Persverklaring: ATKV-Woordveertjies 2022 – liefdesromans en romanses

  • 0

Prent: https://atkv.org.za/nuus/categories/toekennings/woordveertjies/

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat die ATKV skrywers, digters en dramaturge se uitsonderlike pennevrug, toewyding en kreatiwiteit vier. Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord.

“Liefdesromans is een van die gewildste genres onder lesers wêreldwyd, en in Afrikaans is dit beslis ook die geval. Daarom is dit vir die ATKV so ’n groot eer om ook aan skrywers van dié boeke erkenning te gee. Om vir ’n oomblik van realiteit te kan ontsnap is goud werd en vanjaar se boeke kry dit reg met interessante storielyne,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van ATKV-MSW.

Die kategorie vir Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Malene Breytenbach, Shireen Crotz en Ilse Salzwedel met die wenner: Elisabet se oorlog – Helene de Kock (Human & Rousseau).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor dié wenboek:

Elisabet se oorlog is ’n boek wat jou bybly lank nadat jy dit neergesit het, en beslis ’n hoogtepunt in die deurwinterde Helene de Kock se oeuvre. Tussen die blaaie van hierdie boek word fiksionele karakters regte mense, en die leser word noodwendig ’n intieme deel van die wreedheid en ontnugtering wat die oorlog vir hulle meebring.
De Kock slaag daarin om dit so goed te beskryf dat jy voel of jy self daar was om die sirenes te hoor loei, die bomme te hoor val en die chaos in die stad te sien. Elisabet se binne-oorlog en pad na geluk is ewe meesleurend. ’n Boek wat meevoer deur die karakters se wel en wee.

Romanses, of korter liefdesverhale, is waarskynlik die topverkoper-genre in Afrikaans, en die beoordelaars moes behoorlik kopkrap om ’n wenner te kies uit al vanjaar se inskrywings.

Die beoordelaars was Carol-Ann Alexander, Amanda Claasens en Kobie van Aswegen met die wenner: Die Kersfeeslysie – Dina Botha (Romanza).

Die beoordelaars het die volgende oor Die Kersfeeslysie te sê gehad:  

’n Heerlike leeservaring, en baie goed geskryf met ’n emosioneelgedrewe spanningslyn. Dis ’n verhaal waarmee die leser kan identifiseer en gee hoop as dit kom by die liefde. Die agtergrondinligting is nie oorheersend nie, en die klem val op die ontwikkeling van die twee hoofkarakters se verhouding.

Lees ook:

ATKV-Kinderboektoekennings 2022-persverklaring: Jong lesers kies hul gunstelinge

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top