By geleentheid van die tagtigste verjaardag van Breyten Breytenbach op 16 September 2019 is ’n digitale publikasie saamgestel waarin daar aandag gegee word aan afsonderlike gedigte uit sy omvangryke oeuvre.
Joan Hambidge het twee gedigte vir hierdie geleentheid geskep.
Ons hou begrafnis ek en jy
Was my taal ’n steppewolf
sou ek en jy nie begrafnis hou
in my verslete memorieboek.
In ’n helder droom staan jy
in ’n begraafplaas met blomme
vol maaiers en insekte,
bykans ’n David Lynch-film.
Ek hoor jou sing uit ’n ou Gesangeboek:
“O goedheid Gods hier nooit volprese”
met ’n opmars van miere en ongediertes.
Ek, die middelman, kyk toe
hoe woordeboeke - selfs ’n geelgoue Eksteen –
saam met verseboeke die donker gat in
afgesmyt word sonder ’n kis
of ’n grafsteen met datums.
O ja, ek memoreer en treur bepaald.
Hoe dan anders? Die merkinke
van ’n taal en sy mense
laat ’n lyster sy koppie skoppelmaai
“Tjou-tjou,” sing hy. “Kreools,
krioelende mengelmoes,” fluit
hy verder, want die een ou spook
was vet en die ander een gaan
langsaam telluries dood.
Op watter vasteland ons boer,
dit wis daardie Peter Blum beslis.
............
(Des)illusie
16 September 2019
Soms in die yl nag wanneer die dag
se steiers val, sal daardie derdeoog,
oopgaan soos ’n dubbel-luik,
dan voel ek versreëls migreer
van Olga Kirsch deur Breyten B
na Watermeyer se bitter, donker glas.
Daardie trishna of driftige begeerte,
laat alles val wat pronk en sekerte was.
Versoek nou erbarming vir dié gedig,
’n jammerlike mélange, nes ’n hond
brandsiek soekend na ’n eie baas.
Die gedig breek op, ’n hors de combat.
Lees ook
Breytenbach op 80: Perspektiewe op Breytenbach | Perspectieven op Breytenbach
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Alwyn Roux en Johan Reijmerink
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Daniel Hugo en Job Degenaar
Breyten op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breyten – Dewald Koen en Gerard Scharn
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Louise Viljoen
"Poëzie is" op Pampoendag. Tweespraak tussen Pamtsjoen en Don Espejuelo