Heil die Leser!: Pandora se kruik en ander euwels

  • 0

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Titel: Pandora
Skrywer: Marie Spruyt
Uitgewer: LAPA, 2025
ISBN: 9781779860187

Marie Spruyt het bekendheid verwerf met haar eerste twee romans, Stillewe (LAPA, 2021) en Droomboom (LAPA, 2022), wat beide vir Woordveertjies benoem is. Sy het vir ’n paar jaar in die buiteland gewoon, waarna sy begin skryf het, júis om die andersheid van ’n lewe daar op papier vas te lê. Spruyt het ’n doktorsgraad in linguistiek en woon tans in Polokwane, ’n sagte, soel omgewing waarin skryf vir haar ’n noodsaak is.

Spruyt se derde roman, Pandora (LAPA, 2025), handel oor die protagonis, Emma, se verwerking van ’n liefdesteleurstelling – en haar reis Siprus toe om haar baas en aantreklike alleenloper, Wim, by te staan in die stryd teen geopolitieke bedrog, geldwassery en mensehandel. Soos in Spruyt se eerste twee romans is die heldin ’n intellektueel en beslis geen oppervlakkige bakvissie nie.  

Hierdie roman het tydig verskyn. Mens dink byvoorbeeld aan die lewenslange vonnisse wat onlangs opgelê is aan Raquel Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn in verband met die mensehandel van Joshlin Smith, wat in Februarie verlede jaar vermis geraak het. Hierdie swaar vonnisse, wat wêreldwyd opslae gemaak het, het ’n duidelike boodskap uitgestuur aan mense wat kinders ontvoer en verkoop. Insgelyks is die Epstein-skandaal, waartydens jong meisies deur Jeffrey Epstein en sy netwerk ryk en invloedryke vriende seksueel misbruik is, weer in die nuus – met vermelding van die Amerikaanse politiek (en sekere onderliggende bewerings). Die roman verwys ook na die ses vermiste meisies in Suid-Afrika, wat Joey Haarhoff vir misbruik uitgesoek en aangery het (134).

Pandora deur Marie Spruyt (LAPA, 2025)

Die tydsgewrig waarin die roman afspeel, is 2023, ná die kroning van koning Charles.

’n Belangrike tema in Pandora is die reeds genoemde mensehandel. Die roman speel af in Siprus, waarheen Emma as agent 003 moet vertrek op ’n spesiale sending om geopolitieke kartelle wat hulle besig hou met die smokkel van mense (insluitend babas en kinders), wapens, dwelms, olie, en so meer, oop te vlek. Vyf jaar nadat Schalk Emma se hart gebreek het – en haar ’n ontsettende onreg aangedoen het in die einste Siprus – keer sy terug na dié eiland. Op bl 119 verneem die leser: “Mense, gewoonlik vlugtelinge, word uit oorloggeteisterde lande onder die valse voorwendsels gelok met beloftes van huisvesting en werk, en verkoop aan wie ook hulle nodig het vir wat ook al.

“Dis alles toe waar. Op groot en kleiner skaal. Epstein se Little St James-eiland is dalk nie die enigste een nie. Glanspersone, wetenskaplikes, politici, regsmanne, almal mense van aansien in die samelewing, is betrokke. Hoe kan ’n mens ooit weer enigiets glo wat deur hierdie soort mense kwytgeraak word? En die slagoffers? Waarheen verdwyn hulle?”

Emma is werksaam by Systems Inc as data-analis, waar sy daagliks op die spoor – en bankrekenings – is van kriminele wêreldwyd wat hul besig hou met geldwassery. Die leuse van die maatskappy is om die wêreld te verander, ’n droom wat Emma, twyfel ten spyt, ook nastreef.

Geldwassery is die proses waardeur onwettige inkomste as “wettig” deur verskeie rekeninge “gewas” en gelegitimeer word. Dit is ’n wêreldwye euwel wat jaarliks miljarde dollar deur besigheidsrekenings kanaliseer, en misdaadnetwerke soos dwelm-, mense- en wapenhandel ondersteun. Hierdie komplekse misdaad gedy in gebiede met swak wetstoepassing, en benut onder meer digitale platforms en kriptogeldeenhede om die bedrieglike transaksies te verskans. Data-ontleders is van kardinale belang om hierdie korrupsie bloot te lê. Deur gesofistikeerde algoritmes en masjienleer te gebruik kan hulle deur groot volumes finansiële data sif en patrone en afwykings identifiseer wat op verdagte transaksies dui.

“Wat is aan die gang? Triljoene beweeg om die aarde, mense word skatryk terwyl derduisende ander mense vlug uit lande waar tenks en bomme en swaar gewapende soldate alles wat hulle besit, vernietig. In Afrika, waar miljoene ingepomp word, vergaan mense steeds van honger en ellende. Waar gaan die skenkings heen?” (75).

Min was Emma voorbereid op hierdie gevaarlike spioenasiesending Siprus toe. Alhoewel haar suster in Siprus woon en sy vertrek onder die voorwendsel dat sy by haar gaan vakansie hou, is dit allesbehalwe ’n wegbreek vir Emma, besef sy. “Sy weet hoe dit gaan – iewers is daar gewoonlik ’n vrot eier. Maar nie in Siprus nie, daarvan is sy seker. […] Asof hy haar gedagtes lees, skuif Wim terug in sy stoel, arms op die leunings. ‘Die oorlog tussen Israel en Hamas gaan uitbrei. […] Siprus was nog altyd ’n baken in oorloë. Smokkelhandel bring groot winste. So maklik om heen en weer te glip!’” (22).

Die luukse seiljagte wat by die seegrotte aandoen – wat gaan regtig daar aan? En presies wié is Nikos, Wim se tussenganger, in Siprus? En wat van al die Russiese oligarge wat in Siprus vermoor word? Dan, die boerpotvraag: Waarom juis Siprus? Mensehandel, ’n hedendaagse vorm van slawerny, gedy in die Middellandse See-gebied, waar Siprus ’n sentrale rol speel as gevolg van sy strategiese ligging tussen Europa, Asië en Afrika. “Smokkelnetwerke in die Med is so oud soos die berge, en mensehandel ook” (142).

........
Pandora is ’n uiters genietlike en toeganklike roman. Spruyt verras as sosiale kommentator par excellence. Sy takel bogenoemde ongemaklike en belangrike geopolitieke brandpunte kaalvuis, ’n subteks wat nie die verhaallyn verswaar nie, maar eerder as slim metatekstuele kommentaar ’n boeiende kwaliteit aan die roman verleen.
........

As ’n EU-lidstaat en ’n deurgangsroete vir migrante en vlugtelinge uit konflikgeteisterde gebiede soos Sirië en Noord-Afrika, is Siprus ’n teiken vir mensehandelaars wat kwesbare gemeenskappe uitbuit. Slagoffers word dikwels gelok met vals beloftes van sekuriteit, net om dan vasgevang te word in netwerke van gedwonge arbeid, sekshandel of ander vorme van uitbuiting, veral in sektore soos huishoudelike werk of die konstruksiebedryf. Die eiland se politieke verdeling, met ’n Turksbeheerde noorde en Griekse suide, lei tot verdere spanning, wat grensbeheer kompliseer en handelaars in staat stel om gapings in wetstoepassing te eksploiteer. Geopolitieke spanning en swak internasionale samewerking in dié streek vererger die krisis, wat Siprus ’n kritieke fokuspunt maak in die stryd teen mensehandel.

Wim vertrek op sy beurt op ’n geheime sending na Israel, waar hy deur middel van kodetaal kommunikeer met Emma, sy bondgenoot in Siprus. 

Pandora is ’n uiters genietlike en toeganklike roman. Spruyt verras as sosiale kommentator par excellence. Sy takel bogenoemde ongemaklike en belangrike geopolitieke brandpunte kaalvuis, ’n subteks wat nie die verhaallyn verswaar nie, maar eerder as slim metatekstuele kommentaar ’n boeiende kwaliteit aan die roman verleen. Gesprekke en mymeringe oor korrupsie wêreldwyd is spontaan, in geselstaal, geskryf; dit kon net sowel oor ’n koppie tee in jou sitkamer gebeur het. En natuurlik is dit ’n liefdesverhaal uit eie reg – die protagoniste is verrassend modern en menslik; beslis nie die te-goed-om-waar-te-wees versuikerde manlike en vroulike helde en heldinne wat in resepmatige verhale voorkom nie. Nee; dit is karakters wat foute maak, berou het daaroor, en met komplekse persoonlike en familie-uitdagings worstel.

Een van die temas wat voorkom in die roman, is die rol van Pandora, wie se naam algemeen bekend is in die mite van Pandora se kruik/amfora, of in latere weergawes, Pandora se boks. Spruyt woeker slim met dié mitiese gegewe en bou dit uit tot belangrike simbool binne ’n hedendaagse konteks. Soos in haar vorige romans flankeer sy met antieke mitiese gegewens wat sy in binêre spanning plaas met die moderne zeitgeist waarin ons leef.

........
Pandora, verskrik oor wat sy ontketen het, het die kruik blitsvinnig toegedruk. Slegs één ding het egter binne-in die kruik agtergebly: hoop. Dit is die “les” van die boek – daar is nog goeie mense wat die wêreld kan verander, al sal boosheid altyd sy kop orals uitsteek.
........

En die Pandora wat die titel van die roman uitmaak? Lank, lank gelede het Zeus, die koning van die gode, wraak gesweer oor Prometheus wat vuur gesteel het om dit aan die mensdom te gee. In sy woede het Zeus vir Pandora, die eerste vrou (in die Griekse mitologie), geskep en haar geseën met skoonheid, sjarme, baie talente, maar ook ’n tikkie listigheid. Pandora het ’n verseëlde kruik/amfora ontvang van die gode, met die streng vermaning om dit nooit oop te maak nie. Maar gedryf deur haar onversadigbare nuuskierigheid, het sy uiteindelik die deksel gelig. Op daardie moment het ’n stroom euwels – smart, siekte, oorlog, armoede – uit die kruik ontsnap en versprei oor die wêreld, wat die idilliese bestaan van die mensdom vir ewig sou verander. Pandora, verskrik oor wat sy ontketen het, het die kruik blitsvinnig toegedruk. Slegs één ding het egter binne-in die kruik agtergebly: hoop. Dit is die “les” van die boek – daar is nog goeie mense wat die wêreld kan verander, al sal boosheid altyd sy kop orals uitsteek. Op verskeie plekke in die roman filosofeer Spruyt oor die rol van die Griekse gode; gewaarwordings wat herinner aan, en ooreenstem met, Charl-Pierre Naudé se magistrale werk oor mites, In die rede geval: Waarom die mens mites maak.  

Hoe meer Emma navorsing doen oor die euwels wat haar in Siprus omring, hoe meer kry Pandora se mite gestalte, ook in die gedaante van geslagsgeweld. Op bl 72 vergelyk Susan, Emma se suster, Pandora dan met Eva – en dat die vrou altyd die skuld vir die sondes van die mensdom moes dra: “Die sonde van die mens, die oorsaak en die straf. Amper soos Eva. Ons arme vrouens is vir ewig gebrandmerk, en alles eintlik die gode en Pandora se skuld.” Emma sukkel nog om haar eie smart as vrou van vyf jaar tevore te verwerk, en dié bewering lewer op interessante wyse feministiese kritiek. Hiermee tesame handel die boek oor Emma se reis na individuasie. As voorbeeld: “Wie is sy nou eintlik? Waar is die jong vrou wat geswig het voor Schalk se sjarme, wat nie geweet het wat om te doen toe sy moes nie? Dieselfde een wat nagte lank nie kon slaap nie omdat sy bang was haar ouers sterf ook, geluister het na hulle gefluister in die kamer langsaan, die sagte geween van haar ma, haar pa se stilte? Die woedende een wat met alle mag iets of iemand wou seermaak soos wat hulle seergekry het? ’n Moeë, siek lyf van op en af draf, heen en weer hospitaal, apteek en winkels toe om die huishouding aan die gang te hou? Aan die werk gebly het voor haar rekenaar, alles gedoen het wat sy moes om Wim tevrede te stel? […]

“Daardie vrou is weg, weet sy nou. ’n Ander Emma het in haar plek gekom, een wat iewers in haar gees ’n borswering ontwikkel het en ’n brug oorgesteek het waarmee sy nie kan teruggaan nie” (114–5). Die verhaal lewer insgelyks insiggewende kommentaar op die nasleep – en ennui – van die COVID-19-pandemie.  

........
Spruyt verdien voorts lof vir die skilderagtige beskrywings van Siprus, ’n soort siklorama waarteen die verhaal afspeel. 
........

Aan die einde van die roman neem Emma dan simbolies beheer oor haar lewe as sy haar suster se lieflike kissie, versier met Latchi-kristalklippies, in ontvangs neem – ’n kissie wat ook herinner aan Pandora s’n, maar sonder die euwels … en gevul met hoop. 

Nog ’n subteks is die sosiale kommentaar wat gelewer word oor skilderkuns, byvoorbeeld die vervalste Vermeer-skildery waaruit ’n familie ’n fortuin gemaak het, en wat herinner aan die film The last Vermeer (2019).

Pandora wemel van kleurryke karakters, byvoorbeeld die New Ager Freyda, met haar esoteriese sêgoed en haar geradbraakte Engels.

Spruyt verdien voorts lof vir die skilderagtige beskrywings van Siprus, ’n soort siklorama waarteen die verhaal afspeel. 

Pandora beskik oor elemente van verskeie genres: Dit is ’n liefdes- én spanningsverhaal wat spioenasie, gevaar en die drama van hedendaagse aktualiteite ontsluit. Die skrywer het ’n onderhoudende skryfstyl en dié veelkantige roman verdien al die lof wat dit toekom – as skrywer is Spruyt ongetwyfeld in ’n klas van haar eie.

Lees ook:

In die rede geval – waarom die mens mites maak deur Charl-Pierre Naudé: ’n resensie

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Charl-Pierre Naudé oor In die rede geval

Heil die Leser!: Narratiewe medisyne

Heil die Leser!: Oor wonderwerke en die antieke gebruik van vas

Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur

Heil die Leser!: Vertaalkuns as tweespraak – Mario Relandini en Rina Cascione

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top