Keur 1 deur Helene de Kock: ’n resensie

  • 0

Keur 1
Helene de Kock

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176040

Helene de Kock het geen bekendstelling nodig nie, daarom behoort lesers terdeë bewus te wees van haar romans, skryfstyl en waarna hul kan uitsien.

Haar ma het geskryf, onder die naam Sylvia Bosman, en dit het haar aangespoor om ook te probeer skryf. Sy het haar eerste kortverhaal in haar tweede jaar op universiteit geskryf. Dit is in 1962 deur Huisgenoot gepubliseer. In 1978 het sy haar romandebuut met Die soete dwaling gemaak (nogal in my geboortejaar).

Helene vertel dat sy skryf omdat mense haar interesseer. “Veral verhoudingsverhale roer my hart. Alhoewel die liefde ’n belangrike onderwerp in my verhale is, staan dit nooit apart van ander verhoudings nie. Die liefde self is verweef in die web van die lewe, glo ek.”

Tot op hede het daar al meer as 40 boeke uit haar pen verskyn, onder meer Keur 1, wat uit vier verhale bestaan.

In my hoërskooljare het ek liefdesverhale verslind – enigiets, solank daar net ’n goeie einde was. So tipies as naïewe jong meisie. Tog, onbewustelik is ons almal soekend na liefde, ’n storie met ’n goeie, gelukkige einde. Ek moet bieg, behalwe dat daar vandag minder tyd is vir lees, is ek nie meer die tipiese liefdesverhaalleser nie en het ek dit inderwaarheid ontgroei. Dalk hartseer, want die lewe is allermins ’n ideale liefdesprokie. Daarom het ek juis dié Keur 1 nodig gehad – dit is ideaal vir die besige vrou van vandag. Minder tyd vir lees tot jou beskikking, ’n voltydse beroep, huistake wat vanaand roep en kinders en ’n wederhelf wat aandag vra. Dié bundel van vier stories getiteld Die soete dwaling, Seisoen van die skimmelson, Anderkant die vloedwaters en ’n Vrou van Ver-en-Naby laat jou sonder verskonings van nie tyd hê om te lees nie.

Ek is ’n baie letterlike leser, dus was die beskrywings van veral klere en kleure in die eerste verhaal vir my nogal interessant, omdat dit teruggaan na ’n ander styl-era as vandag. Die storie was nietemin vermaaklik, alhoewel dit duidelik afspeel in ’n tyd waar paartjies dinge anders gedoen en beskou het as vandag se moderne paartjies, en mag ek noem veral “millennials”.

Seisoen van die skimmelson, oorspronklik in 1989 gepubliseer, neem ’n mens terug na die strengheid van hoe dinge in daardie jare was teenoor vandag. Nietemin is die tema dit waarom mens se lewe onbewustelik draai: die liefde. Liefde kan die grootste vorm van kalmte en diepgewortelde geluk wees, mits jy innerlike vrede daaroor het.

Anderkant die vloedwaters (1997) sit die liefdestog voort. Met liefde is ons alles, sonder dit is ons niks.

Die laaste verhaal het oorspronklik as ’n vervolgverhaal in Sarie verskyn.

Dis ideaal vir daardie steel-eie-tyd-oomblikke, en wat is nou lekkerder as om met ’n lekker warm koppie tee in die wintersonnetjie ’n bietjie tyd te neem vir jouself en in te duik in Helene se Keur 1.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top