...
Dit is nogal insiggewend dat twee werke van Geeraerts opgeneem is in die Lexicon van Literaire Werken en dat een van hulle De zaak Alzheimer is.
...
Welkom hier by ons kuberkletskamer in LitNet se virtuele ruimte, Fanie. Ek en jy het twee keer op dieselfde grond geloop en van dieselfde water gedrink, sonder dat ons van mekaar bewus was.
Eerstens het ons albei tegelykertyd by Universiteit Venda klasgegee sonder dat ons mekaar ooit ontmoet het – jy waarskynlik ’n doktor of professor in Afrikaans; ek ’n deeltydse lektor in Sielkundige Opvoedkunde vir eerstejaarstudente.
Die tweede fontein waaruit ons albei gedrink het (op verskillende tye), was nagraadse studie in Afrikaans-Nederlands waar ons aan die voete van prof TT Cloete gesit het om deurdrenk te word van sy denke, gedigte en filosofie in Literêre Teorie.
My eerste vraag handel oor die tweede fontein: in watter mate het prof Cloete jou denke en gedigte beïnvloed?
Die Venda-konneksie is nogal verrassend. Hoewel die Fakulteit Opvoedkunde so eenkant gestaan het, het die mense wat Afrikaans gepraat het, se paaie nogal gekruis. Buitendien was ek nogal ’n moeilike figuur op die kampus, omdat ek nie stilgebly het rondom korrupsie en akademiese wanbestuur nie. Het jy op Louis Trichardt gebly? Louis Trichardt is nogal interessant, omdat die politici twee maal die dorp se naam verander het, en albei kere maar moes bes gee. Maar genoeg oor die “goeie ou dae”...
Oor jou opmerking rondom prof Cloete moet ek jou teleurstel. My gevoel hieroor is tweërlei.
Hy was wel my uiteindelike studieleier vir my DLitt, maar die omstandighede was vreemd en vol ironie. Ek het my studie oor mistiek in die Afrikaanse poësie onder DJ Opperman en Johan Degenaar begin, maar met eersgenoemde se ernstige siekte, is daar besluit dat sy doktorale studente aan ander toegesê sou word.
Prof Degenaar (wat ’n wonderlike leermeester en latere vriend was) het gereël om met my op die lughawe te kom gesels toe ek vir koerantbesigheid (kunsredakteur van Rapport) in die Kaap was. Hy het my vertel dat ek aan prof Merwe Scholtz “oorgedra” is en dat hulle twee daaroor ontmoet het. Hy het my gewaarsku dat prof Scholtz my vergelykende studie wil verander om op Sheila Cussons te konsentreer en dat dit problematies sou word. Prof Degenaar het verkies om hom as mede-promotor te onttrek. Sy raad was dat ek liewers ’n ander studieleier moes gaan soek.
Ek het dus gaan kyk watter universiteit die goedkoopste alternatief was en die PU vir CHO was die keuse. Prof Cloete was die persoon by wie ek die beste akademiese aanklank gevind het. MAAR: in die sewentigerjare het hy vir die Broederbond ’n vertroulike dokument opgestel oor die gevaarlike, kommunisties-geïnspireerde en volksvreemde skrywers in Afrikaans. My pa het die dokument vir my gegee om te lees om hom te sê wat ek daarvan dink, sonder dat hy self eers daarna gekyk het. My verbasing (en syne ook!) was om te sien hoe skerp en venynig Cloete oor my geskryf het.
Mense se persoonlike menings oor dinge het my egter nog nooit sommer teen hulle laat draai nie en buitendien het Cloete intussen indrukwekkend as digter gedebuteer.
Ek het onder hom ingeskryf en sy eerste brief aan my was die volgende: “Liewe Fanie, dankie dat jy aan my gedink het om die studie rondom die mistiek by prof Opperman oor te neem. Ek doen dit graag. Ek stel voor dat jy voortgaan met dit wat jy reeds gedoen het en vir my stuur sodra jy ’n hoofstuk of twee klaar het. Daar is by my min twyfel daaroor dat jy weet wat jy wil doen. Vra gerus as jy my hulp nodig het en onthou dat jy welkom is om by ons te kom oorbly. Sterkte vorentoe en sorg dat jy ook tyd maak vir jou eie werk. T.T. Cloete.”
Ons het daarna twee keer rondom die proefskrif ontmoet, ek het met hom as studieleier gepromoveer en nooit oor daardie dokument verder gesels nie.
Fanie, hierdie boek is jou vierde vertaling uit Nederlandse prosa. Hoe besluit jy watter boek jy wil vertaal? Wat het jou spesifiek aangetrek tot hierdie krimi om dit te vertaal?
Die vorige drie vertalings is gedoen op uitnodiging van Nicol Stassen by Protea, iets waarvoor ek hom baie dankbaar is. As die eerste een, Woesten van Kris van Steenberge, nie gekom het nie, sou ek waarskynlik nie met hierdie lekker ding begin het nie.
Literatuur Vlaanderen is ’n liggaam wat die lettere- en boeksektor in Vlaandere ondersteun, onder andere met subsidies vir vertalings uit Nederlandse werk van Vlaamse skrywers. Hulle nooi persone uit om tekste voor te stel om te vertaal en betaal jou dan ’n lekker bedrag vir ’n “fragmentvertaling”, as hulle jou teksvoorstel aanvaar. ’n Gedeelte word egter teruggehou totdat die vertaler ’n uitgewer vind wat die vertaling sal uitgee.
Hoewel die klem dikwels of meestal op eietydse skrywers val, het ek besluit om iets van Jef Geeraerts voor te lê. As jong student het sy Black Venus ’n geweldige indruk op my gemaak en ek glo nog steeds dat dit een van die seminale tekste in die Nederlandse prosa is. Lees gerus: dis ’n meesleurende bewussynstroomvertelling vanuit die koloniale geskiedenis in die Belgiese Kongo, en deesdae allermins “woke”! Maar om dit te vertaal, sou bitter moeilik wees.
Naas sy ander romans wat by Black Venus aansluit as deel van die Gangreen-siklus, publiseer Geeraerts ook ander “ernstige” tekste, voordat hy aan die begin van die 1980’s begin om sogenaamde misdaadromans te skryf. Hy skep later ’n speurderpaar, Vincke en Verstuyft, wat soos Deon Meyer se Bennie Griessel en Vaughn Cupido volksbesit word. Die bekendste en beste roman in hierdie reeks is De saak Alzheimer. In die lig van die geweldige sukses oor die laaste tien jaar of so van hierdie soort krimi’s in Afrikaans, het ek besluit om De zaak Alzheimer te vertaal.
Dis ’n lekker storie, goed vertel. En ek het gedink dat dit dalk interessant sou wees vir Afrikaanse lesers om hierdeur ook Antwerpen te leer ken. Dis immers ook deel van ons historiese en literêre “stamland”, maar ons dink altyd net aan die Noorde en aan Amsterdam... Maar veral, dag ek, dat dit goed sou wees as ’n ander geslag, die derde of die vierde, sou ontdek dat daar iemand soos Jef Geeraerts bestaan.
Dit is nogal insiggewend dat twee werke van Geeraerts opgeneem is in die Lexicon van Literaire Werken en dat een van hulle De zaak Alzheimer is. Die beskrywing van wat hierdie leksikon is, maak dit duidelik dat ’n mens nie sommer die boek moet onderskat nie: “Het Lexicon van literaire werken is een losbladig naslagwerk waarin de meesterwerken uit de Nederlandstalige literatuur na 1900 worden besproken.”
Wat is die proses wat jy volg wanneer jy vertaal? Hoeveel navorsing moet jy doen? Is dit vir jou enigsins nodig om die struktuur van die misdaadverhaal te ken?
Die basiese proses is maar dieselfde en ek vermoed dit is wat die meeste vertalers doen. Jy lees die teks sekerlik minstens twee keer deur sodat jy die “gevoel” van die storie kan kry en vasstel hoe die storie vertel word. Laasgenoemde is seker die moeilikste ding om oor te besluit, en dan veral wat jy gaan doen rondom die hantering van tydvorme, spesifiek die verlede tyd.
Navorsing sal seker afhang van hóé jy die roman wil vertaal. As jy dit gaan verplaas na ’n ander omgewing, land of era, is daar seker baie om te doen. En harde werk om seker te maak dat jy nie foute maak nie! Ek het besluit om De zaak Alzheimer te vertaal soos en wanneer dit bestaan. Polisierange, byvoorbeeld, sou moeilikheid veroorsaak. Ek het gevra dat die uitgewers my ’n voorwoord sal toelaat, waarin ek vir die lesers voor hulle nog begin, sal verduidelik oor hoe België veertig jaar gelede gelyk het.
Die laaste deel van die vraag? Nee, hoegenaamd nie, want dit sou die werk van die skrywer gewees het. En ek twyfel buitendien of daar regtig ’n “resep” sou bestaan...
Uit jou ervaring kan ek agterkom dat jy Nederlandse skryf- en spreektaal vlot bemeester omdat jy heelwat jare daar deurgebring het en dat dit jou bevoeg maak om daaruit te kan vertaal. Het jy ook tyd in België deurgebring? Watter verskille kom jy agter tussen die Nederlanders en Belge se spreektaal?
Nee! Ek dink nie dat ek hoegenaamd daarop kan aanspraak maak dat ek Nederlands vlot kan skryf nie, ook omdat ek nog nooit probeer het nie. In al die jare het ek juis in Afrikaans vir Nederlandstalige kollegas, vriende en onbekendes geskryf. Dit is maklik vir hulle om te verstaan as die klompie valse vriende en die dubbele negatief uitgewys is.
Interessant genoeg kon ons destyds met die studiejare in Utrecht ons werkstukke en opdragte in Afrikaans inlewer! Oor die praat? “Amper” is so ’n valse vriend: as ek “amper” die trein gehaal het in Nederlands, sit ek op die trein, al is dit net-net, maar in Afrikaans staan ek uitasem op die perron. “Ik spreek heel graag Nederlands, als ‘t niet anders kan.”
Ek het oor die dekades (sjoe!) dikwels België besoek, en veral Vlaandere. Ek is geen taalkundige of taalhistorikus nie, en is nie heeltemal seker van die gangbare uitgangspunt dat die Suide se Nederlands “makliker” is vir Afrikaanssprekendes nie. Miskien was die problematiese simpatie/begrip wat die Vlaminge met die Afrikaners gehad het rondom apartheid, die rede hiervoor. Of miskien klink die “platter” uitspraak bekender? En dan, natuurlik, is daar die pragtige verskeidenheid “Nederlands” wat gepraat word en dat die wykstale in België soms hoorbaarder voortleef. Nee, eintlik kan ek nie jou vraag beantwoord nie.
Ek wonder ook hoekom daar al die grootdoenerigheid van ampte, medaljes, titels, range en rangorde is – selfs ’n baron uit vorige eeue. Sou dit deel van die Belgiese polisie wees?
Of is dit dalk die skrywer se tong in die kies waarmee hy liggies daarmee spot omdat elke persoon met ’n rang onderdanig moet wees aan die hoër gesag?
Derde opsie: is dit moontlik ’n skryfstyl om die leser te verwar en aandag af te trek van die hoofintrige met allerlei besonderhede van plekke?
Selfs in die kaarte voorin kon ek geen snars uitmaak nie, ten spyte daarvan dat ek ook self in Antwerpen was. Wat sou die bedoeling van die skrywer wees daarmee – spot/verwarring/inligting?
In die vroeë 1980’s was België (en dus ook Vlaandere) veel formeler as Nederland en status en wat daarmee saamgaan, baie belangrik. In my “Iets vooraf” verduidelik ek ook die opset rondom verskillende polisiemagte. Dit is interessant om, byvoorbeeld, daarop te let hoe die twee hoofkarakters se siening oor senioriteit en respek effens verskil. Ai, en ons Afrikaners het maar onlangs ons geweldige ontsag vir gesag in sy baie vorms begin afsterf. En, nee, ek dink nie dat Geeraerts hoegenaamd daarop ingestel sou wees om sy lesers te verwar nie: sy lesers het daarmee saamgeleef.
Oor die kaarte: nie seker hoekom jy niks daarvan begryp het nie... Die kaarte is die vertaler se besluit en het in jou geval dus nie gewerk nie. Die eerste kaart is die groter stadskern van Antwerpen, met die gedeelte waar baie van die handeling plaasvind, geblok. Die tweede kaart is daardie blokgedeelte, maar uit ’n ouer kaart waarin die name soos hulle in die boek gebruik word, te vinde is. Juis so ’n bietjie werk vir daardie lesers wat hulleself die hele tyd wil oriënteer.
In die boek ter sprake in ons gesprek, is dit vir my opmerklik dat die geregsdienaars min krag- en/of vloekwoorde gebruik (selfs ook Ian Rankin s’n in Engels en die Amerikaanse en Engelse misdaad TV-reekse wat ek op my rekenaar kyk) in vergelyking met Deon Meyer en Karin Brynard se spannings-/misdaad-/speurromans. Wat dink jy is die rede hiervoor?
Kom die Afrikaanse polisie-beamptes moontlik uit die weermagdae – ek weet dat baie mans geleer het om hierdie soort taal te gebruik (van boonste hiërargie tot onderste voetsoldate) as onderdanigheid? Het dit dalk te make met ’n afdwinging van mag en gesag, en respek vir die rangordes in die Suid-Afrikaanse geregsdienaars?
Ek kan my moeilik uitspreek oor hoekom die mense so vloek of “lelik” praat in die romans van Meyer en Brynard of die ander mense en dinge waarna jy verwys waarin dit nie so erg voorkom nie. Miskien is dit omdat hulle almal veel later as Geeraerts begin skryf het en dat vloek nie in 1980 gangbaar, aanvaarbaar of algemeen was nie. Vloek ons nie net meer en makliker nie, juis omdat dit ook so “woke” is. Ai, ’n wag voor die mond klink darem so outoritêr en jy sê juis dat jy dit orals raakloop en op die TV hoor. As mense almal deesdae praat van “Rondebosj” en “Fransjhoek” en “Ruiterbosj”, is vloek ook mos seker oukei.
Ek het waardering vir jou inleiding vooraf waarin jy die leser voorberei op die plek waar die verhaal afspeel, die taalgebruik aldaar en die lang arm van die gereg wat die leser in die verhaal leer ken as ’n Belgiese mafia in die hoëlui van die politieke en gereginstellings, met allerlei korrupsie en afpersing.
Wie beskou jy as jou teikenlesers? Wat dink jy is hulle verwagtingshorison en leeservaringswerklikheid van krimi’s?
My vraag spruit voort uit die gebruik van Franse en Nederlandse woorde in jou vertaling. Ek moes die heeltyd Google Translate en my dik Nederlandse Woordeboek (1992) van A Ardeling nader skraap om my te help met die Frans en Nederlands. Vir party van die onbekende (en hoë) Nederlandse woorde het ek gelukkig reggekom met behulp van my Afrikaans-Duitse woordeboek (1983) en PharosAanlyn.
Ek het lank gelede gelees dat skrywers en digters “vervreemdingstegnieke” het wat hulle in hulle skryfsels inbou, maar ek glo nie dit was jou bedoeling nie?
Praat asseblief met my hieroor.
Jou eerste paragraaf se opmerkings rondom die politiek kan net so van toepassing wees op ons eie gemeenskap. Lesers sal moeilik daardeur vervreemd voel.
Die teikenlesers: natuurlik die baie mense wat deesdae krimi’s lees en deur resensies en gesprekke soos hierdie een nuuskierig sou wees oor Mister Angelo. Die lekker voorblad help seker ook. Vir ’n ouer geslag wat op universiteit destyds kennis gemaak het met Jef Geeraerts (en dalk gekonfronteer is met sy Kongo-romans), sou dit miskien ’n rustige herwaardering van ouer skrywers uit ’n gedeelde taaltradisie kan beteken.
Oor die gebruik van “vreemde” woorde in die vertaling is ek effens onkant gevang. En jammer om te hoor dat jy jou op woordeboeke (heeltyd) moes verlaat. Natuurlik is dit belangrik dat lesers moet besef dat België ’n tweetalige land is en dat Frans ’n sterker burokratiese posisie inneem.
Ek het gedink dat ek die paar moeiliker en beduidender stukkies Frans vertaal het met ’n voetnoot en dat die enkele los woorde hier en daar die taalwêreld waarin Vincke en Verstuyft beweeg, reflekteer. Ek staan wel effens verbaas oor jou verwysingswêreld na “onbekende (en hoë) Nederlandse woorde”. Sal weer moet gaan kyk, want dit is natuurlik altyd ’n vertaler se las as die bron- en teikentaal naby mekaar lê.
Maar dalk is daardie woorde regtig ook bestaande en goeie Afrikaans, wat in onbruik verval het. En dink ek dat dit nodig is dat ons nie ons taalruimtes in daardie opsig steeds kleiner maak nie.
Ek veronderstel jou regskennis met ’n LLB en ervaring as advokaat agter jou blad, sowel as jou geregtelike betrokkenheid by die polemiek by Universiteit Venda, het jou goed toegerus om die inhoud van die oorspronklike teks volkome te begryp... Terwyl ek gelees het, het ek gewonder of jy moes gaan kers opsteek het by polisiekantore en ander geregtelike instansies in Antwerpen?
Dankie vir die pluimpie, maar die storie in Mister Angelo Alzheimer1 kom nie eintlik uit by hofintriges nie. Die spanning tussen die twee polisie-agentskappe behoort ná die kort verduideliking vooraf duidelik in die roman uit te speel. Uiteindelik is dit nie die polisie wat hier die tema word nie, maar hoe politici inmeng om hulle eie bloed te bevorder en bas te red. En ken ons dit nie ook hier by ons goed nie... Daar is wel hier en daar hiërargiese dinge wat vir my onbekend was en waaroor ek so ’n bietjie gaan lees het, maar uiteindelik was dit nie werklik so belangrik nie.
Ek sien die skrywer van die tersaaklike Nederlandse boek (Jef Geeraerts) is in 2015 oorlede. Moes jy toestemming by sy nasate (of uitgewer) kry om die boek te kan vertaal?
Ja, soos met alle vertalings moet ’n mens maar toestemming kry. Die kopiereg kan natuurlik deur ’n testament oorgedra word, maar in die geval van De zaak Alzheimer was dit by die uitgewer gesetel. Omdat boeke en skrywers in Europa belangrik is, is vertaalregte nogal duur. In hierdie geval was dit 1 500 euro, R25 000,00! Hierdie bedrag sou amper dieselfde wees as die produksiekoste, wat sou beteken dat die boek onbetaalbaar duur sou wees, sonder dat daar eers ’n waarborg is dat Afrikaanse krimi-lesers in ’n vertaling sou belangstel.
My uitgewer kon darem aan die uitgewer uitwys dat ons Afrikaanse leesmark en oplae klein is, en dat die leespubliek maar ’n stukkie van die Afrikaanssprekendes uitmaak. Selfs nou nog is daar seker ongeveer net soveel Vlaminge as Afrikaanssprekendes (ongeveer 6 miljoen), maar die potensiële lesers hier is seker 3% van wat in België die geval is. En dan laat jy die 15 miljoen Nederlanders oorkant die grens buite rekening.
Ek hou van die woord “krimi” – is dit jou nuutskepping of kom dit elders vandaan? Ek kry dit wel as ’n informele woord in die Tesourus van Afrikaans (PharosAanlyn), maar nie in die ander woordeboeke tot my beskikking nie.
Ek weet ook nie hoe en wanneer “krimi” by Afrikaans kom inbreek het nie. Dit is natuurlik reeds jare die Duitse verkorte vorm vir hierdie sub-genre, “Kriminalroman”. Lekker woord om ’n groot klomp eietydse Afrikaanse skrywers se werk te tipeer.
Op bladsy 316 word verwys na “scouts”, “padvinders” en “Voortrekkers”. Was daar werklik hierdie jeuggroepe in België? Het ons dit van ons Nederlandse en Belgiese voorvaders geërf?
Ja, inderdaad was hulle daar. Dit is benamings wat nog bestaan, maar ons het dit nie van ons Dietse voorvaders geërf nie. Die “scout”-beweging is aan die begin van die twintigste eeu, ná die Anglo-Boere-oorlog, deur Baden-Powell opgerig en is in Nederlands “padvinders” genoem. Die oudste ouderdomsgroepering (ná 18) van die padvinders word in Nederland en ook in Vlaandere “Voortrekkers” genoem (“Rovers” in Engels). Die oprigting van die Voortrekker-beweging in Suid-Afrika in 1931 was die Afrikanernasionalistiese eweknie van die “scouts”.
Ek wil hieronder in die eindnota2 so effens kyk na die struktuur van hierdie krimi en ’n paar opmerkings daaroor maak. Dit sal gaaf wees as jy van my verskil of saamstem en sommer so tussenin jou mening gee in ’n ander kleur. Ek sou graag wou weet of jy bewus is van hierdie fases en of dit hoegenaamd ’n invloed op jou vertaling gehad het.
Ek ken Deon se studie glad nie, en, nee, ek het geen idee van die sogenaamde fases van die krimi as sub-genre wat Deon Meyer blykbaar so netjies uiteengesit het nie, en aan die hand van een van sy eie boeke, nogal. Hierdie vertaling is nie ’n verwerking van die oorspronklike nie, maar bly in terme van struktuur presies soos Geeraerts dit gedoen het.
Al vertalende was ek nie bewus van ’n patroonmatigheid nie, maar ek neem aan dat ’n mens in enige goed-geskrewe roman ’n struktuur sou kon identifiseer. Of ’n vertaler dit ooit raaksien, bly myns insiens onseker. En as die vertaling klaar is, gaan ek in ieder geval nie die boek soos ’n akademiese navorser of misdaadkenner weer deurwerk nie.
Wat ek wel agtergekom het, is dat die vertelling soms stadiger word (ek dink aan die uittog om die lyke van slagoffers van die aanvanklike opdragmoorde te gaan opgrawe en die ondervraging van Mister Angelo) en ander kere in hoogste versnelling spring, soos in die laaste hoofstuk.
En, ek kan dit nie weglaat nie, al is dit hier onvanpas: dat die speurderpaar se werk eintlik onderworpe is aan die strepe wat ander trek: “Ons gerechtsapparaat wordt beheerst door politieke machtsverhoudingen en is meer dan ooit het toneel van de strijd tussen ideologische geschillen,” lees ons op die heel laaste bladsy.
Jy het die boek dus aan die hand van ’n bepaalde struktuur gelees en die storielyn dienooreenkomstig gaan afbaken? Dit is miskien ’n gevaarlike benadering, want tensy ’n skrywer resepmatig te werk gaan, is dit moeilik om ’n raster daarop te gaan plaas.
Vir ’n oomblik het jou vraag my wel in die versoeking gelei, maar ek het besluit om nie te probeer om dit met vers en kapittel te beantwoord nie. Miskien is ek ook net te lui!
Dankie, Fanie – jy het met jou Afrikaans daartoe bygedra dat die protagoniste Vincke en Verstuyft onder my vel inklim met elkeen se eie gewoontes, woorde en optrede, selfs met hulle verhoudings met vrouens. Ook kon ek saam met hulle groei in medelye vir die moordenaar omdat hulle begrip kry vir sy motief en swakheid. Jy het my (dalk ook ander lesers) met jou keurige vertaling uitgeboul om te besef wie die éintlike antagonis is.
Laaste vraag, Fanie. Nou dat jy werksaam is in Pole – kan ons uitsien na ’n vertaling uit ’n Poolse boek van jou iewers in die toekoms?
Dankie vir die mooi woorde. Ek moet sê dat die vertaling gunstig deur die resensente ontvang is en dat Geeraerts, ook volgens jou, regtig ’n lekker en interessante Afrikaanse boek “geskryf” het. En dankie ook vir hierdie geselskans wat jy geskep het.
Goeiste! Ek is reeds in 2016 uit Pole weg, maar ek het ’n heerlike Vlaamse kollega agtergelaat wat self ook intussen die baie groener weivelde in Bonn gaan opsoek het. Nee, daar is nie ’n kans dat ek ooit by so ’n vertaling sou uitkom nie. Taalkundiges beskou Pools as een van die moeilikste tale. Terwyl ek daar was, het ek en die studente in ’n vertaalmodule probeer om enkele Poolse gedigte in Engels te vertaal. Baie, baie, baie harde werk. Die Poolse letterkunde (en film, natuurlik) is ’n wonderlike skatkis en mense kan gerus gaan soek na Engelse vertalings.
Eindnotas as verwysingsbronne:
1 Olivier, F. 2022. Mister Angelo Alzheimer. Naledi Uitgewers. https://naledi.co.za/product/mister-angelo-alzheimer/
2 As (gewese) letterkundige onderriggewer en nou resensent van spanningsverhale in jeugletterkunde was dit telkens vir my nodig om nadat ek spanningsverhale gelees het (selfs tydens my leeservaring), na te dink oor die struktuur en karakters daarvan.
Om my hiermee te help in die lees van die tersaaklike speurroman het ek mettertyd bewus geraak van die spanningslyne soos wat Deon Meyer dit uiteensit in sy navorsing daaroor in sy MA-verhandeling (2005) by Universiteit Stellenbosch, wat ’n praktiese ondersoek na die struktuur van die speur- en spanningsroman is en hoe dit gemanifesteer word in sy eie boek Infanta (2004).
Hoofstukke 1 tot 6 lees soos ’n (polisie-)verslag: Datum/Tyd/Plek – dit lyk soos ’n uiteensetting van die spanningslyn, baie formeel en baie gedetailleerd.
Vanaf hoofstuk 7 is daar minder spanning, maar dele is steeds in verslagvorm waarin die basiese konflik vermeerder en die leser gespanne raak oor wat verder gaan gebeur.
Dan is daar in hoofstuk 12 ’n rustige verposing en die leser kan ’n bietjie agteroor sit en net geniet. Dit lees soos ’n intermezzo of tussenspel. Heel gemoedelik met musiek, braaivleis (soos in SA?), en wyn.
In hoofstuk 13 is daar meer polisieverslae en beskrywings, maar nie soveel spanning nie.
Hoofstuk 14 is die langste hoofstuk en die leser dink die polisie het nou alles onder beheer met die moordenaar in die tronk en ondervragingskamer. Dan kom die onverwagte klimaks wanneer die hoof van die mafia sy laaste korrupte toutjies trek met afpersing.
In hoofstuk 15 word die spanning die meeste as die leser besef ’n karakter moet nou ’n belangrike keuse maak wat handel oor lewe of dood. Hierna volg daar ’n skerpskutter, koeëls, veiligheidsknippe en veiligheidswagte in die “epicentrum van de interventie” (bl 390).
Hierna volg daar dalende handelinge, die ontknoping en oplossing van die konflik.
Lees ook:
Gesprek van Izak de Vries met Fanie Olivier (2017). https://oulitnet.co.za/mond/fanie.asp
Joan Hambidge se resensie (22 Augustus 2022). https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/geeraerts-se-knap-krimi-boei-ook-in-afrikaans-20220821
Naomi Meyer se onderhoud met Fanie Olivier (12 Oktober 2017). https://www.litnet.co.za/skrywersargiewe-gaan-landuit-n-onderhoud-met-fanie-olivier/
Fanie Olivier oor NP van Wyk Louw se invloed op hom (18 November 2020). https://www.litnet.co.za/rooidag-rooidag-wat-bring-jy-n-persoonlike-paadjie/
Fanie Olivier oor die Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch (13 Augustus 2019). https://www.litnet.co.za/konstitusionele-hof-gelyke-kanse-en-us/
Fanie Olivier: LitNet Akademies-resensie-essay: A History of South African Literature deur Jerzy Koch (9 Maart 2016). https://www.litnet.co.za/a-history-of-south-african-literature-afrikaans-literature-17th-19th-centuries/
Fanie Olivier: Vanuit Pole – rondom Stellenbosch. LitNet Seminare en essays (23 November 2015). https://www.litnet.co.za/vanuit-pole-rondom-stellenbosch/
Fanie Olivier: [tussen hakies (oor monnemente gepraat)]. Skryfkompetisies (11 Mei 2015). https://www.litnet.co.za/tussen-hakies-oor-monnemente-gepraat/
Fanie Olivier: Voorsittersverslag by geleentheid van die eerste ledevergadering van PEN Afrikaans (5 November 2012). https://www.litnet.co.za/voorsittersverslag-by-geleentheid-van-die-eerste-ledevergadering-van-pen-afrikaans/
Fanie Olivier oor Pretoria-PEN (7 Desember 2011). https://www.litnet.co.za/fanie-olivier-oor-pretoria-pen/
https://af.wikipedia.org/wiki/Fanie_Olivier
Meyer, D.F. 2005. ’n Praktiese ondersoek na die struktuur van die speur- en misdaadroman. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Kommentaar
Dankie Estelle en Fanie. Ek het die lees hiervan baie geniet en reken dat julle verdere agtergrondinligting vir die lesers hiermee oopbreek. Dit sal lekker wees om nog menings oor hierdie gesprek te sien...
Baie dankie vir hierdie interessante en insiggewende gesprek!