In memoriam: Marzanne Leroux-Van der Boon (1940–2022)

  • 2

Foto van Marzanne Leroux-Van der Boon deur NB-Uitgewers verskaf (en by hierdie artikel geplaas)

Marzanne Leroux-Van der Boon was ’n nederige mens. En ’n nederige skrywer. Sy het uit die moed van haar oortuiging, wat soms lynreg teenoor die huidige tydgees ingedruis het, geskryf.

Leroux-Van der Boon het onverskrokke, moeilike temas soos onder andere vigs, homoseksualiteit en liefde oor die kleurgrens aangepak en dit met groot sukses in haar verhale ingeweef. In Aandmis oor Paternoster raak sy byvoorbeeld die liefde tussen ’n wit joernalis en ’n bruin teoloog aan. Daardeur het sy die lesende publiek bewus gemaak van hierdie en ander gekompliseerde, sosiopolitiese kwessies. Tog slaag sy fyn daarin om die storie voorop te stel en die storie self dra telkens die tema oor. Dit is bepaald die geheim van ’n tema suksesvol oordra – dat die fiktiewe verhaal dit self openbaar moet maak. Daarin het Marzanne Leroux-Van der Boon in haar romans goed geslaag.

.........
Dit is bepaald die geheim van ’n tema suksesvol oordra – dat die fiktiewe verhaal dit self openbaar moet maak. Daarin het Marzanne Leroux-Van der Boon in haar romans goed geslaag.
.............

Die onvermydelike temas van rassisme, kindermishandeling, verkragting, Calvinisme en die problematiek wat die wroeging daaroor meebring, is ook in boeke soos onder andere Klaprose teen die wind en Soos honde van die hemel deeglik ontgin. Tog word hierdie uiters-gewigtige temas geensins klinies weergegee nie. Die skrywer se karakters verlewendig dermate en die ruimte waarbinne die verhale afspeel, word so kragtig uitgebeeld dat die leser onvermydelik betrokke raak. Juis hierdie helder skryfstyl van die skrywer versterk die erns en problematiek van die temas wat sy deur haar verhale uitbeeld.

Dié skrywer het verder die intense dinamiek tussen die konkreetheid en die abstraksies van die ruimtes wat sy uitbeeld, goed begryp. Konkrete plekke in haar verhale en die abstrakte aspekte soos onder andere kultuur, identiteit, politiek en godsdiens wat daarmee gepaard gaan, het deeglik versmelt. Lesers is selde onaangeraak juis deur hierdie vermoë wat Marzanne Leroux-Van der Boon openbaar het.   

Die aspek van Leroux-Van der Boon se werk wat ongetwyfeld die duidelikste onthou sal word, is haar oortuigde Christenskap. Sy het ’n reeks boeke oor Jerusalem geskryf waardeur talle lesers diep geraak is. Jerusalem en Israel het vir hierdie skrywer se vele lesers oopgegaan deur dié reeks romans. Sy het haar verdiep in die Joodse geskiedenis en word as’t ware ’n kenner van wat dit verg om ’n Jood in die veelbewoë stad, Jerusalem, te wees. Israel se voortdurende stryd om bestaansreg en die eksistensiële angs wat immer daar heers, kom sterk na vore in haar latere romans. Marzanne het Israel dikwels besoek en was deel van toergroepe daarheen. Op so ’n besoek sou sy dan van die Joodse gebruike aan mense verduidelik en demonstreer. So het sy ook haar besondere liefde vir dié land en die stad Jerusalem met mense gedeel. Die uitvloeisel van hierdie ondersoekende besoeke was die genoemde reeks romans wat hoofsaaklik in Jerusalem en in Israel afspeel. Met die eerste van hierdie romans Granate bloei in Jerusalem verower sy verskeie pryse, onder andere dié van die ATKV en die Christelike Boekhandelaars van Suidelike Afrika. In Granate bloei in Jerusalem raak sy die aktuele temas van geweld en terreur aan. Weereens betrek sy die leser in hierdie roman sodat mens kwalik aan die aakligheid en dodelike gevare wat in die verhaal ontvou, kan ontkom, selfs al is jy net ’n lesende “toeskouer”.

Op hierdie werk volg die reeks romans oor Israel wat vir haar ’n nog groter leeskring opbou. Israel is aan ’n wye leserskring, ook aan Engelse en Nederlanders, bekendgestel deur hierdie unieke verhale. Die Joodse kultuur en politiek asook die karakters se geweldig-ingewikkelde stryd om Jesus Christus as Messias in daardie land te aanvaar en te erken, kom duidelik na vore.

Marzanne Leroux-Van der Boon het verder geensins gehuiwer om buitengewoon-gewigtige temas ook in haar jeugboeke te hanteer nie. Temas soos liefde en dood en mense se verhouding met mekaar en met God kom ter sprake. In haar jeugboek Die wag vir die somer kry ’n jong man leukemie en word gekonfronteer met sy eie sterflikheid. In Luc en Libertine raak Marzanne weereens die kwessie van liefde oor die kleurgrens aan. Die verhaal is egter ook ’n heenwysing na die gruwels van armoede, die struggle en apartheid. Nooit laat hierdie skrywer die leser leeg agter nie. Iewers vul sy ’n oop gemoed ten minste met sinvolle vrae en dikwels goeie antwoorde. Dieselfde kan ook van haar kort prosa gesê word.

As mens was Marzanne Leroux-Van der Boon aangenaam en meelewend. Sy het nie teruggedeins daarvoor om ’n resensent vir ’n stewige dog gebalanseerde resensie te bedank nie. Sy was wel sensitief, nie vir regverdige kritiek nie, maar vir die byt van diegene wat neerhalend teenoor haar werk was. Sy het ten spyte hiervan haar skryfwerk onverpoosd voortgesit. Marzanne was ’n skrywer, vertaler, berader, onderwyser en het op verskeie rade gedien. So het sy sinvolle bydraes gemaak tot die samelewing en nogtans ’n redelik-lae profiel gehandhaaf omdat sy sag van aard en wys was. Marzanne Leroux-Van der Boon sal op vele terreine gemis word.

 

  • 2

Kommentaar

  • Magdalena van Zyl

    Ek was baie beïndruk met die lees van "Go-el Yisra'el". Sy het 'n baie goeie Bybelkennis. Die toe passing is skitterend. Sal baie graag haar ander boeke oor Israel lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top