Helene de Kock se Dieper water ideale ontspanningsmateriaal vir aanhangers van die liefdesroman

  • 0

Titel: Dieper water
Outeur: Helene de Kock
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798149075
Publikasiedatum: Oktober 2007
Aantal bladsye: 544

 

 

Klik op die omslag van die boek om jou eksemplaar by kalahari.net te bestel.

Met die lees van die flapteks is dit duidelik dat Dieper water 'n liefdesroman is. Dis 'n lywige boek (509 bladsye) waarin die wel en wee van die Rouxs en later die Fronemans onder die loep kom.

Op haar webblad skryf Helene de Kock:

Ek skryf omdat mense my interesseer. Veral verhoudingsverhale roer my hart. Alhoewel die liefde 'n belangrike onderwerp in my verhale is, staan dit nooit apart van ander verhoudings nie. Die liefde self is verweef in die web van die lewe, glo ek. Ander verhoudings word daardeur geraak - soos die verhouding tussen ouer en kind, die verhoudings tussen broers en susters en ons almal se verhouding met God en die groter wêreld om ons.

Dit is dan ook wat sy in Dieper water doen: dit is 'n liefdesverhaal, maar die verhoudings wat bydra tot die ontstaan, groei en verval van daardie liefde word ook ondersoek.

Die verhaal volg Rachel Roux (later Froneman) se lewe - op 'n akronologiese wyse - vanaf die ouderdom van twaalf totdat sy in haar sestigs is. Haar primêre verhouding is met Hektor Froneman, met wie sy sedert haar kinderdae 'n uitsonderlike band het. Hierdie liefdesverhouding word konstant vergelyk met twee ander verhoudings: dié van Rachel se ouma Rachie en oupa Nikolaas (wat sy ervaar deur middel van haar ouma se briewe) en dié van Rachel se ma en pa.

Waar die verhouding tussen Rachie en Nikolaas een is van verlange (Nikolaas het gaan veg in die Suid-Afrikaanse oorlog van 1899 tot 1902) en vele literêre verwysings (Hooglied en die werke van Guido Gezelle en Jacques Perk, om 'n paar bronne te noem), is die verhouding tussen Nico en Malie een van afsydigheid en later ontrouheid. Tussen hierdie uiterstes moet Rachel haar eie weg baan. En natuurlik sou dit nie 'n roman van 509 bladsye (insluitende bronnelys) gewees het indien Rachel nie op skouspelagtige wyse die spoor byster geraak het nie.

Saam met hierdie verhaallyn is daar ook dié van Nadia Froneman, proponent en Rachel se lank-verlore kleindogter. Die roman sit Nadia se lewe ná haar pa se dood (tydens sy wittebrood) uiteen en volg haar soeke na liefde op die familieplaas, Diepwater, waar sy vir die eerste keer in 25 jaar besoek aflê.

Die gegewe in die roman word akronologies aangebied en die spanningslyn word verder behou deurdat Rachel se verhaal telkens onderbreek word deur óf die briewe van ouma Rachie, óf die hoofstukke van Rachel se byna-reg-vir-publikasie, outobiografiese manuskrip. Dit is deur middel van die manuskrip dat die leser leer van alles wat Nadia se koms vooraf gegaan het. Die verskillende tipes tekste word ook visueel aan die leser duidelik gemaak deurdat die briewe kursief gedruk word en die manuskrip in 'n ander lettertipe gedruk is.

Pleks daarvan dat Rachel haar saak aan die jong dominee (Deon Keyser), haar kleindogter of haar man stel, stop sy hulle die manuskrip in die hand. Wel, soort van - Hektor is disleksies en dus moet Rachel die verhaal aan hom voorlees. Hierdie metatekstuele spel word verder gevoer deurdat Rachel die manuskrip die titel Diepwater gee (bl 42); sy wysig dit later tot Dieper water omdat die "waters ... telkens dieper" geraak het (bl 497). Rachel sê ook dat sy die verhaal gaan begin toe Nadia op Diepwater opgedaag het (bl 496). Die leser vermoed dus dat die oorspronklike manuskrip, Diepwater, omvorm is tot die roman Dieper water waarmee hy of sy in die hand sit.

Daar is ook 'n wavrag verwysings na ander skrywers - vandaar die bronnelys. Rachel, haar familie en haar vriende blyk besonder wel belese te wees. Dit is hier waar die outeur, na hierdie leser se mening, haar hand oorspeel. Die konstante verwysings en absoluut akkurate aanhalings pla. Dit onderstreep wel die idee dat geen storie uniek is nie, maar terselfdertyd onderbreek dit die ritme van die vertelling. Daar kan ook nie geargumenteer word dat dit een karakter se praatstyl is nie, want feitlik al die belangrikste karakters doen dit.

Dieper water is "geen groot letterkunde nie" (bl 46) - aldus Rachel. Dis nie "te elitisties nie, om nie die gewone leser wat die boek hopelik gaan koop, af te skrik nie. Nie te soetsappig nie, om die hogere mense te laat neus optrek nie" (bl 44).

Lesers wat 'n boek soek om mee te ontspan en wat van liefdesverhale hou, sal waarskynlik hierdie roman geniet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top