Klara du Plessis
Lofrede aan die nie-lees van Breytenbach se EK: ’n bespreking van “daardie ek gedig” uit (‘YK’) (1983)
daardie ek gedig
daardie ek van verbitteringe en frustrasies en mooi
drome droom en toekomsplanne room en vrome
alternatiewe – dié van ontvlugting dan –
sal’k net daar gekruisbeen teen die muur laat bly;
mag dit maar sit mediteer tot die paradys
ys baard, in djanas jol, mummifieer,
verknol en hol ’n asemruimte word (ook skål!)
sodat ék hier ge-elders my lewenstake kan verrig
van bed oortrek en kakbak poets en sel(-) uitvee
en worteltjies woorde uit/van die ekke skei
Vier of vyf jaar gelede, presies toe die manuskrip van my debuutbundel ’n soliede vorm begin aanneem, kry ek ’n telefoonoproep. Die stem sê, pasop! Ek skrik myself oor ’n mik. Die stem sê, Ekke. Ek sê, wat? Die stem beduie, jou bundeltitel sit jou digkuns in direkte dialoog met Breyten Breytenbach. Nee wat, sê ek, en druk my foon af. Met ander woorde, in die beperkte werk van Breytenbach wat ek vroeër gelees het, en in die sistematiese selfportrette wat ek op sy voorblaaie geniet het, het ek myself sien reflekteer en sy ekke in my ekke misgekyk.
ek / ‘k / ‘ek’ / (ek) / ekke / ekkis / ek-krisis / ekhoring / ykoei / yk
Hierdie lysie wat uit ’n menigte, uiteenlopende bundels versamel is, kon natuurlik nog baie langer gewees het. Dit wys wel daarop dat Breytenbach duidelik ’n fassinasie met die swaartekrag van die eerstepersoonspreker het, hoe dit losgetorring, verwoord en herwoord kan word. Veral beduidend van hierdie voorbeelde is dat hulle as ’n tipe spel van versteking of vermomming geïnterpreteer kan word. “ekhoring” metamorfoseer die ego byvoorbeeld na ’n ratse eekhoring toe, asook die manlike geslagsorgaan. “ekkis” kan enigiets oplewer van ’n ingeboude, ontologiese “ek is” tot daardie voornaamwoord in ’n doodskis tot ’n woordspelende akkedis. Op ’n soortgelyke wyse probeer Breytenbach om die eerstepersoonspreker te verloor, om ’n merk daarvan simbolies te behou en die res verwronge agter te laat of te laat vervaag. “ ‘k” is ’n goeie voorbeeld, waar ’n letter letterlik weggelaat is. “ ‘ek’ ” is ironies. “(ek)” is ’n nagedagte, tussen hakies. “yk” is geyk as ’n verteenwoordiging van die belang van elke enkeling se ego. Mens sou kon sê dat hierdie wil na ’n verlies van die self ’n Boeddhistiese strekking het. Daar is egter wel ook ’n belangrike spanning in dié oorkoepelende oeuvre tussen die deurlopende teenwoordigheid van die self en die speelse ontkenning daarvan.
In “daardie ek gedig” word presies hierdie spanning in die voorgrond gestel. In ’n kort, bitsige gediggie – baie meer op die man af as die langer gedigte se poëtiese omswerwinge – word ’n trajek van die ek deurgewerk. Die eerstepersoonspreker word beide as leemte en klem daargestel. Aanvanklik word daardie alledaagse “ek van verbitteringe en frustrasies” aan die kaak gestel. Dié word dan dadelik afgekort na “ ‘k” toe, om “net daar gekruisbeen teen die muur [... te] sit mediteer tot die paradys.” Hier het ons die verkorte “ ‘k”, ’n spel met egoloosheid, die “sel(-)” wat tydens meditasie beide die fisiese, lyflike selle en die mistiese self tot ’n abstrakte streep leemte “uitvee.” Die gedig eindig egter deur weer die aksent op die eerste persoon te plaas. Die gestroopte ek ontwikkel en verwerk sigself tot ’n diakritiese blik juis op daardie “ék” — die akute aksent wat so reguit met ’n vinger wys na die self — en brei dan uit tot die voorlaaste, beklemtonende voornaamwoordvorm, “ekke.” Die terugkerende ek — of die ek wat deur meditasie uitgevee is en toe weer teruggekeer het na die gedig toe — word dan ook as ’n kreatiewe self voorgestel: “sodat ék hier ge-elders [...] worteltjies woorde uit/van die ekke skei.” Die digter se woorde skiet wortel vanuit sy ek en borrel voort op papier. Verder beliggaam die titel — “daardie ek gedig” — die beweging van “ek” tot “ ‘k” tot “ék,” in dié sin dat die eerstepersoonspreker verplaas word van die digter as persoon tot die egosentriese aard van die gedig as kuns, gedruk op papier en gebind in ’n boek.
Die titel gryp ook terug na die gedig se finale reëls — “en sel(-) uitvee / en worteltjies woorde uit/van die ekke skei” — in die sin dat poëtiese woorde en die eerstepersoonspreker in beide gevalle gejukstaponeer word.
Ek | Gedig
Woorde | Ekke
Aan die een kant word die gedig en die eerste persoon spreker tot ’n eenheid in mekaar in gevou; dis ’n gedig oor die ek; woorde vloei uit die self uit voort. Aan die ander kant word die gedig en die eerstepersoonspreker juis van mekaar afgesonder deur die ongrammatikale konfrontasie van die titelwoorde “ek gedig,” deur Breytenbach se kulminerende gebruik van “ekke skei.” Die suiwerste interpretasie sou kon wees dat die gedig self ’n tipe egoloosheid ervaar; die gedig word deur die digter geskryf, maar ná die skepping skei digter en gedig, verloor hulle ’n materiële eienaarskap van mekaar. Die growwer analise sluit die “kakbak” in, dat die digter woorde ontlas, van hulle ontslae raak, en daardeur ’n tipe reiniging van die self ervaar. Die drol-gedig, wat verder leef as ’n nuwe ek of “ek gedig” sal, net soos die digter, verligting moet vind.
Langs my op die lessenaar lê (‘YK’) aan my regterkant en my bundel Ekke aan my linkerkant, beide oop. Hulle kyk vir mekaar en knipoog met die bladsye wapperend, ’n stel wimpers. Soos ek my woorde hierbo herlees, besef ek hoe baie ek uit een kort blok gedig getrek kan word. Hoeveel menigte kere verskyn die woord en die paar tengerige sinonieme?! Doelgerig soek ek na ’n aanhaling uit my bundel waarmee ek Breytenbach se 1983-gedig eietyds kan vergelyk of kontrasteer. Maar ek blaai en blaai sonder om die woord ek eers raak te vat. Dis asof my nadruklike titel — Ekke — verbrokkel tot die meervoudsvorm wat die woord ook inhou — een ek en meer as een ekke. Alhoewel ’n digterlike eerstepersoonspreker duidelik teenwoordig is in die gedigte, ontwyk ’n opsommende reël, strofe of vers. Dit dui op ’n ek wat nie ’n konkrete vorm aanneem nie, wat ondefinieerbaar betekenis vermy. In die oomblik wat ek is, is ke een stappie vooruit om ’n alternatief terug te spieël. “Ekke / is not ’n mirror reflection / but it is a reflection,” raak ek kwyt. In hierdie huidige refleksie van die dag waarin ek skryf, is ek afwesig sodat ek Breytenbach se ek-gedig stip in die gesig kan kyk en dit kan omwerk tot ’n duisend woorde.
............
Neil van Heerden
’n Sterfling se interpretasie van Breyten Breytenbach se gedig “daar is geen tyd” uit Die windvanger (2007)
daar is geen tyd
tyd is die mens se vel
wat kraak en knetter en krimp
in die verbygaan van lewe
dis die vuur van bestaan
wat die ure vertel
en dan versaak
in die ewigdurende galmende
momentum van stiltein die aandster en die middernagson
se rokende dans
in die krul van die blaar
in die duif se vlugtige
fladder-gebaar van grasieuse sterwedaar is geen tyd
tyd is die verskietende komeet
van geheue
wat die hemel met vonke bestrooi
van stories wat niemand ooit
weer sal hoor nietyd is my liefde vir jou
die akkedis-bewegings
van weggaan in jou vrouelyf
om die holtes te vul
met die vlam van vertel
daardie vele gesigte van vergaandaar is geen tyd
net die hart se klop-klop dinge
soos pyn onder dop-oogledenet die leë vertel-vel
van hierdie gedig
bespikkel en uitgemeet
met kankerwoorde van vergeet
soos akkediskak
As ’n mens ’n voorlopige tema vir hierdie gedig moet formuleer, lyk dit na ’n besinning oor verganklikheid, want dit wil voorkom asof die spreker akuut bewus is van die mens se (en by implikasie ook sy eie) sterflikheid. Vergelyk byvoorbeeld “die verbygaan van lewe” (reël 4), “die duif se vlugtige / fladder-gebaar van grasieuse sterwe” (reël 13-14) en “daardie vele gesigte van vergaan” (reël 26).
Daar is verder ’n deurlopende bemoeienis met vertellings/stories (en by implikasie ook die digkuns) wat ten nouste saamhang met geheue/onthou. Vergelyk byvoorbeeld reël 5-6 (“dis die vuur van bestaan / wat die ure vertel”), reël 18-20 (“stories wat niemand ooit / weer sal hoor nie”), reël 25 (“die vlam van vertel”) en reël 30-31 (“die leë vertel-vel / van hierdie gedig”). Die temas van verganklikheid, vertelling en geheue word dus op ’n nogal komplekse manier in hierdie gedig deur Breytenbach byeengebring.
Wie is die aangesprokene in hierdie vers? Iemand word eers in die vierde strofe direk aangespreek: “tyd is my liefde vir jou” (reël 21). Die leser lei af dat die aangesprokene die spreker se geliefde is en dat sy ’n vrou is (vergelyk “jou vrouelyf” in reël 23).
Ten opsigte van stemming, is dit opvallend dat die titelreël/aanvangsreël in die ontkennende vorm gestel word (“daar is geen tyd”). Dit bring mee dat daar vanuit die staanspoor ’n ietwat melankoliese, droefgeestige toon heers. Tog, ten spyte hiervan, suggereer die spreker dat die ontbrekende “holtes” van hierdie vlietende lewe gevul kan word met “my liefde vir jou” (reël 21), “die vlam van vertel” (reël 25) en “die hart se klop-klop-dinge” (reël 28). Is hier dus wel ’n tikkie optimisme te bespeur?
Die titel (“daar is geen tyd”) is dubbelsinnig. Enersyds kan dit beteken dat daar glad nie iets soos “tyd” bestaan nie – dat tyd maar net ’n illusie is. (Dit maak sin as ’n mens in gedagte hou dat ons idee van chronologiese tyd – bestaande uit arbitrêre eenhede van jare, maande, weke, dae, ure, minute en sekondes – bloot ’n mensgemaakte konstruk is.) Andersyds dui die reël “daar is geen tyd” ook op ’n bepaalde dringendheid – asof die spreker vir sy geliefde dit op die hart wil druk: “daar is nie genoeg tyd nie; daar is geen tyd om te mors nie”. Let in dié verband op die erotiese beeld in reël 22 van “akkedis-bewegings”: Soos wat ’n akkedis rats in ’n rotsgleuf inglip, so skarrel die spreker na intimiteit in die holtes van sy geliefde se lyf.
Verstegnies bestaan die gedig uit 34 reëls en ses strofes van wisselende lengtes, met geen ooglopende vaste rymskema of metrum nie en ook geen leestekens nie. Hier het ’n mens dus te make met die vrye vers, wat beteken dat veral gelet moet word op “visuele” prosodie. Let in dié verband op die talle effektiewe gebruike van herhaling in dié gedig.
Die titelreël word drie maal herhaal (in reël 1, 15 en weer 27). Daar volg telkens ’n definitiewe en onwillekeurige pouse – selfs sónder die teenwoordigheid van enige leestekens. Die woorde “daar is geen tyd” lui dus elke keer met ’n sekere emfatiese finaliteit. Vergelyk nou die treffende klankherhaling in die eerste strofe: “tyd is die mens se vel / wat kraak en knetter en krimp” (reël 2-3). Die woord “knetter” word gewoonlik met die geluide van ’n brandende vuur geassosieer, en dié herhaling van die “k” en “r” klanke boots daardie geluid besonder effektief na.
Vuur/vlamme is derhalwe ’n belangrike, herhalende motief in die gedig – tegelyk ’n metafoor vir lewe én ’n bron van vernietiging. Lewe of “bestaan” word immers gelykgestel aan ’n vlam (reël 5-6) wat uiteindelik met die dood uitgedoof word. Al wat vervolgens oorbly, is “die ewigdurende galmende momentum van stilte” (reël 8-9). Laasgenoemde is self ’n interessante paradoks, want hoe kan stilte “galm”? Die oorweldigende stilte van die dood kontrasteer op sy beurt met die knetterende geluide van lewe/vuur in strofe een.
Wat klank betref, kan ook gewys word op die treffende alliterasie en klanknabootsing in strofe twee: Die sagte “f’s” en “s’e” in die reëls “die duif se vlugtige / fladder-gebaar van grasieuse sterwe” (reël 13-14) eggo die duif se letterlike vlerkgeklap en heengaan. Behalwe dat die woord “vlugtig” kan verwys na voëlvlug, kan dit ook dui op die vinnige verdamping/verslaning van iets. (Soos die lewe, miskien? Van korte duur, maar daarom juis “grasieus”?) Boonop herinner “vlugtig” aan die bundeltitel, Die windvanger, en die naam wat die digter elders in die bundel gebruik om na homself te verwys: “Woordfoël”.
Daar word by meer as een geleentheid in hierdie gedig verwys na hemelliggame. Kyk byvoorbeeld die personifikasie in “die aandster en die middernagson / se rokende dans” (in reël 10-11) en “die verskietende komeet [...] wat die hemel met vonke bestrooi” (reël 16 en 18). Ons weet uit die astrofisika dat sterre, sonne en komete almal verskriklik helder brand as gevolg van gewelddadige chemiese reaksies, maar ons weet ook dat oermense die beweging van sterre oor die hemelruim dopgehou het om tyd/seisoene te meet. Op dié manier plaas die digter heel vernuftig weer die tema – die meedoënlose verloop van tyd – metafories op die voorgrond.
Nog ’n belangrike deurlopende motief/beeld is dié van vel. Die mens se vel wat “kraak en knetter en krimp” in strofe een dui waarskynlik op die onafwendbare proses van veroudering. Oorweeg die implikasies: ’n Mens se vel is tog redelik glad en egalig wanneer jy jonk is, maar raak toenemend verrimpeld en geplooid met ouderdom as gevolg van jarelange blootstelling aan die son en oksidasie. (Het ’n vuur nie ook suurstof nodig om te brand nie?) Dit word op sy beurt in die tweede strofe geëggo in “die krul van die blaar” (reël 12). ’n Blaar sal só krul wanneer dit in ’n vuur beland, maar verdroog ook natuurlikergewys met tyd – soos ’n mens se vel.
Veroudering gaan dikwels met pyn en geheueverlies gepaard – dinge waarvan die spreker kennelik bewus is. Vandaar waarskynlik die verwysings na “pyn onder dop-ooglede” (reël 29) en “kankerwoorde van vergeet” (reël 33).
Die slotstrofe neem dan ’n verrassende wending: Die beeld van die mens se vel word as ’t ware “oorgeplant” na die gedig self, maar hierdie versmatige huid word gelykgestel aan ’n leë, afgeskeide akkedisvel: “net die leë vertel-vel / van hierdie gedig”. Dit is algemeen bekend dat sekere akkedisspesies en reptiele gereeld hul vel of “dop” afskei wanneer hulle dit ontgroei. Dié gedig is dus soos ’n leë akkedisvel iets wat agtergelaat word, en dit is “bespikkel en uitgemeet” met die spreker se “kankerwoorde van vergeet” (reël 32 en 33).
Wat maak ons ten slotte van die skatologiese vergelyking in die laaste reël, “soos akkediskak” (reël 34)? Dit is nogal ’n skielike verwisseling van toon – die gedig bevat nie regtig enige ander obseniteite of banaliteite nie. Een moontlike interpretasie is dat die spreker homself – in die lig van die ongenaakbare gang van tyd én sy eie verganklikheid – tot die poësie wend: Hy laat hierdie gedig agter as ’n soort akkedisvel teen die vergetelheid.
Terselfdertyd wil hy nie die belang van die digkuns óórskat nie: Hy beskou die gedig miskien as ’n banale uitwerpsel (“soos akkediskak”), maar dit is insgelyks ook die bewys van ’n lewe wat met die intensiteit van ’n komeet uitgebrand het (vergelyk weer strofe 3). Miskien het die digter dus iets soos die volgende woorde van Leonard Cohen in gedagte gehad (aangehaal in Moore 2016): “Poetry is just the evidence of life. If your life is burning well, poetry is just the ash.”
............
Verwysing
Moore, Suzanne. 2016. Leonard Cohen managed that rare thing: to talk with clarity about death. The Guardian, 8 Augustus. Beskikbaar by: https://www.theguardian.com/commentisfree/2016/aug/08/leonard-cohen-letter-to-marianne-ihlen-was-poetic-and-candid. (Datum geraadpleeg: 11 Augustus 2019.)
Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), Pretoria
............
Lees ook
Breytenbach op 80: Perspektiewe op Breytenbach | Perspectieven op Breytenbach
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Alwyn Roux en Johan Reijmerink
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Daniel Hugo en Job Degenaar
Breyten op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breyten – Dewald Koen en Gerard Scharn
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Joan Hambidge
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Louise Viljoen
"Poëzie is" op Pampoendag. Tweespraak tussen Pamtsjoen en Don Espejuelo