Liefde en verset deur André le Roux: ’n resensie

  • 4

Titel: Liefde en verset
Skrywer: André le Roux
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184861

Vir baie jonger lesers sal die naam André le Roux nie bekend klink nie, maar diegene wat al in 1977 hulle poëtiese verstandstand gehad het, sal sy bundel Struisbaai-blues onthou, dalk veral omdat dit gou na die verskyning daarvan deur die destydse apartheidsregering verban is. Nou, byna ’n halfeeu later, verskyn Liefde en verset, Le Roux se tweede bundel – ’n lywige 135 bladsye leesplesier.

’n Titel soos Liefde en verset is nie ’n besonder kreatiewe keuse vir ’n digbundel nie, maar dit som die belangrikste temas van die bundel kort en saaklik op. Afdeling II, “Die liefde van naby gesien”, bevat 39 van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans: die liefde tussen man en vrou vanuit ’n verskeidenheid perspektiewe beskou. In ander afdelings word ook andersoortige liefdes besing: liefde vir die poëtiese woord, mededigters, die Karoo en die klein alledaagshede. Die bundel werk baie sterk met opposisies, teenstrydighede en disharmonie, en ek het verset hier dikwels as een van die “opponente” van die liefde gelees – verset teen die dood, aftakeling en die vervlietende aard van tyd in die eerste afdeling van die bundel, verset teen die einde van liefde, die onvermoë om die regte woorde te vind, die las van die verlede, die politieke moeras waarin ons ons tans bevind en besluite wat deur die magtiges geneem word.

........
Die skoonheid van die gedigte lê dikwels in die eenvoud van vorm en die suiwerheid van die betoog.
........

Die dood as tema speel ’n belangrike rol in die bundel en in dié opsig kenmerk dit die bundel (ten minste gedeeltelik) as laatwerk. Waar die liefde in die titel in die bevoorregte, eerste posisie staan, word die dood in teenstelling daarmee bevoordeel deurdat die eerste afdeling van die bundel, getitel “Tanatos”, 21 gedigte bevat wat aan die dood as tema gewy word. Verset teen die dood spreek uit die meeste van die gedigte. Dikwels is dié gedigte in ’n uittartende toon geskryf, soos in “mister death” (14):

ek’s nie jou blouoogseun nie
meneer die dood

ek neem nie maklik aanstoot nie
maar jy staan te na aan my
met jou goor asem in my oor
sê wat jy wil sê
en vee die grimmigheid van jou gryns af.

Struktureel is die bundel in vyf afdelings verdeel, te wete I “Tanatos”; II “Die liefde van naby gesien”; III “Digter wordende al skrywender”; IV “Sing die Karoo sing”; en V “So val ons van Afrika af”. Die belangrikste temas per afdeling behoort uit die afdelingstitels duidelik te wees. Die eerste twee afdelings – oor die dood en die liefde – is elk beduidend langer as die ander afdelings.

In die eerste deel van afdeling I word die dood in verskeie gedigte gepersonifieer as ’n onwelkome besoeker of personasie van wie die digter-spreker homself probeer losmaak: “ek is die dood se droster” (19); “ek steier op en skop / teen prikkels ongeduldig” (15).

Deel van die doodstema is die besef van tyd wat verbyglip en die onafwendbare afloop van die lewe: “die lewe is net ’n nies lank” (21); “’n mens kan net soveel tyd in jou hande hou / voor dit deur jou vingers glip” (35); “die lewe is net ’n sug” (39).

Die gedigte “tydgenoot” (29), “voetganger” (30), “ou man kyk af” (31), “skerpskutter” (33), “stil loon van die dag” (33) “stasies” (34), “tussen seisoene” (35), “anatomieles” (36) en “knokkige hart” (37) handel oor die ouer wordende en afgetakelde mens wat homself as’t ware van buite én van binne die eie lyf betrag, soos in die laasgenoemde twee gedigte. In “anatomieles” word die outopsie beskryf van ’n afgeleefde liggaam met die hart “effens aan flarde”. In die volgende gedig word die spreker se eie hart min of meer in dieselfde terme beskryf:

my hart wapper in sy eie bloed
en vou homself toe soos ’n vuis
waarin ’n mot fladder

die hart is ’n randeier
wat sy eie pret bederf
soos knokke op vingers

wat nie meer vat kan kry
aan die lewe nie
(...)

Die laaste twee gedigte in die afdeling handel oor ’n moeder en die dood van ’n vader. Die gedig “fokkerof die hoenderpastei” (38) is een van die aangrypendste elegieë wat die afgelope jare verskyn het en handel oor die dood van (waarskynlik) die digter se vader. Tematies vind die gedig aansluiting by die twee voorafgaande gedigte, “anatomieles” en “knokkige hart”, deur verwysings na anatomiese besonderhede en na die res van die afdeling deur die beskrywing van ’n stadige dood en die verloop van tyd – in hierdie geval ondraaglik stadig. Die verwisseling van registers tussen die banale, die besinnende, die elegiese en die ironiese is ’n kragtoer. Dit is ’n lang gedig. Ek haal enkele reëls aan:

(...)
hierdie boonste hartkamer hierdie long hierdie aneurisme
fokkerof!
hierdie bayer© asprin cardio van faull’s apteek
hierdie betapam die helfte van 5 geel mg
(“pa het wragtag weer die verpleegsters met kussings gegooi”)
vat dit dan ’n hele dag ’n hele nag en nog ’n hele dag
dan wéér ’n nag en nóg ’n hele donnerse dag uit jou lewe
om woordeloos en sonder speeksel te sterf
teen kwart oor agt die aand

(“hoor pa my? ek kan pa nie hoor nie”)

die verpleegsters het vir pa hallelujas gesing dit het pa laat glimlag
pa droom
(...)

En die slot:

hierdie boonste hartkamer hierdie long en aneurisme
gee maar die viennas! gee maar die hallelujas!
die lewe is net ’n sug pa hemelpastei in ’n droë mond.

Wat tegniese afwerking betref, is hierdie afdeling besonder keurig gekonstrueer deurdat gedigte deur sterk kohesiekragte en vooruit- en terugverwysings met mekaar verbind is. As geheel is die afdeling koherent deurdat dit ’n afgeslote geheel vorm, ’n duidelike tematies begronde struktuur het, maar ook tematies en met variasie van temas aan die res van die bundel verbind is. Hierdie struktureringsbeginsel is dwarsdeur die bundel aanwesig – ook in die ander afdelings – en ek gaan dit dus nie telkens weer bespreek nie. Ek wil die digter komplimenteer vir die weldeurdagte afwerking van die bundel. Dit is een van die sterkste kriteria wanneer bundels in hul geheel beoordeel word.

Die tweede afdeling, “Die liefde van naby gesien”, bevat 39 liefdesgedigte. Hier sou ek dalk ’n strenger keurdershand wou gesien het, veral by gedigte wat tematies en struktureel baie op mekaar trek. Tog, soos ek vroeër aangedui het, bevat hierdie afdeling gedigte wat treffend is, veral dié wat eenvoudig en onopgesmuk is. ’n Groot aantal gedigte sluit intertekstueel aan by Afrikaanse digters of digters uit ander tradisies, soos die handvol Tao-gedigte (61–3), die ses haikoe (53), “‘this beauty is soft’” (46) (Pablo Neruda) en ander. Die eerste gedig in die afdeling, “tinktinkie” (45), verwys intertekstueel onder andere na Breyten Breytenbach se bekende gedig uit die ysterkoei moet sweet (Perskor, 1964, bl 80):

my wintervrou is ’n klein klein voël
tjie tjie tjie
wat met drome goël
(...)

tinktinkie

my vrou is ’n tinktinkie
met rooi wange
of as jy wil ’n vinkie
’n bonsende tiptolletjie
van nuuskierigheid

sy’s eintlik ’n kwikstertjie
want sy kwik haar stertjie
en soms is sy ’n koestertjie

haar hart ’n klein toktokkie
met ’n baie belangrike briefie
om af te lewer.

Hier sien ons Le Roux se liefde vir woord- en klankspel, wat die bundel stilisties kenmerk. Speelsheid, erotiek en liriek kom deurgaans in hierdie afdeling en elders voor, maar veral in die liefdesgedigte.

Sommige gedigte insinueer sensualiteit; ander is eksplisiet eroties, soos “ontmoeting” (49) en “feromoon” (50) wat op die paargedrag van diere inspeel, “vrou in ’n ligte somerrok” (47) en die treffende haikoe (53):

aandblom het gaan slaap
in die oggend se oop hand
’n morning glory

Die gedig “alles eetbaar in my tuin” (51) sluit ooglopend aan by gedigte in TT Cloete se oeuvre, veral in Angelliera (Tafelberg, 1980):

alles eetbaar in my tuin

a! die noem-noem en die koejawel
die granaat en die wollerige kweper

moenie vergeet van die loekwart
o! die koemkwart en die kleine appelliefie.

By Cloete kry ons byvoorbeeld “Stillewe” as deel van die gedig “Tuin” (Angelliera, ble 9–11):

Julle kan julle meer as vergaap
aan die vreugde
wat ons mense na-aap
in ons soetste geneugte

Die appel is by
haar stengel mooi ingevou
soos met ’n man in haar in sy
mooi liewe vrou

Die piepasang
lê begerend boogstyf
opgerig en verlang
na die innige vinnige in-lyf
(...)

Let op die ooglopende tematiese ooreenkomste tussen die twee gedigte, asook die spel met klank, en dubbelbetekenis.

Die gedig “liefde is so kort” (65) is ’n herskrywing van Pablo Neruda se bekende gedig “Puedo escribir los versos más tristes esta noche” (“Tonight I can write the saddest lines”) waarin die woorde “Liefde is só kort, en vergeet só lank” voorkom (vertaal as “Ek kan vanaand die weemoedigste verse skryf” deur De Waal Venter, Vandag is boordensvol, Naledi, 2019, bl 10).

liefde is so kort

liefde is so kort
vergeet is so lank

anders gestel:
vergeet vat veels langer
as om lief te hê

hoe kan ek vergeet hoe
wyd jou liefde
onder die sterre was hoe
moeiteloos jou offers hoe
skaam jou beskerming hoe
stil jou asem hoe
skroomloos dapper jou klein hart
in my hande hoe
sonder skrik
die dun naaldekokers van jou polse

anders gestel:
die nagte was te kort
vir so ’n lang liefde

ek onthou jou
tot in die uithoeke van my mond.

Gelees saam met AG Visser se bekende “Die roos” (Groot verseboek, Tafelberg, 2008, bl 105), blyk duidelik hieruit dat geen kuns heeltemal oorspronklik is nie en dat alle geskryfdes slegs fragmente van vorige tekste is – gaan lees maar die semiotici en veral Umberto Eco.

Die roos

Te kort jou skoonheidsduur,
Roos van my hof;
Vir jou volmaakte uur
   Die gewer lof.

Te kort ons liefdestyd:
   Te lank die rou.
Tog – tot in ewigheid
   Goddank vir jou.

Wat my in hierdie afdeling effens gehinder het, is dat daar verskeie gedigte in die imperatief (bevelsvorm / gebiedende wys) voorkom wat later hinderlik raak – gedigte soos “ek woon nie meer hier nie” (82), “laaste woord ’n misverstand” (77), “wanneer ek doodgaan” (84) en “begrawe my voete” (85).

’n Ars poëtika-afdeling het blykbaar die afgelope jare ’n verpligte deel van digbundels geword. Ook in dié bundel kom ars poëtikale gedigte voor (in die derde afdeling, “Digter wordende al skrywender”). Die eerste gedig in die afdeling, “ars poetica” (89) werp lig op die bundeltema:

ars poetica

suiker op die tong
sout in die wond
dis wat die digter
laat huil soos ’n hond.

Dat die digter hom deeglik bewus is van die werk en die impak van digters voor hom, blyk in hierdie afdeling waarin hy oor sy digterlike praktyk besin, veral aan die hand van digterlike saampraat en teenspraak as poëtiese praktyk. In “vir li po” (93–5) en “vir tu fu” (97) betoon hy sy respek teenoor twee van die grootste Chinese digters uit die agtste eeu – aansluitend by die drie gedigte “chinese wiskunde” (61), “ark” (67) en “die grasie van tyd” (63) wat steun op die beginsels van die Tao te Ching, asook op die ses haikoe (53). “[V]erslag van ’n skermutseling” (98) verwys eweneens na Li Po en Tu Fu, maar nou in die geselskap van ’n bonte verskeidenheid ander digters en kunstenaars, onder andere Loftus Marais (Staan in die algemeen nader aan vensters, Tafelberg, 2009), Raymond Carver, Kris Kristofferson, Hank Williams, Leonard Cohen en Charles Bukowski.

Die vierde afdeling, “Sing die Karoo sing”, word gewy aan gedigte en lirieke van Afrikaanse digters soos Boerneef (“langeberge”, 105, “die aandster het ’n veer laat val”, 106, en “boerneef sou dit nooit kon dink nie”, 107), NP Van Wyk Louw (“karoodorp skemeraand”, 109, “klipwerf montagu”, 110 en “karoodorp somermiddag”, 111) en DJ Opperman (“die weduwee viljee”, 108).

Die laaste afdeling, “So val ons van Afrika af”, is belangrik as sosiale kommentaar op wit Westerlinge se plek in Afrika en ons verhouding met die kontinent en sy mense. Die gedig “vuil verskonings” (117–20) is hier ’n sentrale teks. Sowel wit selfingenomenheid as die skaamtelose grypsug van swart Afrikane word hier aan die groot klok gehang:

julle het gedink julle is wit soos die satyn
van julle glimlagte witter as sneeu
vanwaar die wit gluur en die swart afsku?

julle het geen benul van jul selfingenome
skynheiligheid nie
jul inhaligheid het julle ingehaal
(...)

en:

presidente wiegel-waggel
giegel-gaggel met kleintongetjies
agter wit hoendertande terwyl hulle
in die see kak en probeer waardig lyk
soos onnerable members handjies
gevou soos horingbeeste en tenderaars
die kurrikula van plunderaars en despote
met die buit van binne
(...)

In hierdie afdeling is donker ironie die oorwegende toonaard, soos in “betoging” (121):

kyk die glinsterende lyke opgehang aan ’n reënboog
soos vuil boodskappe aan ’n wasgoeddraad
(...)

TT Cloete se “Behoefte aan ongunstige weers- en ander omstandighede” (Angelliera, bl 30) en ander gedigte in dié styl eggo in “te veel te min” (112):

(...)
te veel karigheid
nie genoeg klarigheid
te veel woorde van bemoediging
nie genoeg moed
te veel spektakels op sosiale media
nie genoeg orakels
(...)

Veral in hierdie afdeling word homonieme en homofone, vaste uitdrukkings en idiome aangewend as ironiese ondermyning en uitbreiding van betekenis. Vervreemding (vreemdmaking van bekende woorde en uitdrukkings) as kritiese besinning kenmerk die meeste gedigte in hierdie afdeling, maar is ook ’n stylgreep wat dwarsdeur die bundel voorkom. Ek haal één voorbeeld aan uit “vuil verskonings”:

(...)
aan wie dra julle nou jul eie dood op
nadat jul seuns grensloos gesterf het
onder die vlerkgeklap van koeëls en vlieë?
die here weet
jul gebede van lank gelede was fake news
met witgepleisterde hande vol sunlightseep
(...)

Oor die algemeen is die digter geneig tot korter gedigte en eenvoudiger poëtiese vorme. In die langer gedigte gaan die argument soms verlore en het ek as leser die draad verloor – soms weens oormatige herhaling. Die skoonheid van die gedigte lê dikwels in die eenvoud van vorm en die suiwerheid van die betoog.

Ten slotte: Liefde en verset is ’n sterk bundel wat beslis meer ernstige aandag verdien as wat dit tot dusver ontvang het. Dit is ’n bundel wat ’n ryke oes goeie gedigte oplewer wat sowel ernstige poësielesers as lesers wat vir die plesier lees, tot nadenke behoort te stem. Dit is ’n bundel waarvan die lees my baie vreugde verskaf het.

Lees ook:

Tuin van Digters 2024: Engela Duvenage deel haar foto’s

Unisa-seminaar: Charl-Pierre Naudé oor Rooiborsduif (2019)

LitNet Akademies-resensie-essay: Breytenbach in 2019

Liefde is ... Kortlys

  • 4

Kommentaar

  • Ek lees die bundel so suinig-suinig. Neem elke woord in en verteer dit mettertyd. Koop hom!

  • Gert van der Westhuizen

    Liewe Marlies - ek dink daar is meer… ek wonder hoe voel jy uit jou hart uit oor die gedigte?

    Resensielesers is klaar beïndruk met jou.

    Elke gedig kom in mens - skrywe asb ook so daaroor, verby die eng akademiese, formele taal?

  • Marlies Taljard

    Beste Gert.
    Daar is baie maniere om resensies te skryf en daar is baie resensente wat "uit die hart" resensies skryf. Ek het hierdie resensie spesifiek meer "akademies" geskryf omdat ek dink dat die bundel groter literêre waarde het as wat op die oog af sigbaar is, want baie lesers lees net met hulle emosies. Daarom het ek probeer illustreer waarop navorsers moontlik sou kon fokus én wat alles in berekening gebring moet word wanneer die literêre waarde van 'n digbundel bepaal word. Met woordbeperkings (min lesers lees lang resensies klaar) fokus ek liewer op een aspek van 'n bundel wat ek deeglik kan bespreek as om te probeer om die bundel omvattend te bespreek. Die doel van 'n resensie is om kortliks te evaueer en op LitNet wat 'n sterk akademiese fokus het, fokus ek dus graag op teoretiese aspekte.
    Ek het wel die bundel geweldig baie geniet en het inderdaad gesê dat dit van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans bevat en in die slot (die belangrikste deel van die teks) dat die bundel my veel plesier verskaf het. Ja, dit is 'n bundel waaroor mens nie uitgeskryf of uitgepraat kan raak nie. Die metafore is stunning en baie gedigte laat die trane vryelik loop. Gedigte wat tegnies goed werk én 'n impak op die leser het, is die beste gedigte, en daarvan is daar genoeg in "Liefde en verset".
    Groete.
    Marlies Taljard

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top