flikker-gram, saamgestel deur Marlies Taljard: ’n resensie

  • 1

flikker-gram, saamgestel deur Marlies Taljard (Naledi, 2024)

Titel: flikker-gram
Samesteller: Marlies Taljard
Uitgewer: Naledi (2024)
ISBN: 9781067234386

Die skakeling tussen letterkunde en ander studievelde – oftewel interdissiplinêre studievelde – is welbekend in die buiteland en in ’n mindere mate in Afrikaans. ’n Mens dink byvoorbeeld aan die rol van die reg in letterkunde (“law in literature”), asook die reg en letterkunde (“law and literature”), wat danksy akademici soos Melodie Labuschaigne, Magda Slabbert en Mariette Postma ’n staning binne die Suid-Afrikaanse literatuurstudie gekry het.

Marlies Taljard se versamelbundel “mediese poësie” is ’n voorbeeld van gedigte wat geskryf is deur mediese praktisyns, pasiënte, en die toeskouers/voyeurs van mediese toestande. Die Afrikaanse poësie het ’n lang geskiedenis van dokters wat ook digters was/is, byvoorbeeld Arnoldus Pannevis, C Louis Leipoldt, AG. Visser, AD Keet, Theo Wassenaar, Phil du Plessis, Henk Rall, Menno Stenvert, Franco Colin, Hendrik J Botha, Gilbert Gibson, Hennie Nortjé, Len S Louw, Jasper van Zyl, Anita van der Walt en Ockie Strydom. ’n Mens kan met reg wonder waarom die Afrikaanse poësietradisie, waarvan so baie dokters deel is, nie al lankal ’n antologie soos hierdie een die lig laat sien het nie. Veral as ’n mens dit vergelyk met digter-teoloë in die Afrikaanse poësie – soos Totius, IL de Villiers, Pieter GR de Villiers en Cas Vos – asook die versamelbundels met ’n Christelike inslag (byvoorbeeld Cas Vos se omstrede Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte wat in 2017 verskyn het). Taljard se antologie mediese poësie is die eerste van sy soort in Afrikaans – ’n baanbrekersbundel, dus.

Marlies Taljard is die inhoudsbestuurder van die poësiewebwerf, Versindaba. As akademikus was sy voorheen verbonde aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom en aan die Universiteit van Fort Hare in Alice, waar haar navorsingsfokus hoofsaaklik op die literêre teorie en die toegepaste linguistiek gefokus het. Sy het ook talle akademiese artikels in vaktydskrifte, asook hoofstukke in boeke, gepubliseer.

Die gedigte in hierdie bundel is die resultaat van ’n digkompetisie oor mediese toestande wat tydens 2023 en 2024 op Versindaba verskyn het, en wat hier gedokumenteer word as patografie, of kunswerk oor siekte en pyn, maar ook oor hoop, genesing en herstel. Die bundel bevat die verse van 36 bekende en minder bekende digters.

In die voorwoord verwys Taljard na bekende teoretici wat oor patografie geskryf het, byvoorbeeld Susan Sontag (Illness as metaphor and AIDS and its metaphors, 1978) en Michel Foucault (The birth of the clinic, 1973). In Afrikaans staan Hendrik J Botha se meestersverhandeling, “Dokters as digters in die Afrikaanse letterkunde”, uit. En ’n belangrike toevoeging tot dié interdissiplinêre studieveld is insgelyks Franco Colin se teoretiese gedeelte van sy MA-verhandeling in skeppende skryfkuns oor die verband tussen poësie en psigiatrie, wat later as ’n debuutbundel, Skeletaal (2022), gepubliseer is.  

Wanneer dit kom by die konsep mediese poësie, is die belangrikheid van flikker-gram vergelykbaar met dié van Michael Salcman se Poetry in medicine: an anthology of poems about doctors, patients, illness and healing. Ongelukkig is die kritiek op Salcman se bundel dat daar té veel mediese werkers en te min gewone mense, soos pasiënte, se gedigte gebundel is. En dit is die slaggate wat Taljard met flikker-gram vermy het. Dit is ’n bundel waarin gewone mense hulle ervarings met siekte en mediese behandeling deel; en ’n bundel wat vir die gewone leser geskryf is – alhoewel dokters betrokke was by die projek. As ’n bundel wat geore uit ’n digkompetisie op Versindaba, bied flikker-gram ook ’n uitstalvenster vir nuwe talent (en gevestigde digters se werk). Dit is toeganklike, maar goeie poësie wat steeds die fyn balans in hierdie interdissiplinêre veld, poësie en mediese praktyk, behou.

Die primêre betekenis van die titelterm, flikker-gram, is ’n diagram wat die verspreiding van radioaktiewe spore in ’n deel van die liggaam aantoon, en wat lyk soos veelvuldige flou liggies wat as’t ware deur ’n dowwe spieël skyn. Die praktyk van flikkergrafie word vir sowel diagnostiese as terapeutiese doeleindes aangewend. Die leser kan ook speel met verdere woordbetekenis, soos dat die lewe slegs ’n flikkerbeeld op ’n monitor is, en ten opsigte van massa bloot ’n gram is – weglaatbaar min.

’n Formele rubrisering ontbreek en die gedigte is volgens die onderskeie digters se vanne georden.

Nou kan die leser tereg vra: Wat is die doel, of funksie, van mediese poësie? Waarom dit skryf of lees?

Die eerste rede het waarskynlik te doen die behoud van die integriteit van die menslike liggaam. Sedert die antieke tye is dokters gesien as sjamane, genesers en towenaars. Dokters red lewens. Hierdie mediese mistiek van eons gelede is steeds met ons. Dokters word gesien as die wonderwerkers wat soos gode oor die liminale grense van lewe en dood beweeg. Hierdie mitemakende argetipes onderliggend aan mediese praktyk word gevind in Anton Döckel se “Sjamaan” (63–5), waarin die spirituele domein wat siekes omring, op die voorgrond tree. Die dokter Hendrik J Botha betrek in “Blindelings” ’n kosmetiese prosedure, met slim inspeling op Sneeuwitjie (41): “‘Spieëltjie spieëltjie aan die wand, / wie’s die mooiste in die land’ … // ‘in die land van die blindes my kind, bly eenoog steeds die koningin.’” In “Onverhinderd” (173) is Hannes Visser se mitiese boustof ’n Khoisan-oorlewering met betrekking tot die sterfproses.

Die tweede funksie van mediese poësie is in ’n mate voyeuristies – lesers het ’n inherente fassinasie met die fisiologie wat ónder die vel skuil. Tot ’n eeu of wat gelede het ons nog nie veel geweet van die werking van die menslike liggaam nie. In Maritha Broschk se “onoorwonne kaper” (45–6) word ’n groeiende breingewas as ’n skrikwekkende siektetoestand beskryf. In teenstelling hiermee verbeeld Anne-Marie Bartie in “op die keper” (17–8) ’n nadoodse ondersoek wat op die spreker gedoen word, op ’n sardoniese en selfironiserende wyse.  

Die derde funksie vir die lees en skryf van mediese poësie is dat dit in die behoefte aan die noodsaak van katarsis voorsien. Volgens Aristoteles behels goeie drama ’n loutering tussen die sterflinge en gode wat as leerskool vir die lewe dien, en wat is beter as onder meer die spitsgedrewe omgewing van ’n hospitaal met sy trauma en persoonlike betrokkenheid by siekte, hetsy as arts, toeskouer of pasiënt? Mediese praktyke en siektetoestande skep natuurlik ’n dampkring vir vérdere onderliggende, of ontluikende, drama, soos maatskaplike probleme, armoede, gesinsgeweld, misdaad, of donker huishoudelike euwels. ’n Digter soos Marthé McLoud besef dat die oopskryf van die (aangerande) vroueliggaam nie in isolasie bestaan nie, maar omring word deur maatskaplike uitdagings.

Asma

Snags stap ou tant Siena
uit die Verseboek straat-op
(die spek en antipon vergete)
om met haar sware stampers
verbete
op sy bors te kom sit
totdat ’n hyg en fluitgeluid
bykans sy lot besweer.

En as sy opstaan
fluister hy, “Dank die Heer”
en sit sy asmapompie neer.

(Na AG Visser se gedig “Vet”)

McLoud is ’n belowende digter en die literêre landskap sien met verwagting uit na haar debuut.

Die vierde funksie vir die lees en skryf van mediese poësie speel waarskynlik uit in Mark Seltzer se beskouing rondom die sogenaamde “wound culture”, of wondkultuur, in sy joernaalartikel “Wound culture: trauma in the pathological public sphere” (1997).

........
Die samedromming rondom wonde of beskadigde liggame skep ’n infleksiepunt tussen private en publieke verwonding, en tussen die Self en die Ander.
........

Seltzer beskryf ’n kollektief, soos ’n samelewing, se fassinasie en sensasie met beseerde, siek of oopgeskeurde liggame. Geweld, dood en die onderstrominge verwant aan mediese toestande, soos misdaad, wek outotropiese gedrag by hierdie individue waarin die wondtema herhaal word: Ons almal is op die een of ander wyse verwond en ons almal dra nou ons letsels soos eremedaljes, alhoewel op ’n hartseer, of selfs makabere wyse. Die samedromming rondom wonde of beskadigde liggame skep ’n infleksiepunt tussen private en publieke verwonding, en tussen die Self en die Ander. Die woord “trauma” in Grieks beteken dan ook “wond”. Seltzer se beskouing van die wondkultuur eggo Aristoteles se antieke beskouing rondom die noodsaak van katarsis.

Marlise Joubert verras met “wanneer ’n ambulans” (93), ’n vers met ’n refreinagtige kwaliteit wat die klank van ’n ambulans simuleer. Linguisties is hierdie vers ’n juweel: Die “wanneer ’n ambulans” word herhaal tot net die kriptiese “wanneer”, en die sintaktiese dele wat werkwoorde moet bevat, verdwyn. Die suggestie kan selfs wees dat die spreker in die slotreël oorlede is.

Joan Hambidge skep ’n intertekstuele spel met Ernst van Heerden se biografiese geskiedenis, sy sportgedigte, en met “Vir die verhuisingsmanne”, ’n gelade vers wat uiteindelik ’n universele korrelaat word vir digterskap per se wat in wese ’n ongeneeslike toestand is.

Digterlike diagnose

Vir Ernst Van Heerden

In hierdie dae van rekenskap
gee oor siekte, is dit jou verse
wat my terugneem na die aard
van iets soos hulsels-van-kristal.

Die fikse gewigopteller ingeperk
deur ’n amputasie-só-dramaties.
Jou tyd-van-verhuising leunstaan
teen Dirk O se oorlewingsboek.

Soveel vrese, kanse-op-’n-wrak.
Die metafore van siekte binne-
aars beleef in ’n tyd van deemoed;
Geykte beelde immer uitgekap.

L’envoi

Die koue stetoskoop verklap
’n fladderende, bonsende hart.
Alle digters, wat my betref,
ly aan ’n toestand inkurabel.       (76)

Ook mediese praktisyns het met talle uitdagings te kampe. In die digter-dokter Ockie Strydom se gedig, “Heler” (143), span hy die metafoor van ’n blouvalk in as ’n troop en antidoot van ontvlugting téén die dood en ontgogeling waarmee hy as arts daagliks te kampe het.  

........
Afgesien van die perspektiewe van digtende dokters, is die verse geskryf vanuit die oogpunt van Jan Alleman se belewenisse met mediese verskynsels in al hul gedaantes: vanuit die perspektief van die pasiënt, die toeskouer/voyeur, en die mediese werkers. Ons is almal deelgenote aan mediese praktyke ...
........

En waarom kan mediese poësie nie vergesel word van ’n skeut humor nie? Rosa Keet, dogter van die digter-dokter AD Keet, se gedig “nog steeds om die gebeentes” spot met die “passion gap” wat sy (as “seksie lyk”) gaan hê.

Johann Lodewyk Marais verstaan die kuns van onderbeklemtoning in sy afstandelike, dog sensitiewe vers, “Mastektomie” (109), wat die leser se oë vogtig laat.

Mastektomie

In die sterfkamer maak ek Ma
se klere bymekaar: rokke, bloese,
truie, ’n jas, skoene, sakdoeke
en, onverwags, ’n roomkleurige bra
met watte aan een kant ingestop.

Ook die rol van diere as voyeurs van mediese toestande kom aan bod in Louis Esterhuizen se “Wat die duif my vertel het” (70–1). Duiwe is tradisioneel simboliese begeleiers tussen die lewe en dood, en die digter se aanslag in die eerste vyf strofes is bedrieglik lig – dan tref die onheilspellende slotstrofes die leser soos ’n uitknikker:

[…]

Dit is tóé dat ’n jafel op die vensterbank, hier,
oorkant haar hospitaalbed kom sit. Teen die ruit pik-pik,
koppie knak, pik-pik en pik, kompleet asof hy sê:
Watch’it, my bru.
Pasop vir next time, nè.

Dis mos maar hoe die duiwe praat
op ’n bepaalde Saterdag toe dit Vergelegen was,
winter, en skrikwekkend.          

Soveel fokuspunte, soveel onderliggende menslike narratiewe implisiet tot mediese gedigte. Ten spyte van individuele verskille, is ons almal uiteindelik uitgelewer aan dieselfde lot – ons is gewikkel in ’n ewige dialoog met siekte, dood en sterfgang. Of, om Susan Sontag in Illness as metaphor and AIDS and its metaphors (1978) aan te haal: “Illness is the night-side of life, a more onerous citizenship. Everyone who is born holds dual citizenship, in the kingdom of the well and in the kingdom of the sick. Although we all prefer to use only the good passport, sooner or later each of us is obliged, at least for a spell, to identify ourselves as citizens of that other place.”

.......
flikker-gram is die eerste van ’n poësiespesie in Afrikaans.
.......

flikker-gram is die eerste van ’n poësiespesie in Afrikaans. As ’n antologie mediese poësie, is die doel met die bundeling van kompetisiegedigte op Versindaba om goeie, maar toeganklike poësie te dokumenteer – nie “hogere literatuur” nie, maar gedigte wat afgestem is op alle lesers van poësie; maar terselfdertyd ’n versamelbundel wat nié inboet as dit by gehalte kom nie. Afgesien van die perspektiewe van digtende dokters, is die verse geskryf vanuit die oogpunt van Jan Alleman se belewenisse met mediese verskynsels in al hul gedaantes: vanuit die perspektief van die pasiënt, die toeskouer/voyeur, en die mediese werkers. Ons is almal deelgenote aan mediese praktyke – en daarom is Taljard se antologie ’n ideale kleinood om saam met die tydskrifte en glansbiljette in ’n dokter se spreekkamer aan te hou. Dat die pasiënt, die arts en die toeskouer nie bloot ’n stem in die woestyn is nie, maar dat daar heelwat lesers is wat sal resoneer – en identifiseer – met die veelvuldige fasette van die mediese praktyk.

Lees ook:

Nuut by Naledi: flikker-gram, saamgestel deur Marlies Taljard

Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels

Heil die Leser!: Oor kortkuns, briewe en toesprake

Die langverwagte deur Erwin Mortier, vertaal deur Fanie Olivier – ’n resensie

Liefde en verset deur André le Roux: ’n resensie

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top