Elisabet se oorlog: ’n Onderhoud met Helene de Kock

  • 0

Titel: Elisabet se oorlog
Skrywer: Helene de Kock
ISBN: 9780798181914
Uitgewer: Human & Rousseau

Helene de Kock praat met Yolanda Wessels oor Helene se jongste boek, Elisabet se oorlog, en oor haar skryfloopbaan van meer as vier dekades.

Hallo Helene! Geluk met jou jongste boek, Elisabet se oorlog. Jy noem iewers dat die rede waarom jy skryf, is dat mense jou interesseer, veral verhoudingsverhale. Is al jou werke fiksie of is van jou karakters geskoei op iemand of uit persoonlike ervarings?

......

Ek hou van die onvermydelike interaksie tussen mens en mens. Dis interessant en leersaam as mens daarop ingestel is.

........

Ek hou van die onvermydelike interaksie tussen mens en mens. Dis interessant en leersaam as mens daarop ingestel is. Maar al my verhale is fiksie. Natuurlik skryf skrywers uit herinnering en ervaring. Dit wil sê mense en die wêreld binne jou en om jou beïnvloed inderdaad jou skryfwerk. Maar ek het nog nooit ’n karakter op ’n werklike persoon gegrond nie.

Kom ons gesels oor Elisabet se oorlog: Is dit geskoei op een of meer ware persone se ervarings tydens die Tweede Wêreldoorlog?

Ja, ware persone wat die Tweede Wêreldoorlog meegemaak het, het jare gelede met my oor hul ervarings in Londen tydens die oorlog gesels. Ek het (amper twee dekades gelede)  intensief onderhoude gevoer met mense, onder andere ’n dokter, wat tydens die oorlog in Londen woonagtig was. Dié dokter het in Guy’s Hospital in Londen gewerk. Sy vrou was saam met hom daar en het ook daaroor gesels. Hul ervarings is wel aangepas om by die storie te pas al is dit feitelik korrek.

Hoe lank het die navorsing jou geneem en hoe maklik is dit vandag om deeglike navorsing uit historiese bronne te bekom teenoor ’n dekade of twee gelede?

Omdat ek reeds met vorige boeke soos Ballade vir ’n bruid, Debora en Seuns en ook Dieper water baie navorsing gedoen het, was dit nou inderdaad effe makliker, omdat ek reeds kennis dra van gebeure rondom daardie tyd. Dis wel makliker as vroeër toe weinig inligting digitaal beskikbaar was. Mens moet natuurlik sorg dat jou bronne geverifieer kan word. Ek dink egter dis lekkerder om met iemand te praat wat daardie dinge beleef het. Soos genoem, het ek dit dekades gelede gedoen en dit bly my nou nog by. Nou is dit kwalik moontlik, want die meeste van die mense wat as jongelinge die oorlog beleef het, het afgesterf. Ek het met Elisabet se oorlog ook baie nagelees  in boeke wat oor die onderwerp geskryf is en ek het van webwerwe soos dié van die BBC gebruik gemaak. Navorsing word nie slegs voordat die skryfproses begin, gedoen nie. Dit gebeur veral tydens die skryfproses wanneer die skrywer as’t ware uitgepluis het wat hy/sy wil weet in verband met spesifieke gebeure. Derhalwe is dit moeilik om ’n hoeveelheid tyd daaraan te koppel. Ek het dus dwarsdeur die skryfproses nagevors soos wat die storie dikteer het.

........

Ek het met Elisabet se oorlog ook baie nagelees  in boeke wat oor die onderwerp geskryf is en ek het van webwerwe soos dié van die BBC gebruik gemaak. Navorsing word nie slegs voordat die skryfproses begin, gedoen nie. Dit gebeur veral tydens die skryfproses wanneer die skrywer as’t ware uitgepluis het wat hy/sy wil weet in verband met spesifieke gebeure. Derhalwe is dit moeilik om ’n hoeveelheid tyd daaraan te koppel. Ek het dus dwarsdeur die skryfproses nagevors soos wat die storie dikteer het.

.........

Het jy die idee gehad of eers die navorsing gedoen en daarrondom jou raamwerk beplan?

Ek het eers die idee gehad van ’n bruid wat wegloop omdat niemand duidelik hoor wat sy sê nie. Sy is op soek na haar identiteit wat sy voel misken word. Die rigiede tydgees of werklikheidsbeeld van daardie era rondom die Tweede Wêreldoorlog het haar gekortwiek. Alhoewel, terugskouend besef ek ek het waarskynlik die idee reg van die begin af in daardie tydperk geplaas. 

Jy skryf baie oor die liefde, en dit is sekerlik grotendeels die spilpunt waarom alles draai. Wat is jou rede dat jy daaroor skryf en mense so diep raak met situasies, emosies en gebeure waarmee baie mense beslis kan identifiseer? Waaroor handel Elisabet se oorlog régtig? Wat is haar oorlog?

Ek is dankbaar as ek mense enigsins raak met my skrywe oor liefde. Ek dink dis ’n tema wat soms te vlak ontgin word. Ek het grootgeword met die konsep dat liefde in ’n mens se lewe van beduidende belang is. Nie net romantiese liefde nie, maar liefde tussen mens en mens, ma en dogter byvoorbeeld, asook ander familieverhoudings. Die liefde (of die gebrek daaraan) figureer in die meeste beduidende menseverhoudings.

Jy het ’n ware gawe om die leser te laat deel voel van die storie. ’n Mens voel empatie, hul blydskap, seer of angs soos in dié geval waar hul in die bomskuilings moet wegkruip en geliefdes verloor. Maar dat daar tog ook mooi uit die lelik kom. Wat het jou laat besluit om hierdie roerende boek met sy navorsing aan te pak en met lesers te deel?

Baie dankie vir die gawe woorde. Dis wel ’n moeilike vraag om tot die kern van die stimulus vir dié verhaal deur te dring. Ek weet nie regtig nie. Ek vermoed ek het Elisabet van die begin af, met ander woorde in die beplanningsfase van die skryfproses,  in daardie era geplaas en daaruit het die karakters en hul storie voortgevloei. Dit was, soos met alle skryfwerk, nie maklik nie. Dit het maar woord vir woord gebeur. ’n Klein bietjie lig wat elke dag val. Ook net as jy toegewyd daaraan werk.

Soos reeds aangeroer, is liefde ’n deurlopende lyn in jou skrywes. Is daar ’n rede waarom dit jou gekose aanslag is?

Ek het in ’n baie gelukkige pastorie grootgeword. Gesien hoe liefde lyk. Die skoonheid en egtheid wat dit met dit saamdra. Maar ek het ook uiteraard ander gesinne gesien en van kennis geneem waar die liefde afwesig was. Ek dink dit het my laat besef hoe ontsaglik belangrik liefde in ’n mens se lewe is. Verder is ek al byna 54 jaar met my man, Jos getroud. Dis liefde wat ons bymekaar hou. Die eerste én die tweede gebod se soort liefde.

Jy het al ongeveer 50 boeke geskryf. Waar kry jy jou idees en inspirasie vandaan om elke keer ’n nuwe verhaal vol interessante karakters aan te pak sodat elke storielyn en karakter uniek is?

Mens dink dit uit en herken idees in die gang van die lewe. Karakters meld hulself eintlik aan. Soms ontydig. Ander kere weer is hulle baie welkom. Dit hang af hoe goed hulle in die storie inpas en of hulle werklik ’n funksie het. Dit bly ’n moeilike taak om unieke karakters te skep wat ook universeel begryp word.

Albei jou kinders skryf ook. Het jy ’n liefde vir lees, boeke en skryf by hulle tuisgebring as kinders of is dit bloot toeval?

Ja, dis interessant. Herman, wat beide ’n teoloog en ’n bankier is en in drie vakdissiplines gekwalifiseerd is, skryf meer niefiksie en oor teologiese sake. Sylvia skryf in verskeie genres. Dagboeke, kinderverhale, en sy wil ook  tussen haar werk deur liefdesverhale aanpak. Sy vind fiksie skryf ook uitdagend, nes ek. Jaco, wat oorlede is, het ook graag geskryf. Ek dink dis moontlik omdat hulle grootgeword het met ’n ma wat skryf en baie boeke in die huis het. Ook Jos is lief vir lees.

Jy skryf al langer as drie dekades, so dit is duidelik in jou bloed. Wat laat jou elke keer weer inskuif voor die rekenaar en wat is die gemiddelde tussenposes tussen jou skrywes?

Ek skryf al in werklikheid meer as vier dekades. Eintlik al vanaf my tweede jaar op universiteit. Ek vermoed skrywers moet skryf. Ek is lief vir woorde en vir stories, en om dit te skep is ’n onbeskryflike voorreg. Die gemiddelde tussenpose tussen projekte is sowat twee weke. Dan raak ek rusteloos en wil graag weer skryf.

Wat is die gemiddelde tyd wat jy opsy sit om na te vors en te skryf?

........

Ek kry alle moontlike aanmoediging van my man, maar nogtans bly dit ’n feit dat enige skrywer tyd moet máák vir skryf. So selfs die gemiddelde tyd is moeilik vas te pen.

........

Dis haas onmoontlik om te bepaal. Ek is ’n besige huisvrou en moet tyd maak vir skryf. Ek kry alle moontlike aanmoediging van my man, maar nogtans bly dit ’n feit dat enige skrywer tyd moet máák vir skryf. So selfs die gemiddelde tyd is moeilik vas te pen. Ek skryf wel elke dag sowat vier tot vyf ure – behalwe Sondae. Dan rus ek noodgedwonge.

Jou eerste boek, Die soete dwaling, het in 1978 die lig gesien. Wat het aanleiding gegee tot die skryf van jou heel eerste boek? Was jou ideaal en drome as kind om eendag ’n skrywer te word?

Die boek was een van die eerste vervolgverhale in boekvorm. Ek het toe vir Die Huisgenoot geskryf. Later het Koos Human van Human & Rousseau my vervolgverhale in die tydskrifte raakgelees en my gebel om te vra of hy dit in boekvorm kan uitgee. Ek is groot dank aan hom verskuldig. So het al my vervolgverhale in boekvorm verskyn. Later het ek ook by Tafelberg, LAPA en CUM uitgegee. En nee, ek het nooit gedink ek sal skryf nie. My ma, Sylvia, het geskryf. Engelse leesboeke vir die destydse standerds ses, sewe en agt en wel met ’n Suid-Afrikaanse agtergrond. Ek was op universiteit en het sakgeld nodig gehad. Dis toe dat ek begin skryf het.

Behalwe romans skryf jy ook kinderboeke – wat is die tema wat jy daar by jong lesers wil tuisbring om ’n liefde en aansporing vir lees te kweek?

Ek skryf eintlik nié kinderboeke nie. My dogter, Sylvia skryf soms kinderboeke. Ek het wel lank gelede bloot drie Bybelverhale, naamlik Job, die ashoopman, Die eerste Nagmaal en Openbaring, die boek wat ons bly maak geskryf om juis hierdie verhale toeganklik vir kinders te probeer maak. Daar is predikante wat dit vir kategese gebruik het.

Jy het bundels met kortverhale/novelles vrygestel, is die medeskrywer/samesteller van geestelike bundels, skryf tydskrifverhale en is deesdae ook op elektroniese media beskikbaar waar die boeke voorgelees word deur Susanne Beyers. Wat laat jou besluit hierdie is ’n kortverhaal of hierdie is ’n volledige roman?

Toe tydskrifte nog kortverhale en novelles aanvaar het, het ek dit geskryf. Soms is ek deur byvoorbeeld Jeanette Ferreira-Van Jaarsveld of TT Cloete gevra om ’n kortverhaal vir ’n bundel te skryf. ’n Kortverhaal is per definisie, dink ek, ’n gekondenseerde weergawe van iets wat beleef word. Dit kan ook onder andere ’n karakter se belewenis van iets wees wat evokatief is. ’n Herinnering wat ander assosiasies oproep. Ek is nie ’n kenner van die kortverhaal nie, maar bostaande bevat enkele waarhede aangaande dié genre.

’n Roman is uiteraard ’n veel langer werk wat veel meer uitgesponne geskryf kan word. Dit behandel gewoonlik redelik swaarwigtige temas soos aftrede, egskeiding, die verhoudingsdinamika tussen mens en mens, soeke na identiteit, ens. Soms besluit ek op ’n dergelike tema – wat natuurlik nog nie ’n storie is nie. ’n Roman verg volgehoue toewyding aan die skryfelemente waarmee jy besig is. Met ander woorde die skrywer behoort sy/haar karakters, ruimte (beide konkreet en abstrak), tyd en handeling haarfyn te beplan en uit te beeld. Dit geld terloops ook vir die kortverhaal.

Om byvoorbeeld ruimte en die dinamiese werking daarvan op karakters goed uit te beeld  behoort ’n skrywer oor ’n sterk sin van plek te beskik. Dit geld ewe veel vir die kortverhaal en die roman. Hieroor kan mens vanselfsprekend lank gesels – of selfs ’n proefskrif daaroor skryf.

Covid het die meeste skrywers en joernaliste hard geslaan. Wat is jou ervaring –  hoe het dit jou skryfproses en jou lewe verander en beïnvloed?

Covid het inderdaad almal se lewenstyl aangetas. Ek het egter gevind dat die isolasie my as skrywer goed doen. Ek kon meer gefokus werk. Daaroor is ek diep dankbaar.

Jy resenseer ook self. Het jy ’n ander benadering omdat jy self ’n skrywer is wat geresenseer word?

Ek vermoed so, ja. Ek dink ook omdat ek ’n PhD-proefskrif oor die skep van ruimtelike dinamika in die skryfkuns gedoen het, sien ek ’n roman meer vanuit ’n skrywer se oogpunt. Ek is nietemin oortuig dat enige resensent eie, persoonlike smaak behoort opsy te skuif wanneer daar geresenseer word. Daar is vaste norme, soos die uitbeelding van karakter, ruimte, handeling en tyd wat beoordeel moet word. Is die skrywer in beheer van sy/haar stof? Hoe val die skryfstyl op? Mens boet ook nie in aan diepte as jy toeganklik skryf nie. Die resensiekunde is inderdaad ’n veel besproke onderwerp.

Deur jou loopbaan het jy verskeie benoemings, toekennings en pryse gewen. Motiveer dit jou meer om aan te hou skryf of is dit bloot ’n beloning om op dié wyse erkenning te ontvang?

Ek is uiters dankbaar vir enige erkenning van my werk. En dit maak my opreg bly. Ek is egter nie gesteld daarop nie en werk eerder volkome opgeneem in die storie self sodat my lesers hopelik ook sal kan identifiseer met die karakters en die ruimte(s) waarin hulle hul bevind.

Kombineer jy soms fiksie met feite?

Uiteraard kombineer mens soms feite met fiksie, veral in die geskiedkundige roman. Maar die feite is altyd ondergeskik aan die storie. Dit beteken wel dat die feite sover moontlik korrek moet wees en so fyn verweef word in die storie dat dit nie as ’n aparte entiteit deur die leser ervaar word nie.

Waaruit put jy self inspirasie?

.......

Inspirasie per se is ’n populêre mite. Ek kry inspirasie slegs as ek hard aan ’n manuskrip werk en my beste lewer. Dan begin ek geïnspireerd raak. Dit help natuurlik baie as daar reeds iets op die skerm staan. Dit wil sê een woord lei na ’n ander.

.........

Inspirasie per se is ’n populêre mite. Ek kry inspirasie slegs as ek hard aan ’n manuskrip werk en my beste lewer. Dan begin ek geïnspireerd raak. Dit help natuurlik baie as daar reeds iets op die skerm staan. Dit wil sê een woord lei na ’n ander. Omdat ek gewoonlik reg van die begin telkens redigeer aan wat ook al op die rekenaarskerm is, vorm dit ook ’n soort stukrag wat mens aanhelp om verder te skryf.

Waar doen jy baie van jou navorsing en het jy ’n spesifieke plek waar jy verkies om te skryf?

Ek werk meesal in ons slaapkamer in ’n hoekie, maar dit maak hoegenaamd nie vir my saak waar ek werk nie. Ek het jare gelede in ons motor met my tikmasjien op my skoot gesit en werk. Ek het gewag vir my man toe hy by die universiteit besig was. Solank ek my skootrekenaar by my het, is ek tevrede.

Gaan daar melankolie gepaard met die voltooiing van ’n projek?

Nie werklik nie. Ek is bloot dankbaar as so ’n projek voltooi is. Ek skryf nou meesal romans van ongeveer 100 000 woorde en dus is ek werklik bly as ek op die ou einde redelik tevrede met al die woorde voel.

Watter advies het jy vir voornemende skrywers?

Hou aan met skryf en redigeer sonder ophou. Wees bewus daarvan dat daar so iets soos makroredigering en mikroredigering is. Jy moet holisties na jou werk kan kyk en ook as’t ware kan in zoem om na die fyner besonderhede te kyk. Daarby kan ’n skrywer nie bekostig om kleinserig te wees in hierdie bedryf nie. Skryf soos wat jy skryf want jy is uniek. Doen net jou bes en wees baie nugter oor die hele proses.

Lees ook:

Eerste slukkie: Elisabet se oorlog deur Helene de Kock

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top