Heil die Leser! Carpe diem! ’n Selfhelpboek en ’n romanse

  • 0

Boekomslae: Om Isla op te pas deur Elsa Winckler (Lapa) en To health with it! deur Tebogo Thekisho (Penguin)

1

To health with it! deur Tebogo Thekisho (Penguin)

Titel: To health with it! – Reset, realign and redefine your health, wealth and happiness
Skrywer: Tebogo “ProVerb” Thekisho
Uitgewer: Penguin Books 2025

In ’n wêreld wat gekenmerk word deur ’n gejaag en mense wat simptome van uitbranding toon, is die tydige verskyning van Tebogo “ProVerb” Thekisho se To health with it! soos ’n noodsaaklike handrem. Thekisho se skryfstyl is lewendig en vol deurleefde wyshede; dit lees soos ’n hart- en kopskoonmaak-geselsie oor ’n koppie koffie met ’n ou vriend wat alles beleef het. Vars van die drukpers, September 2025 by Penguin Random House, is dié nie net nóg ’n selfhelpboek nie – dit is ’n holistiese bloudruk om weer beheer oor jou lewe te neem, geïnspireer deur Tebogo Thekisho se persoonlike katarsisse as hip-hop-pionier, Idols SA-gasheer, entrepreneur én ooggetuie van talle persoonlike storms.

Tebogo Thekisho, beter bekend as ProVerb, is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar, televisie- en radiopersoonlikheid en outeur. Hy is in Kimberley gebore en het sy loopbaan in 1999 begin as ’n kletsrymer (rapper) deur rap-kompetisies oor die radio te wen en selfs as deelnemer aan Jam Alley op te tree.

Thekisho het in 2005 sy debuutalbum, The book of ProVerb, vrygestel wat beskou word as ’n klassieke landmerk in die Suid-Afrikaanse hip-hop-gemeenskap. Laasgenoemde is opgevolg deur vier albums, ’n mixtape en ’n DVD, wat twee toekennings tot gevolg gehad het. Thekisho is bekend vir sy liriese kletsrymstyl (sonder kru taal) en het deelgeneem aan internasionale kompetisies soos die Global Hip Hop Summit in Spanje en Johannesburg in 2004 en 2005.

Hy is die gasheer en mede-vervaardiger van South African Idols, waar hy reeds meer as 10 jaar betrokke is. Hy het ook as tegniese en inhoudsvervaardiger aan radioprogramme gewerk en het sy eie program, The Pro-File, op Metro FM aangebied. Hy was onlangs die gasheer van die Miss World South Africa-reeks in 2024, sowel as die MADDFest 2025-afsluitingseremonie in Kimberley.

In 2005 is hy deur die premier van die Noord-Kaap aangewys as Ambassadeur van Gesondheid.

Thekisho is voorts betrokke by filantropiese inisiatiewe soos sy Bophelo-projek, wat voedselhulp en nasorgsentrums aan weeskinders en kwesbare gemeenskappe bied.

Sy debuut-memoires, The book of ProVerb (2020, saam met Paballo Rampa), deel sy lewensreis, insluitend vertellings oor sy grootwordjare asook ander persoonlike uitdagings.  

Hy word dikwels geloof as rolmodel vir jong kunstenaars en word in hip-hop-sirkels as ’n GOAT (“greatest of all time”) beskou vir sy liriese musiek. 

Thekisho smous nie in sy jongste memoires, ’n selfhelpboek of inspirerende outobiografiese vertelling, bloot met oppervlakkige clichés nie. Die memoires begin met ’n ontboesemende besinning oor die kompleksiteite van gesondheid. In die inleiding vra hy tereg: “What is health?” En dit is véél meer as wat ’n mens besef: Hy verdeel dan sy beskouing van die mens se “volledige” persoonlike gesondheidskonstruk in tien onderafdelings, wat ook die hoofstukke vorm, naamlik “Mental health; Physical health; Emotional health; Social health; Spiritual health; Financial health; Intellectual health; Occupational health; Family health; Creative health”. Hierdie oorkoepelende beskouing is ’n kopknik in die rigting van die holistiese filosofieë wat hy voorstaan en wat met temas uit The book of ProVerb resoneer, maar wat nou ’n skerper fokus bied op volhoubare gesondheidstrategieë, méér as bloot ’n terugskouende storievertelling soos in The book of ProVerb. Holistiese gesondheid is ’n benadering tot welstand wat die hele mens, in al sy fasette, in ag neem. Dit beklemtoon die onderlinge verband met balans om algehele gesondheid te bevorder.

Wat hierdie boek as inspirerende of motiveringslektuur laat uitstaan, is Thekisho se kombinasie van kwesbaarheid en bravade. Hy skram nie weg van die sensitiewe gedeeltes nie – soos sy morsige “publieke” egskeiding en selfmoordpoging, wat hom amper laat ontspoor het – maar hy transformeer dit tot leerkurwes, met die klem op dankbaarheid. 

.......
Die prosa is boeiend – geskryf in ’n geselstrant; ritmies, byna liries; ’n oorblyfsel van sy rap-wortels. Dit is die soort leesstof wat jou inspireer om te soek na boekmerke en brokkies daarvan op die sosiale media te deel. 
.......

Die tien hoofstukke oor geestelike veerkrag, finansiële geletterdheid en verhoudingswelstand is deurspek met wenke, wat as sinopsis aan die einde van elke hoofstuk voorkom. As korporatiewe spreker en onlangse BBA-gegradueerde wat besig is met ’n MBA (en met ’n latere DBA in sy visier), anker Thekisho sy raad in praktiese uitvoerbaarheid, wat dit vir die leser toeganklik maak sonder om dit te vereenvoudig.

Die prosa is boeiend – geskryf in ’n geselstrant; ritmies, byna liries; ’n oorblyfsel van sy rap-wortels. Dit is die soort leesstof wat jou inspireer om te soek na boekmerke en brokkies daarvan op die sosiale media te deel. 

Met 158 bladsye is dit bondig genoeg om oor ’n naweek te lees, maar met genoeg diepgang om die boek wéér te besoek. 

.......
As sy eerste boek ’n memoires van oorlewing was, is hiérdie een ’n manifes vir die soewereiniteit van persoonlike welsyn.
.......

Uiteindelik is To health with it! bestem vir enige iemand wat moeg is daarvoor om net te oorleef en gereed is om met hernieude krag die lewe aan te gryp en daadwerklik te floreer. Carpe diem! Die skrywer belowe nie oornagwonderwerke nie, maar verskaf ’n padkaart vol hoop, humor en swaarverdiende insigte. As sy eerste boek ’n memoires van oorlewing was, is hiérdie een ’n manifes vir die soewereiniteit van persoonlike welsyn. Wat To health with it! onderskei, is ProVerb se kulturele lens. As ’n trotse Suid-Afrikaner integreer hy elemente van inheemse tradisies en gesofistikeerde gemeenskapsbetrokkenheid, wat die boek relevant maak vir ’n diverse lesersgemeenskap. Dit gaan nie net oor die belofte van gesonde diëte of gim-vooruitsigte nie, maar oor volhoubare veranderinge wat inpas by die moderne mens se besige lewe. Tog, alhoewel die boek vars en motiverend is, leun dit te swaar op persoonlike anekdotes en gewilde aanhalings, wat wel lekker lees, maar minder struktuur bied vir diegene wat ’n meer rigiede raamwerk rondom gesondheidskwessies verwag. ’n Mens sou inderdaad ook diepgaande wetenskaplike insigte en verwysings wou sien. 

To health with it! moet egter gelees word deur enige iemand wat inspirasie soek om hul gesondheid te prioritiseer. Thekisho bewys weer eens dat hy nie net ’n kletsrymer is nie, maar ’n ware storieverteller en lewensafrigter in murg en been. 

2

Om Isla op te pas deur Elsa Winckler (LAPA)

Titel: Om Isla op te pas (Romanza-spanning)
Skrywer: Elsa Winckler
Uitgewer: LAPA Uitgewers

Elsa Winckler is ’n bekende en geliefde skrywer en het meer as 60 liefdesverhale en romans die lig laat sien vir die plaaslike, sowel as die internasionale mark. Vier van haar boeke, naamlik Tussen jazz en rock (2009), Te eenders, te anders (2014), Liefde in laslap (2015) en Blameer die skoenlapper (2019) is met die ATKV-Woordveertjie bekroon. Haar romanses is ook verfrissend veelsydig en haar oeuvre oorspan Romanza-spanning-, Romanza-stoom- en Romanza-modern-verhale. Winckler het insgelyks twee kinderboeke en talle kortverhale agter haar naam. 

Romanses as subgenre van prosa (liefdesverhale) is ontvlugtingsliteratuur en moet as sodanig getakseer word. Daar is mense wat dié subgenre beskuldig van resepmatigheid, maar dit is ironies dat dié beskouing nie van toepassing is op ander literêre of skrywerstemplate nie, terwyl resepmatigheid oor ’n wye front in die letterkunde voorkom. Uiteindelik is daar net twee tipes stories, om Chris Barnard aan te haal: goed geskrewe of swak geskrewe verhale. En Winckler se verhaal is ’n knapgeskrewe een.

Die romanse beklee ’n belangrike plek binne die populêre leeskultuur en boei miljoene lesers, oorwegend vroue, wêreldwyd. Die volgehoue gewildheid van hierdie genre bevestig die vermoë daarvan om fundamentele menslike begeertes na liefde, romantiese verhoudings, emosionele vervulling en ontvlugting te bevredig.

.......
Die romanse dien ook as ’n kragtige en moderne medium om temas van vroulike selfbeskikking en bemagtiging te ondersoek. Waar
.......

Die romanse dien ook as ’n kragtige en moderne medium om temas van vroulike selfbeskikking en bemagtiging te ondersoek. Waar vroeëre liefdesverhale tradisionele geslagsrolle bevestig het, beeld kontemporêre romanses al hoe meer sterk, onafhanklike vroulike hoofkarakters uit wat aktief hul eie lot in die lewe navigeer. Hierdie karakters tree selfgeldend op in komplekse verhoudings; hulle streef hul ambisies na; en daag sosiale verwagtinge uit; gevolglik kan hulle vir hul lesers as inspirerende rolmodelle voorgehou word. Voorts bied die genre ’n veilige ruimte waarbinne lesers hul eie emosies kan verken. Die klem op emosionele verhoudings, liefde en kwesbaarheid laat lesers toe om op ’n persoonlike vlak met karakters te identifiseer en hul vreugdes en hartseer indirek te beleef. Hierdie emosionele katarsis kan besonder terapeuties wees en bied aan lesers ’n gevoel van begrip en aanvaarding. In kort: Romanses vier vroulike agentskap wat ’n goedvoel-reaksie by die lesers daarvan veroorsaak en stres op ’n natuurlike manier verlig. Voor in elke Romanza neem die leser onder die hofie “Het jy geweet?” kennis van die unieke sielkundige voordele wat die lees van romanses aan lesers bied – en as sulks, die eiesoortige plek wat hierdie verhale in die globale literêre landskap inneem. 

Om Isla op te pas kan gelees word as ’n vertakking van die voorganger, Om Karolien te beskerm. Beide boeke spil rondom die Bosman Sekuriteite-reeks, en ek het ’n voëltjie hoor fluit dat daar nóg twee titels in die reeks op pad is. Die vertakkingselement werk uitstekend, want lesers sal hulself steeds verlustig in die subtiele verwysings na vroeëre karakters. 

In Om Karolien te beskerm is die held Stefan Bosman wat ’n sekuriteitsmaatskappy besit wat, op die keper beskou, enige vorm van sekuriteit aan individue en instansies wêreldwyd verskaf. Hy raak verlief op sy eertydse skoolvriend Janco Watermeyer se suster, Karolien, wat ook nie ’n vreemdeling vir hom is nie. 

Stefan en Karolien het mekaar gevind, getrou, en hul babadogtertjie is op pad, aldus die opvolg, Om Isla op te pas. Maar nou sentreer die verhaalgegewens rondom Janco en Isla en die romanse is soos die voorganger verpak as spanningsverhaal. Inderdaad: Winckler is gekonfyt in dié subgenre – die verhaal lees filmies en herinner aan die verbyflitsende kinematografie van ’n aksiefilm. Die bonus van hierdie reeks is dat die leser meer as net ’n liefdesverhaal onder oë kry; afgesien van witwarm erotiek, noop die verhaal die leser om die vinnige tempo van die boeiende verhaalintrige in een naelbytsitting deur te lees. 

Die protagonis, Isla Vosloo, word gedreig en geïntimideer deur haar voormalige baas, Frik Jooste. Hy is afgedank nadat Isla klagtes teen hom gelê het omdat hy haar by die werk óók geteister het. Isla is werksaam as teksredakteur by ’n uitgewery. 

Frik is egter ’n gevaarlike en onstabiele man, en sy obsessie, om wraak te neem op Isla, neem toe – skrikwekkende en onheilspellende dinge begin skielik te gebeur. 

Stefan Bosman gryp in – sy sekuriteitsmaatskappy, met Stefan se swaer, Janco, is nie net verantwoordelik vir digitale veiligheid nie, maar ook vir dié van individue, soos reeds genoem. Janco het nooit van sy kalwerliefde vir Isla vergeet nie. Hy neem dit op homself om Isla op te pas téén die wraakaanvalle van Frik Jooste. Janco is ’n alfaman: sterk, dapper en super sexy, en Isla maak die beskermingsdrang in hom wakker. Isla, op haar beurt, probeer haar liefde vir Janco ontken, want hy maak dit duidelik dat daar in sy tipe werk nie plek vir ’n vrou kan wees nie – dis te gevaarlik. Al is hy in die eerste plek ’n IT-spesialis, is hy ook ’n hartebreker en onbeskaamd ’n macho man (selfs al besef hy dit self nie).

Isla is koppig, ambisieus en soms onredelik, wat haar baie menslik maak. Aanvanklik steur sy haar nie veel aan Janco se sogenaamde beskerming nie, tót … nee wag, ek wil nie die storie weggee nie; lees asseblief die boek!

Janco besluit om New York toe te gaan om te vergeet van Isla, en sý, op haar beurt, vang ’n roekelose ding aan om van hóm te vergeet. 

Die romanse is vry van die hinderlike clichés wat so dikwels in hierdie tipe verhale voorkom, en die dialoog is spontaan en modern. Winckler span ook humor in om die karakters werklikheidsgetrou uit te beeld. ’n Mens moet nie Janco se “stereotipiese manlikheid” – sy verwysing na Isla as “vroumens” – as swetsend of verkleinerend beskou nie, maar eerder as patos en sy ontsteltenis om haar as vrou op te pas. Maar moenie ’n fout maak nie: Om Isla te beskerm is in alle opsigte ’n moderne romanse. Winckler kombineer passie met die flair van ouwêreldse ridderlikeid.

Hierdie Romanza is perfek vir ’n naweek-wegbreek in jou bed, met ’n glas wyn en boks sjokolade as metgeselle. Winckler bewys weer eens waarom sy een van die koninginne van Afrikaanse Romanzas is. Of jy nou ’n lojale aanhanger van hierdie reeks is, of ’n nuweling op soek na ’n bietjie romantiese ontvlugting, dié boek sal jou nie teleurstel nie. Nóg ’n Carpe diem-boek – maar dié keer as viering van die liefde.

Lees ook:

Heil die Leser! Wanneer varke vlieg: Bakeliet deur Anri Botha

Heil die Leser! Oor verganklikheid en verlies: alles van waarde is weerloos

Heil die Leser! Mishandeling en trauma in Wanneer die krieke stil word deur Petro Kotzé-Odendaal en Ontbloot deur Marthé McLoud

Heil die Leser!: Pandora se kruik en ander euwels

Heil die Leser! Sameer Rawjee: KI in perspektief

Heil die Leser!: Narratiewe medisyne

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top