Vroue van die Bybel 2 deur Esté Geldenhuys: ’n resensie

  • 0

Vroue van die Bybel 2
Esté Geldenhuys

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320872

Esté Geldenhuys is ’n bekende radio-omroeper wat in haar opvolgboek weereens vroue van die Bybel en hul verhouding met God uitlig. Nóg ’n boek met die klem op vrouwees? Ja, maar nie heeltemal eksklusief nie. Hierdie ontginning van die lewe van sekere Bybelse figure is wel hoofsaaklik op vroue gemik maar álle gelowiges kan hieruit put.

Geldenhuys se hantering van die Bybelse geskiedenisse van hierdie vroue is omvattend en gedetailleerd sonder om te soetsappig te wees. Haar skryfstyl is spontaan maar het genoeg teologiese gravitas om ernstige lesers tevrede te stel. Geldenhuys dra ’n stewige kennis van die lewe van hierdie vroue. Daarby, nadat sy op ’n onderhoudende wyse die geskiedenis van dié vroue vertel het, brei sy met ’n besinning uit oor die gebeure en die betrokkenes se reaksie daarop. Hoofstukke word met ’n paslike gebed afgesluit.

Geldenhuys diep vroue op van wie ’n mens al amper vergeet het, dog is daar bepaald ’n rede waarom hulle in die Bybel genoem word. Mevrou Noag word uitgebeeld as iemand wat haar man vir 100 jaar lank getrou bygestaan het om, selfs onder die bespotting van die algemene publiek, die ark te bou. Alhoewel daar nie veel oor mevrou Noag bekend is nie, kan ’n mens volgens Geldenhuys dít by haar leer: “Hierdie God van Abraham, Isak en Jakob is tot alles in staat” (20). Só trek Geldenhuys hierdie vrou uit die skadu van die geskiedenis sodat die leser ’n inspirerende blik op haar lewe kry.

Nie net godvresende vroue word intensief ondersoek nie. Lot se vrou (die vrou wat wel uit Sodom gered maar nie daarvan verlos is nie), en ook haar twee dogters se gruwelike geskiedenisse hou lesse in. Hieruit leer die leser onteenseglik dat God se heiligheid onaantasbaar is.

Die twee Egiptiese vroedvroue, Sifra en Pua, wat deur die farao aangesê is om Hebreeuse seuntjies dood te maak, was nie aan hom gehoorsaam nie. Hulle het God veel meer gevrees as wat hulle die farao gevrees het (Eks 1:17). Geldenhuys verweef die ware betekenis van die begrip ‘vrees vir God’ knap in by die vreesloosheid van hierdie vroue. Om God te vrees, beteken dat mens Hom leer ken en as gevolg van hierdie kennis Hom dien. So word die begrip ‘vrees vir God’ verhelder.

Ander vroue wat maklik misgelees word, is die vroue by die ingang van die tabernakel. Tog speel hulle ’n belangrike rol. Die tabernakel het net een ingang gehad, duidend op Jesus wat die Weg is. Dié vroue se aanbiddende diens moes die “atmosfeer van die heilige teenwoordigheid van die Almagtige help voed het” (72). Die skrywer belig hier die aktuele kwessie van identiteit en wel gelowiges se identiteit in Christus tydens aanbidding. Dit is naamlik so dat “ons identiteit in Christus tydens die proses van aanbidding in ons bevestig word” (77). Geldenhuys bevestig verder hier dat God nog nooit op vroue neergesien het nie — ’n belangrike begrip wat ook in die hoofstukke oor die vroue van die Nuwe Testament beaam word.

Die skrywer gebruik haar kennis van Israel om die konkrete ruimte waarbinne die gebeure afgespeel het, uit te beeld. Die opgrawings by Kapernaum is veral interessant in oa die stuk oor Petrus se skoonma – ’n vrou wat nie net genesing deur Jesus ervaar het nie, maar ook Hom as mens ervaar het. Haar huis het as ’n bymekaarkomplek vir gelowiges gedien. Betrokkenheid is hier die voorbeeld.

Die mens se ongoddelike beskikbaarheid vir die Bose word in die hoofstuk oor Herodias se dogter onder die loep geneem. Die dogter, Salome, het Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord gevra en dit gekry. Geldenhuys verwys dan na Paulus wat die Efesiërs maan om aan die duiwel geen vatplek te gee nie (Ef 4:26).

Van die arm weduwee wat haar enigste twee munte in die skatkis gooi omdat sy ten volle op God vertrou, tot die talle vroue wat Jesus gevolg het “omdat Hy ’n direkte invloed op hulle gehad het” (219) word bespreek. Hier kom een feit uit Geldenhuys se hantering van spesifiek hierdie geskiedenis onweerlegbaar na vore: ’n Gelowige leer Jesus veral tydens krisissituasies ken as die enigste Bron van ware lewe en die enigste Waarheid.

Die boek word afgesluit deur ’n hoofstuk wat heenwys na Jesus se boodskap vir vroue van toe én nou. Jesus het nie net alles geweet en weet steeds alles nie, Hy het daadwerklik iets aan krisisse gedoen en doen dit steeds. Dis ’n paslike slot.

Hier en daar verwys Geldenhuys na haar eie ervarings van God. Skeptiese lesers mag persoonlike getuienisse steurend vind, ander weer inspirerend, want Geldenhuys praat eerlik en reguit oor haar eie lewenskrisisse en wys sonder skroom daarop dat God altyd die enigste Toevlug is. Lesers behoort hierdie boek verrykend te vind.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top