LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Oor die boek
Titel: Elisabet se oorlog
Skrywer: Helene de Kock
ISBN: 9780798181914
Uitgewer: Human & Rousseau
Dis 1938 en Elisabet Uys se onrus oor haar voorgenome huwelik met Johannes Barnard groei saam met die gerugte dat daar dalk ’n tweede Groot Oorlog mag uitbreek. Gepantser met Ouma Liesbet se raad besluit sy kort voor haar troue om die verlowing te verbreek en vrou-alleen na Europa te reis. Sal Elisabet in die oorloggeteisterde Londen vryheid en onvoorwaardelike liefde vind?
Helene de Kock op haar beste.
Oor die skrywer
Helene de Kock het aan die Rand grootgeword, aan die Universiteite van Pretoria en Noordwes gestudeer, en aan verskeie konservatoria onderrig in sang ontvang. Helene het ’n PhD in skryfkuns en is 'n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy skryf voltyds en woon in Pretoria. Daar het reeds talle romans uit haar pen verskyn.
Uittreksel
Desember loop uit in 1939 se smoorwarm Januarie. Een middag waai die suidoos so erg dat die hortjies ratel en die perskeboom in die agtererf sugtend buig en van sy swaar dragte laat val. Dis toe dat Johannes opdaag en Elisabet die een is wat die voordeur oopmaak. Brakkie begin dadelik al om Johannes se hakke blaf sodat Elisabet hom streng kombuis toe stuur. Die dier sluip omkyk-omkyk weg.
Hulle staar geskok na mekaar. Haar kop staan stil. Sy moes dit voorsien het, maar sy het nie. Sy kyk na sy bleek gesig, die saamgeperste mond en ontstemde blou oë, en maak ’n kopbeweging om hom in te nooi. Haar stem voel te krapperig om te praat. As sy nou net nie huil nie, want hy sal dit bepaald verkeerd vertolk. Hy sal miskien dink dat daar ’n ommekeer in haar plaasgevind het. ’n Ommekeer, ja, maar geen terugkeer nie. Sy weet dit met ongekende klaarheid.
Toe hy teenoor haar in die skemer sitkamer gaan sit, sypel ’n nuwe selfvertroue haar binne. As hy dink hy gaan haar met daardie sprekende verwyt in sy kykers oorrompel, maak hy ’n fout. Sy wat Elisabet is, is haar eie mens. Sy het sover gekom om dit finaal te besef en gaan vir seker nie nou omdraai en weer haar ou self ’n kans gee om oor te neem nie. Die wete laat haar verkrimpte innerlike swel en gloei, so openbarend is dit. Haar mond versag van verligting. En Johannes vertolk dit inderdaad verkeerd. Sy mond versag ook.
“Ek het geweet jy gaan jammer wees, Elisabet. Gaan pak asseblief jou goed dat ons kan ry. Die plaaswerk staan stil. Alles staan stil omdat jy so ’n ding gaan staan en doen het.”
“Watse ding, Johannes?”
Die geregverdigde woede van daardie dag in die warm sitkamer vonk weer in sy oë, maar hy byt opsigtelik op sy tande. Toe hy praat, is dit beheersd. “Vra jy nog? Jy het ons almal se lewens omvergewerp! Jy, wat nie wil trou nie!”
Sy vou haar hande rustig op haar skoot. “Johannes, ek het jou ’n guns gedoen. Ek weet jy gaan nie daarvan hou dat ek dit sê nie – geen man sal daarvan hou nie. Maar ek het jou nie lief nie.”
Hy snak na sy asem. Dit moes seergemaak het. Hy staan stadig op om oor haar te troon. “Hoe kan dit wees? Het dit jou regtig al die jare gevat om dit te besef? Watse simpel idees het jy, vroumens?”
Sy staan ook op en lig haar ken. “Ek wil nie as ‘vroumens’ aangespreek word nie, Johannes, al is jy so ontsteld soos nou. En ek weet ek het lank gevat om dit agter te kom, en om redes wat jy beslis nie sal begryp nie, maar daar is so iets soos ’n groef, hoor. Dis nie altyd sleg nie. Maar dit kan, soos in ons geval, die verkeerde ding wees as dit al hoe meer uitgekalwe raak sodat die los grond op ons val tot ons versmoor.”
Sy gesig word bloesend, sy mond gaan oop, maar sy spring hom voor. “En moenie vir my sê dis omdat ek kom studeer het nie. Jy is verkeerd. As ek nie kom leer het nie, was ons dalk al getroud en het ek jou vir seker al geskei. Dink net hoe erg dit dán sou gewees het.”
Hy gaap haar aan. Heel stom, sodat sy swaar sug. “Johannes, ek hou van jou. Verskriklik baie. Ons is goeie vriende. Maar dis al.”
Hy blaas sy asem hard uit. Knip sy oë swaar. “Maar Elisabet, besef jy dat alles nou deurmekaar is?” Hy klink nou meer mismoedig as kwaad.
“Ja, ek weet. Laat ek dit uitspel: Doringvlei lê tussen Spitskop en Smitskop en dit gaan nou nie meer joune word wanneer my pa wegval nie. Dis nou as hy my nie onterf nie.”
Sy gelaat word vlammend rooi. “Dis gemeen.”
“Maar die waarheid. En ek neem jou nie kwalik nie, Johannes. Jy het jou hart daarop gesit. Dis menslik.”
Opeens is die veglus uit hom uit. Sy kop sak en hy kyk weg deur die venster, straat se kant toe. “Wat staan ons dan te doen?” Hy praat so sag dat sy net-net uitmaak wat hy sê. ’n Warm deernis trek deur haar, maar haar besluit staan vas en dit gee haar moed.
“Ek het dit klaar gedoen, Johannes: ons verlowing verbreek. Ek sou oneerlik wees as ek dit nie gedoen het nie. Jy wil nie ’n vrou hê wat jou nie bemin nie.”
Sy ken ruk op en sy oë blits weer. “Bemin? Watse soetlike woorde gebruik jy?”
“Woorde wat werklikhede beskryf waarmee jy nog nie kennis gemaak het nie.” ’n Bewing trek deur haar toe sy die woorde uiter.
“En jy dan?” Iets daag in sy blik. Sy kop kantel skeef, maar hy klink heel bedaard toe hy vra: “Is daar dan iemand anders, Elisabet?”
Sy haal diep asem, kyk hom vierkant aan. “Ek weet nie. En dis die volle waarheid. Laat my gaan, Johannes. Ek is nie die een vir jou nie.” Die fut is oplaas heeltemal uit hom. Hy gaan sit, sy elmboë op sy knieë. Toe lig hy sy blonde kop en kyk net na haar, sy blik versluier. Maar die onweerlegbare waardigheid in sy houding ontstem haar tog wel.
“Ek bring vir jou koffie,” sê Elisabet en maak haar los uit sy oë. In die kombuis kom sy tant Genista teë. “Ek kon nie verhelp om te hoor nie. Ek sal reël dat hy by Fienie oorslaap voordat hy die lang- pad terug met die motor moet vat. Arme man.”
*
Die suidoos slaag daarin om al die spinnerakke uit Elisabet se kop te waai. Dae nadat Johannes haar die volgende oggend nog bietjie stug plegtig met die hand gegroet het, voel sy lig en vry. Skoon gewoed deur ’n woeste binnewind.
So vry is sy dat sy begin briewe skryf. Eers aan Johannes.
Beste Johannes
Jy is steeds my beste vriend. So sien ek jou, en ek besef ek het jou nog altyd so gesien. ’n Wonderlik standvastige man is jy. Jy het niks verkeerd gedoen nie. Ek ook nie, behalwe dat ek te lank gewag het om ons verlowing te verbreek. Maar eerlikwaar, ek het dit nooit vroeër so duidelik besef nie. Vergewe my, asseblief. Ek hoop werklik jy sal nog, want een ding weet ek vir seker: ek wil nie kwade gevoelens tussen ons twee hê nie.
Groete
Elisabet
Die briewe aan haar ouers en skoonouers is langer. Vir hulle vra sy ook vergifnis. Sê dat sy besluit het om nie gou weer huis toe te kom nie. Hulle moet dit asseblief probeer verstaan. Sy is baie lief vir hulle, maar kan nie haar lewe leef om hulle onthalwe nie. Hulle drome is nie hare nie en sal nooit wees nie.
Op nie een van dié briewe kry sy ’n bevredigende antwoord nie. Johannes stuur wel ’n telegram.
JY IS VERGEWE STOP ONS SAL WEER PRAAT STOP
Weer praat? Om wat te sê? Sy reageer nie daarop nie. Een aand bel hy. Hooflynoproepe is duur, maar sy beduie vir tant Genista, wat geantwoord het, dat sy nie tuis is nie. Sedertdien glip die weke verby sonder dat daar met haar kontak gemaak word.
Die nuwe jaar loop die parstyd in. Soms gaan kuier sy en tant Genista op een van die wynplase en sy verlustig haar in die geur van mos wat oor die werf hang, die koelheid van die kelders, die bedrywigheid in die wingerde. En met elke kuier gaan Brakkie saam. Sit kostelik orent op die kar se agtersitplek wanneer Elisabet en tant Genista iewers heen ry. Maar na die Mulders toe gaan hulle nie weer nie.
Die parstyd gaan verby, die vate raak vol, die wyn lê en wag om volrond te word.
En die jaar word dun en leeg. Want oorlogspraatjies versuur amper elke gesprek. Soms wonder Elisabet wat sy met haar lewe gaan doen. Sy kan tog nie vir altyd by die ou dame en Brakkie bly nie.
Haar ouers beantwoord haar briewe glad nie. Nes destyds toe tant Susan met die Engelsman weg is Londen toe. Dit maak diep seer, laat ’n rouheid wat haar soms vervaard na asem laat hap.
“Hulle sal wel daaroor kom,” probeer tant Genista troos. Maar later skud sy ook net haar kop. “Harde harte bly soms hard, kind,” sug sy een aand toe Elisabet voor haar uit sit en staar.
Een oggend laat in Maart bring die posman ’n roomwit koevert met ’n bekende handskrif. Elisabet kan haar oë nie glo nie. Waar sou tant Susan haar adres gekry het? Sekerlik nie by haar ouers nie. Die antwoord is in die brief.
Liewe Elisabet
Ek weet nie hoe jy my sal onthou nie. Hopelik met ’n bietjie liefde. Jy was so jonk toe ek daar weg is. Ek is steeds jou tant Susan wat al die jare gelukkig met John Connelly getroud is. Jul dominee, Eduard Harris, het vir my man hier na Broadcasting House geskryf. Hy het mooi verduidelik van jou troue wat nie plaasgevind het nie. Ek is jammer dat jou ouers jou nie wil vergewe nie.
Ek wil net noem dat jy baie welkom is om vir ’n ruk Londen toe te kom. Ons het nie kinders nie, Elisabet, en sal reikhalsend na jou koms uitsien. Dis nou as jy sou kans sien om te kom. Mense praat wel van oorlog, maar eintlik het daar nog niks gebeur nie. Stuur gerus ’n telegram aan jou Uncle John as jy wil kom en ons sal dit gereël kry.
Liefdegroete
Tant Susan Connelly
Die van so ewe bygevoeg, asof sy wou seker maak dat Elisabet haar nie met iemand anders verwar nie. Op die aanvanklike verbasing volg ’n polsende opwinding. Sy kan skaars praat toe sy die brief na tant Genista uithou.
“Nou toe. Is dit nie waarop jy gewag het nie?”
“Moontlik is dit, tante. Maar dit sal swaar wees om hier weg te gaan.” “Vir my sal dit die heel swaarste wees,” sê tant Genista pront. “Maar Brakkie sal darem seker bly?”
Elisabet vou terstond haar arms om tant Genista. Hierdie vrou wat haar met robuuste saaklikheid haar balans help terugkry het. “Natuurlik sal hy bly, tante. En so baie dankie vir alles.”
Die vrou verslap ’n oomblik teen Elisabet. Toe lig sy haar ken.
“Nou toe. Kom ons gaan maak tee. Brakkie is hoeka al lus vir ’n stukkie beskuit.”