur en seisoene in om karakters se binnewêreld en groei ten toon te stel. Enige liefdesverhouding kring wyer uit as net twee mense. De Kock se verhale ondersoek telkens ook die verhouding tussen ouer en kind, en ook dié tussen sibbes, en dikwels ook die grootouers. En vir haar as skrywer staan haar eie verhouding met die Skepper as gewer van onvoorwaardelike liefde altyd sentraal tot haar oeuvre.” (Netwerk24, 5 Desember 2023)
- Eloïse Wessels, NB Uitgewers se uitvoerende hoof: “Ek het ’n dekades lange persoonlike én werkverhouding met Helene. Sy is op meer as een manier soos geliefde familie – ek koester dit, soos wat haar boeke vir haar lesers koestering en plesier bied. Haar romans verskaf wonderlike leesgenot, ook by die herlees tydens ’n slapelose nag of ’n ontspanne vakansiedag.” (Huisgenoot, 8 Desember 2023)
Publikasies:
Publikasie |
Die soete dwaling |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Sonder winter |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
079810905X (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Gruispad na Tóg Wat |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
07981110031 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Ruitjiesvenster |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Man van gister |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798109521 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Ver vlug na môre |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die bruidseisoen: twee novelles |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Kamer van die stormwind |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
079811410X (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Met vandag se brood |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798112565 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Digby Grootgewaag |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
062401889X (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Plek van die bittermaan |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die herfsbelofte |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Soet wyn vir ’n Sondagskind |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Ballade vir ’n bruid |
Publikasiedatum |
1986 |
ISBN |
0798119926 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Kronkelpad na Vergenoeg |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Joernaal van ’n winterjaar |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624026124 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
’n Kind vir Vier Oude Vrinde |
Publikasiedatum |
1988 |
ISBN |
0798121971 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Seisoen van die skimmelson |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
0795917902 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Uur van die Sewester |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
079812346X (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Windspoor |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
0624027767 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Vuurvliegie |
Publikasiedatum |
1990 |
ISBN |
0798126345 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Sewende somer |
Publikasiedatum |
1990 |
ISBN |
079812752X (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Saterdagskind |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Môrester, môrester: 8 novelles |
Publikasiedatum |
1993 |
ISBN |
0799319406 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Novelle |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Man van kaliber |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm en kortlysbenoemings |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Sonder winter |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Met vandag se brood |
Publikasiedatum |
1994 (Grootdrukuitgawe) |
ISBN |
08681257776 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Makro |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Man van gister |
Publikasiedatum |
1994 (Grootdrukuitgawe) |
ISBN |
0868125733 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Makro |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Vrystaat is verniet: 5 liefdesnovelles |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
0799322938 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Ligte leesstof. Beeld, 15 Januarie 1996 |
Publikasie |
Volmaakte versnit |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
0798134763 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Tiendes van silwer |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0798136235 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Vrou van formaat |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
7 liefdesnovelles |
Publikasiedatum |
1997 |
ISBN |
0799324604 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Novelle |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Job, die ashoopman |
Publikasiedatum |
1997 |
ISBN |
1868152758 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Aktuapers |
Literêre vorm |
Bybelverhale vir kinders |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Mense van faam |
Publikasiedatum |
1998 |
ISBN |
0798138440 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Engel op die drumpel: ’n jong vrou se stryd met die bande van bloed |
Publikasiedatum |
1999 |
ISBN |
1868293769 (sb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Jeugverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Openbaring, die boek wat ons bly maak |
Publikasiedatum |
1999 |
ISBN |
– |
Uitgewer |
Pretoria: Aktuapers |
Literêre vorm |
Bybelverhaal vir kinders |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die skadubelofte en ander liefdesverhale |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Riemland. Tweeluik |
Publikasiedatum |
1999 |
ISBN |
0798140011 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die eerste nagmaal |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
Geen |
Uitgewer |
Pretoria: Aktuapers |
Literêre vorm |
Bybelverhale vir kinders |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Omnibus 1 |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0798140615 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Lekkerlees-verhale. Beeld, 2 Oktober 2000 |
Publikasie |
Die Wynland omnibus |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0798140771 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Omnibus 2: Van liefde en oorlog |
Publikasiedatum |
2001 |
ISBN |
0798141883 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Hoor jy die skoenlappers? ’n Jong meisie se wonderontdekking van sin in ’n dowe wêreld en die besef dat stilte sy eie melodie het |
Publikasiedatum |
2001 |
ISBN |
1868297268 (sb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Jeugverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Omnibus 3: Liefde in die Lae Lande |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0798142278 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Vonkeljaar se kind |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0799330221 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Omnibus 4 |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
0798142316 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Abel se dogters |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
0798143800 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Omnibus 5 |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
0798143797 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
’n Tyd om lief te hê |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0624042251 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Omnibus 6 |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0798144386 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Liefde is ’n klipgooi ver: 6 novelles |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0799333212 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Omnibus 7 |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0798145226 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Omnibus 8 |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0798144998 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Omnibus 9 |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9780798148665 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Lelie van die laagte |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9780624045663 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Dieper water |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9780798149075 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
As dood lewe word |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9781431615452 (sb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Nie-fiksie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Omnibus 10 |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780798153232 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Liefdesverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die hemelburgers: ’n roman |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9781770004610 (sb) |
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
Literêre vorm |
Godsdienstige roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Omnibus 11 |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780798153690 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Liefdesverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Somersneeu |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
97870798151153 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Omnibus 12 |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780798151726 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Liefdesverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
When death becomes life: the loss of a loved one – how to find consolation |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
978162095581 (sb) |
Uitgewer |
Potchefstroom: BookBaby Selfpublishiing |
Literêre vorm en kortlysbenoemings |
Biografies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Debora en seuns |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9780798169592 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Debora gaan huis toe |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780798176132 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
2018 kortlys ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Keur 1 |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780798176071 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Liefdesverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Keur 2 |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780798176439 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Liefdesverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Kruispad vir Kara |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9781431620135 (sb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Christian Art Publishers |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Keur 3 |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9780798177504 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Liefdesverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Keur 4 |
Publikasiedatum |
2019 |
ISBN |
9780798177580 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die kind uit die wingerd |
Publikasiedatum |
2019 |
ISBN |
9780798179096 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
2020 kortlys ATKV-Woordveertjie vir Liefdesroman |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Keur 5 |
Publikasiedatum |
2020 |
ISBN |
9780798180535 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Publikasie |
Elisabet se oorlog |
Publikasiedatum |
2021 |
ISBN |
9780798181914 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
2022 ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Keur 6 |
Publikasiedatum |
2021 |
ISBN |
9780798182027 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Stella se dogters |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
9781776352654 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Penguin |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Keur 7 |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
9780798182881 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Keur 8 |
Publikasiedatum |
2023 |
ISBN |
9780798183680 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Diana se dag |
Publikasiedatum |
2023 |
ISBN |
9780798183857 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Keur 9 |
Publikasiedatum |
2024 |
ISBN |
9780798183994 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Helene de Kock as samesteller
- Vroue van geloof: 31 dagstukke oor Maria, moeder van Jesus; saam met 11 ander medewerkers. Vereeniging: CUM, 2001
- Omdat ek ma liefhet: ’n bundel wat geesdriftig hulde bring aan moeders en skoonmoeders; hulle wat vir ons die lewe oopmaak. Vereeniging: CUM, 2002 [ISBN 1868298221 (sb)]
- God se mense; saam met Maretha Maartens, Hennie Maartens, Elsje Büchner, Herman de Kock en Christo de Klerk. Vereeniging: CUM, 2002
- Because I love you, Mom. Vereeniging: CUM, 2003
- ’n Pa soos myne. Vereeniging: CUM, 2003
Artikels oor Helene de Kock
- AmandaCL: In gesprek met Helene de Kock. Penpunt, 21 April 2022
- Bezuidenhout, Ronell: Helene de Kock gesels oor Blom!
- De Kock op 80 nog steeds aan’t skryf. Netwerk24, 5 Desember 2023
- Erasmus, Elfra: “Snob en snert”-tradisie doen Afrikaans skade. Beeld, 22 Augustus 1992
- Green, Phyllis: 5 boekminute met Helene de Kock. Sarie, 15 Maart 2010
- Green, Phyllis: Verlore liefde lei na geluk. Sarie, 21 Julie 2017
- Helene de Kock [besoek op 25 Maart 2024]
- Helene de Kock [besoek op 25 Maart 2024]
- Helene de Kock [besoek op 25 Maart 2024]
- Helene de Kock – meer inligting. Vrouekeur, 25 September 2017
- Nieuwoudt, Stephanie: De Kock glo in deeglike navorsing vir romans. Beeld, 4 November 1997
- Om te skryf: Helene de Kock vertel die storie van ’n storie in The Penguin Post
- Rautenbach, Elmari: Helene de Kock vertel van haar nuwe boek. Netwerk24, 2 Maart 2015
- Van der Merwe, Elna: Maak gereed vir ’n leesmarathon met Helene de Kock. Huisgenoot, 8 Julie 2022
- Vrouemaand-inspirasie: Helene de Kock. Sarie, 14 Augustus 2013
Artikels deur Helene de Kock
- De Kock, Helene: Die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman. Potchefstroom, proefskrif vir DPhil
- De Kock, Helene: Die skep van werklikheidsbeeld in ’n roman. Literator, 2015
- De Kock, Helene: Dieper water: die skep van werklikheidsbeeld in ’n komplekse ontspanningsroman en ’n skryfteoretiese besinning daaroor. Noordwes-Universiteit, MA-tesis, 2008
- De Kock, Helene: In memoriam: Marzanne Leroux-Van der Boon 1940–2022. LitNet, 26 Augustus 2022
- De Kock, Helene: Oor ontspanningsfiksie. Rapport [datum onbekend]
Resensies deur Helene de Kock:
- Deur vuur en water deur Karin Combrinck: ’n resensie. LitNet, 7 Januarie 2019
- ’n Handleiding uitsluitlik op die skryfkuns gerig [resensie oor Afrikaanse Skryfgids]. Literator, Junie 2013
- Sara deur Maretha Maartens: ’n resensie. LitNet, 19 Maart 2019
- Ter wille van die vaders deur Marzanne Leroux-Van der Boon: ’n boekresensie. LitNet, 12 September 2018
- Vroue van die Bybel 2 deur Esté Geldenhuys: ’n resensie. LitNet, 5 Julie 2018
Helene de Kock se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 03-04-2019 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.