LitNet Akademies-resensie-essay: Breytenbach in 2019

  • 0

Dewald Koen bespreek die volgende Breytenbach-publikasies wat in 2019, die jaar van sy 80ste verjaarsdag, verskyn het:

breyten breytenbach – woordenaar woordnar: ’n Huldiging
Francis Galloway (Redakteur)
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485304845

Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde
Breyten Breytenbach (Saamgestel deur Charl-Pierre Naudé)
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178761

op weg na kû
Breyten Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178624

Vir die woordenaar, Woordnar, het woorde nie einde nie, is hulle tegelyk geskiedenis en implikasie en onderbewussyn (die woorddroom, die labirint, die beesmens se duende) – en maak aan ons bekend wat ons liewer nie wil weet of wil onthou nie. Hulle openbaar ons aan onsself. (op weg na kû, 8.13)

Breyten Breytenbach alias Panus, alias Don Espejuelo, alias Bangai Bird, alias Kamiljoen, ook bekend as Woordfoël of Blackface Buiteblaf1 of vir meeste eerstejaarstudente in die Afrikaanse lettere sommer “die maer man met die groen trui”. Soos laasgenoemde name getuig, kan Breyten Breytenbach sonder twyfel as een van Afrikaans se mees kleurvolle, kreatiewe en innoverende woordkunstenaars beskou word. Min Afrikaanse digters kon tot op hede daarin slaag om Breytenbach se uitgebreide oeuvre in verskeie genres te ewenaar. As soms omstrede openbare figuur het Breytenbach ’n belangrike bydrae gelewer tot die openbare diskoers rondom verskeie aangeleenthede, insluitend die taaldebat aan die Universiteit Stellenbosch, en was hy ook uitgesproke teenoor die eertydse apartheidsbestel.

Op 16 September 2019 het Breytenbach sy 80ste verjaardag gevier. Twee digbundels, asook ’n huldigingsbundel uitgegee as deel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks boeke wat hulde bring aan literêre kunstenaars wat met die Hertzogprys bekroon is, het deur die loop van 2019 verskyn ter viering van een van Afrikaans se grootste “woordenaars”.

Breytenbach by sy 80ste verjaarsdag (foto: Naomi Bruwer)

Breytenbach as minnaar

Breytenbach se debuutbundel, die ysterkoei moet sweet

Breytenbach is en was sedert sy debuut met die ysterkoei moet sweet in 1964 ’n omstrede figuur. In haar proefskrif gepubliseer as Breyten Breytenbach as openbare figuur beskryf die literator Francis Galloway Breytenbach as “iemand wat afwyk van die algemeen aanvaarde patroon van wat ’n ‘Afrikaner’ is en doen” (1990:1). Sedert die sestigerjare was dit juis Breytenbach se neiging om “af te wyk” wat gereeld vir omstredenheid gesorg het, hetsy deur gedigte met ’n sterk Zen-Boeddhistiese invloed of sy huwelik met sy Viëtnamese vrou genaamd Ngo Thi Huâng Liên Yolande Bubi. Laasgenoemde is en was Breytenbach se steunpilaar, veral gedurende sy gevangenisstraf vanaf November 1975 tot en met sy onverwagse vrylating in Desember 1982, soos talle van sy tronkverse inderdaad getuig. Die meerderheid van sy digbundels word gevolglik ook aan Yolande Hoang Lien opgedra. Die besonderse liefdesverhouding word weerspieël in die honderde liefdesgedigte wat Breytenbach oor die jare geskryf het, ten spyte van die apartheidsregering se Wet op Verbod van Gemengde Huwelike (Wet 55 van 1949) wat die Breytenbach-egpaar van ’n gelukkige lewe in Suid-Afrika ontneem het.

Daar is 99 liefdesgedigte in Lady One opgeneem.

In 2000 is die bundel Lady One, waarin 99 liefdesgedigte opgeneem is, gepubliseer. Die bundel het bestaan uit ’n keur van 90 gedigte uit Breytenbach se toe reeds bestaande bundels en nege nuwe, voorheen ongepubliseerde liefdesgedigte. In Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde het die digter Charl-Pierre Naudé opnuut ’n groot aantal liefdesgedigte vanuit Breytenbach se bundels byeengebring. Die gedigte is uit 19 bundels geselekteer en dateer terug na Die ysterkoei moet sweet (1964). Drie liefdesgedigte uit sy jongste bundel op weg na kû (2019) verskyn ook in die bundel. Naudé se keuse van gedigte verskil grootliks van dié wat in Lady One (2000) opgeneem is – slegs 27 van die gedigte wat in Rooiborsduif verskyn, is ook in Lady One opgeneem. Oudergewoonte is die bundel aan sy geliefde opgedra: “aan haar vir wie ek opdragte skryf soos paringsdanse”.

Rooiborsduif sien esteties gesproke besonder mooi daaraan uit: hardeband met ’n foto van ’n jong, aantreklike Breyten en sy geliefde wat liefdevol op sy skouer slaap. Die monochromatiese foto strek oor die voor- en agterplat met die titel in rooi. Die bekende foto is in die sestigerjare op ’n Paryse trein deur die digter se broer Cloete geneem en versinnebeeld myns insiens die intense liefdesverhouding tussen Breytenbach en Yolande Hoang Lien.

Dié foto van ’n jong Yolande en Breyten verskyn op die omslag van die bundel Rooiborsduif.

Die titel is ontleen aan die bekende gedig “soos van vlerke” (2019:94) wat oorspronklik in Lotus (1970) verskyn het en waarmee menigte hoërskoolleerder al kennis gemaak het:

Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif
want niemand sal ’n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug
en ek weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so rooi oor jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ’n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ’n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie (2019:121)

Soortgelyk aan sy bundel op weg na kû (wat later bespreek word) is die deurlopende voëlmotief in talle van Breytenbach se liefdesgedigte sterk teenwoordig. In sy inleiding tot die bundel wat op die flapteks verskyn, noem Naudé dat “voëls ’n wederkerende beeld in ’n toonryke korpus [is] wat die kontinente en die seisoene oorspan en waarin die reismotief soos die as van die aarde draai”. Een van die groot verskille tussen Lady One en Rooiborsduif is dat die gedigte in Rooiborsduif chronologies volgens die publikasiejaar georden is. Laasgenoemde bied aan die leser ’n oorsig van Breytenbach se lewe, vanaf sy jongmensdae in Kaapstad, sy bannelingskap in Parys, sy tronkstraf, sy verblyf as banneling in die buiteland, asook sy huidige pendelaarsbestaan, wat chronologies deur middel van die liefdesgedigte uiteengesit word.

Alhoewel van Afrikaans se mooiste liefdesgedigte reeds in 1986 as Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (in 2006 heruitgegee as Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte) deur Fanie Olivier byeengebring is, is hierdie bundel uniek aangesien dit liefdesverse deur Breytenbach alleenlik bevat. Ironies verskyn Breytenbach se gedig “soos van vlerke” ook op die agterplat van die 2006-uitgawe van Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Breytenbach se liefdesverse is toeganklik en met dié praguitgawe sal veral ’n jonger generasie poësielesers (hopelik) kennis maak met die romantiese man in die groen trui. Naudé merk tereg op: “Die liefdesverse, sy hele persoonlike gevoelswêreld, word uiteindelik ’n openbare liefdesverklaring aan die mensdom wat geteken staan as ’n vrou.”

die gedig is soos ’n vrou
hoe kaler jonker
hoe groter pronker

die gedig is soos ’n vrou
het alles van die vrou
behalwe die borste
die bidplekke teen die hang
en die tabernakel naak
die oersprong van gesang

die gedig is soos ’n vrou oral
behalwe waar
dit nie soos ’n vrou is nie

Boetatjie van die Kaap: op weg na kû

Naas die bundel versamelde liefdesgedigte, het op weg na kû in 2019 verskyn. Dié lywige bundel bestaan uit nege afdelings, soos in die geval van sy vorige bundels Lotus (1970), Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (1993) en Die windvanger (2007). Op die voorblad verskyn een van Breytenbach se skilderye getiteld Boetatjie van die Kaap. Die skildery bevat talle simbole wat direk aan Breytenbach se gedigte gekoppel kan word. Die skildery se titel verwys na die digter self, met ’n masker van die digter se gesig wat op die Boeddhabeeld verskyn. 'n Paar kenmerke van Boeddhisme word uitgebeeld, naamlik die figuur wat in die lotusposisie mediteer met die bekende bedelbakkie op sy skoot. Die lotusblom en Bodhiboom is veral van belang aangesien die Bodhiboom deur Boeddhiste as ’n heilige boom beskou word. Boeddhiste glo dat die Siddhârtha Gautama (Boeddha) die vlak van verligting (nirvana) onder dié boom bereik het.2 Die lotusblom verteenwoordig reinheid, en steek bo die troebel water uit skei en die sittende figuur van materialisme en fisieke begeertes.3 Ook Tafelberg verskyn in die agtergrond (“Boetatjie van die Kaap”) tesame met ’n vliegende “woordfoël” (alias) en perd – beelde wat in talle van Breytenbach se skilderye en gedigte aanwesig is.

Dié skildery deur Breytenbach is getiteld Boetatjie van die Kaap en verskyn op die voorblad van sy bundel op weg na kû.

op weg na kû herinner aan Breytenbach se Katalekte (2012) met volop foto’s en skilderye wat die teks komplimenteer. Die foto’s en skilderye, soos met sy gedigte, bevat talle simbole en temas wat gereeld in Breytenbach se literêre arsenaal voorkom, naamlik voëls, die maan, diere soos perde en honde, liefde, ballingskap, metapoëtiese nadenke oor die woord en skryfproses, asook die mens se verganklikheid.

Die bundel se titel verwys na ’n abstrakte konsep waarin die spreker op weg (op reis) is na verligting. Kû word beskou as ’n sentrale konsep van die Boeddhisme. Volgens die Chinese Boeddhistiese Ensiklopedie stel die kû die mens in staat om tot die besef te kom dat alles op aaneenlopende basis verandering toon. Die individu moet bewus word van die Self, asook van die werklike realiteit waarin ons onsself bevind. Die titel sluit gevolglik direk aan by die digterlike reis wat in die bundel onderneem word, naamlik die spreker op soek na verligting.

Breytenbach se digterlike idiolek kom op besonders kreatiewe wyse in die vorm van gedigte, bepeinsings, gedagtes en kort-kortverhale in die bundel voor. Die nege afdelings vorm as geheel ’n siklus wat voltooi word – die reis na kû:

9.11. op pad na Kû
(die buite in te neem waar die binne spieëlvergaan)

om uit te kyk op niks
te belewe daar is niks
of selfs die vel van niks
of selfs die skyn van niks
om te knik en uit te kan kyk

asof die son om die planeet
sou wentel om die bome
teen die bult gebaai
in lig te vra vir die dans
van bewegingloosheid

wit bedwelming van Jasmyn
deur die ritme-raam
oop ademing van wind:
goeiemôre, son.
hoesê? nee, niks slaap nie

op weg na kû vorm ’n belangrike deel van Breytenbach se laatwerk. Soos in sy vroegste bundels is daar ’n sterk Zen-Boeddhistiese invloed in die gedigte teenwoordig. Die digter se bepeinsing oor die lewe en die pad vorentoe, die verlede en die hede, asook die liefde, oorheers die bundel vanuit ’n tematiese oogpunt. Die gedigte is ryk aan klank en beeld en die bundel as geheel getuig oudergewoonte van die digter se unieke visie op die wêreld waarin ons onsself bevind. Die visuele beelde word op geslaagde wyse by die woordelike komponente wat dit vergesel, geïnkorporeer. Met dié bundel verryk Breytenbach sy reeds bestaande korpus laatwerk.

Om die woordenaar te huldig

Francis Galloway is die samesteller van breyten breytenbach – woordenaar woordnar: ’n Huldiging

In haar voorwoord tot breyten breytenbach – woordenaar woordnar: ’n Huldiging noem Francis Galloway dat die boek “gekonseptualiseer [is] as akademiese boek met bydraes oor die woordwerk van Breyten Breytenbach” (2019:7). Die huldigingsbundel vorm deel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks boeke wat hulde bring aan literêre kunstenaars wat met die Hertzogprys bekroon is. Tot op hede het huldigingsbundels oor die werk van Adam Small, PG du Plessis, Pieter Fourie en Johann de Lange verskyn. Alhoewel Galloway die boek as ’n “akademiese boek” beskryf, is die verskeie bydraes deur gerekende literatore toeganklik vir die meeste lesers wat in Breytenbach se lewe en werk belangstel.

Die bundel open met ’n onderhoud wat Willem de Vries met Breytenbach gevoer het. Verskeie aspekte word in die onderhoud aangeraak, naamlik Breytenbach se siening oor filosofie, literêre pryse, sensuur, asook klimaatsverandering. Die onderhoud bied ’n eerlike, onopgesmukte beeld van Breyten Breytenbach as mens. Die leser verkry toegang tot die digter-skilder se diepste gevoelens en opinies oor verskeie diskoerse wat teenswoordig gevoer word.

Willie Burger bespreek in sy artikel die belang van ’n morele verbeelding by Breytenbach wat veral in die huidige sosiale milieu van kardinale belang is, terwyl Hein Viljoen op sy beurt kreolisering as poëtikale gegewe in van Breytenbach se latere bundels ondersoek. Alwyn Roux, een van Afrikaans se jong opkomende literatore wat spesifiek navorsing oor Breytenbach se werk doen, skryf oor landskapbenaderings met spesifieke verwysing na die gedigte “New York, 12 September 2001” en “die eiland van verbranding”. Roux se ondersoek fokus op twee beweegredes in Breytenbach se poësie, naamlik die vraag na wat dit beteken “om te wees” en die uitbeelding van die wyse waarop sterflikes op aarde woon. Roux se bespreking van die gedig “New York, 12 September 2001” is veral treffend en fokus op die verwoording van trauma en op watter wyse landskapbeskrywings tot die bewoording daarvan bydra.

Soos reeds genoem, kom die hond as simbool gereeld in Breytenbach se gedigte en skilderye voor. Louise Viljoen lewer in hierdie opsig ’n insiggewende bydrae in haar artikel “‘hand my hond’: ’n Dierestudies-perspektief op verskyningsvorme van die hond in die digter se latere poësie”. Met die ekokritiek wat stadigaan meer aandag in Afrikaanse literêre studies geniet, lewer Viljoen ’n belangrike bydrae tot die dierestudies as onderdeel van ekokritiese studies in Afrikaans. Ook Catherine du Toit en die filosoof Johann Rossouw het interessante bydraes tot die bundel gelewer.

Die bundel word afgesluit met twee artikels deur Francis Galloway waarin sy Breytenbach se loopbaan as skrywer en openbare figuur in oënskou neem. In “Breyten Breytenbach en die Hertzogprys vir Poësie” bespreek Galloway die omstredenheid rondom die digter en die Hertzogprys, veral sy weiering van die toekenning in 1984 weens politieke redes. Galloway word naas Louise Viljoen, Helize van Vuuren en Hein Viljoen as een van die kenners oor die werk van Breytenbach beskou. Haar intensiewe navorsing oor dekades heen getuig van deeglike kennis, wat in beide artikels vervat word.

Die bundel bevat verder ook ’n uitgesoekte bibliografie saamgestel deur Galloway en Roux waarby veral letterkundestudente en navorsers aanklank sal vind. Die foto-afdeling bevat ’n verskeidenheid foto’s wat vanaf Breytenbach se kinderjare strek en betrek die vele fasette van sy menswees. Dit is jammer dat geen bydrae van Helize van Vuuren in die bundel opgeneem is nie, aangesien sy ’n beduidende deel van haar jare lange navorsing aan die poësie van Breytenbach bestee het.

woordenaar woordnar is ’n gepaste huldeblyk aan een van Afrikaanse se grootste digters. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verdien lof vir die reeks pragpublikasies wat hopelik talle jong lesers aan Afrikaans se grootste skrywers en digters sal bekendstel. Die wye verskeidenheid onderwerpe wat in die bundel aan bod kom sorg vir ’n verrykende en intellektueel stimulerende leeservaring.

Samevatting

Die literator Louise Viljoen skryf soos volg in haar boek Die mond vol vuur – Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach (2014:vii): “Die belangrikheid van Breyten Breytenbach in die literêre, kulturele en politieke landskap van Suid-Afrika kan moeilik oorskat word. […] As openbare figuur het hy hom volhardend bly bemoei met Suid-Afrikaanse toestande ten spyte van die feit dat hy vir die grootste deel van sy lewe buite die land gewoon het.” Breytenbach is ongetwyfeld ’n unieke kreatiewe gees wat die Afrikaanse taal en letterkunde deur middel van sy idiolek en denke verryk en verruim het. Dit is dus heel gepas dat Afrikaans met laasgenoemde publikasies een van die taal se grootste digters tot op hede kan vier.

Kom, Leser, my liefde, my kind. Saam sal ons Herrie neem tot op die dak
waar son tussen die lende van nag verstik raak,
die Blinde Bedelaar daar uitgelewer
aan die genade van voëls uit die hemel.
En verder al langs die horison soek na die blou lyn so ver en vaag
verbeelde en vergete Afrika.

Kyk, hy is skadeloos, wees hom tog genadig.

Kom laat ons sing.

(9.12 Kû)

Breyten Breytenbach (foto: Naomi Bruwer)

Bibliografie

Chinese Buddhist Encyclopedia. http://www.chinabuddhismencyclopedia.com/en/index.php/Emptiness_-_ku (7 Januarie 2020 geraadpleeg).

Galloway, F. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr.

Viljoen, H. 2015 (1998). Breyten Breytenbach (1939–). In Van Coller, HP (red). Perspektief en profiel: Deel 1. Pretoria: Van Schaik, 397–430.

Viljoen, L. 2014. Die mond vol vuur – Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Stellenbosch: SUN Press.

Eindnotas

1 Sien Viljoen (2015:397)

2 Sien https://boeddhistischdagblad.nl/maatschappij/natuur/3782-bodhiboom-oud-maar-gezond/

3 Sien https://en.wikipedia.org/wiki/Sacred_lotus_in_religious_art

Lees ook 

Breytenbach op 80: Perspektiewe op Breytenbach | Perspectieven op Breytenbach

Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Alwyn Roux en Johan Reijmerink

Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Daniel Hugo en Job Degenaar

Breyten op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breyten – Dewald Koen en Gerard Scharn

Breyten op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breyten – Dewald Koen en Gerard Scharn

Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Joan Hambidge

Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Klara du Plessis en Neil van Heerden

Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Louise Viljoen

"Poëzie is" op Pampoendag. Tweespraak tussen Pamtsjoen en Don Espejuelo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top