Skrywersonderhoud: Helene de Kock oor Die kind uit die wingerd

  • 1

Titel: Die kind uit die wingerd
Skrywer: Helene de Kock
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179096

Helene de Kock vertel vir Naomi Meyer van Helene se Die kind uit die wingerd.

Helene, geluk met Die kind uit die wingerd. Die boek begin met gedagtes oor daardie einste kind. Hoe betroubaar dink jy is die geheue, en hoe belangrik is dit vir 'n skrywer om juis die wisselvalligheid hiervan in 'n storie te kan aanwend?

Baie dankie, Naomi! Ek het die verhaal vanuit twee perspektiewe geskryf: dié van Carijn den Hagen en dié van Laurens Erasmus, die kind wat op driejarige ouderdom uit die wingerd aangestap gekom het. Geheue het die mag om die kern van 'n saak vas te vat en te behou, selfs al sou van die besonderhede verlore gaan. Die gedagtes oor die kind waarna jy verwys, is juis wat Carijn van daardie dag onthou – en dit is die verwesenheid van die seuntjie en die deernis wat hy by haar gewek het. In hierdie geval is haar geheue plek-plek yl, maar tog onthou sy die sterk konneksie wat hulle feitlik dadelik tussen hulle gevoel het. 'n Skrywer kan natuurlik met hierdie betreklike wisselvalligheid van die mens se geheue op allerlei maniere speel. Hier het ek verkies om dit so betroubaar moontlik te maak, wat in die omstandighede eintlik logies is, aangesien die gebeure iets is wat onmiddellik die emosies betrek het.

Jy doen graag navorsing en skryf oor historiese tydperke. Hoe het jy die navorsing vir hierdie boek gedoen en wat was jou ontdekkings?

Die skryf van 'n historiese roman verg uiteraard dat mens deeglik navorsing moet doen, en ek besoek graag self die plekke waaroor ek skryf om die atmosfeer te kan peil. Feite kan soms later verkry word. Maar feite op sigself is morsdood tensy die storie dit laat verlewendig. Inligting moet vanselfsprekend korrek wees, maar die storie is wat belangrik is. Dit is fiksie en fiksie moet verkieslik beide intellek én emosies betrek. Mens moet in gedagte hou dat fiksie soms gewigtiger waarhede as die blote feite van geskiedenis kan oordra. Ek het oral en op allerlei wyses navorsing gedoen, ja, maar hoofsaaklik met die oog op die uitwerking wat feite op mense het. Ek het jare gelede met ‘n dokter gesels wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Guy’s Hospital in Londen gewerk het. Dit het daardie oorlog vir my as’t ware oopgemaak. Ek het ook met die gewese dekaan van 'n regsfakulteit gesels wat in Leiden gestudeer het. En ek het talle en talle werke oor die oorlog en daardie tydperk gelees.

 Vir wie skryf jy en wie is jou ideale lesers?

Ek het geen idee nie. Ek skryf 'n verhaal om die verhaal se onthalwe. As iemand daarvan hou en by my lewensbeskouing – soos deur die karakters geopenbaar – aansluiting vind, is dit gaaf. Indien nie, is die boek nie vir hom of haar geskryf nie. Enige roman weerspieël onvermydelik die skrywer se werklikheidsbeeld en ek hou daarvan om aan my siening van die werklikheid getrou te bly sonder om dit die hooftema van die boek te maak. Dit is soos suurdeeg in brood. Hopelik proe die leser dit nie, maar is bewus daarvan dat 'n smaaklike brood baie aan suurdeeg te danke het.

Hoekom skryf jy?

Ek skryf al van my tweede jaar op universiteit af en het gaandeweg 'n dieper belangstelling en liefde daarvoor ontwikkel. Sodanig dat ek verder in die skryfkuns gestudeer het en in later jare 'n PhD gedoen het oor die skep van ruimtelike dinamika in 'n roman. Die uitbeelding van ruimte met al sy wisselwerkende fasette is vir my een van die mees fassinerende aspekte van die skryfproses. Die skep van ruimte in 'n verhaal kan vanselfsprekend nie los staan van karakter, tyd en handeling nie. Ek skat derhalwe ek skryf omdat ek die skep van karakters binne hul konkrete en abstrakte ruimtes so geniet.

Wat was vir jou spesifiek die inspirasie vir hierdie storie, en kan jy onthou op watter dag jy besef het: Dit is die tema en hierdie is die karakters? Of ontwikkel 'n boek vir jou meer organies as op hierdie manier?

Ek dink inspirasie is 'n populêre mite. Ek raak geïnspireerd eers as ek begin werk het en goed aan die gang is. Ek weet nie wanneer die idee van die kleintjie wat uit die wingerd gestap kom, by my gedaag het nie. Net dat ek dit op 'n dag herken het as 'n moontlike idee vir 'n roman waarvan die tema buitestanderskap kan wees. Die hele roman draai eintlik om die tema dat buitestanderskap, wat verskeie oorsake het, eintlik diep verdriet kan veroorsaak.

Skryf jy dadelik weer 'n volgende boek nadat die een klaar is?

 Nee wat, ek rus so 'n maand of wat en dan begin ek met die volgende roman.

 Dalk kan jy in 'n sin vertel waaroor hierdie verhaal handel.

Die kind uit die wingerd handel kortliks oor Laurens Erasmus wat op driejarige ouderdom uit 'n wingerd aangestap kom. Sy naam is aan sy baadjie vasgespeld. Verder weet hy nie wie hy is of waar hy vandaan kom nie. Mense gee hom 'n tuiste, maar hy bly sy lewe lank 'n buitestander. Later stuur die mense wat hom “aangeneem” het, hom terug Nederland toe om verder te studeer, en die Tweede Wêreldoorlog breek uit. Te midde van die verwoesting leer hy van sy herkoms en vind hy homself.

Die nuwe boek waaraan ek werk, is Elisabet se oorlog en gaan oor iets anders. Dis 'n historiese roman wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika, Londen en Frankryk afspeel. Die tema is moontlik 'n meer aktuele een, naamlik 'n vrou se soeke na eie identiteit. Sy loop kort voor haar troue weg en beland in situasies waarin sy gou moet wys van watter staal sy gemaak is. Sy vind haar bestaansruimte word erg deur die patriargale stelsel bedreig en sy maak 'n plan – met gevolge wat sy nooit sou kon voorsien het nie.

  • 1

Kommentaar

  • Dit was vir my n pragtige boek. So n boek wil ek dan graag met almal deel. My bedoeling is nooit om die skrywer te beroof nie. Die seuntjie loop nou oral rond op Huis Aristea se stoepe, almal lees heerlik en geniet dit ewe veel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top