“Rooidag, rooidag, wat bring jy?” – ’n persoonlike paadjie

  • 6

NP Van Wyk Louw (Foto: Openbare domein)

Ek het nooit die voorreg gehad om Van Wyk Louw persoonlik te ontmoet nie – die naaste daaraan was seker maar daardie wonderlike aande wat ’n mens kon sit en luister hoe hy oor die radio vertel rondom sy eie werk.

Daar was aan daardie stem ’n soort gravitas, daardie deug wat die Romeine eeue gelede so hoog aangeslaan het: gewigtig, oorwoë, toegewyd, waardig. Niks beterweterig nie, niks van die striemendheid wat jou soms onrustig rondom jou laat kyk het al het jy geweet dat jy alleen was nie. Maar met die ondertoon van die digterstem in “Mei-Fees in Amsterdam”: “my woord was nooit die waarheid nie.”

En die oorheersende besef, ook uit hierdie gedig: “God het ’n kodisil”:

En tog het ek hom, van wat ek kan onthou, geken. My ouers was albei baie lief vir poësie en het graag gedigte “opgesê” en daar het ek die eerste keer sy naam gehoor. Later eers het ek sy kloutjie by die hoor van een van die eerste “rympies” wat ek geleer het, gebring:

Rooidag, rooidag,
wat bring jy?
Ek weet nie waarom
voel ek so bly;

my hart die klop,
en dit voel vir my,
sowaar, sowaar,
vandag kom hy.

My kinderdae was Kaapse dae, want my pa het (toevallig) ook by die Fakulteit Opvoedkunde by Ikeys begin werk net nadat Louw daar vertrek het. Dit was jare waarin mense by ons aan huis gekom het wat die Louws goed geken het, maar ook in die literêre wêreld beweeg het: Boerneef, ID du Plessis, Canis Scholtz, Dirk Opperman en Marthinus Versfeld. Toe was kinders nog nie eers gesien nie, wat nog van gehoor, maar my ma het darem altyd gesorg dat ek en my suster geweet het wie aan watter stem behoort. En dan ook telkens gedigte gaan byhaal om dit te illustreer.

Of te vertel van die wêreld se beloop. Van hoe die jaar ryp word in goue akkerblare, en die bangmaakstrandjutwolf wat kon kom inloer by die hoë skoorsteen van ons huis. Ons wintervakansies bring ons deur op Zoetvlei, die plaas van Fred Rubidge in die Graaff-Reinetse Karoo. In daardie kontrei met sy baie klipwerk, die jakkalse in die rantjies en die room laat middae sou ander dele van Van Wyk Louw later plek kry in die kop met wie se woorde die man toor.

Boerneef, ID du Plessis en DJ Opperman (Foto's: Openbare domein)

In die ou standerd vier sterf een van my klasmaats in 1960 aan breinvliesontsteking. Alhoewel die dood nie so onbekend was nie (daarvoor maak troeteldiere ’n kind gereed), het die wegraak van Johan tog ander dinge losgemaak. Was dít dan die strandjutwolf, die Gryse, waarvan my pa voorgedra het?

en as ek in my kamer lê
en áls is stil en swart,
dan weet ek is dit in die huis,
ek luister na my hart,

ek weet sy oë is vaal en blind,
ek hoor hom sagter as ’n snik
net in die gang, en tussenin
my polshorlosie tik,

en op die helder dag weet ek
dat die Gryse by my bly,
ek hoor sy draffie en ek voel
sy wit oë agter my.

Maar ek onthou dat my ma weer ’n gedig gaan haal het met trooswoorde, waarvan ek iets van die betekenis eers jare later regtig sou verstaan: “Mooi is die lewe en die dood is mooi.”

Sowel “Die strandjutwolf” as “nog in my laaste woorde” verskyn elke nou en dan nog op voorgeskrewe lyste ...

(En terwyl ek nou weer na hierdie stuk kyk, onthou ek in een van Karel Schoeman se heel laaste dinge wat hy uit Lesotho geskryf het:

Ek was egter baie moeg en het hierna dadelik bed toe gegaan, waar ek, teen die kussings gestut, twee uur lank lomerig deur die glasdeur lê en uitkyk het na die laatmiddag- en aandlig op die wiegende blare van die verkleurende plataan vlak daarvoor, en onvermydelik aan Van Wyk Louw moes dink: “Mooi is die lewe, en die dood is mooi.”)

Maar sonder dat ek dit geweet het, het die grootwordwêreld in en om ons huis my geslyp vir die ander deel van die digter-denker. Naas die kollegas by die universiteit was daar ook ander wêrelde waaraan ek blootgestel is. My ouers was betrokke by Morele Herbewapening, en hierdeur het ons van vroeg af ook mense van alle kleure, gelowe en nasionaliteite, ook uit Afrika anderkant die Oranje- en Visrivier, as besoekers en oorblygaste gehad. Daarmee saam ook vriende uit die ander Kaapse gemeenskap, soos oom Pat Sonn en oom Richard van der Ross.

Die oop gesprek, die oopstel en respek vir ander, het by my wortelgeskiet. Dit sou daartoe aanleiding gee dat ek my reeds as hoërskoolkind, en daarna vir die res van my lewe, ook sou besig hou met die prosa van NP Van Wyk Louw en die verkenning van ons gemeenskap binne die raamwerk van ’n lojale verset en die meedoënlose eise wat dit stel:

Alleen die baie-fyn dink is helder:
so fyn dat byna niemand dit wil vat nie.
Al die ander dink is saam-hurk, of paring,
in ’n donkerte waarin ons soet-goed fluister.

Maar Tristia sou later kom, want eers was daar Raka waarin dieselfde onderliggende spanning aanwesig was. Maar vroeër nog ’n paar dinge waarvan ek vaagweg bewus geword het as kind in en uit daardie huis: die ongelukkigheid rondom wat met die kleurlinge gebeur, Die wonder van Afrikaans, 1960, Die dieper reg, en ’n nuwe republiek.

Ek het hier bo verwys na die feit dat ons huis geen kleurgrense geken het nie. Gesprekke in die sitkamer was taboe vir ons as kinders (en buitendien oninteressant), maar in die stemtone was dit duidelik dat daar iewers fout was en baie ongelukkigheid.

Tien, twaalf jaar later, in my matriekjaar, het baie dinge rondom hierdie gesprekke helderheid gekry nadat my pa vir my ’n boekie gee om te lees: Die opkoms van die derde stand. My kop was die ene Van Wyk Louw (ek vertel van Louw Odendaal later) en in die boek van David Botha was daar ’n voorwoord deur hom:

Ek wil nie voorgee dat ek baie politieke slag besit nie (en politieke behendigheid is iets wat ek minag). Wél het ek ’n innige begeerte – nee, ’n hartstogtelike wil – dat my volk, Blank en Bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan [...] dat alleen die geregtigheid wat God eis, en die noodlot van ons nasie, Blank en Bruin, taal-kry.

[...]

Ek vind “Kleurling” (mét of sonder hoofletter) ’n nare woord, met plantasie- en koloniale bysmake – dalk nie eers goeie Afrikaans nie, ’n geïmporteerde woord.

[...]

’n Mens moet sélf jou posisie kies – nié iemand anders toelaat om te sê nie: “Jy gaan staan dáár, want ék wil hiér staan.”

[...]

Hierdie boek gryp te diep in ons hele nasionale toekoms in [...] Dit is geen stuk “sensasie” nie. Dit is ’n oproep tot dink - miskien tot biddende dink. En tot handel.

Die boek ook, maar veral hierdie voorwoord, het my kritiese bewussyn vir altyd verander.

Reeds in 1959 het die doenighede rondom “Die wonder van Afrikaans” my egter onrustig gemaak. By die skool kon ek dit verstaan, maar die foto’s in die koerant het my gepla. Hoekom was alles so blank? En by die Republiek-wording twee jaar later: Waarom was alles so blank? Baie jare later, weer eens, sou ek antwoorde van ’n ander aard kry wanneer ek Van Wyk Louw se aangrypende artikel “Laat ons nie roem nie” oor die verheerliking van Afrikaans in die hande kry.

Dit is daarin waar hy die volgende geskryf het, waarvan ’n deel by die Taalmonument in die Paarl vir almal onthoubaar gemaak is:

Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika; hulle is albei groot magte; en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.

[...] Maar wat ons nooit moet vergeet nie, is dat hierdie verandering van land en landskap as’t ware aan die nuwe wordende taal geslyp, geknee, gebrei het ... En so het Afrikaans in staat geword om hierdie nuwe land uit te sê soos geen ander Europese taal nie.

[...] Ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sál maak van hierdie glansende werktuig, hierdie tweesnydende swaard.

Terug by 1960, my laaste jaar in Rondebosch. Vir my as 11-jarige het Sharpeville en sy Kaapse nadraai net skrams geraak. Die radionuus het vertel van die mense wat doodgeskiet is en in Die Burger het foto’s vertel van die duisende swart mense wat op 30 Maart uit die buurte van die son en die maan, Langa en Nyanga, opgeruk het na die Kaapse middestad. Die Swart Gevaar het skielik gestalte gekry en die mag van die massa sigbaar. Nasie en staat en volk het skielik en onherroeplik verander.

Die enigste keer dat ek ooit ’n opvoering van Die dieper reg gesien het, was in die destydse Suid-Rhodesië. My oupa aan my ma se kant het as ’n tjokkertjie saam met die Martin-trek daarheen verhuis; eers op Melsetter geboer en later tussen Inyazura en Odzi. Ons somervakansies het ons daar deurgebring en die lang reis soontoe was altyd so gereël dat ons betyds daar sou wees vir die Dingaansdagviering.

Op die amptelike feesterrein het die groterige Afrikaanse gemeenskap saamgetrek vir ’n dag of drie, gekuier, makietie gehou en die Gelofte herdenk. Toesprake, boeresport, voordragte, konsert, erediens. ’n Volk sonder grense, het ek seker agtergekom. “Die diaspora” was ’n ghrênd benaming wat eers later sou tuiskom in Afrikaans.

Daar, onder en tussen die bome, het ’n groep entoesiastiese amateurs vir ons Die dieper reg gespeel. Ek was seker veertien of so. Die aanbieding was vir my maar bra langdradig en vervelig; wegkomkans was daar nie! Maar ek het grepe herken wat ek reeds gehoor het, en waarvan ek nou eers ontdek het dat dit nie gedigte is nie, maar ’n onderdeel van iets groters:

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.

Sal nooit ’n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk

dat mense in ’n verre land
wat van jou naam die melding hoor,
met wilde en helder oog sal staar
soos vroeë vaarders in die nag
verslae gesien het kim bo kim
die nuwe, blom-groot sterre styg
op uit jou see se wit gevaar?

Wat sou die digter twee dekades na 1938, terwyl hy self in ’n verre land sit en nuusberigte uit Suid-Afrika hoor, hieroor dink? En nog ’n dekade later? Hoe wyd en droef die land regtig geword het? Hoe daar ’n ander wit gevaar hom tuisgemaak het onder die eenvoudige mense? En kon hy droom hoe hierdie land uiteindelik, eenkant toe geskuif, werklik alleen onder die groot suidersterre sou staan?

Ek was in standerd vyf toe ons Durban toe verhuis het, die jaar van die Republiekwording. Hier het ons ander mense leer ken in ons huis sonder grense. Die Indiërs in my pa se werksfeer, die Zoeloesprekers van wie Opperman se gedigte so baie vertel het. Dit was nuwe en ander omgewings, waarvan ek tot op daardie tydstip min by Van Wyk Louw gehoor het.

Vir Natalse Afrikaners was die koms van die Republiek waarskynlik meer van ’n taalding as elders, want hier moes mens, ook as skoolkind, bontstaan om in Afrikaans te oorleef. Die swart stadsmense het dit glad nie geken nie, wou in ieder geval die graagste Zoeloe praat; die ouer Indiërs het omgegaan met die vreemde klanke van Tamil en Hindi en Goedjarati, hulle kinders en my tydgenote almal met net Engels. En die Engelse wit skoliere het met nogalse minagting na die “Dutchies” verwys. Hulle ouers sou liefs afgestig het as dit kon.

Het Van Wyk Louw ooit iets geskryf oor 1961? Tóé sou ek dit nie geweet het nie en waar ek nou sit en skrywe, kan ek nie my hand op alles lê nie. In ieder geval, toe ek oor die baie jare die kritiese werk van Louw begin lees het, het ek nie daarop afgekom nie. Het hy opgehou om so indringend te skryf toe hy hom na sy terugkeer in Johannesburg gaan vestig het?

Maar die kennismaking met hom het voorlopig nog by die voorgeskrewe gedigte gebly, elkeen mooier en anders as die voriges. “Die beiteltjie” wat vertel hoe wonderlik en gevaarlik skryf kan wees, en die steeds groeiender besef dat die wêreld ruimer is as die grense wat om ’n mens se denke getrek word:

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see.

Ek gaan grawe my ma-hulle se Nuwe verse uit, verdwaal in “Klipwerk”, en hoor verdwaas hoe ander klippies in die donker water plof. Skielik, soos dit moet wees, begin gedigte wat ek al gehoor het, anders klink en ontdek ek ander.

En toe beland daar, naas sy bekende gedigte, Raka op die dubbelbankskoollessenaar. “Skooluitgawe” was op die voorblad gedruk. Hoekom, sou ek namens almal gaan probeer uitvind, maar wat dit was, kan ek nie meer onthou nie. Volgens my vroeëre kollega, Ian Raper, was dit net die volgende paar reëls wat ons oë en ore waarskynlik gespaar moes word:

die mondgat uitgegrawe en skewerig vol
wit doringtande, en skaamteloos groot
die skaamte ...

Tot vandag toe is dit vir my onverstaanbaar dat die skrywer die weglating toegelaat het, omdat dit immers op ’n vorm van sensuur neergekom het, iets wat ek geensins kan rym met die houding wat hy hieroor ingeneem het nie. Maar miskien was dit ’n klein prys om te betaal vir die honderde duisende eksemplare wat verkoop is, en ’n nog kleiner prys vir die blootstelling en uitdaging wat die teks vir die skoliere, die eerste geslag apartheidskinders, gebring het.

In die reeks radiogesprekke Rondom eie werk vertel hy self oor die moontlike verskeidenheid interpretasies van hierdie epiese werk, want die feit dat beide Raka en Koki uit die swart gemeenskap kom, het die maklike verklaring in die lig van die Swart Gevaar gekelder.

Vir my was die spanning duidelik tussen kultuurgoed en die onbegrip daarvan, en die sentrale en dwingende rol om as individu standpunt in te neem teen die aftakeling van waardes. Dit het ek immers jare vantevore by een van my ouers gehoor:

dat ons nie kon gebuig word
soos hul geweld dit wou,
en dat ons hoog kon lewe
net aan ons bloed getrou.

Maar die mooiste omtrent Raka was die vooropstelling van die woord binne hierdie konteks:

Ken Raka, hy die sterk dier, ons fyn, fyn net
van die woord, waarmee ons blink en vet
visse uit baie waters haal? Ken hy die vuurgeheim?

En die werklike wonderwerk om hierdie “fyn net” oënskynlik moeteloos te span in die paarrym, bladsy na bladsy na bladsy ...

Seker die ingrypendste gedeelte van my skoolloopbaan was die dag toe Louw Odendaal sy onderwysloopbaan as Afrikaans-onderwyser by die Hoërskool Port Natal begin het. Grensverskuiwend, vir my in ieder geval, hoewel ek nie seker is dat sy dinge almal se goedkeuring weggedra het nie. Hy het tjoef-tjaf die voorgeskrewe werk met ons klaargemaak, en ons toe begin vertel van en voorgelees uit dinge wat vir hom lekker was en wat hy gedink het vir ons nodig was.

Vars, vars soos vars brood. Ondermynend soos dryfsand. Dolf van Niekerk se Die son struikel, stukkies uit Hilaria, maar veral Sewe dae by die Silbersteins, Vernuwing in die prosa (waarin die stuk oor Afrikaans, Afrika en Europa verskyn het) en Breyten se katastrofes en sy ysterkoei met die pampoenranke langs die treinspoor en die liefde se rooiborsduif, Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa en, natuurlik, Tristia.

Die kleiner gedigte daaruit het meneer Odendaal vir ons gelees en probeer verduidelik: “Voorspel 1950”, “Jy’t weggegaan en jy bewoon ’n silwer herberg in die sneeu”, “noordelike Junie”, “Karoo-dorp: Someraand”, “Wie naand gesê het, moet goed wees”, maar ook (hoe het hy dit reggekry?) “Nuusberigte: 1956”.

By Drakensberg-boekwinkel (in die Saambou-gebou, meen ek) het ek met ’n paar weke se sakgeld ’n kopie van Tristia gekoop. Alhoewel ek baie, baie dinge nie verstaan het nie (ai, waar was Google?), het ek met die hulp van altyd-gewillige ouers en Die Afrikaanse Kinderensiklopedie (waarvan NP Van Wyk Louw ook ’n beduidende samewerker was) gesien hoe Afrika en Europa hier saamgroei. ’n Paar jaar later sou Dirk Opperman bietjies-bietjies nog deure op ’n kier oopmaak.

Ek het dinge wat ek geskryf het, vir meneer Odendaal gewys en hy het my meedoënloos tereggewys én aangemoedig, my moeilike vrae rondom wat gedigte is, probeer beantwoord, en die lastige vrae oor volk en nasie en bloed telkens na Van Wyk Louw teruggebring.

“Nuusberigte: 1956” het hom as politieke gedig kom staanmaak in my kop: Só skerp sou ’n mens na jou mense en jou land moes kon kyk, op so ’n manier dat niemand kon beweer dat hulle nie gewaarsku is nie:

die sonde van die vermetel volk wat vir U durf aanroep,
wat u heilige Naam durf aanroep oor hulle naamloos
klein (maar voordelige) transaksies.

[...] – Heer, leer ons dink wat “besit” is, Heer laat ons dink! –
en dan: oor haat van swartes, bruines, wittes:
oor dit en sy oorsaak durf ek oordeel afroep.

[...] Ek het vergeet – nie geweet? – in die dae toe ons jonk was:
Afrikanerskap is nie heilig. Ons wou dit heilig hê;

[...] Afrikaners in aansienlike posisies
– mense deur swart opskrifte in die koerante bedien –
die soort wat boos is met terugwerkende krag.

Ek het Lojale verset by die huis gekry en begin lees, sukkelend met die baie groot woorde, en orals dinge gevind wat vir my, vol met die oormoed van ’n tiener, die nuwe evangelie geword het:

Jy moet tussen die mense ingaan en saamspeel in hul spel; maar jy moet jou eensaamheid bewaar soos ’n hol waarin jy telkens kan terugkruip met jou buit van nuwe kennis.

[...] Ons moet onwrikbaar glo dat daar waardes bokant die volk of die gemeenskap is

[...] En dan verder: ’n slapelose agterdog teenoor alle stelsels.

Dit terwyl ek saam met my maats in ons blou hemde en wit kamaste as vlootkadette Vrydagmiddae se laaste periode op aandag staan en salueer, en later by Voortrekkerhoogte die nasionale kadetkompetisie gaan wen.

Ons skoollied bevat geen van die woorde Afrikaans, God, volk, nasie of taal nie.

Louw Odendaal is weg voordat ek gematrikuleer het en ons paaie sou eers na 20 jaar weer kruis.

My matriekjaar is teen hierdie agtergrond deur twee dinge oorheers: die vyfjarige Republiekfees en die moord op die destydse eerste minister, HF Verwoerd. Ek kan glad nie onthou hoe ons feesgevier het nie (daar moes vlaggies gewees het en ons moes seker ook opstelle daaroor geskryf het – oor “Die Republiek – vyf jaar”), maar in Durban self was daar geen breed-opgesette openbare vertoon nie. “The Last Outpost of the British Empire” het wit Natallers hulleself graag genoem.

Daar was geen televisie in daardie dae nie en ons was maar daarop aangewys om prentjies te maak terwyl ons radio luister of Vrydae Die Nataller lees. Eers ’n jaar of twee later het ek op universiteit agtergekom van Die pluimsaad waai ver en Verwoerd se reaksie op die vraag en antwoord:

Wat is ’n volk?
Uit stof en stof-in-tyd is ons gemaak:
Boere en knegte, trein-masjiniste,
passers, laboratorium-assistente,
motoriste, meisies in swemklere
bestuurders, direkteure en rekenmeesters,
meisies op voorblaaie en agter
op motorfietse; anoniem: ’n massa,
maar elkeen met sy naam en eie aard
[...]
geen dappere altyd dapper.
en banges soms tog bang om bang te wees.

En die Eerste Minister wat skrywers vra dat hulle tog maar liewer mense moet wees “wat nie weifelend vra: Wat is ’n volk? nie, maar wat kan uitjubel: Dit is my volk, só kan hy ook wondere verrig ...”

Ek het ’n opvoering van Pluimsaad in my derde jaar op Stellenbosch gesien: Babs Laker aangrypend as die ou vrou. Toe het die “volk” reeds begin verdwyn, want Stellenbosch het sy formele bande met die Afrikaanse Studentebond (ASB) verbreek, met die vyand begin heul. Vir die volgende vyf jaar of so sou dit heeltemal buite die dampkring van die Afrikanerhegemonie beweeg. “Slaprug” het die nuwe eerste minister, BJ Vorster, ons as studenteleiers genoem.

Maar eers terug na September 1966.

Vorster se voorganger, HF Verwoerd, sterf in die parlement. Ek weet dat daar ’n spesiale saalbyeenkoms by die skool was na die sluipmoord. Die vlag het halfmas gehang. Ek was verslae dat so iets kon gebeur het, maar oor die dolk in die hart van die volk het ek nie veel gevoel nie. Baie van die skoliere het hardop gehuil, by mekaar troos gesoek. Die volk het reeds begin disintegreer en ek het sonder enige gewetenswroeging studie bo nasionale diensplig gekies.

Drie vensters op Van Wyk Louw sou op universiteit vir my oopgemaak word: Dirk Opperman se Digters van Dertig en sy stil maar onuitblusbare bewondering vir Louw se poësie; die opvoerings van Germanicus en Die pluimsaad waai ver (as teater nie uitsonderlik nie, maar as ideedramas ’n ander storie); en ’n paar gesprekke met sy broer en professor op Stellenbosch, WEG Louw, maar eers na sy dood.

My kamermaat in Eendrag was ’n Engelse kêrel, Mervyn Frost, wat sy diensplig voltooi het. Ouer dus, en uit Johannesburg. Daar was ander moontlikhede, maar prof Bun Booyens het seker geweet hoekom hy ons twee saam geplaas het. Ons het albei regte studeer, en ons albei het toevallig ook besluit om in te skryf vir die nuwe vak staatsfilosofie. Ons bly tot vandag toe vriende – meer as vriende – en deur my toedoen het hy ook die Afrikaanse letterkunde en Van Wyk Louw beter leer ken.

Staatsfilosofie sou alles wat ek oor myself en die gemeenskap leer ken het in my blootstelling aan NP Van Wyk Louw, groter momentum gee. Dáár was meer as ’n venster, daar was ’n deur na Van Wyk Louw se ingesteldheid en die noodsaaklikheid daarvan om buite die raamwerk te dink. Hierdie deur het Johan Degenaar vir die klein groepie wat by hom begin het, oopgemaak en my geleer, byna gedwing, om ook Louw se kritiese opstelle met ’n ewe kritiese en onbevange oog te lees. En om daaruit ’n lewenshouding te ontwikkel wat sinvol was.

Onderliggend aan alles was die oop gesprek, die besef dat geen idee of opvatting bestaansreg het as dit nie daardie toets kan deurstaan nie. Binne die eng, verkrampte, versmorende Christelik-Nasionale Stellenbosch van die middel-sestigs het ek gewonder hoe Louw Odendaal Tukkies oorleef het. En ek kon nie verstaan wat van die Suid-Afrika geword het waarvan Van Wyk Louw in sy essay “Die oop gesprek” vertel het nie.

So begin hy, skrywend vanuit Nederland in 1951:

Een van Suid-Afrika se goeie dinge waarna ’n mens nooit sal ophou verlang nie, is die heerlike “oop” gesprekke wat jy so dikwels daar kon kry. “Oop” gesprekke waarin jy oor alles kon praat; waarin geen standpunt te “gewaagd” was nie; [...] En gesprekke met mense wat vér van jou af staan in elke opsig [...] Ek sou ook kon beweer: agter hierdie gesprekke het die oortuiging gelê dat daar iets soos “waarheid” bestaan, en dat ons dit miskien kan vat ... sóms ... nie veel nie, en nooit alles nie; en dat ons dit alleen kan kry deur ons oop te stel vir ander wat miskien elkeen ook ’n stukkie daarvan besit.

En dan die verstommende, vir my ongeloofbare, slot:

’n Mens vra jou soms af: het die ou Europa hierdie ligte oopheid, hierdie ware liberalisme, voorlopig verloor? Het dit gewyk voor oorlog en ellende? En het dit na Suid-Afrika verhuis?

Mag dit dáár bewaar bly: die oop gesprek. En mag dit weer na Europa terugkom.

Waar is daardie Suid-Afrika? het ek gedink. (En Die Huisgenoot, waarin hierdie reeks artikels verskyn het – en wat in 2016 met groot gejubel en nog veel minder betekenis sy eie eeufees vier? Ek gaan loer sommer net weer by die skrywe hiervan na wat daar byvoorbeeld destyds verskyn het, soos 17 stukke oor wat literêre teorie is: in ’n gesinstydskrif 64 jaar gelede! En wat in sy Versamelde prosa (Deel 2) 54 bladsye beloop.)

Terwyl “liberalisme” die vloekwoord in die Afrikaner-establishment van die jare sestig is, maak Van Wyk Louw se Liberale nasionalisme, artikels van tien, vyftien jaar vroeër, ander perspektiewe oop waarmee ’n jong student kan werk:

So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ’n volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ’n wisselwerking ontstaan ...

Met groot moeite probeer die studentevereniging SAAK die oop gesprek op die kampus aan die gang hou. Nooi Barry Botha van Veg, die ondermynende Ben Dekker, stemme van die Rooi Gevaar en die Swart Gevaar. Skrywers en filosowe kom praat, soms vir klein gehore, soms loop die Wilcocks oor. In koshuise word vlugskrifte snags onder slapende deure geskuif waarin keer op keer uit Van Wyk Louw aangehaal word om die suf en geïndoktrineerde wêrelde van studente weer los te maak.

Hy waarsku oor die klakkelose napratery en verering van leiers:

En hulle gaan nie bly nie: hulle gaan mishoop word,
en ons almal saamsleep na die mishoop:
...
Kom, ons gooi een van die gemeste-kalwer-leiers
neer in die skraal Karoo en ploeg hom in –
daar so by die plakkieaanteel-plaas
van die Wit-Driehoek-Berge by Matjiesfontein
– en kyk hoeveel aarde hy nat-maak:
daar waar sy natkol sit.

Stellenbosch, as die enigste destydse Afrikaanse universiteit wat dit doen, verbreek die greep van die Afrikaner-establishment as die studente ná ’n monstervergadering besluit om te disaffilieer van die Afrikaanse Studentebond, en skep sodoende ruimte vir al die nasionale studenteliggame. Vir soverre dit moontlik sou wees, sou ons nie saamgesleep word mishoop toe nie.

In daardie jare leer ken ek ook vir Adam Small persoonlik, help via die universiteit se amateurtoneelvereniging met die eerste gemeenskapsproduksie van sy Kanna. Ook hier kry my paadjie saam met Van Wyk Louw ’n ander koers en is ek bevoorreg om die eerste van Small se Engelse vertalings van die gedigte lees-lees mee te maak. Eers in 1975 sou dit verskyn, as Oh wide and sad land.

Foto van Adam Small: Naomi Bruwer

Maar bokant al die uitdagings waarmee Van Wyk Louw vir my as politieke dier konfronteer, bly hy as digter nog belangriker. Miskien ook omdat daar in so baie van sy gedigte (nie net die “swares” nie) eggo’s klink van wat hy in sy essays formuleer. Dit is onvermydelik dat hy ook begin saampraat in my eie poësie wat stadig gestalte begin kry.

Teen die einde van my derde jaar as regstudent het ek besluit om met my studie in die vak Afrikaans voort te gaan. Met die aanvang van die nuwe jaar luister ek in my kamer saans van Februarie tot April week na week na die reeks radiopraatjies van Van Wyk Louw oor sy eie werk. Hy kom by wyse van spreke daar tuis; daar voel ek hoe ek hom en die gedigte al hoe beter leer ken. Nog steeds is dit nie maklik nie, al is dit eenvoudig en toeganklik. “Helder” is miskien ’n beter woord.

Ook ek kom, by wyse van skrywe en spreke, amper tuis. Sonder dat ek hom ooit ontmoet het.

Op 18 Junie 1970 (dit was ’n Donderdag, meen ek) loop Opperman ons seminaarlokaal binne. Hy het gehuil, kon ek sien, en het ons ingelig dat daar geen klas sou wees nie: Van Wyk Louw is dood.

Hulle treur – en weet dit nie – omdat één sterf
van dié wat min geword het, en wat staan as grenswag
tussen hulleself en hulle waansin.        

Daar sou daarna nog een Stellenbosse ervaring rondom NP Van Wyk Louw wees. Dit was die opvoering van Germanicus in 1971 met onder andere ’n klompie studente wie se name vandag nog bekend is (of tot onlangs was): Juanita Swanepoel, Johann van Heerden, Herman Pretorius, Laurika Rauch, Ben Dehaeck en Marcel van Heerden.

En in die woord en wederwoord van Germanicus en Piso, en die eggo’s van Lucius, het ek weer alles wat ek oor ordentlik mens-wees by Van Wyk Louw geleer het, herken. En gehoor hoe uit die vertes van die Romeinse Ryk ons eie Suid-Afrikaanse werklikheid terugklink.

Rooidag, rooidag ...

In die jare na die dood van Van Wyk Louw het Suid-Afrika nog ’n triester gemeenskap geword, die vensters digter getrek, die tralies meer, die afstand tussen reg en geregtigheid groter. Gesprek het stiller geword en die skreeu harder. Minder as tien jaar nadat sy “Nuusberigte: 1956” my as skoolseun geruk het, kon ek probeer om daarop iets te antwoord en te vertel hoe die land besig is om aan homself te sterf:

“my country ’tis of thy people you’re dying”
(vir np van wyk louw)

dit is wat jou land geword het
wat jou mense of hulle wat jou mense was
dit gemaak het:

’n land volgestrooi met kerke
duur duurder duurste kerke
waarin die gemeentes wit kan saamtrek
en kultuurverenigings wat dik
is aan lede, almal handhawers
almal christene en goeie afrikaners
of afrikaners en goeie christene.
daagliks veral sondae loop ons mekaar
tromp-op met holier-than-thou
maar saans as dit nag word
weet ons goed hoe om in die donker te kan knyp.

verder: jou land is met tekens versnipper.
jy het gepraat oor boosheid, oor haat
wat teelkragtig is: ook tekens is
soos konyne soos rotte waarmee ons eksperimenteer.
maar dis nie die heerlike tekens waarvan jy
wou droom nie. wel voortekens, ja,
maar in ’n ander sin: tekenend
van ons mistasting na mens-wees
omdat ons God wou wit maak
en wit God.

o ja! Hy word nog bygesleep
Sy sanksie word bestempel
Sy seën nog afgeroep oor daardie klein
onheilige handelinkies en oor die grotes
waaraan Hy selfs deel sou hê:
op ’n tafel in sy kantoor skuif die Baas
behendig gekleurde blokkies oor
die verdeelde kaarte met sy liniaal ’n stootskraper
wat tradisioneel oordonder oor ander,
hul plakkieplase en hul kleiosplekkies in die son.

die nie-wittes word uitgeskuif
in die vlaktes na die schemes
in boomlose graslose woonbuurte
hervestig teen hulle sin
daar iewers met name soos stinkwater
en limehill wat ruik na gebluste kalk.

ons weer raak meer gevestig verhuis van dié
na daardie beter voorstad. ons motors word twee
of meer; ’n bakkie ook – ons is tog immers Boere!
elke huis het nou naas sy kruis ’n swembad
met dalk ’n kleintjie langsaan vir die kinders en hul maats;
ons gaan teater toe: groot wit geboue
tekenend van die verfyndheid
en van die melaatse wit.
calvinisties skuif ons van mekaar weg
en verder weg ongelyk en gediskrimineerd
omdat ons wat moet praat bang
geword het vir die tirannie van ander
van ’n bang klompie bang
manne en vergeet van die groter
gehoorsaamheid en die vreesloosheid
en die groter genade waarvan jy so graag wou leer.

soms – as ons baie wyn gedrink het en weet
dat ons almal in die vertrek vertrou – waag
ons dit oor moraliteit en oor geregtigheid
en partykeer, laat in die nag, bid ons met heimwee
“laat U wil geskied” en bedoel dit.
want geregtigheid het plek gemaak
vir “wet en orde ongeag ...” en die knuppels
maak ’n kruis voor hulle toesak op ’n kind
wat juis geregtigheid wat juis moraliteit
wou opdring aan jou land se wit benewelde verstand.

ons, of ’n paar van ons, ken van die bitterheid
die kankeragtige haat wat vreet
aan jou land en sy nie-wit mense.
maar ons bly meestal stil omdat ons weet
dat ons gou stilgemaak kan word
’n lêer gaan word in ’n liasseerkas in ’n groot
kantoor en ons telefone husse met lang ore.
daarom – terwyl ons kan – gaan ons oorsee
en soek ’n blyplek in daai klam klimaat
maar kom dan trug en wag!

God sal Sy oordeel oor die trots
die meerderwaardigheid nie altyd uitstel nie:
dit dui die swart gebalde vuis;
want ek glo amper soos jy die dieper reg sal seëvier soos in die hemel
so ook in hierdie mensryke paradys.

           (vir my pa en ma wat my leer dink het én my toegelaat het om te dink)

Ns. In Suid-Afrika in 2016 is daar oproepe om haatspraak (as misdaad) nog fyner (en wyer) te omskryf en word dit duidelik dat ons steeds meer en meer noulettend sal moet omgaan met menings en uitsprake. Sê jy “ongemaklike” dinge, word jy dikwels nie meer uitgenooi om saam te sing nie, word jy selfs toegang tot ’n universiteitskampus verbied. Dit is ’n Deense joernalis, Flemming Rose, wat amper onthutsend die idee van die oop gesprek weer onder ons aandag bring: “En daarom moet ons mekaar se menings – selfs die haatlikes – kan aanhoor, sodat ons dit met feite en argumente kan weerlê eerder as dit met wette probeer smoor.”

Fanie Olivier (Foto: Naomi Bruwer)

Naskrif 2020

Vyftig jaar na Van Wyk Louw se dood nooi die webwerf Versindaba mense uit om rondom hierdie herdenking ’n gedig te skryf. Só het my gesprek nou verder geloop:

ná vyftig jaar

jy het weggegaan ver weg en nou bewoon
jy daardie blinde ryk waarvan ons droom
of waarvoor ons huiwer omdat ons daaroor
min sekerheid en slegs verbeelde woorde het.

jy het weggegaan ver weg [net soos dit immers
hoort] en ons verdwaas hier op ons klein
bemorste morserige morsige planeet gelos
waar als wat helder is vertroebel verdwyn

*

bly weg van die taaibos bly van die taaibos
weg dag ek ek hoor jou sê maar jy het weg-
gegaan

       en net die skoenmakers, aljimmers,
hou hulle in ieder geval nog daarmee op: met
lees, met klink. (daarmee sou mens destyds op straat
kon gaan, maar nou ís ons werklik weerloos teen
die swaar gebeure van die dinge. stomgeslaan

om ons is klets koning word alles aan kwetter oorgelaat)

*

ek lewer ’n tweede keer tweedehands verslag
as jy ná vyftig jaar nog afrikaans verstaan
en dalk iets iewers uit die niewers sou wou hoor

(bly van die taaibos weg, die bitterbessiebos;
orals lê dubbeltjies driedubbel in die sand)

sutherland kry vroeg in januarie swartryp.
oom-kolie-met-die-covid hou ’n rukkie uit
so sonder kind of kraai. die dorpsdam die spruit
loop oor van die riool. daai jakkie-meisie verkrag;
gunsfontein se oumense albei wreed vermoor
treine wat ver fluit hoor jy net nog in jou slaap.

jy het dit self gesê: niks niks in die land hou stand
die sinkdak weggedra; die vensters blinde oë;
daardie akkerboom weggekap en opgebrand;
’n ringmuur oorgegee verkrummel op die lange duur

die baie-fyn dink vertroebel stagneer as niemand
hulle met verloop van tyd meer daaraan steur
nie. die slimmes kon die dwaasstes word. wysheid word stil
– al weer! vrees maak mos so ...

laat ons maar eerlik wees
jy had dit destyds reg, die digter weereens in die kol:
ons fees bly uiteindelik tog maar 1 april

*

jy het weggegaan na iewers héél, dis waar. en ons
bly agter leef hier maar verslete en verslons

*

hóóg het jy gevra en aan onsself getrou:
daar’s weinig daarvan oor alles oorlopens vol
van soetgoed saamhurk in die donker verbeel dat
dit wat stom is kan smous met dit wat krom is brou.
grawe so ’n eie graf sny spreekwoordelik die lat

*

wat nou gemaak met jou en sonder jou? jy
wat weggegaan het net om hier te bly, hier
waar die helder poele vroeër wit van bronkors
nou stinkend donker onder die hiasinte stik;
hier waar die winde sonder sy bome oor
die leë plein kaal parke townships verby
langs gesteelde spore vergete tennisbane deur

die drome waai in hierdie uur van ons donker dors.

*

enfin

ek dra nogtans jou óú steen in my hand
hy vat my hiervandaan na anderkant.

  • 6

Kommentaar

  • Willie vd Waal

    Dankie baie, Fanie!

    'n Heerlike uur (of was dit baie langer) verlore in 'n wêreld van 'n groot denker, digter en filosoof.

    So dankbaar dat jy jou reis ook met my gedeel het!

    Ek het as immigrantekind nie altyd alles verstaan nie, maar was altyd vasgevang deur sy werk. So anders as wat mens by die skool dikwels opgetel het.

  • Melvyn Minnaar

    Dankie Fanie. Die persoonlike, soos joue, onderstreep die vernaamheid van sy denke en woorde. Ek trek gereeld Tristia nader - wat hy daardie aand na afloop van Pluimsaad op die HB Thom-verhoog vir my geteken het. Ja, en ook die teks van die omsrede toneelstuk. Want ek het immer my rolletjie vroeer die aand vervul met die beroemde woorde "Generaal, generaal, die Engelse kom!".

  • Jy praat van die "oop gesprek".
    Dan skryf jy 'n sin soos die: "Onderliggend aan alles was die oop gesprek, die besef dat geen idee of opvatting bestaansreg het as dit nie daardie toets kan deurstaan nie. Binne die eng, verkrampte, versmorende Christelik-Nasionale Stellenbosch van die middel-sestigs."

    Met wie het jy dan 'n oop gesprek gevoer as jy by voorbaat gedink het dat van die mense wat anders dink: eng, verkramp en versmorend is?

  • Fanie Olivier

    Jammer ek antwoord nou eers, maar werk my ou dinge stelselmatig deur noudat ek 'n vermoeiende eksaminering agter die rug het. Twee dinge is hier ter sake. Ek het onvoorwaardelik aan die oop gesprek geglo. En nou nog. Dit het beteken dat ek steeds met almal gesels het, met mense van wie ek verskil het. En ruimte gelaat het vir hulle om deel te neem aan die gesprek. Dat 'n mens radikaal kan verskil, beteken nie dat die gesprek nie plaasvind nie. Maar, en dis die tweede ding, dit beteken ook nie dat jy hierdie gesprek voer sonder dat jy ook jou gespreksgenoot uitkyk en oor hom of haar gevolgtrekkings maak nie. En oor die politieke bestel waarbinne die gesprekke plaasvind.Daarom my beskrywing wat jou so ontstel. Hierdie gevolgtrekkings beteken nie dat jy jou gespreksgenoot "afskryf" of verdag maak nie. Dankie vir jou deelname aan die gesprek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top