LitNet Akademies-resensie-essay: A History of South African Literature deur Jerzy Koch

  • 1

history_of_south_african_literatureA History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th–19th centuries
Jerzy Koch (vertaling: Dominika Ferens, uit die Pools)
Pretoria: Van Schaik-uitgewers
360 bladsye. ISBN: 9780627032738

Sien ook: Video en foto's: Bekendstelling van Jerzy Koch se omvattende geskiedenis van Afrikaanse letterkunde

Jerzy Koch se A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th–19th centuries is die eerste volwaardige verkenning in Engels van die voedingsjare van die Afrikaanse letterkunde.

Tot die verskyning van hierdie boek moes diegene wat nie Afrikaans magtig was nie, hulle rondom die opkoms van hierdie letterkunde verlaat op JC Kannemeyer se redelik oppervlakkige en verouderde oorsig daarvan in sy A History of Afrikaans Literature (1993) en in gedeeltes van die tweede afdeling, “Writing of European Settlement: South Africa 1652–1910”, van Michael Chapman se Southern African Literatures (1996).

’n Ander perspektief in Engels moet ondersoekers self vorm uit ’n hoofstuk of twee in die (nog steeds) indrukwekkende The Cambridge History of South African Literature (reds David Attwell en Derek Attridge, 2012).

Maar hierdie publikasie, moontlik gemaak deur ’n subsidie van die Poolse Nasionale Program vir die Ontwikkeling van die Geesteswetenskappe (NPRH), is die eerste van sy soort en skep daarom ook besondere verwagtinge.

Jerzy Koch is die vader van Suid-Afrikaanse studies in Pole en hoof van die Departement Dutch and South African Studies aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznań. Sy bemoeienis met en belangstelling in die Afrikaanse letterkunde loop reeds in 2004 uit in die publikasie van Historia literatury południowoafrykańskiej, Literatura afrikaans. XVII–XIX wiek (History of South-African Literature. Afrikaans Literature. 17th–19th century), wat in 2013 opgevolg word deur Historia literatury południowoafrykańskiej. Literatura afrikaans. Okres usamodzielnienia 1900–1930 (History of South-African Literature. Afrikaans Literature. Period of Self-Dependence 1900–1930).

Jerzy Koch (foto: Naomi Bruwer)

Uit die titel van die Suid-Afrikaanse boek en die “Preface” is dit duidelik dat dit ’n vertaling is van die eersgenoemde Poolse teks hier bo, wat bevestig word deur die terloopse verwysings na verwante Poolse dinge, die ontstaan en bestaan van die teks, die verwysing na ’n toekomstige publikasie wat reeds verskyn het en opmerkings soos “given the fact that this is the first book to present South African writings in Afrikaans to a Polish audience” (41).        

Die onmiddellike probleem rondom hierdie publikasie is die oorkoepelende titel A History of South African Literature. Die skrywer gee geen aanduiding van hoe hy aan so ’n omvattende en problematiese geskiedenis gaan gestalte gee nie.

Daar is inderdaad ’n eerste indeling, “Afrikaans Literature” en op die titelblad ’n verdere indeling, “Part One: From the 17th to the 19th Century”. Is die tweede deel die ekwivalent van die bestaande Poolse een? Maar, veral: waar en hoe pas die ander Suid-Afrikaanse letterkundes in hierdie literatuurgeskiedenis in?

Hierdie en soortgelyke vrae word nóg in die Preface nóg in die inleidende afdeling, “A History of Afrikaans Literature? Problematising South African Literary Historiography” aangesny of opgelos.

Wat wel welkom is – en perspektiewe open – in hierdie afdeling, is die aandag wat Koch gee aan verskuiwende teoretiese invalshoeke rondom letterkundige geskiedskrywing. Wat is dit, uiteindelik, wat ’n teks “Suid-Afrikaans” en “letterkunde” maak? En, natuurlik, “Afrikaans Literature”?

Koch gee uitgebreide aandag aan Nederlandstalige geskrifte vanuit Suid-Afrika oor twee eeue ná Van Riebeeck se koms in 1652: hy noem dit “protoliteratuur” van Afrikaans (18). Dit word geregverdig omdat die navorser daardeur die vroegste spore en latere voorstellings van die nuwe taal kan uitwys (dus: taalhistories) en omdat die eiesoortigheid van die landskap en sy mense wat ons daarin aantref, ’n inherente deel uitmaak van wat later die Afrikaanse letterkunde sou word. Eweneens kan die groei van ’n maatskaplike en politieke bewustheid hierin aangetoon word.

Teoreties is dit natuurlik kerngesond, want die net van wat “literature” eintlik is, word so wyd soos die Here se genade gespan. Maar nogtans bly dit ’n vraag of die uitgebreide aandag wat gegee word aan die agtergrond en omstandighede van ’n groot aantal Nederlandse tekste, registers, reisverslae, joernale en dagboeke uit die periode voor 1800 – waarin daar maar weinig spore getoon word van die nuwe “plaaslike taal” – werklik gemotiveer en geregverdig is.

Dieselfde probleem kom na vore in die oorsig oor die tweede deel van die afdeling “The Beginning of Letters in South Africa”, waarin daar na dinge in die eerste helfte van die 19de eeu gekyk word. Dit is dan ook ’n tydperk waarin die bestaan van die nuwe taal en taalgemeenskap aan die suidpunt van Afrika sigbaarder word.

Of moet die leser dit aanvaar teen die vooropstelling van wat die skrywer beoog: “the traditional work of explicating, clarifying, ordering, classifying and constructing models for the evaluation of literature”, maar ook “an academic compendium for students of philology, ethnolinguistics or political science who wish to learn about the Afrikaans language, literature and the multicultural history of South Africa”? (41).

’n Belangrike wins van Koch se werk is egter dat hy in die proses weer deeglike navorsing gaan doen (heelwat nuttige skakels word vir ons as lesers verskaf) en, veral, dat hy as buitestander maklik die ideologiese tekortkominge in bestaande (Suid-) Afrikaanse literatuurgeskiedenisse raaksien en uitwys.

Die probleem wat die vertaler gehad het rondom die benoeming van wat met Nederlands (“Dutch”) aan die Kaap gebeur het tussen die 1652 en 1900, word nie bevredigend opgelos nie. Die verandering, die informele herkenning en erkenning, die formele aanpassings en die uiteindelike bestaan van die begrip “Afrikaans” word verken, maar nooit bevredigende etikette in Engels gegee nie.

Dat die begrippe “Afrikaans” en “Afrikaanse” in Pools dubbelduidend is, is geen regverdiging daarvoor om van “Africanised Dutch” en “African” (wat nog van te sê “Africanisms”) te praat as dit nie primêr oor Afrika gaan nie.

Die skrywer moes gewoon heel vroeg in die boek, byvoorbeeld in die eerste hoofstuk, die klompie begrippe uiteengesit en vir die doeleindes van die studie benoem het. Iets soos “indigenised Dutch” of “informal Cape Dutch” totdat die woord “Afrikaans” histories die eerste keer in gebruik kom. En “simplified Dutch” rondom die formele pogings om Nederlands in Suid-Afrika te vereenvoudig.

Hy raak hierdie probleem sporadies aan (sien bv 109–10), maar deur ’n vroeë ingreep sou hy die vertaler en leser baie moeite en ergernis kon gespaar het.

Rondom die identifikasie van die taalgebruikers self sou hy miskien die breë groep aanvanklik kon geïdentifiseer en benoem het as “local speakers”, die ontstaan van “Afrikaanders” uitgewys het en daarna gewoon “Afrikaans-speakers” gebruik het. Behalwe waar die idee van “Afrikaners” belangrik sou gewees het. Op ’n gegewe moment duik die woord “Boer/s” ook op – gegewe die problematiese eietydse inhoud daarvan, sou iets meer daarrondom verduidelik moes word.

Hy sou ook kon bevestig het dat hy die naam “South African” geografies en nie staatkundig gebruik nie, wat in die konteks vanselfsprekend sou gewees het.

Op hierdie manier sou die baie verwarrende en onbevredigende gebruik van “African” en sy variante uitgeskakel kon word. Op stuk van sake is dinge soos “The African Patriot” (Di Afrikaanse Patriot) en “African National Hymn” ( “Di Afrikaanse folkslied” van die GRA-mense) totaal onaanvaarbaar.

Hierdie publikasie onderskei twee chronologiese fases in die ontwikkeling van die letterkunde.

Die formele deel I, “The beginnings of letters in South Africa”, strek vanaf 1652 tot die middel van die 19de eeu en word onderverdeel op grond van die politieke bestel aan die Kaap. Dit beslaan ongeveer 150 bladsye. Die tweede afdeling (ongeveer 120 bladsye) noem hy “Emancipation of Literature: The period of language movements”.

Om hierdie indeling in ’n konteks te plaas, verskaf die skrywer ook ’n gedetailleerde historiese chronologiese tydlyn waarin die belangrikste gebeure wat sou help, aangedui word.

Hier bo het ek reeds my bedenkinge geopper rondom die ruimte wat afgestaan word in ’n literatuurgeskiedenis van Afrikaans aan die fase voor 1800. Die bestaan van ’n korpus tekste waarin die nuwe kontrei gestalte kry, is belangrik, maar dit het uiteindelik weinig te make met ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis.

’n Mens het waardering vir Koch se oortuiging dat literatuur “letters” moet wees, maar in die praktyk gaan dit moeilik haalbaar wees. En natuurlik, as hierdie werklik ’n Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis wil wees, dan sal hierdie “beginnings of letters” veel ruimer moes geword het en sou hy moes kyk na ook tekste in Engels, Duits, Portugees en Frans wat deel daarvan uitmaak.

Maar waar hy hom dan beperk tot die “Afrikaanse” tradisie, sou ek vermoed dat die nuttigste oplossing sou gewees het om eerder net na daardie tekste te kyk waarin daar spore van die “verbastering” van Nederlands aanwesig of deur reisigers en besoekers opgeteken word. Met ander woorde, “Afrikaanse” aanwesigheid in die vroeë dokumente, en dan met baie meer voorbeelde.

En dan ook bondiger met duidelike toeligting.

Die drie en ‘n kwart bladsye oor Johanna Margaretha Duminy (98–101) illustreer dit goed. Baie agtergrond oor die interessante vrou en haar skryfsels word gegee, maar eers na twee en ‘n half bladsye kom hy by opmerkings oor die taalkundige betekenis van fragmente van die werk uit en besluit: “[T]he journal as a sample of the eighteenth- century language of the colony is even more trustworthy than texts containing Africanisms” (100).

Maar nie ’n enkele voorbeeld daarvan word gegee nie.

Die omvattende belangstelling in Suid-Afrika en die navorsingsnuuskierigheid van Koch beteken dat daar dwarsdeur die publikasie telkens aspekte opduik wat buite verhouding aandag geniet. Dit is dikwels dinge wat die “kompendium”-aanslag bevestig: interessante en boeiende historiese en maatskaplike gebeure en omstandighede, maar wat met die eintlike ontwikkeling van Afrikaans en veral die Afrikaanse letterkunde nie altyd veel te make het nie.

Of altans nie oortuigend daarby betrek word nie.

Dit gebeur ook in die tweede fase van “The beginnings of letters in South Africa”: “The English Period (First Half of the Nineteenth Century)”. Koch skryf oor die verandering wat ingetree het aan die Kaap met die permanente vestiging van Engelse beheer van die Kaap, die eerste drukperse ter lande, talle tydskrifte wat ontstaan en die opkoms van die teater.

Twee belangrike stukke word onder andere in “Theatre in the Cape” aan die orde gestel: Charles Boniface se De Nieuwe Ridderorde of de Temperantisten (waarin die vier tonele in [hier] Afrikaans met die “Hottentot characters”) en natuurlik Andrew Geddes Bain se Kaatje Kekkelbek, or Life among the Hottentots, wat die vooroordeel rondom die taal en sy gebruikers demonstreer. Koch gee ’n deeglike bespreking van veral laasgenoemde: die karakter se gebruik van “Africanised Dutch” is tekenend van die vroeë karikatuuragtige gebruik van die taal rondom mense van kleur en dit sou vir baie lank die norm bly.

Andrew Geddes Baine (foto: Wikipedia)

Hy sal hierna in die studie telkens teruggryp na Kaatje as een van die seminale figure in die Suid-Afrikaanse letterkunde en die naam Kaatje sal self ’n verwysingsfaktor in latere tekste word.

Die skrywer gee baie aandag aan wat in die Christelike kerk- en geesteslewe, asook die onderwys, in die Britse Kaap gebeur. So word die opkoms van die piëtisme goed toegelig, maar die (altyd interessante) aandag waarmee hy na ’n aantal figure kyk, word dan juis nie herlei na Afrikaans of ’n voorspel tot wat in die letterkunde gaan gebeur nie. En dis gewoon te lank.

Maar met die bespreking van die satiriese “Lied ter ere van de Swellendamsche en diverse andere helden” word daar vir die eerste keer deeglik en oortuigend met ’n teks self gewerk: word dinge uitgewys en toegelig wat direk met die mentaliteit en die taal van die Kaapse burgers te doen het.

Rondom twee ander persone, ANE Changuion en Maarten Teenstra, kom die skrywer juis weer tot sy reg. Die agtergrondbeskrywings is redelik kort, terwyl daar op ’n helder wyse gekyk word hoe hulle bygedra het tot ’n beter begrip van wat met Afrikaans aan die gebeur was.

Om een of ander rede het Koch besluit om Thomas Francois Burgers ook hier te betrek, terwyl sy eintlike bydrae eers na 1850 sou kom met sy twee stelle “Schetsen”. Daarom duik hy ook weer 60 bladsye later op.

Koch staan 33 bladsye (’n tiende van die boek) af aan “Voortrekker Writings” en voer aan dat “these texts deserved to be included in the body of literature in Afrikaans” (139) omdat hulle die vorming van “a certain kind of mentality” (110) demonstreer. Die gedeelte is egter veels te lank en tipies van die probleem wat opduik met die kompendiumopset in die agterkop.

Erasmus en Susanna Smit se dagboeke verdien gewoon nie 15 bladsye nie en ook die omstandighede rondom Louis Tregardt en sy dagboek is te veel (7 bladsye). Dit kon waarskynlik maklik die helfte korter gewees het, met dieselfde gevolgtrekking: “The historical and cultural value of the Clat boek is inseparable from its significance as a linguistic source. The linguistic aspect alone makes the diary a rare social document: the terminology, new names, idioms and expressions constitute a tangible testimony” (147).

Die derde afdeling van die boek, “Emancipation of Literature: The period of language movements (Second Half of the Nineteenth Century)”, dek die jare wat tradisioneel altyd met die Genootskap van Regte Afrikaanders verbind word.

Die “Introductory Remarks” gee ’n duidelike uiteensetting van hoe die skrywer ’n veel breër doek gaan skilder om die groei van ’n werklik Afrikaanse letterkunde in hierdie halfeeu aan te toon. Hy wil veral die verskillende taalbewegings (formeel en informeel) wat daarvoor ’n stimulus gebied het, aan die orde stel. Weer eens met ’n ensiklopediese aanslag.

By taalbewegings dink Afrikaanse lesers onvermydelik aan die Genootskap en die program om formele status aan en erkenning van die taal vir sy gebruikers, maar Koch sien dit anders: “The term also covers the conscious use of a given language medium, first and foremost, to achieve political goals” (205), en daarom is wat met die taal op die Oosgrens gebeur, vir hom ’n politieke taalbeweging waarin die gesprek oor die afstigting ook in Afrikaans gevoer is.

Hy plaas ’n hoë premie op Louis Meurant se artikels en briewe in tydskrifte in dié streek en hoe dit die gebruik van geskrewe Afrikaans bevorder het. Hy verwys ook na die feit dat die latere saambring van ’n aantal Meurant-bydraes as Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de Oostelijke en Westelijcke Provincie as die eerste Afrikaanse boek beskou kan word.

(Merkwaardig en jammer genoeg is hierdie teks nog nie beskikbaar in die Suid-Afrikaanse afdeling in die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse letterkunde nie.)

Chronologies loop Koch hom egter vas rondom die Oosgrensbeweging. Hy betrek skrywers soos FW Reitz en Pulvermacher hier, hoewel hulle in die Kaapse tydskrif Het Volksblad gepubliseer het en geensins by die afskeidingsdebat betrokke was nie.

Miskien sou ‘n aparte afdeling oor die teenwoordigheid van Afrikaans buite die bewegings om ’n oplossing gebied het (De Tijd in Bloemfontein sou hier hoort) en sou ook Samuel Zwartman (William Cooper) se belangrike “Boerenbrieven uit Fraserburg” en “Kaapsche Schetsen” binne konteks gelees en verstaan word.

In die afdeling oor taalbewegings plaas Koch die fokus op twee ontwikkelingsfasette van Afrikaans buite die tradisionele “blanke” en/of Christelike gemeenskappe om.

Die herontdekking van die gebruik van Afrikaans in die Moslemgemeenskap word binne die maatskaplike konteks aan die Kaap verduidelik en uiteengesit in wat hy in Afrikaans die Maleier-Afrikaanse Taalbeweging noem – in Engels die “Cape Town Muslims’ Language Movement”.

Die bydrae van Abu Bakr is bekend: hoe godsdiens die sentrale rol rondom sy werk gespeel het. Maar Koch vestig die aandag eintlik op die vroegste manifestasie van moedertaalonderrig in Afrikaans en gee toeligting (met welkome erkenning van die destydse rol van A van Selms) oor hoe die taal lyk wat in die geskrifte in die Arabiese skryfsisteem uitdrukking gekry het.

Maar ook hier is die agtergrondsgegewe te veel: 30 bladsye uit die 300 word hieraan afgestaan.

Die skrywer sit ook 30 bladsye opsy vir die Morawiese sendinggemeenskap se bydrae rondom Afrikaans as gebruikstaal by hulle sendingstasies, veral Genadendal, waar daar ’n drukpers gevestig is. Hy identifiseer dit as ’n eiesoortige ontwikkeling, waarna hy verwys as “Genadendal Dutch”, ’n “dialect combining Dutch and Afrikaans” (251). Voorbeelde ontbreek egter om so ’n taalspesifieke onderskeiding te regverdig.

Fotobron: https://archive.org/details/majorityworldcollection

Sy bespreking van Benigna van Groenekloof of Mamre, wat dikwels as ’n sleutelteks in die Afrikaanse letterkunde bygehaal word, strek oor 15 bladsye. Dit is verreweg die meeste wat aan enige teks in die boek afgestaan word en is buite verhouding. Dit hoort eintlik as ’n selfstandige artikel, boeiend uit eie reg, elders.

Wat hier wel belangrik is, is die gevolgtrekking dat hierdie teks die begin inlui van wat later die etiket “maatskaplik betrokke literatuur” sou dra. Hy waarsku dat dit beslis nie soseer ’n Afrikaanse roman is nie, maar dat dit beskou kan word as “the first South African text whose main characters are Afrikaans-speaking coloureds” (263). Met weer ’n Kaatje as die interessantste.

Hoewel hy die begrip nêrens werklik veranker nie, kyk Koch hierna na die “Afrikaner Language Movement”. Die wins van ’n blik van buite word hier duidelik, omdat hy helder drie fases onderskei: die Bybelvertalingsbeweging, die kortstondige GRA-bydrae en die politieke en nasionale agendas rondom die Afrikanerbond.

Die aandag wat hy aan die Afrikanerbond, en veral Jan Hendrik Hofmeyr, skenk, is dalk ook buite verhouding: hulle houding rondom Afrikaans was nie so positief nie. Di Patriot het wel nuwe lewe gekry en die GRA-ideaal van ’n Afrikaansmedium skool het deur die Bond se optrede werklikheid geword, en die skool sou later deur sy leerlinge ’n groot rol speel in die groei van die Afrikaanse letterkunde in die 20ste eeu.

Koch skep egter vir homself ’n probleem deur ’n laaste aparte hoofstuk oor die “Conscious Formation of Afrikaans Literature: Organising and Standardising” te skep. Hierdeur word die konteks en die proses self kunsmatig geskei, wat verwarrend inwerk.

Vroeër reeds het iets hiervan duidelik geword met die plasing en bespreking van FW Reitz in die sg Oosgrenstaalbeweging, waar hy beslis nie hoort nie. Nou word ’n figuur soos SJ du Toit op twee verskillende plekke bespreek (277–8 en 318–22); CP Hoogenhout (275–7 en 313–6).

Waarskynlik ontstaan hierdie onbevredigende situasie omdat Koch ook besluit om die hele Afrikaanse beweging wat gegroei het uit die oortuiging dat die Bybel vertaal moes word, te onderbreek met ’n lang hoofstuk oor “The Dutch Movement – Reviving Dutch Traditions”. Hy staan 15 bladsye hieraan af, terwyl hy dit wat werklik relevant is (Melt Brink en die bydraes van Ellfers en Van Oordt), maklik in ’n bladsy of drie in ’n ander afdeling kon ingewerk het.

Omdat die proses van die bewuste vorming van die Afrikaanse letterkunde (soos blyk uit die doelstellings van die GRA, Di Afrikaanse Patriot en Ons Klyntji) deurlopend was, sou ’n mens kon verwag het dat die laaste hoofstuk óf teoreties die hoofstuk oor die Afrikaner Language Movement sou inlei óf daarbinne verwerk sou word.

Neem ’n mens in ag die ruimte wat aan ander onderwerpe afgestaan word, is die bladsye oor tekste in Di Afrikaanse Patriot en later ook Ons Klyntji maar skraps: ’n halwe bladsy aan Hoogenhout se Di geskiedenis van Josef, ietsie meer aan Catharina, die dogter van die advokaat (die eerste volwaardige Afrikaanse novelle), ’n bladsy aan Jan Lion Cachet se eerste stukke wat later gebundel sou word as Sewe duiwels en wat hulle gedoen het en amper drie bladsye aan Di koningin van Skeba van SJ du Toit.

Bron: http://klyntji.com/post/134456661178/ons-klyntji-argief

GR von Wielligh se sketse oor Jacob Platje wat aanvanklik in 1896 ook in aflewerings in Ons Klyntji verskyn het, kry drie en ‘n half bladsye; ten slotte twee bladsye oor die miskende bydraes van MH Neser.

Die boek eindig onverklaarbaar stomp. Ek mis ’n hoofstuk waarin die verloop van die taalontwikkeling oor die twee eeue bondig saamgevat word. Maar veral oor wat sou volg. Daar is in gedeeltes vooraf daarna verwys, maar dit is belangrik om in so ’n studie bestek op te neem van hoe presies die einde van die 19de eeu daar uitsien. Die talebestel wat in die suide van Afrika bestaan het, die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog en watter uitwerking dit op die Suid-Afrikaanse samelewing gehad het. Niks sou daarna dieselfde wees nie, ook en veral, Afrikaans.

Die optelsommetjie rondom bladsye hier bo bevestig my grootste bedenking rondom die publikasie van hierdie gedeelte van Koch se "Afrikaans Literature From the 17th to the 19th Century" dat die toebedeling van ruimte aan verskillende dinge nie in verhouding is nie.

Die skrywer kon hom kennelik nie genoegsaam distansieer van stukke spesifieke en belangrike navorsing deur hom om dit rondom die oorspronklike Poolse publikasie realisties te hersien en te verkort nie. Dit is jammer dat hy rondom die vertaling die geleentheid om hierdie aspek – en die ordening van sy materiaal – nuut en objektief te bekyk, by hom laat verbygaan het.

Of die oorkoepelende titel na iets anders verwys, is onduidelik, maar rondom verwagtings oor ’n Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis stel dit in hierdie formaat erg teleur.

Die vertaling self vind ek voortreflik leesbaar en die vertaler verdien daarvoor meer as net die spreekwoordelike pluimpie! Ek het reeds probleme oor Engelse keuses vir sekere woorde of begrippe genoem; hier en daar is enkele andere mindere foute, waarskynlik misgekyk met die proeflees. (Behalwe darem om “ZAR” te vertaal as “The Republic of South Africa” ...)

A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th–19th centuries is ’n belangrike toevoeging tot die literêre kritiek rondom die Afrikaanse letterkunde. Dit bring ook vir Afrikaanse letterkundiges nuwe inligting en perspektiewe na vore en bevestig, veral, hoe belangrik deeglike navorsing is.

 

  • 1

Kommentaar

  • Wat een rare bespreking, of althans, wat een rare conclusie. Er deugt volgens de recensent niet al te veel aan het boek, en toch is het een 'belangrike toevoeging tot die literêre kritiek' en 'bring dit nuwe inligting en perspektiewe na vore'. Na de lange reeks van dingen die anders zouden moeten, snap ik de con clusie niet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top