“die eerste laaste somer”: ’n bespreking van die gedig “ekstasie” uit Op weg na kû (2019)
Dit is iets van ’n truïsme om te sê een van die mees opvallende eienskappe in Breytenbach se poësie is die spanning tussen hartstogtelik leef en weemoedig of weerbarstig wag op die dood. Dié ietwat simplistiese opposisie tussen lewe en dood word in die vierde afdeling van die bundel Op weg na kû weerspreek deurdat daar klem gelê word op doodgaan as ’n proses of ’n reis waarin die “aanhou beweeg al agter die woorde aan” voorgehou word as ’n vorm van terapie vir doodgaan, eerder as op doodwees as ’n toestand (vgl. gedig 4.2). Die gedig “ekstasie”, genommer 4.8, gee iets van hierdie proses weer:
4.8 ekstasie
die eerste somer so mooi
so mooi dat dit die laaste somer is
kyk: in daardie kantelstilte
wanneer die nagtegale se skielike
nie meer sing tog nog in stilte
van deuntjiedenke bly galm soos ’n ontruiming
en voor die sonbesies besit kom neem
in ’n verruiming van hitte
om in die bome te sing –
kyk hoe mooi is die heelalniet
hoe dit glinster van kleure –
kyk want mooi is elke mier elke halm
’n bestaanspsalm
die eerste somer so mooi
so mooi dat dit die laaste somer iskyk hoe wyd val die some
van polsende geluidloosheid
wanneer jy buig voor die klip
wanneer die hart ’n bloederige lotusblom
bloei in die bors één in die geen-een –
kyk hoe mooi het die maan vol klip
agter die heuwellyn weggeglip
om seë en some te snoer
in die donker lig van ’n eerste somer
so mooi dat dit die laaste somer is
laatnag het jy ’n woord
op die vensterbank uitgesit
as aas vir die duisternis
om die dood vooruit te loop
en onder die wind verby te steek
en vanoggend is daar nog begin nog einde
nog eindelikheidjy klop teen die klip
en hoor die klopsing so mooi so mooi
van verbygaan en altyd
se nooitweerweesnie:
so mooi dat dit die eerse laaste somer is
Die titel “ekstasie” sinspeel duidelik daarop dat die gedig ’n toestand van verrukking gaan beskryf. Die woord “ekstase” het ’n Griekse oorsprong: “ek” (buite) en “stasis” (om stil te staan, stilstand of die plek waar ’n mens staan) sodat die woord “ekstase’ ’n toestand kan impliseer waar daar buite ’n bepaalde plek, toestand of liggaam getree word. Die verskrywing van die woord “ekstase” tot “ekstasie” beklemtoon ook die idee van ’n reis, van die “ek” wat aandoen by ’n bepaalde “stasie” of plek in die proses. Dit is verder opvallend dat die gedig die ervaring van verrukking plaas bínne die sintuiglike, liggaamlike ervaring van die oomblik.
Alhoewel die gedig wys op die verrukte ervaring van die hier en nou (die moment waarop die laatnag oorgaan in vroegoggend), suggereer die eerste twee reëls dat die keersy van hierdie verrukking ‘n bewuswording van verganklikheid is. Die skoonheid van die ervaring is so intens en meevoerend soos dié van ’n mens se “eerste somer”, maar bring tegelykertyd die besef dat dit nie anders kan as om verby te gaan nie. Inbegrepe in die ervaring van die eerste somer se skoonheid (“so mooi so mooi”) is die wete dat dit uiteindelik ook vir ‘n laaste keer ervaar sal word. Gepaardgaande daarmee ervaar die spreker die feit dat sinnelike verrukking en ekstase eintlik bestaan by grasie van die feit dat dit verganklik is: binne die “eerste” lê opgesluit die bewustheid van die proses wat sal lei tot die “laaste”. Die gedig werk trouens verder met verskillende elemente wat lyk na teenstellings of opposisies, maar eintlik – volgens die logika uitgespel in 4.2 – prosesse of oorgange aandui: eerste/laaste; ontruiming/verruiming; heelal/niet; geluid/stilte; een/geen-een; laatnag/vroegoggend; begin/einde.
Die eerste strofe verloop as ’t ware in vyf fases ná die eerste twee reëls wat die deurlopende tema stel. Elkeen van hierdie fases of ‘bewegings’ begin met die woord “kyk”. Hierdie opdrag om te kyk, is egter ook ‘n uitnodiging om die ander sintuie in te span in die belewing van die oomblik (om ook te luister en te voel). Ek parafraseer op ietwat voorbarige wyse en ter wille van die gevraagde bondigheid: (1) kyk(reël 3) na die stilte wat ontstaan wanneer die nagtegale ophou sing om ruimte te skep vir die sonbesies wat hierna gaan begin sing (die nagtegale se “deuntjiedenke” – sing is ook ’n vorm van dink, word daar geïmpliseer – gaan die plek “ontruim” en die sonbesies gaan in hulle plek kom om dit te “verruim”); (2) kyk(reël 10) na die skoonheid van die “heelalniet” (die alles is ook die niks, word daar gesuggereer); (3) kyk (reël 12) na elke klein element, mier en halm, wat ’n soort “bestaanspsalm” (’n lofsang op bestaan) is; (4) kyk(reël 16) hoe pols (of lewe) die geluidloosheid en ervaar hoe wyd strek dit wanneer jy buig voor die klip met jou hart soos “’n bloederige lotusblom” (die blom van perfeksie, maar hier ook die letterlike orgaan gevul met bloed, met die suggestie van ’n pynlike ervaring) en bewus raak van die een-wees met alles wanneer jy die self prysgee (“één in die geen-een”); (5) kyk(reël 21) na die wyse waarop die wegglip van die maan agter die heuwel die verbygaan van die nag met sy nagtegale markeer en jou bewus maak van die feit dat verbyheid en verganklikheid (“laaste somer”) alreeds inbegrepe is in jou ekstatiese ervaring daarvan (“eerste somer”).
Die tweede en veel korter strofe lyk asof dit handel oor ’n strategie om dié insig in verband met die verganklikheid of die dood te probeer ontglip. Die spreker sê dat hy (hier word die self aangespreek met die tweedepersoonsvorm “jy”, ’n bekende Breytenbach-tegniek) laatnag “’n woord” (’n gedig?) uitgesit het as “aas vir die duisternis”. Dit klink asof die plan was om die duisternis, wat ’n voorloper van die naderende dood is, met hierdie woord te lok terwyl die spreker self “onder die wind” (ongesiens) verbysteek om die dood en verganklikheid vry te spring. Dit klink egter of die plan misluk het: “vanoggend is daar nog begin nog einde / nog eindelikheid”. Presies hoe die kursief-gedrukte woord “nog” hier gelees moet word, is oop vir diskussie. Indien die frase gelees het: “nóg begin nóg einde” (met aksente), sou dit beteken dat daar in die oggend geen begin of geen einde aanwesig was nie, met ander woorde dat die spreker deur die uitsit van die lokaas vir die duisternis die gang na die dood sou kon vryspring. Die woord “nog” word egter in beide gevalle sonder ’n aksent gespel sodat ’n mens vermoed dat dit dalk presies die teenoorgestelde beteken: toe die spreker of “jy” vanoggend by die vensterbank kom, was daar “nog” (in die sin van “ekstra” of “bykomend”, die Engelse “more”) begin en “ekstra” einde. Die proses van doodgaan is dus nié deur die uitsit van die woord (die skryf van ‘n gedig) gestuit nie. Daarby is daar ook “nog eindelikheid”: ’n mens kan laasgenoemde woord interpreteer as ’n verdere bevestiging van die feit dat die einde eindelik sal kom.
Die derde en laaste strofe keer terug na die klip wat ook in die eerste twee strofes genoem is: die klip waarvoor gebuig word met die hart as “bloederige lotusblom”, ook die “maan vol klip” wat agter die heuwellyn weggeglip het. Die klip is ’n veelgebruikte en veelseggende beeld in Breytenbach se werk: hier klink dit asof dit verwys na ’n soort poësie ingebed in die materiële werklikheid wat deur die digter ontlok of ontsluit kan word, in hierdie geval deur teen die klip te “klop” (’n toespeling op die maak van die gedig). Die handeling van klop teen die klip bring ‘n “klopsing” voort wat so mooi is dat dit weer eens die spreker se bewustheid van sterflikheid bevestig. Die spreker verwys na “verbygaan” en “nooitweerweesnie”: die proses van verganklikheid sal uiteindelik lei tot ’n toestand van nie-bestaan of nooit-weer-bestaan-nie (“nooitweerweesnie”). Die slotreël van die gedig bevestig dat die “klopsing” van die klip so mooi is dat dit by herhaling bevestig dat die eerste somer die laaste somer is.
Die idee dat die eerste somer ook die laaste somer is, word bevestig deur die sametrekking daarvan in die frase “eerste laaste somer”. Weer eens: inbegrepe in die skrynend-ekstatiese ervaring van die somer se vreugdes is die bewustheid van verbygaan en verganklikheid. Die ekstase word trouens verhoog deur die vlugtigheid ingebou in die ervaring. Ten slotte lyk dit asof die maak van die gedig (die klop teen die klip) hierdie bewustheid bevestig eerder as verlig of uitstel. Indien die “aanhou beweeg al agter die woorde aan” moet dien as vorm van “terapie vir doodgaan” (gedig 4.2), bevestig dit eerder die onvermydelikheid van die dood as proses en die komplekse vreugdes en verdriet wat die dood inhou.
Universiteit van Stellenbosch
Lees ook
Breytenbach op 80: Perspektiewe op Breytenbach | Perspectieven op Breytenbach
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Alwyn Roux en Johan Reijmerink
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Daniel Hugo en Job Degenaar
Breyten op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breyten – Dewald Koen en Gerard Scharn
Breytenbach op 80: Perspektiewe | perspectieven op Breytenbach – Joan Hambidge
"Poëzie is" op Pampoendag. Tweespraak tussen Pamtsjoen en Don Espejuelo