Sara
Maretha Maartens
Lux Verbi
ISBN: 9780796320643
Maretha Maartens slaag daarin om die leser met ’n helder onmiddellikheid in die antieke verlede te plaas. So intensief en doelgerig het die skrywer haar ingegrawe in die daaglikse doen en late asook die besonder beeldende besonderhede van daardie lank vergange tyd dat die leser nie ’n oomblik twyfel aan die karakters en dit wat met hulle gebeur nie. Die roman handel hoofsaaklik oor Sara, die vrou van Abraham, en haar binnestryd oor die offer wat Abraham moes bring.
Die hoofkarakter, wat ook die hooffokaliseerder in dié roman is, bevind haar aan die begin van die verhaal tussen die Amoriete met wie Abraham se mense verbied was om te meng. Sy is in hierdie benarde posisie omdat sy buite haarself was toe sy in hul blyplek in Berseba verneem dat Abraham en Isak weg is na die berg Moria toe sonder ’n ram vir die brandoffer, maar wel met vuur en brandhout. En die slawe het die offerrook sien trek. Daarom maak sy die ysingwekkende gevolgtrekking dat Abraham hul seun Isak aan El Shaddai geoffer het. Om daardie rede kies sy koers na Hebron, waar sy vermoed Abraham hom in sy tent teruggetrek het. Sy, wat so bang is vir die gevare van die Negev, vlug die woestyn in, radeloos en wanhopig. Dis op pad soontoe dat El Shaddai haar neervel. Sy raak sodanig beseer dat sy nie vir haarself kan sorg nie en op die twyfelagtige genade van die Amoriete aangewese is.
Terwyl sy siek en afhanklik daar by die Amoriete lê, kom Sara se lewe in herinneringsflitse na haar toe terug. Terugflitse is slegs in die hande van ’n bedrewe en gesoute skrywer suksesvol. Dit is Maartens beslis, en die terugflitse lees eweneens met ’n onmiddellikheid wat geensins hinderlik is nie. Trouens, dit verplaas die leser dadelik na die kern van die verhaal.
Min skrywers kan met soveel intense begrip en deernis die innerlike wroeginge van ’n karakter uitbeeld. Maartens is immers hiervoor bekend en in hierdie roman is Sara se stryd iets wat die leser byna meedoënloos sal meesleep.
Die ruimte waarbinne hierdie Bybelverhaal afspeel, is die “digte mis” (Maartens) van die Middel-Bronstydperk. Die skrywer dring met gemak deur hierdie antieke waas en bring die leser oënskynlik moeiteloos in aanraking met die lewenswyse van daardie tyd. Navorsing is bepaald deeglik gedoen en daarby is die feitelike inligting so knap in die teks ingeweef dat dit nooit hinderlik raak nie. Ruimte in ’n roman is bepaald meer as net die konkrete plek (in hierdie geval die rand van die Negev) en omvat onder andere ook die tydgees asook die religie, en ook hierdie twee elemente word goed uitgebeeld. Dit was ’n wrede tyd, toe kinders te koop was, wilde diere mense vermink het, mans gejag het vir kos. Ook die aard van die godsdiens, die aanbidding van die El Shaddai, die Almagtige (en die Amoriete se gebrek daaraan en onbegrip daarvoor) word duidelik uitgebeeld. Sara se binnegeveg met God kom ook telkens na vore. Sy smeek die Here dat die dood haar nie hier tussen die Amoriete sal vind nie. “Nie voordat ek weet of U gedoen het wat Abraham my wou laat verstaan nie” (256). Sy is immers al 120 jaar oud. Sy wat in haar lewe al dringend wou weet: “Wie is U regtig? Hoe is U regtig?” (340). Sara se stryd kan ewe goed die moderne leser se stryd wees. Juis daarom identifiseer die leser so goed met haar.
Maartens se ryk metaforiese styl kan dalk vir sommige lesers hinderlik raak. Aan die ander kant bring juis hierdie buitengewoon beeldende styl daardie gesogte onmiddellikheid na ’n antieke verhaal en maak dit relevant vir vandag. Sara is ’n leersame roman wat tegelyk boei en ontroer.
Kommentaar
Dankie.