Tydens 'n gesprek tussen Daniel Hugo en Yves T'Sjoen by die Tuin van Digters 2017 is internasionale betrokkenheid by Afrikaans bespreek. Die poësiesentrum in Gent bevat onder andere die Ernst van Heerden-versameling. Daar is in hierdie gesprek ook genoem dat Fanie Olivier sy boekery oorsee wil laat argiveer. Naomi Meyer het vir Fanie hieroor uitgevra.
Fanie, die nuus het ons bereik dat jy jou boekery en argief aan ’n sentrum in Gent geskenk het. Kan jy dalk bevestig of dit waar is?
Ja. Ek het ’n deel van my boekery aan die Universiteit Gent geskenk, daardie gedeelte waarin hulle belangstel. Soos almal weet, het die studie van Afrikaans daar ongelooflik gegroei, en dis nie net Afrikaanse letterkunde nie. Nou het die universiteit se bestuur ’n leerstoel vir Afrikaanse letterkunde, taalkunde en kultuurstudies ingestel, wat saam met die breë belangstelling in Afrika-studies aan Suid-Afrika nogal ’n prominente posisie in die universiteit se Fakulteit Lettere en Wysbegeerte gee.
Skrywers soos JM Coetzee se argief is ook landuit, maar hy is nie Afrikaans nie. Dink jy dis ’n teken van die Suid-Afrikaanse tye (ten opsigte van ’n regering wat dalk nie skryfwerk bewaar nie, of ’n persepsie dat dit so is)?
Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord, want Coetzee is kennelik iemand heeltemal anders en dit sou ’n eer wees vir enige instelling om sy dinge op te vang. En, kan ’n mens vra, is hy nog steeds ’n Suid-Afrikaanse skrywer? Vir my was dit gewoon ’n geval van ’n besluit om my lewe skraler te maak en om ’n tuiste te vind vir my goed. En dat dit vir Gent waardevol en nuttig gaan wees vir hulle nuwe studente, dosente wat moet klasgee en ook vir Suid-Afrikaners wat daar wil gaan studeer, was in daardie opsig deurslaggewend. Ek het wel hier navraag gedoen by instansies wat ek gedink het dit sou kon gebruik, maar hulle het nie nou belang gestel nie. Die studie van Afrikaanse letterkunde en taalkunde word hier al hoe kleiner bedryf – dink maar aan die instellings waar die studierigting heeltemal verdwyn het. Hierby kom ook die probleem na vore oor hoe veilig dinge op die oomblik in Suid-Afrika is. Boeke en papiere brand so lekker! (Moet egter nie vergeet dat dit die sg beskaafde Nederlanders was wat waardevolle – soms onvervangbare – geskrifte in die water gesmyt het nie.) Maar dit sou nogal naïef wees om te glo dat die huidige regime hier ter lande werklik dink dat boeke en skrywers belangrik is en geld gaan eenkant hou vir argivering. Die hele onsekerheid oor wat met Naln moet gebeur, is seker die duidelikste bewys hiervan. En Heine se waarskuwing moet ons onthou: waar hulle boeke brand, sal hulle uiteindelik mense ook brand. (Of het ons dit andersom aangepak?)
Wil jy dalk uitbrei op wat alles in jou argief gestoor word?
Daar is geen “argief” as sodanig ter sprake nie. Wat naas die boeke verstuur word, is op die oomblik baie jare se fotostate van boekresensies, en artikels oor en gesprekke met skrywers. Daar is ook enkele "plakboeke" oor insidente soos James Polley se Somerskool, die hofsake rondom Kennis van die aand en Okhela, die Magersfontein-fiasko's. Ek het getrou ook resensies agter in boeke gebêre – ek weet nie of die mense by Gent dit daar gaan hou nie. Dan is daar natuurlik ook tydskrifte rondom letterkunde en kultuurstudies. Korrespondensie is nog nie weg nie, want ek moet dit nog uit verskillende lêers bymekaar sit. Die manuskripte rondom my eerste vier bundels is by Naln, maar ek is nie seker of die dinge daarna nog daar tereg gaan kom nie. Ek is ook nie seker of Gent daarin sou belangstel nie. Daar is ook dinge wat ek hoop om nog af te handel, soos die geskiedenis van die Afrikaanse PEN-vereniging – die dokumente daarvan is dus nog hier.
Soos ’n mens sou verwag, is boeke wat te make het met die Afrikaanse taal, letterkunde en kultuur (lg so wyd soos die Heer se genade, natuurlik), Suid-Afrikaanse politiek en die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde die dinge waarin Gent belangstel. Daar is ook ’n aantal "agtergrondboeke", soos Obie Oberholzer se fotoboeke en sulke verwante koffietafelboeke wat studente in Vlaandere sal help om te verstaan hoe lyk ons land van bietjie grond en baie klip. Ander wêreldletterkundes moet dus maar hier tuis bly, soos ook ’n akademiese leeftyd se boeke rondom die literatuurwetenskap en literatuurgeskiedenis. Dit is dus nie my hele boekery wat die see gevat het nie, maar dinge wat spesifiek met die vakgroep in Gent te make het. Aanvanklik was die idee van die skenking dat dit die volledige boekery sou wees, maar ek vermoed dat die koste aan die verskeping en die ontsluiting [ook eventuele fisiese ruimte] tot ’n ander versoek aanleiding gegee het. Ek het ook digby 100 DVD's saamgestuur wat die hele spektrum van die Suid-Afrikaanse filmwêreld en -geskiedenis verteenwoordig.
Daar is ’n magdom getekende eksemplare, bibliofiele uitgawes en Africana (heelwat was vroeër in my pa se boekery) – my studentemaat en latere sportskrywer en nog latere boekman, Lappe Laubscher, het nog voor sy hartseer dood my hart laat stilstaan toe hy my vertel het wat die boekery werd sou wees. Maar ek het besluit dat ek nie gaan begin uitsoek nie, maar alles Gent toe sal laat gaan. Miskien kry ons darem ’n vliegtuigkaartjie daarvoor in ruil!
Dalk kan jy iets sê oor nalatenskap: van ’n digter, ’n skrywer en ’n taal. Lê dit opgesluit in ’n konkrete argief alleen?
Wat is ’n skrywer se nalatenskap? Waarskynlik net haar of sy werk, en ook dit word mettertyd minder beduidend. Daar is gewoon te veel dinge wat gebeur en wat die kollektiewe geheue al hoe swakker maak. Waarvan leer ons kinders op skool? Het ons hoegenaamd iemand wat lus is of in staat is om die groot en veeleisende biografieë van Kannemeyer en Steyn voort te sit? Of uitgewers wat daarvoor kans sal sien? Hennie van Coller se Perspektief en profiel is op die oomblik ons enigste troos, maar vir hoe lank? Maar waar is die studie oor Johannes Meintjies byvoorbeeld? Het iemand al werklik Johan van Wyk se bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde bekyk? Miskien moet iemand iewers besluit om elke kwartaal/seisoen ’n spesifieke skrywersfiguur te kies en hom of haar op verskillende platforms onder die aandag te bring.
Jy het in ander lande gewoon en dit bied ’n soort perspektief: hierdie land is nie die middelpunt van die heelal nie. Of hoe? Het jou buitelandse verblyf dalk ’n rol in jou besluit gespeel?
Enigiemand wat vir ’n paar jaar elders gewoon het, kry beslis ’n ander perspektief op ons en die werklikheid en die wêreld. (Dit geld trouens ook vir die mense rondom die Wes-Kaap wat ook nie weet hoe dit elders in Suid-Afrika lyk nie, behalwe Johannesburg se lughawe, dalk.) Ja, Suid-Afrika is nie die beste en die mooiste en die enigste nie en ek het moeite met mense wat dweep rondom patriotisme en nasionalisme. Wat vir my wel uniek is oor ons stukkie wêreld, is Afrikaans en die werklik verstommende letterkunde wat ons taalgemeenskap oplewer. Daarom is al daardie groter sentra buite ons grense waar mense hulle met oorgawe besig hou rondom Afrikaans, onvoorwaardelik kosbaar. En akademici en navorsers, ook in kleiner kring. En as ’n universiteit, en dan een met die status van Gent, in die jaar 2017 ’n nuwe leerstoel rondom Afrikaans instel, wil ek graag op my manier help dat dit die beeld van ons taal en letterkunde lewend kan hou.
Wil jy dalk iets skryf oor wat ’n argief deesdae is – ’n tasbare plek, maar hoe dan met betrekking tot virtuele argiewe en die internet? Waarom argiveer – en hoe?
Natuurlik moet ’n argief ook ’n tasbare plek wees, waar mense kan ruik en voel en sien hoe dinge lyk (ook Fanie Olivier se boekery wat vertel van ’n dak wat gelek het, gekko's en muise en vismotte en baie stof). Ook destyds se boeke en dinge. Hoe ’n snerttydskrif soos Huisgenoot destyds as Die Huisgenoot ons letterkunde en skrywers inderdaad huisgenote en gespreksgenote gemaak het. Hoe daar agt, nege resensies in koerante oor ’n boek verskyn het. Eers met hierdie soort bekendstelling verdwyn kitsinligting (hier klik-klik en daar klik-klik en woerts in die vergeetvullisblik) en ontstaan daar iets van kennis en respek en begrip. Daar is iets ontstellend waardevol in so ’n soort blootstelling: “kennismaking” is ’n goeie woord. Natuurlik moet alle waardevolle dokumente ook gedigitaliseer word, om baie praktiese redes. Argiewe van skrywers help om hulle as mense te onthou, ook diegene wat nie glansganse is nie. Die dood is, nog steeds, die groot gelykmaker.
Dink jy Suid-Afrikaanse skrywers hét nog ’n plek om te argiveer? En Afrikaanse skrywers?
Dit is onwaarskynlik dat ons ooit ’n Suid-Afrikaanse skrywersargiefplek sou kon kry. Die aard van ons gemeenskap gaan dit net nie toelaat nie. Wat weet ons politici in ieder geval van skrywers? Ek weet nie mooi wat daardie pragtige nuwe gebou van Nelm in Grahamstad gaan inhou nie, maar ek hoop dat hulle so ’n funksie sal kan vervul vir Engelstalige skrywers uit ons kontreie. Dit sou wonderlik wees as dorpe ’n plek kan inruim vir hulle skrywers, maar wie gee die geld en wie versorg dit later? Gaan kyk maar hoe lyk begraafplase op die platteland ... En soos die demografie verander, word skrywers in ieder geval irrelevant. Dorpsbiblioteke soek nie eers skenkings nie. Vir die Afrikaanse skrywers (of sommiges) was daar darem altyd Bloemfontein se Naln, maar die bestaanstoekoms en die bedryfstoekoms daarvan word skynbaar steeds onsekerder. Die staat voel hieroor duidelik nie veel nie, en die Lotto het ook net soveel speelkans. Waar is al daardie skatskatryk mense met hulle miljardes? Jy kan immers net sóveel geld verwerk, jou kinders net sóveel hanteer, en jy kan niks met jou saamneem nie. Hoekom nie iewers ’n projek begin (alleen of as ’n groep) om die toekoms van hierdie dinge in ’n dokumentasiesentrum te verseker nie?
Wat dan van die universiteite? vra iemand my. Waar is daar ’n universiteit, antwoord ek, waar ’n mens kan glo dat ’n Afrikaanse skrywersargief met piëteit en sorg bestuur, ontwikkel en uitgebrei sal word? Waar, trouens, een wat regtig oor Afrikaans self gaan omgee?
Waarom die sentrum in Gent, spesifiek?
Ek dink ek het dit reeds beantwoord. Bo en behalwe dat hulle regtig omgee vir Afrikaans, behoort daar iewers in Vlaandere ’n instelling te wees waar mense toegang tot die Afrikaanse leefwêreld sal kan kry. Die Poëziecentrum in Gent het reeds ’n uitsonderlike versameling Afrikaanse poësie waarby my skenking sal kan inskakel om daardie deur op Afrikaans wyd oop te hou. En veilig, glo ek. En, buitendien, dit is so ’n pragtige stad daarby.
Kommentaar
In 2000 skryf Hennie Aucamp aan Elize Botha: "Ek voorspel 'n dag dat Afrikaans vanuit Nederland in stand gehou sal moet word." ("Gespreksgenoot - 'n Brieweboek" saamgestel deur Heilna du Plooy, Litera, 2017.) Maar hy kon en moes ook Vlaandere bygevoeg het. Hy het daardie sin geskryf na die bekendstellingstoer deur Nederland en Vlaandere van Gerrit Komrij se bloemlesing uit die Afrikaanse digkuns, waaraan hy en vier ander digters deelgeneem het. Gent is nou in besit van Ernst van Heerden se versameling Afrikaanse digbundels en van Fanie Olivier se boekery plus dokumente. Botha se reaksie op Aucamp se profetiese woorde was: "... 'n koue hand het om my hart gevat." Daardie hart word al hoe kouer vir ons wat nog in die lewe is en sien wat in Suid-Afrika gebeur. Biblioteke en ander kultuurbewarende geboue word inderdaad afgebrand. En Afrikaans verstik in die rook. Maar 'n beduidende aantal Afrikaanse akademici word koud gelaat daardeur. Jy het die regte ding gedoen, prof Olivier.
Insiggewende onderhoud, wat 'n mens natuurlik hartseer stem. Miskien sal Afrikaans eendag nog net oorsee ernstig bestudeer en bewaar word.
Dit breek my hart, maar dit is waar. Die ander opsie is die lot wat Opperman en Kannemeyer se boekerye oorgekom het: deur gebrek aan belangstelling en/of geld het dit oor die land versprei geraak. Die blik wat bv Opperman se boekery met sy notas in boeke ens sou kon gee op die brein, die gedagtewêreld waaruit sy werk voortgekom het (ons is wat ons lees), is vir altyd verlore. VWL het goddank dié vernederende lot ontsnap. Maar dit was 'n ander tyd.
Daardie koue klem om die hart voel ek ook akuut - om dieselfde hart waarin ook 'n brok trots om wat in die taal presteer is en word, durf gloei. Fanie (en ook Daniel se besluite rondom sy literêre nalatenskap 'n tyd gelede) sit skrywers opnuut aan die dink oor wat hulle waar en hoe gaan agterlaat. Dis dalk 'n aangeleentheid om by 'n nadinksaamtrek ter sprake te bring - soos Fanie suggereer.