[tussen hakies (oor monnemente gepraat)]

  • 0

ons maak mos maklik monumente; skep oornag
[in die Groot Bestel] helde. vergeet as dit dag

word watter katte is in die donker geknyp
en wie maak benoude spronge [maar Tyd slyp

aan sy beiteltjie, en voor jy nog kan sê “mes”
keer alles om, leer ons (of leer nié) ons les

(nie)]. só: vir sy miljoene dooies is stalin nóú
sy staanplek kwyt. maar van tsjaka s’n onthou

ons niks: elke vliegtuig wat in durban land
soen sy voete buig voor hom skud sy hand.

rhodes was ’n bastard - vra gerus tog daai
ou man met die krygers rondom hom [maar raai

wie bou die universiteite waar algar deesdae
raas en breek]. vandag swaai ons bedonnerd vlae

net so dom soos vir die gewaandes gister:
dis hierdie president en daardie slim minister.

kom ons sorg ons hou die ander op hul plek
en hulle s’n. vat weg jou goed en hou jou bek!

vergeet van krag en water! maak ’n monument!
gou-gou ‘n T-hemp, later op vaste fondament!

“Ek sit en drink wyn. Al die nonsens gaan by
my verby” skryf ’n vriend. “Elke standbeeld kry

wat hy of sy verdien. Ek maak liewer ’n gedig
wat altyd staan en waarop ek ’n glasie lig.”

[hy skryf in afrikaans. op wikipedia lees
mens watter tale was daar eens gewees.]

die geskiedenis se skaakspel is geen middag
in die park nie, die reëls anders as verwag;

[wanneer die bomme daelank oor ’n dresden huil
treine inklok by birkenau ontelbare dooies skuil
in die hart van afrika die gifwolk soos ‘n sampioen
stadig in nagasaki en hirosjima doen wat hy moet doen]

daar is geen einde aan pionne nie. wie speel
teen wie kan ons ons nouliks eers verbeel

en baie dink maak jou net moeg en banger.
selfs op die ou blumse klippies kan mens langer

nie vertrou nie. die himalayas beginne roer
en eeue-oue tempels is in hul moer

’n tsoenami vee skielik ’n landskap skoon
letterlik, maar ook die metafoor waarin ons woon.

ek gee my vriend gelyk, maar net in hierdie sin:
so sluk die aarde self die (sy) monumente in.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top