Tuin van Digters 2024: Engela Duvenage deel haar foto’s

  • 1

Saamsaam was die tema van vanjaar se Tuin van Digters-fees op Wellington, wat op 13 en 14 September 2024 by die Breytenbach Kultuursentrum aangebied is. Die programsamesteller, Francois Lötter, het dié tema gekies na aanleiding van Breyten Breytenbach se gedig “Maanplant” (September 2023) waarin hy vra: “[W]at neem ek vir die saamsaam saam?”. Daarby het Breytenbach verlede jaar by die einste fees die volgende stelling gemaak: “Ons is ’n weerspieëling van wat die geskiedenis ons gemaak het … en hoe ons mekaar mismaak het met die geskiedenis as verskoning. Punt is egter: Ons gee wragtag nie toe dat ons so gemaak en laat staan is nie. Want hierdie is ’n ruimte vir hibridisering en méér: vir saam-mekaarandersmaak.”

Ingrid Jonker (1933–1965) is as feesdigter gehuldig. Sy sou vanjaar in haar 90ste lewensjaar gewees het, en is daarom in verskeie produksies onthou. Dit sluit die video “Ingrid Jonker – Wêreldwyd” deur Petrovna Metelerkamp in, toonsettings van haar gedigte deur Ilana de Vlakte, en ’n woordkunsprogram, Ontvlugting & Tussen bloeisels, wat klassieke musiek met die gedigte van Jonker en Breyten Breytenbach vermeng het.

Van paneelbesprekings tot woordmusiek was alles deel van die 2024-Tuin van Digters-fees, wat bekendstaan as “die tuiste van Afrikaanse digkuns”. Die hoofborge was die Dagbreek Trust se trust vir kuns, kultuur en erfenis, in samewerking met NB Uitgewers.

Almero Oosthuizen, voorsitter van die Breytenbach Kultuursentrum Trust, op pad na die Digterstuin digby die Breytenbach Sentrum. Die tuin, wat onder meer aanhalings uit bekende Afrikaanse gedigte insluit, is destyds deur die Wellingtonner Johan Conradie begin op wat eens ’n parkeerarea was. Vanjaar is beelde van Gerhard van Eck as deel van die Tuin van Digters-fees, wat deur dié groen stukkie aarde geïnspireer is, uitgestal.

Alfred Schaffer, wat voorheen as feesdigter gehuldig is, en Lynthia Julius in gesprek in die Digterstuin. Julius het as deel van die program oor haar nuwe bundel, Kinderlê, met Alwyn Roux oor sy Weerskyn gesels.

Die Nederlandse digters Joost Oomen en Somone Antanga Bekone was Vrydagmiddag die eerste digters wat in die ATKV-Akkoordtent opgetree het. Hulle is bekendgestel deur Alfred Schaffer (links). Hul besoek aan Wellington en ander geleenthede in Suid-Afrika is moontlik gemaak deur die Kaapse Forum Neerlandistiek.

Die woordkunsprogram Ontvlugting & Tussen bloeisels het klassieke musiek met die gedigte van Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach vermeng. Dis aangebied deur die sopraan Elizabeth Marais, basbariton Corniël Calitz, pianis Lara Kirsten en komponis Andre Strijdom.

Van die profielfoto’s wat Paul Alberts in die 1970’s en 1980’s van bekende geeste in die Suid-Afrikaanse kunsgemeenskap geneem het, is deur sy weduwee, Charmainé Alberts, saamgevoeg vir die uitstalling In die oomblik. Dit sluit foto’s van ’n jong Antjie Krog, Pieter-Dirk Uys en Sandra Prinsloo in. Dis nog in die Cloete Gemeenskapsgalery by die Breytenbach Sentrum te sien.

Elizabeth Gunter se uitstalling Str(a)y is as deel van die fees in Anne-Ghrett Erasmus (op foto) se Breytenbach Galery te sien. Gunter was tot 2022 verbonde aan die Universiteit Stellenbosch as professor in visuele kunste.

Die opening van die visuelekuns-aanbieding is waargeneem deur Stella Viljoen, medeprofessor in visuele studies aan die Universiteit Stellenbosch.

Saterdag se program het onder meer vir leerders van Weltevrede Sekondêre Skool op Wellington onder leiding van leerkragte Ashlene Ayford en Marlize Fortuin kans gegee om in die ATKV-Akkoordtent van hul gedigte voor te dra. Daarby was die naburige Woordtent se verhoog vir ’n uur of twee behoorlik besig soos wat digters – jonk en oud – tougestaan het vir ’n beurt op die Open Mic-verhoog.

Hermien “Bamboesina” de Vos het die Open Mic-gehoor geboei met haar aanbieding van “Die heks van Kasteelkop”, oor ’n vrou wat die fynbossee bewaak. Agtergrondklanke is deur lede van die band Orwellington verskaf.

Wilhelm Stols van Malmesbury het die geleentheid wat deur die Open Mic-verhoog in die Woordtent geskep is, benut om uit sy bundel voor te lees.

Digter en akademikus Jannie Pretorius (agter) luister na een van die produksies op die program na sy gesprek met  Alwyn Roux oor sy bundel Stil gesprek. Dié bestaan uit 24 ekfrastiese gedigte wat na aanleiding van Geo Jooste se natuurfoto’s geskryf is.

Andries de Beer (staande) se bundel aalmoes vir die bootman is gekombineer met musikale verwerkings. Saam met hom op die verhoog was Norra Marris (kitaar en sang), Ruben de Beer (ukelele en tromme) en (nie op foto nie) Kristi Boonzaaier (klarinet en klavier) en Cornel Hanekom (viool).

Diana Ferrus het vir Gaireyah Fredericks oor Een voet innie kabr uitgevra.

In die paneelbespreking “Saambestaan” het Andries Visagie ’n gesprek gelei met Martina Klopper, Jolyn Phillips en Bibi Slippers rondom die saambestaan van die mens, natuur en masjien, en hoe dit in hul digkuns neerslag vind. Dis aangebied danksy PEN Afrikaans.

Bibi Slippers luister na haar medepaneellede as deel van die “Saambestaan”-gesprek.

Danie Marais en musikant Riku Lätti het gesels oor, en voorgelees uit, hul onderskeie bundels, Ons twee bestaan nie en Taboek. Die sessie is aangebied deur NB Uitgewers en Naledi.

Die pianis Rocco de Villiers het die middag musiek gemaak en voorgelees uit sy bundel Die eiesoortiges, wat deur Turksvy Publikasies uitgegee is.

Hansie Roodt, ’n lid van Rocco de Villiers se band, het ’n gedig uit Die eiesoortiges getoonset.

Bernard Odendaal was in gesprek met Jaco Barnard-Naudé (Om my kastele in Spanje te sloop), André le Roux (Liefde en verset) en Hennie Nortjé (Noord van Malelane). Die sessie “Digters praat saam” is deur NB Uitgewers en Turksvy Uitgewers moontlik gemaak.

Alwyn Roux was met Louise Viljoen in gesprek oor Protea Boekhuis se heruitgawe van Ingrid Jonker se versamelde werke.

Die ATKV is vir die volgende drie jaar die naamborg van die gewilde Bôrdienghuisteater by die Breytenbach Sentrum, en het ook die Akkoordtent by die Tuin van Digters geborg. Hier voor die teater is Japie Gouws, voormalige besturende direkteur van die ATKV, saam met Francois Lötter, programsamesteller van die Tuin van Digters-fees, Louis Duvenage, uitvoerende voorsitter van die niewinsgewende Breytenbach Kultuursentrum Maatskappy, en Theuns Eloff, voorsitter van die Dagbreek Trust en die Dagbreek Trust se trust vir kuns, kultuur en erfenis, en een van die borge van Tuin van Digters.

Die digter en vertaler Daniel Hugo (foto) was in gesprek met Rudolph Willemse oor sy derde bundel, Swartland. Die gesprek is moontlik gemaak deur Turksvy Publikasies.

Johan Anker, wat onder meer betrokke was by verskeie uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls en gereeld oor Afrikaanse jeuglektuur skryf, op die terrein van die Breytenbach Sentrum.

Tuin van Digters is reeds die afgelope vier jaar die plek waar die veeltalige Ons Klyntji-zine bekendgestel word. Die 128ste uitgawe (geborg deur kykNET) bevat 113 verskillende bydraes in die vorm van gedigte, foto’s, sketse en kortverhale. Die voorblad is ontwerp deur Octavia Roodt. Die joernalis Toast Coetzer (op foto) het saam met Erns Grundling en Joe Botha as redakteurs gedien.

Sjaka S Septembir, reeds jare lank ’n gereelde bydraer tot Ons Klyntji, lees sy gedig “Leipoldt” in die 2024-uitgawe voor. Sjaka die skrywer is van die roman Die bardo van Biko April.

Zubayr Charles lees sy gedig “Lappie” in Ons Klyntji voor. Die zine gee reeds 128 uitgawes lank vir beide gevestigde en nuwe skrywers en digters kans om saam-saam te publiseer.

Natasha Harmse en Tom Dreyer (wat albei vanjaar in Ons Klyntji gepubliseer het) en (middel) Alwyn Roux (wat met Weerskyn gedebuteer het).

Frieda van den Heever en Deon Meiring het die gehoor meegesleur met liedjies van haar debuutalbum, Spoorsny. Sy het ook gedigte van Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Petra Müller en ander digters getoonset.

Die Ingrid Jonker-prys vir debuutbundels word om die beurt vir Engelse en Afrikaanse bundels toegeken, en word reeds die afgelope jare tydens Tuin van Digters oorhandig. Vanjaar se wenner is Sarah Lubala vir A history of disappearance.

Sarah Lubala, wenner van vanjaar se Ingrid Jonker-prys vir ’n debuutbundel in Engels, kon weens die onlangse geboorte van haar kind nie die oorhandiging bywoon nie. Jolyn Phillips, ’n voormalige wenner van die prys, het van Lubala se gedigte voorgelees.

Francois Lötter was vanjaar se programsamesteller. Die fees is moontlik gemaak deur ’n klein maar gedugte plaaslike span wat by die Breytenbach Sentrum betrokke is. Hier, saam met Esti Kotze (naaslinks), is van dié staatmakers. Van links is Jessica Ruiters, kantoorbestuurder van die Breytenbach Sentrum, Jeanine du Frene, bestuurder van die Bôrdienghuisteater, Ester Kotze van The Book Traders-boekwinkel, Louis Duvenage, uitvoerende direkteur van die niewinsgewende Breytenbach Kultuursentrum Maatskappy, en Jenny Bastiaan van die Bôrdienghuisteater.

Die fees is met woema afgesluit deur ’n saam-saam dans met Willim Welsyn en die Sunrise Toffies.

  • 1

Kommentaar

  • Lezettevan Jaarsveld

    Wat my veral opgewonde gemaak het ws die jong digters...kletsrymers se passie vir die taal

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top