Die langverwagte deur Erwin Mortier, vertaal deur Fanie Olivier – ’n resensie

  • 0

Titel: Die langverwagte
Skrywer: Erwin Mortier
Uitgewer: Naledi (2024)
ISBN: 9781067234119

Erwin Mortier is in 1965 op die Vlaamse platteland gebore. Hy is ’n bekroonde skrywer, digter en essayis en sy oeuvre omvat 28 selfstandige publikasies, waaronder nege romans, ’n bundel kortverhale en vyf digbundels. Hy lewer ook ’n ruim bydrae tot niefiksie. Sy roman oor die Eerste Wêreldoorlog, Godenslaap (2008), was sy eerste werk wat in Afrikaans vertaal is, en wel deur Fanie Olivier (Protea, 2020). Mortier is vir die roman bekroon met die gesogte AKO Literatuurprys, en Olivier is insgelyks vir sy vertaling bekroon met die SA Akademieprys vir vertaalde werk.

Mortier debuteer in 1999 met die roman Marcel, wat bekroon is met die Gerard Walschap-prys Gouden Ezelsoor, die CW Van der Hoogt-prys 2000, die Fortis Bank Debuutprys 2000, en die Debutantenprys Dordrecht 2000. Dié merkwaardige roman het talle herdrukke beleef en is in tien tale vertaal (Olivier se Afrikaanse vertaling ingesluit).

Een-en-twintig jaar ná die verskyning van Marcel verras Mortier met ’n opvolg, De onbevlekte (2020). Fanie Olivier bundel hierdie twee vertaalde romans as ’n tweeluik, onderskeidelik Marcel en Andrea (die Afrikaanse leserspubliek is volgens die vertaler minder bekend met die Rooms-Katolieke beskouing van Maria as die Onbevlekte). Die oorhoofse titel vir laasgemelde twee romans, die tweeluik, is Die langverwagte – die keuse vir titels in die Afrikaanse vertaling wat in oorleg met Erwin Mortier gemaak is.

Die langverwagte handel in die breë oor filosofiese beskouing, die Vergangenheitsbewältigung. Hierdie term verwys na die prosesse van die verwerking van die verlede; ’n kritiese en selfrefleksiewe benadering tot historiese kollektiewe skuld en verantwoordelikheid, veral met betrekking tot Nazi-Duitsland. In Marcel en Andrea is dit dan die rol van herinnering as infleksiepunt tussen die persoonlike en die kollektiewe geheue wat die spilpunt van gebeure vorm. Die getuienisse van die protagoniste poog om hierdie historiese gebeure te humaniseer.

Fanie Olivier is al vir dekades werksaam in die Afrikaanse, en ook Nederlandse, literêre toneel, en bekend as digter, samesteller, akademikus, prokureur en meningsvormer binne transnasionale literatuur.

........
Geweld, en die nasleep van oorlog, word gejukstaponeer met die fokalisering van ’n tradisioneel vroulike leefwêreld. Wat interessant – en anders – is van ’n oorlogsroman, is dat die jong fokalisator-as-seun primêr op tradisioneel vroulike gebeure fokus.
........

Die eerste roman in hierdie vertaalde tweeluik, Marcel, is geskryf vanuit die oogpunt van ’n sensitiewe tienjarige seun. Geweld, en die nasleep van oorlog, word gejukstaponeer met die fokalisering van ’n tradisioneel vroulike leefwêreld. Wat interessant – en anders – is van ’n oorlogsroman, is dat die jong fokalisator-as-seun primêr op tradisioneel vroulike gebeure fokus. Sy ouma is ’n kleremaakster, en die materiale en tekstiele word op ’n sensuele wyse beskryf, ’n taktiele aktiwiteit. Op bl 38 verneem die leser: “Die tekstielbedryf het uit die oorlog voordeel getrek. En nie sommer net ’n bietjie nie.” Die seun se waarneming van sy ouma, en die huislike milieu met blomme, soetgebak, die voorbereiding van kos, herinner aan Nataniël se Kyk na my – inderdaad ’n ongewone vergelyking! Mortier is fyn ingestel op die sensoriese, verál die tasbare; dit wat gestreel, bevoel kan word: “My ouma ondersoek met haar vingerpunte die tekstuur van verskillende soorte skryfpapier. ‘Papier,’ sê sy, ‘kan soms so lekker ruik, vind ek.’”

Beide romans bevat talle gedetailleerde verwysings na vroedvroue, die kraamproses en beskouings rondom swangerskappe en die geboorte van babas. Dit is inderdaad ’n voortuitskaduwing van ’n donker familiegeheim, wat later aan bod kom. Die jong seun is heimlik verlief op sy onderwyseres, juffrou Veegaete, vir wie sy ouma gereeld rokke maak. In sy verbeelding vergestalt die rok ’n suiwer sensuele – of taktiel-erotiese – belewenis (35):

Slegs dan sou haar dye miskien van mekaar weg beweeg, en haar rok ’n styfgespanne tentdak optrek tussen haar knieë. Daaronder rol haar bene teen die sitplek op. Êrens moes al hierdie volumes saamvloei. Maar ek moes egter baie diep terugsak, byna met my kop tot op die lessenaar, om iets te sien. Meestal kyk die juffrou dan presies op daardie oomblik van haar boek op en trek haar knieë weer vinnig saam.

Maar die donker familiegeheim wat die gebeure onderliggend aan die enigmatiese Marcel ondervang, lê in die simboliek van die voël op die seël wat die seun in sy onskuld nie herken nie. Op bl 69 sê hy: “Wat my meer geboei het, was die voël op die koevert self, sy krom snawel, sy sterk kloue, sy gespreide stert. ’n Mooi voël vir Juffrou Veegaete.”

’n Leidraad tot die geheim wat die Ornelis-familie koester, word as kode op die omslag van die teks aangetoon. Die arend is waarskynlik emblematies van Nazi-Duitsland, ’n simbool van die Derde Ryk. Hierdie stempel is ook bekend as die “diensstempel”, maar die arend is vir alle vertakkinge van Wehrmacht gebruik (die Heer, Luftwaffe en Kriegsmarine, sowel as vir die Waffen-SS en vir burgerlike administratiewe aangeleenthede). Die ánder emblematiese afdruk op die omslagontwerp is die Vlaamse Legioen. En tussen hierdie twee simbole lê ’n geheim wat deur middel van die oorlewering en afluistering van gesprekke, briewe, foto’s en dagdrome ’n collage van betekenis vorm wat eers aan die einde van die tweede roman, Andrea, volledig, voltrek word.

Die rol van die ouma as formidabele, dog kwesbare matriarg, sorg vir ’n boeiende karakter. Hierdie tweeluik vra ook, terloops, vir ’n lesing vanuit ’n feministiese perspektief. Die jong seun as buitestander met sy “vroulike” fokalisering word só beskryf:

“Ek vra myself al so lank af,” piep sy, “wie se mannetjie is daai tog? Wie se outjie sou dit wees, wat altyd so op sy eentjie doelloos rondslenter. Ek sien jou elke dag, uit my kombuis. Jy speel nie albaster nie. Jy speel nie eenbeentjie nie. Jy speel nooit cowboys nie. Miskien ook maar goed so. Al daardie gepiefpoefpaf …” (84)

As hipersensitiewe kind verwys die verteller na homself as “’n skaduwee”, en hy is lief daarvoor om hom op die solder te onttrek.

’n Ongure jongeling, Wieland, probeer sy seksuele attensies op die protagonis afdwing (64) nadat hy sy enigmatiese oom Marcel op ’n ou foto van Wieland herken het.

Op ’n dag vra juffrou Veegaete die leerders om iets oor die diereryk klas toe te bring. Die een bring ’n hamster in ’n hok; ’n ander ’n opgestopte wesel; nóg een pouvere; ’n ander ’n foto van ’n kroonduif – en die jeugdige verteller bring ’n adelaar (’n koevert met ’n seël). Onbewus daarvan dat die seël ’n geheim (selfs verraad) vergesel, oorhandig hy dit aan sy juffrou. Sy erotiese fiksasie met haar, en die skreiende ironie van sy onskuld, óók van die bose onderstrominge rondom die oorlog, sorg vir ’n hoogtepunt in die roman.

“Die adelaar …” herhaal sy, met gemaakte geesdrif. […]

“Hy dra iets in sy pote,” sê ek, “sien u dit nie? Dit lyk soos ’n wekker, met vier wysers, en dit lyk asof dit gebreek is …” […]

“Dit sal wel iets anders as ’n wekker wees,” sê Juffrou Veegaete. […]

“Miskien is dit ’n spinnekop, Juffrou, ’n groot, dik spinnekop.”

Juffrou Veegaete sit die koevert op haar lessenaar. “Dit is nie ’n spinnekop nie, seun.” Sy het haar oë neergeslaan, en dan, opvallend stil: “Dit is ’n swastika.”

“Daardie dier ken ek glad nie. Miskien leef swastikas net in die berge.”  (91)

Ná hierdie insident het die brief, ’n geheim, voete gekry. Die enigste antwoord was dat juffrou Veegaete dit aan haar lyf, iewers onder haar rok, versteek het. Die brief sou wel later weer sy verskyning maak. 

Die politieke en ideologiese konteks van die Tweede Wêreldoorlog in Vlaandere het ’n diepgaande impak op Mortier se Marcel. Die verhaal speel af in ’n tydperk van groot omwenteling en konflik waarin die Vlaamse identiteit en lojaliteit aan die orde van die dag was.

Vlaandere was tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n besette gebied onder Duitse bewind. Die politieke situasie was kompleks, met verskillende strominge en oortuigings wat die Vlaamse samelewing verdeel het. Aan die een kant was daar diegene wat die Duitse besetting ondersteun het en saamgewerk het met die Nazi-regime. Aan die ander kant was daar diegene wat weerstand gebied het en geveg het vir die bevryding van Vlaandere.

Op ideologiese front was Vlaandere gekenmerk deur ’n verskeidenheid faksies, waaronder nasionalisme, fascisme en kommunisme. Sommige Vlaminge het in ’n sterk Vlaamse identiteit geglo en na ’n onafhanklike Vlaamse staat gestreef. Ander is beïnvloed deur fascistiese idees en het die Duitse besetting as ’n geleentheid gesien om hulle eie politieke agenda te bevorder. Ánder, weer, het kommunistiese idees aangehang en vir ’n meer regverdige en gelyke samelewing geveg.

........
Met Andrea keer Mortier terug na die temas wat sy oeuvre kenmerk: die kompleksiteit van familiegeskiedenis, die impak van die Tweede Wêreldoorlog op die Vlaamse bewussyn, en die soeke na identiteit in ’n wêreld wat voortdurend bly verander. 
........

Bogenoemde ideologiese konteks is insgelyks van toepassing op die tweede roman in hierdie tweeluik, naamlik Andrea (109–204). Min of meer dieselfde verhaal word vertel, maar dié keer vanuit die perspektief van die ouma, Andrea. Die twee verhale speel uit op ’n anachronistiese tydlyn, met ’n inspeling wat tot in die hede (in) strek.

Andrea delf egter veel dieper in die emosionele en sosiale konteks, asook die komplekse motiverings en gevolge van haar dade. Die geheime in hierdie roman sluit in die omstandighede rondom Marcel se ware identiteit, en die redes vir Andrea se lewenslange swye. Ek volstaan hiermee; ek wil nie die intrige van die roman verklap nie – dis vir die leser om te ontrafel. Die vertelling bied ook ’n lens op die medepligtigheid van ’n familie in die bewaring van geheime; hulle worsteling met skuldgevoelens, verdriet, en die gewig van die verlede.

Met Andrea keer Mortier terug na die temas wat sy oeuvre kenmerk: die kompleksiteit van familiegeskiedenis, die impak van die Tweede Wêreldoorlog op die Vlaamse bewussyn, en die soeke na identiteit in ’n wêreld wat voortdurend bly verander.

Die roman is, soos sy voorganger, gestruktureer as ’n kaleidoskoop van herinneringe, besinnings, stiltes, gesprekke, briewe en waarnemings.

As ’n kroniek van ’n familiegeskiedenis ekstrapoleer die gebeure ook na etiese vraagstukke rondom die weerlose posisies van burgerlikes in oorlogsituasies – mense  uitgelewer aan ’n disfunksionele sosiale bestel. Mortier maak interessante opmerkings, byvoorbeeld op bl 116: “Seuns word altyd met verwagtinge belas; dogters met erfsonde.” En erfsonde, aan die kant van Andrea, is dit inderdaad.

Die Rooms-Katolieke konteks van die roman en die beskouing van die Maagd / Moeder Maria as die Onbevlekte Een, word skreiend gejukstaponeer met Andrea se erfsonde. Die oorspronklike titel van Mortier se roman was dan ook De Onbevlekte. Die smet van die menslike toestand en gepaardgaande skande word voltrek in Andrea se geheim, wat allesbehalwe dui op ’n “onbevlekte” vrou. Op bl 165 word moederskap gerelativeer tot die Moederskap van Maria.

........
Olivier verdien lof vir sy besonder mooi poëtiese vertaling van die romans, want Mortier kan slégs deur ’n digter vertaal word.
........

Olivier verdien lof vir sy besonder mooi poëtiese vertaling van die romans, want Mortier kan slégs deur ’n digter vertaal word. Die beeldryke taal voer die leser mee na die innerlike wêreld van die karakters (die monologue intérieur):

Ek sou wou hê dat die kerse uitgaan, die narsings hulleself toevou, en dat ek vir altyd mag ronddryf in ’n donkerte sonder einde of, soos toe ek nog klein was, tussen die lang koringare mag loop, tussen die koringblommetjies, pimpernel, bedstrooi en wondkruid. En dan, af en toe, boontoe kyk, na ’n pragtigste blou lug, met een wolk wat aan die hand van die son mag stap, my moeder.  (165)

Die laaste gedeelte van Andrea bestaan uit ’n paar briewe wat die leser soos ’n voorhamerhou tref, en jou noop om wéér die romans te lees, want daar is meer as een intrige of geheim.

Saam bied die twee romans ’n genuanseerde en veelvlakkige verkenning van familiegeheime en historiese trauma, en die vertelling se gelaagde struktuur maak van hierdie tweeluik literêre romans werk par excellence.

Dit is egter jammer dat Olivier nie ’n hoofstuk oor sy vertaalpraktyk ingesluit het nie. Sommige stelwyses is geforseerd, of kom kunsmatig oor; dán verras die vertaler weer met die suiwerste liriese vertaling van Mortier se poëtiese prosa. So ’n hoofstuk oor vertaalpraktyk kon ook lig werp op die vertaling van Vlaamse en Duitse oorlogsterminologie, aangesien die roman die Afrikaanse diskoers (rondom begrippe en stelwyses tydens die Tweede Wêreldoorlog) verruim.

Die langverwagte is ongetwyfeld ’n juweel van ’n tweeluik; ’n aangrypende werk, soos die bronteks, en sensitief en poëties vertaal.  

Lees ook:

Fanie Olivier (1949–)

’n Gesprek tussen Estelle Kruger en Fanie Olivier oor sy vertaling van Mister Angelo Alzheimer

Heil die Leser!: Vertaalkuns as tweespraak – Mario Relandini en Rina Cascione

Heil die Leser!: Oor kortkuns, briewe en toesprake

Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top