Die afgelope twee jaar is gedigkompetisies waarin digters hulle gedigte oor mediese toestande of die mediese praktyk kon voorlê deur die poësiewebwerf Versindaba aangebied.
Die bundel flikker-gram is ’n konsentraat van die beste gedigte wat dié kompetisies opgelewer het en bevat gedigte van 36 digters wat elk op unieke wyse pyn en ontreddering in woorde navigeer. Gedigte van mediese praktisyns staan naas gedigte van pasiënte en leke; mans kyk anders na siekte as vroue; kanker word vrylik as tema ontgin terwyl vigs verswyg word; siekte word op teoretiese en diep emosionele vlak beleef; erns en spot word gejukstaponeer; die taal van siekte en pyn word ontgin; van vrye verse tot ballades, intertekstuele verse en kwatryne kom voor met verwysings na Eybers, Opperman, Ernst van Heerden en ’n magdom ander digters.
Die uiteenlopende gedigte in hierdie bundel word saamgebind deur die oorkoepelende metafoor van die flikkergram. ’n Flikkergram is nie ’n terapeutiese modaliteit per sé nie maar diagnosties, hoewel dit in terapeutiese prosedures aangewend kan word, maar dan in ’n diagnostiese hoedanigheid.
Die temas wat in hierdie bundel ontgin word, betrek die bestaan van elke mens. Susan Sontag skryf in Illness as metaphor dat siekte die skadukant van die lewe is en dat ons almal met dubbele burgerskap gebore word – enersyds in die koninkryk van die gesondes en andersyds in die koninkryk van die siekes.
Hoewel ons verkies om slegs die goeie paspoort te gebruik, word ons die een of ander tyd gedwing om ook die ander een te gebruik.
Die bundel flikker-gram is ’n toeganklike bundel wat wye aanklank onder wye verskeidenheid lesers behoort te vind.