Ter wille van die vaders
Marzanne Leroux-Van der Boon
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320841
Ter wille van die vaders is Marzanne Leroux-Van der Boon se tiende roman in die Israel-reeks. Soos in vorige romans in die reeks, is dit die voortsetting van Marc en Rivkah Krige se lotgevalle in ’n Jerusalem wat deur skokkende geweld gekenmerk word.
Marc is ’n Afrikaanse “Boere-Jood” en Rivkah ’n gebore Israeliet. Leroux-Van der Boon slaag daarin om die leser byna onvoorwaardelik met hierdie Joodse gesin te laat identifiseer. Nie vanweë hul Joodsheid nie, maar as gevolg van die universele aard van hul probleme. Hulle is mense tussen mense – maar terselfdertyd Jode in Jerusalem en wel ’n Jerusalem wat in ’n krisistyd om vrede en voortbestaan stry.
Die leser raak nie net intellektueel betrokke nie, maar ook emosioneel. Laasgenoemde betrokkenheid is deels toe te skryf aan Marc en Rivkah se oulike kinders en juis die leed wat hierdie kleingoed moet deurmaak. Die leser kom sterk onder die indruk dat niemand in die felheid van die stryd in die Midde-Ooste ontsien word nie. Volwassenes en kinders is ewe bewus van die voortdurende gevaar van terrorisme.
Die konkrete ruimtes waarin hierdie verhaal hom afspeel, is hoofsaaklik Jerusalem, plekke soos Auschwitz-Birkenau, en ook Stellenbosch. Die skrywer is absoluut vertroud met hierdie plekke en haar uitbeelding van veral Jerusalem is onbetwisbaar uitstekend. Die leser ervaar die gedrang van aanbidders by die Kotel, en kry die gevoel van lofprysing en dringende smeking wat daarmee saamhang. Raak saam ontstemd oor die aanslag van onophoudelike geweld – bomme, geweervuur en messteke – wat die karakters in hul onmiddellike omgewing moet verduur. Die leser sidder saam met die karakters Henok en Sara oor die afgryslike verlede van Auschwitz-Birkenau. Talle Hebreeuse woorde en terme kom spontaan in die dialoog voor. Die gebruik van hierdie terme verhoog die outentisiteit van die ruimtelike uitbeelding.
As abstrakte fasette van die ruimte is daar eerstens die Joodse kultuur, en dan die Joodse identiteit. Die skrywer is intiem vertroud hiermee. Die feitlik antieke leefwyse word deurspek met moderne Israel se skynbaar onafwendbare bestaanstryd. Dié twee komponente vul mekaar in die roman goed aan. Beide die ortodokse kultuur en die Messiaans-Joodse kultuur word uitgebeeld op ’n wyse wat die leser ten nouste betrek en begrip laat kry vir die lewenstyl in hierdie antieke stad wat immer onder beleg is. Ook die politieke sfeer word sonder skroom betree en die Joodse kant van die stryd in die Midde-Ooste word deeglik belig. Daar word kort-kort melding gemaak van die wêreldmedia se eensydige beriggewing in verband met die terreur in Israel. Dis aangrypend en ontstellend om te lees van hierdie Jerusalem wat so ly onder “wilde geweld” (233).
Bogenoemde abstrakte fasette van die romanruimte word helder deur dialoog en ook beelding aan die leser oorgedra. Die skrywer maak nie die fout om in beskrywings vas te val nie. Deurgaans word die karakters en hul handeling die kanale waardeur die roman se ruimte met sy besondere dinamika deeglik uitgebeeld word.
Die baie inligting wat in die roman vervat word, word meestal in die teks goed geïntegreer, alhoewel dit soms opsigtelik raak. Tog, in so ’n roman, waar inligting die storiestruktuur ten nouste raak, is dit kwalik moontlik om inligting minder dig aan te bied en dit bly deurgaans interessant. Een voorbeeld van te veel inligting op een slag is die gesprek tussen Henok en sy vrou, Sara, met Yitzchak Szesztay oor die aakligheid van die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dit neem twee hoofstukke in beslag. Dié lang gesprek neig om los te staan van die res van die storiestruktuur. Die inhoud daarvan kon moontlik ook in ander gesprekke opgeduik het om sodoende al dié gegewens minder gekondenseerd aan te bied.
Die roman maak verder sterk stellings in verband met Christus sonder om die teologie as simplisties voor te hou. Dit is per slot van rekening vanuit ’n Christelike perspektief geskryf. Heel aan die einde sê Sara: “Ek het Yeshua nooit as die middelpunt van dit alles beskou nie. Nou verstaan ek die ooreenkoms tussen Hom en Israel” (256). Leroux-Van der Boon skroom nie om haar oortuigings uit te spel nie en sy doen dit kundig. Die bronne van die deeglike navorsing wat sy gedoen het, word agter in die boek hoofstuk vir hoofstuk vermeld.
Enige leser wat oor die volwassenheid beskik om ander religieuse standpunte te akkommodeer en te probeer begryp, sal hierdie goedgeskrewe roman geniet.
Kommentaar
Is dit moontlik dat julle die hele reeks in omnibusse kan sit? Ek het die eerste twee gelees en weer gelees.