Keur 3 deur Helene de Kock: ’n skrywersonderhoud

  • 0

Keur 3
Helene de Kock
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798177504

Helene de Kock gesels met Naomi Meyer oor haar skryfwerk en ook oor die heruitgawe van Helene de Kock, Keur 3.

Helene, ek het 'n versameling van jou verhale hier op my lessenaar: Keur 3. Hierdie bundel bestaan uit verhale van jou wat herdruk is en bevat stories van jou wat in die vroeë negentigerjare geskryf is: Vuurvliegie, Sewende somer en Windspoor. Kan jy elkeen van hulle nog onthou, al het daar so baie tyd verloop sedert die skryf daarvan? Of enige van die karakters?

Ja, Naomi, ek kan hulle baie goed onthou. Die karakter van Alfons in Vuurvliegie en ook Zach in Sewende somer onthou ek by name goed. Moontlik omdat hulle albei geheimsinnige karakters is. En ek onthou die verhale helder.

Wat was die inspirasie vir die skryf van elkeen van die verhale, of die snellers daarvan? Kan jy nog enigiets hiervan herroep?

Naomi, ek onthou dit baie goed. Ek weet byvoorbeeld dat ek Windspoor geskryf het toe ons nog op Bethlehem gewoon het. Die inspirasie vir die roman was die jaarlikse lugballonvaart wat daar plaasvind. Die roman is, soos die ander twee romans in Keur 3, so ’n mengsel van ’n spanningsverhaal en ’n liefdesverhaal. Daardie jare (1989–1990) was daar nie so ’n streng skeiding tussen genres nie en spanningsverhale het op sigself amper nie bestaan nie. Vuurvliegie is eweneens ’n spanningsverhaal met ’n sterk liefdeselement en het sy beslag gekry tydens ’n vakansie op Nature’s Valley toe ons in ’n strandhuis tuisgegaan het waar mense vroeër soms vir die veiligheidspolisie weggekruip het. Sewende somer is ’n moordstorie – ook met ’n liefdesverhaal verweef. Die sneller daarvoor was ’n ou herehuis op ’n verlate Vrystaatse dorpie. Dit was om die een of ander rede die impetus van dié verhaal.

Die negentigerjare voel glad nie so lank gelede nie, maar tog het sekere praktiese dinge sedertdien in die samelewing verander: selfone en die internet byvoorbeeld. Hoe dink jy het dit jou verhaalgegewens beïnvloed, indien enigsins?

Alhoewel ek ook eietydse romans skryf, soos Kruispad vir Kara wat Junie by CUM verskyn waarin hedendaagse tegnologie natuurlik ’n rol speel, reken ek verhale wat in vorige dekades geskryf is, moet net so bly. Lesers behoort ook bewus te raak van ander tye, ander vorme van tydgees en werklikheidsbeeld. Dis altyd verrykend om kennis te neem van sogenaamde ander tye. Lesers behoort dan te sien dat universele, basiese dinge nie werklik verander nie, maar dat sieninge wel mense se optredes kan swaai. Daarom het ek die verhale wat nou vir die derde maal verskyn, net so gelos.

Om my argument te staaf: my generasie het byvoorbeeld drie vorme van tydgees of werklikheidsbeeld beleef: die moderne, die postmoderne en nou die neiging na die post-postmoderne. Moontlik is ons (dié wat nie verstar het nie) die generasie wat vorme van werklikheidsbeeld die beste verstaan, omdat ons dit beleef en beleef het. Daarom vind ek dit goed dat lesers soms insae kry in hoe dinge wás.

Wat beskou jy as die uitdagings van die skryf van 'n liefdesverhaal? En wat is vir jou lekker daarvan?

Ek skryf eintlik verhoudingsverhale omdat dit my standpunt is dat mense nie in ’n vakuum liefkry nie. Daar is altyd ander verhoudings met ouers, familie en vriende betrokke. En dit is juis die uitdaging: om die liefde te integreer in die alledaagse lewe en die eise wat dit stel.

Daarby het ek steeds die geneigdheid om ’n stywe spanningslyn te probeer behou. My laaste twee romans vir Human & Rousseau byvoorbeeld is historiese romans met ’n sterk spanningslyn. Debora en seuns en Debora gaan huis toe is ’n tweeluik wat handel oor die veertigerjare van die vorige eeu en ook die sestigerjare. Wat ek toe in ag moes neem, is dat die Afrikaans van toe heel anders geklink het as die Afrikaans wat vandag gebesig word. Ook die sestigerjare se taalgebruik verskil natuurlik heelwat van die huidige neiging om Engfrikaans te besig. Dit was nie te moeilik nie, aangesien ek ’n student was tydens die sestigerjare en ek baie goed onthou hoe Afrikaans toe geklink het.

Vertel my asseblief van skryfprojekte waarmee jy nou besig is?

Ek werk aan ’n historiese roman wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel. Ek doen natuurlik navorsing en sorg dat feite korrek weergegee word, maar moet ligloop vir te veel inligting wat lesers paragrawe sal laat oorslaan. Die inligting moet geheel en al geïntegreer wees met die res van die teks. Die leser behoort eers agterna te besef dat hy of sy iets daaruit geleer het. Dis wat ek hoop sal gebeur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top