Resensie: Die kind uit die wingerd deur Helene de Kock

  • 3

Die kind uit die wingerd
Helene de Kock

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780898179096

Helene de Kock is ’n veelbekende skrywer en die prosateur van ’n groot oeuvre bestaande uit kortverhale, novelles en romankuns. Die kind uit die wingerd is ’n ontspanningsroman met ’n historiese inslag, ’n werk wat op ’n kommersiële gehoor gerig is, maar terselfdertyd ook poog om ’n kwaliteitlekkerleesroman te lewer. Uit die lang lys erkennings agter in die boek blyk dit dat De Kock uitgebreide navorsing oor verskeie onderwerpe gedoen het tydens die skryf van hierdie roman.

"Selfs ’n wingerdloot het ’n stamboom van oorsprong. Een Sondagmiddag in die herfs van 1918 kom ’n driejarige uit Vredenhoek se wingerd die Erasmus-familie se binnekring ingestap," lui die persverklaring. (Ongelukkig dui dié verklaring verkeerdelik die jaartal as 1916 aan, ’n vingerfout aan die kant van die uitgewer.)

Die roman sentreer rondom die seun, Laurens Erasmus, se soeke na ’n eie identiteit. Daar is Erasmusse wat weet wie hy (regtig) is, maar hulle verkies om te swyg. Die buurdogter, Carijn den Hagen, wat op daardie dag van ontmoeting haar hand na Laurens uitgesteek het, kan hom nie help nie. Want die intrige verdiep: Sy het Laurens in die geheim liefgekry, maar dit begin duidelik te blyk dat haar broer, Cecil, nie dieselfde aspirasies het om wyn te maak as wat met Laurens die geval is nie. Oom Janus kan skaars sy teleurstelling in Cecil se gebrek aan belangstelling in die kelder wegsteek. En die leser begin wonder: Is Laurens dalk wérklik biologies verwant aan die Erasmusse? En indien wel, wie se kind is hy, en wat is die tergende geheim wat sy identiteit omhul?

Die familie besluit dat Laurens na Leiden moet reis om sy regstudie voort te sit. Eintlik is die verwagting dat hy só meer te wete sal kom oor sy duistere en onsekere herkoms. Op bl 91, hierdie treffende toneel wanneer Laurens se trein vertrek:

Die fluitjie het geblaas. Die trein het begin knars en hy het haar haastig opgehelp, die warmsoet jasmyngeur van haar reukwater in sy neus voor hy die deur toegemaak het. Hy was skoon oorbluf toe die logge lokomotief tjoef-tjoef wegtrek met haar in een van die ratelende waens. Haar verslae gesig by die kompartement se oop venster met haar blonde vag hare wapperend in die wind.

’n Solderkamer in Rapenweg 42, ’n eeu oue kanaalstraat, sal vervolgens Laurens se nuwe verblyf wees. Hy bly korrespondeer met sy grootmaakfamilie, maar met die Tweede Wêreldoorlog dreigend in die agtergrond kan Nederland nie langer neutraal bly nie.

De Kock verras in die hantering van ’n verskeidenheid karakters, maar sonder om enige een aan eendimensionele beelding oor te laat: Almal word volwaardige en onthoubare personasies uit eie reg.

Gelukkig kry die vertelling weer momentum na hoofstuk vyf, vóór die vertelling te omslagtig begin raak. Laurens se avonture in ’n oorloggeteisterde Europa sorg vir hope opwinding. Hy ontmoet ’n netwerk mense wat op raaiselagtige wyse met mekaar “ineenskakel”; en hy word gewerf as ’n M16-agent en geskool in die fynere kunsies van spioenasie. Ondertussen begin Carijn skoolhou by ’n skool in Bethlehem en ontmoet vir Wim Daniels, ’n aardse en eerlike man wat terstond op haar verlief raak. Sal die tyd en afstand tussen Laurens en Carijn ’n verdieping bring in hulle liefde vir mekaar, of is dit Wim wat Carijn se hand gaan wen?

Die kind uit die wingerd is omgewe van ’n ouwêreldse ambiance: Dis ’n boek wat ’n welkome toevlug bied teen die knellende hedendaagse Suid-Afrikaanse werklikhede. Die roman bekoor, deels in sy Eurosentriese konteks, deels as historiese opgaaf waarin die doen en late van Afrikaners wat onbeskaamd ’n hoërklasbestaan voer, weergegee word. Die magies-realistiese aanslag temper die harde werklikheid. Verder verdien die boek lof vir die keurige, poëtiese stelwyses. Die hele verhaal is as’t ware getint in verskillende kleure, veral herfskleure en die warm kleure wat met winter en wyn geassosieer word. Die aura van vergangenheit word ook heel treffend op die omslagontwerp in sepiakleure geplet. Die taalgebruik is plek-plek argaïes; segswyses wat in outentieke idioom met die Nederlandse konteks saamgesels. Die fyn woordspel ontgaan die leser ook nie. Die naam Janus is byvoorbeeld nie toevallig nie – die boek suggereer ook die dubbelbetekenis van die mitiese god, Janus, wat vorentoe en agtertoe gekyk het.

Die verhaallyn in sy geheel beweeg stadig, waarskynlik omdat die roman vertoef by poëtiese beskrywings; die indrink van die poëtiese oomblik word voorop gestel. As personasie is dit Alma Mendels, die yskoue regsprofessor, wat bly verras in haar karakterontwikkeling. Soms het ek egter gevoel dat die onderskeie vertellings doodgeskryf word – die verteller hou aan skryf, selfs lank nadat van hierdie narratiewe ’n versadigingspunt bereik het. Tog lê die waarde van die roman óók in die stadige ontknoping van gebeure: ’n stasis wat fokus op die maak, die vloeibaarheid, en uiteindelik die behoud van kosbare herinneringe. En dat liefde en versoening die verwonding in families, selfs oor generasies heen, kan genees.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Helene de Kock oor Die kind uit die wingerd

  • 3

Kommentaar

  • "Selfs ’n wingerdloot het ’n stamboom van oorsprong. Een Sondagmiddag in die herfs van 1918 kom ’n driejarige uit Vredenhoek se wingerd die Erasmus-familie se binnekring ingestap," lui die persverklaring. (Ongelukkig dui dié verklaring verkeerdelik die jaartal as 1916 aan, ’n vingerfout aan die kant van die uitgewer.)

    Moes Laurens se geboortejaar nie 1914 gewees het nie? In 1918 kon hy immers nie net drie jaar oud gewees het nie?

    Of anders is 1916 korrek?

  • Aleida van Houwelingen

    Dit was/is vir my 'n pragtige boek!
    Ek wil graag weet of daar nog 'n vervolg gaan verskyn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top