Heil die Leser! Oor verganklikheid en verlies: alles van waarde is weerloos

  • 0

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

I

Titel: alles van waarde is weerloos
Digter: Melanie Grobler
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234683

Die bekende en nimlike digter Melanie Grobler se vyfde digbundel het onlangs by Naledi verskyn – en ek moet bieg: Ek het selde ’n bundel met só ‘n mooi omslagontwerp vasgehou. Die grafiese kuns op die voorplat is gemaak deur die kunstenaar-digter Christiaan Diedericks, wat op 4 Julie vanjaar oorlede is. Diedericks het voor sy afsterwe ook die omslagkuns vir die bundel Nogmaals vir die bysiende leser, wat Joan Hambidge en Marlies Taljard oor Wilma Stockenström saamgestel het, gedoen.

Grobler se jongste bundel handel, in kort, oor die verlies van ’n lewensmaat.

Ek het by die digter gaan kers opsteek oor dié aangrypende nuwe bundel, en haar ’n paar vrae gevra wat my geprikkel het tydens die leesproses.

alles van waarde is weerloos (digbundel) deur Melanie Grobler (Naledi, 2025)

Melanie, baie geluk met jou jongste digbundel, alles van waarde is weerloos, wat onlangs by Naledi verskyn het. Die bundel is besonder treffend uitgegee en die omslagkuns is deur Christiaan Diedericks gedoen. Christiaan is onlangs oorlede en jy het elders op sosiale media genoem dat julle baie hegte vriende was. Vertel ons asseblief meer van die omslagontwerp – wat dit alles beteken, en van jou verbintenis met Christiaan.

Die kunswerk op die omslag is vir my ’n beeld van verganklikheid. Die bundel is my belewing van die afsterwe van my man en die duisend skoenlappers in die taaibos wat hom na ’n ander werklikheid geneem het. Die kunswerk van Christiaan beeld verval en afskeid uit. Christiaan was ’n siels- en gespreksgenoot en ons het daagliks soggens en saans op WhatsApp kontak gehad. Christiaan se kunswerke het kort voor sy heengaan van vlinders na kraaie verander. Na sy dood het ’n kraai drie dae lank voor die venster waar ek skryf, gekrys.

“Alles van waarde is weerloos”, die titel van jou bundel, is ’n aanhaling van Lucebert. Hoe het jy op dié spesifieke titel besluit?

Die titel is nomadies. Ek het dit jare lank in verskillende notaboeke gehou. Dit verwys ook na Breyten Breytenbach se siening van die nomade. Dit is ook deels bewussynstroomtegniek. Ek het my doktoraal oor die denke van Breyten Breytenbach gedoen.

Die oorhoofse tema van alles van waarde is weerloos is die verwerking van die verlies van ’n lewensmaat. Jy was lank getroud met Piet Grobler. Vertel ons gerus meer: Hoe het sy afsterwe as impetus tot dié bundel gelei?

My man se dood het my die geleentheid gebied om oor die grens van verganklikheid te dig.

.......
My man se dood het my die geleentheid gebied om oor die grens van verganklikheid te dig.
.......

Hierdie bundel word gekenmerk deur surrealistiese en besonder beeldryke poësie; selfs méér surrealisties as jou voorafgaande bundels. Die lees van die verse het ook ’n hipnotiese uitwerking op my gehad. Hoe gebeur die digproses?

As voorbeeld haal ek dié gedig aan (bl 15):

7

Soos ’n ruit wat stadig draai
onthou ek die landskap van jou lyf
môre sal ek die alfabet op jou vel afwas
ook die liefdesgedig wat ek daar geskryf het.
Die bed is reeds opgemaak
onder die donker karos wag jy
of staan op om al die geheime lettertjies
wat ek teen jou mure skryf, te lees.
As die son die dag wond sal ek my vlieër
van opgeskeurde gedigte
na die hoër lugstrome
van jou stiltes stuur.          

Ek gebruik dit nie doelbewus nie. Ek begin met een reël in een van my talle skryfboeke en dan neem dit soms maande of jare om ’n gedig te word.

Vertel ons meer van die spel met jou digterlike alter ego’s: Hester Harov, Hestertjie Haarnaald en ander?

Hester Haarnaald (’n baie geslaagde karakter) het haar verskyning gemaak in my debuutdigbundel, Tye en swye in die lewe van Hester H. In die gedig “Die mooi boekie van Hester Harov” (bl 57, Tye en swye in die lewe van Hester H) skryf sy oor die eklamptiese vrou en die miljarde mites waarvoor die liggaam gasheer is. My jare lange stryd (waarin ek een nier verloor het) om ten alle koste drie kinders te hê ten spyte van my rare bloedgroep, O-negatief, het ’n belangrike onderliggende tema in my skryfwerk geword. Dit kom veral na vore in hierdie gedig.

Waarmee hou jy jou besig? Waar bly jy tans – en wie, of wat, is jou muses vir die skryf van jou poësie? Is daar nog publikasies in die pyplyn waarna lesers kan uitsien?

Ek woon in ’n magiese huis tussen oeroue fynbos en ’n wilde see in Pringlebaai. Ek hou my besig deur my lieflinghond, Pablo, ’n miniatuur-Schnauzer, na die Book Club-restaurant vir koffie te neem en lang ente te gaan stap. Ek is deur my broer, Pierre Haarhoff, beïnvloed om vir myself ’n droomlewe te skep.

Die afgelope tien jaar werk ek aan Melancholia, ’n versameling verhale wat hopenlik ook gepubliseer sal word. Ek skilder ook en ek luister ure lank na politieke potgooie.

Haal vir ons een van jóú gunstelinggedigte in die bundel aan.

44

Tye en swye in die lewe van Hester H

Loof en prys Hester, wat op die blaaie van julle afwesige aandag skryf
prys die boegbeeld as die meisiekind met haar rooi lipstiffie
na die koue water van die Baltiese Binnewaters vaar
loof haar vaartuig, Die Waterbreker, loof haar as sy terugkeer
na die bidsprinkaan en haar geboorteplek
prys die kolonisasie van die VOC, die Anglo-Boereoorlog
Apartheid, die Grensoorlog en al die plaasmoorde
prys die okkulte herlewing in die postapokaliptiese ruimte
prys die dekadente partytjiegangers
prys die toekomsgenerasie met karmosyn holle
loof die heldin wat onder die neonlig stook
kyk sy rus op die wolke met haar bloedrooi hare
sy eet kerrievis en suurvykonfyt, sy is een van julle
moet haar nie verjaag nie.           (bl 52)

II

Melanie Grobler het inderdaad ook ’n interessante lewensgeskiedenis; een wat getuig van deursettingsvermoë en passie wanneer dit by digkuns en kuns kom.  

Melanie Hester Haarhoff is op 6 Oktober 1942 op Warmbad (Bela-Bela) gebore. Sy is die jonger suster van PC Haarhoff (1938–1990), die bekende akademikus, kernwetenskaplike en bekroonde skrywer uit eie reg. Haar vader is as alkoholis in Weskoppies oorlede toe sy slegs drie jaar oud was.

Ná haar pa se afsterwe gaan woon sy by familie op ’n kleinhoewe naby Wolhuterskop, waarna sy op sesjarige ouderdom weer by haar ma en broer op Rustenburg aansluit. Sy matrikuleer dan later aan die Hoërskool Rustenburg.

Ná skool studeer sy aan die Universiteit van Pretoria en behaal ’n MA-graad in kunsgeskiedenis met lof met ’n verhandeling getitel “Kalligrafie op geografie”, ’n studie oor die landskapskilder Nico Roos se werk.

In haar twintigerjare is sy vir lang periodes siek, en word in vyf jaar 48 keer geopereer vir nierprobleme.

Sy ontvang ’n beurs aan die Franse Instituut in Johannesburg wat haar in staat stel om Breyten Breytenbach se kuns in Frankryk en Nederland te dokumenteer, ’n studie wat tot ’n doktorale proefskrif gelei het. Sy fotografeer ongeveer ’n duisend skilderye, tekeninge en installasies van Breytenbach in Parys, Haarlem, Kaapstad, Durban en Pretoria. In 2002 verwerf sy ’n doktorsgraad in kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria  met ’n proefskrif getitel “Against fixity: a hybrid reading of Breyten Breytenbach’s art, poetry, writing, aesthetics and philosophy”.

Grobler se betrokkenheid by kuns, skryf en prosesfasilitering lei sedert 1980 tot talle kultuurprojekte by die Instituut vir Voortgesette Onderwys aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy is insgelyks vir sewe jaar werksaam as kunskurator by die Universiteit van Pretoria. Sy ontvang onderrig by die Art Studio in Pretoria, en neem deel aan twaalf solo- en groeptentoonstellings van haar eie kunswerke. Sy was getroud met die regsgeleerde Pieter Grobler, ’n voormalige Nasionale Party-LV, en hulle het twee dogters (een is die sangeres Eugenie Grobler), asook ’n seun. Wanneer Pieter Grobler se politieke loopbaan in 1998 eindig, verhuis die egpaar van Pretoria na Pringlebaai, waar hulle in die Kogelberg-biosfeerreservaat woon. Pieter is na ’n lang siekbed in 2020 aan leukemie oorlede.

Nadat Grobler se gedigte in letterkundige tydskrifte verskyn het, maak sy haar debuut met die digbundel Tye en swye in die lewe van Hester H. Die titel verwys enersyds na die self (Hester Haarhoff), en andersyds na die karakter Hestertjie Haarnaald wat figureer in die kindervers wat Elizabeth van der Merwe geskryf het en in DJ Opperman se Klein verseboek opgeneem is. In die oorspronklike gedig onderneem Hestertjie Haarnaald ’n Suidpoolreis wat ooreenkomste toon met die talle reismotiewe in Grobler se oeuvre – byvoorbeeld reële, maar ook fisieke reise, soos siekte, en psigiese reise wat uiting vind in drome en meditasies.

Hester H word bekendgestel as fiktiewe karakter, maar ook as historiese karakter wat optree as Grobler se digterlike alter ego.

Haar oeuvre word gekenmerk deur ’n ryk intertekstuele lading waarin sy met digters soos NP Van Wyk Louw, DJ Opperman, Antjie Krog en Breyten Breytenbach in gesprek tree.

Melanie Grobler is ’n bekroonde digter en haar volledige oeuvre bestaan uit Tye en swye in die lewe van Hester H (1991), wat met die Rapportprys bekroon is; Die waterbreker (2004); Deur ruite van die reis (2013); Huis van tyd (2022) en Vlindervreter (2024), ’n versamelbundel wat die kuns en poësie van Melanie Grobler en Christiaan Diedericks bevat. Vlindervreter is besonder gunstig deur kritici ontvang, en geloof as ’n versamelbundel wat die verenigde visie en kreatiewe sinergie tussen Diedericks en Grobler verbeeld, ’n samespel tussen woord en ikonografie wat op sy beurt ’n meervoudige blik op die menslike psige bied.

Grobler skryf met ’n deurwinterde digtershand en is die dominante digter in Vlindervreter. As hibriede werk is Vlindervreter beskryf as ’n unieke publikasie: Dit is ’n sonderlinge kunsboek, digbundel én luukse koffietafelboek.

“Alles van waarde is weerloos”, die titel van Grobler se jongste bundel, is ontleen uit Lucebert se gedig “De zeer oude zingt”.

.......
Tematies handel die verse oor die afsterwe van ’n geliefde (die digter-spreker se man), en oor ruimtelikheid. Die verwysings na plekke word ingespan om die rouproses figuurlik te lokaliseer en om sin te maak van die siklusse van die lewe en die dood.
.......

Tematies handel die verse oor die afsterwe van ’n geliefde (die digter-spreker se man), en oor ruimtelikheid. Die verwysings na plekke word ingespan om die rouproses figuurlik te lokaliseer en om sin te maak van die siklusse van die lewe en die dood. Daar is ook ’n sterk spirituele kwaliteit teenwoordig in hierdie gedigte. Tematies skakel alles van waarde is weerloos met Petra Müller se Die aandag van jou oë, wat insgelyks handel oor weduweeskap en die verwerking van verlies. Die gedigte is in vrye vers geskryf en die toonaard is surrealisties. Die gedigte beïndruk met veral die besonderse en bekoorlike gebruik van metaforiek.

Hierdie is ’n lieflike en ontroerende digbundel – en ’n moet-lees vir liefhebbers van poësie. Hou maar die boks snesies byderhand.

43

My mamma is ’n doekvoetdigter
wat van die uitgekalkte denkpad droom
sy stap, haar lyf ’n skemer uitkoms.

My mamma se vingers loop ’n jakkalsdraai
oor die diepste vlaktes van die Karoo
sy skryf vir oulaas met ’n handvol tyd
ons luister na haar gesange
arms uitgestrek soos Jesus aan die kruis.

Hoe sal ons ooit oor die stilte kom?    (bl 51)

Lees ook:

Deur ruite van die reis – ’n oase wat die dors les

Tussen klip en knot

Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels

Heil die Leser! Mishandeling en trauma in Wanneer die krieke stil word deur Petro Kotzé-Odendaal en Ontbloot deur Marthé McLoud

Heil die Leser!: Pandora se kruik en ander euwels

flikker-gram, saamgestel deur Marlies Taljard: ’n resensie

Klaarte deur Louis Esterhuizen: ’n resensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top