Heil die Leser!: Narratiewe medisyne

  • 0

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

1

Op ’n ligter noot

Die hart het geheime deur Malene Breytenbach (LAPA, 2025)

Die hart het geheime
Malene Breytenbach
Romanza. LAPA Uitgewers, 2025

Malene Breytenbach het tot op die ouderdom van 14 in Gweru, Zimbabwe, gewoon. Hulle gesin het geëmigreer en sy het aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer.

Ná skool behaal sy ’n BA-graad met Frans en Engels as hoofvakke en daarna ’n honneursgraad in Engels aan die Universiteit van Pretoria. Sy was werksaam as vertaler by onder meer Krygkor, waar sy haar aanstaande man, Willie Breytenbach, wat een van haar dosente was, ontmoet het. In 1985 verhuis die egpaar na Stellenbosch, waar haar man ’n professoraat aan die US aanvaar het.

Malene self was van 1990 tot 2008 betrokke by die US, eers in openbare betrekkinge, later in kommunikasie, asook by die Stellenbosch Stigting. Sy behaal ’n honneursgraad met lof in joernalistiek, en later ook ’n MA en DPhil in hierdie rigting. Ná laasgenoemde doktorsgraad behaal sy ’n MA in Ou Nabye-Oosterse Studie, en ’n MPhil in Antieke Studie. Sy skryf voltyds sedert haar aftrede in 2008. Breytenbach is ’n produktiewe skrywer en meer as 50 romans het reeds uit haar pen verskyn, asook talle kortverhale en resensies.

Ek het vir Malene gevra om ons meer van haar skryfwerk, en spesifiek haar romanses, te vertel. Ek stel haar aan die woord:

“Van kleins af het ek lekker geskryf aan essays, en ek het gedurig vir myself stories uitgedink. Ek het nie destyds gedink ek sal ’n skrywer word nie, maar eerder ’n kunstenaar of sangeres. Die drome van die jeug tog!

Ek was ook altyd baie leesgierig. Aanvanklik het ek net Engelse boeke gelees, maar later ook Afrikaans. Ek lees enigiets van misdaadverhale tot niefiksie en is steeds ’n gulsige leser.

Nadat ek soveel tyd aan studie gewy het, het ’n vriendin wat liefdesverhale vir LAPA geskryf het, gevra waarom ek dit nie ook probeer nie. Net daar val ek weg en skryf Palmyra herleef. Ek baseer dit op my eie universiteitservarings en kennis. Die boek word in 2005 gepubliseer, tot my groot lekkerkry. Toe trek ek los en het nog nooit opgehou skryf nie.

Om Romanzas te skryf is 50 persent heerlik; die ander 50 persent is mos swoeg om stories uit te dink. Dis wonderlik hoe karakters ’n mens lei. Hulle word net so werklik soos die mense om my. Die idees spring in my kop in, enige tyd. Jy kan tog nie ’n storie skryf as jy nie ’n idee gekry het waaroor dit moet gaan en waarheen dit gaan lei nie. Dis altyd vir my ’n wonderwerk hoe dit gebeur. In die nag, in die bad, enige plek kry ek ’n trigger – en daar gaan ek!”

Romanses as subgenre van prosa is ontvlugtingsliteratuur en moet as sodanig getakseer word. Daar is mense wat dié genre beskuldig van resepmatigheid, en dit is ironies dat dié beskouing nie van toepassing is op ánder literêre of skrywerstemplate nie, terwyl resepmatigheid oor ’n wye front in die letterkunde voorkom. Uiteindelik is daar net twee tipes stories, om Chris Barnard aan te haal: goed geskrewe of swak geskrewe verhale. Die hart het geheime is die werk van ’n behendige en deurwinterde skrywer.

........
Uiteindelik is daar net twee tipes stories, om Chris Barnard aan te haal: goed geskrewe of swak geskrewe verhale. Die hart het geheime is die werk van ’n behendige en deurwinterde skrywer.
........

Die romanse beklee ’n belangrike plek binne die populêre leeskultuur en boei miljoene lesers wêreldwyd. Die volgehoue gewildheid van hierdie genre bevestig die vermoë daarvan om fundamentele menslike begeertes na liefde, romantiese verhoudings, emosionele vervulling en ontvlugting te bevredig.

Die romanse dien ook as ’n kragtige en moderne medium om temas van vroulike selfbeskikking en bemagtiging te ondersoek. Waar vroeëre liefdesverhale tradisionele geslagsrolle bevestig het, beeld kontemporêre romans al hoe meer sterk, onafhanklike vroulike hoofkarakters uit wat aktief hul eie lot in die lewe navigeer. Hierdie karakters tree selfgeldend op in komplekse verhoudings; hulle streef hul ambisies na en daag sosiale verwagtinge uit, wat as sulks vir hulle lesers as inspirerende rolmodelle voorgehou kan word. Voorts bied die genre ’n veilige ruimte waarbinne lesers hul eie emosies kan verken. Die klem op emosionele verhoudings, liefde en kwesbaarheid laat lesers toe om op ’n persoonlike vlak met karakters te identifiseer en hul vreugdes en hartseer indirek te beleef. Hierdie emosionele katarsis kan besonder terapeuties wees, en bied aan lesers ’n gevoel van begrip en validasie.

Claire Odendaal moet geld verdien vir haar nagraadse studie om ’n sielkundige te word. Sy word ’n au pair vir die rebelse stiefdogter van wewenaar Adrian Lawrence, eienaar van ’n landgoed en ’n tegnomaatskappy. Claire en Adrian voel aangetrokke tot mekaar, maar sy is ambisieus en hy wil nie weer trou nie. Daarbenewens is Adrian se rokjagterbroer, Wayne, agter Claire aan. Uit die staanspoor uit besef Claire dat alles nie pluis is in die Lawrence-familie nie. Daar is gerugte dat oupa Jock betrokke was by ’n misdaadsindikaat, en Adrian se broers is insgelyks betrokke by kriminele aktiwiteite. Kan Claire vir Adrian vertrou?

Breytenbach se karakters is werklikheidsgetrou en die intrige boei enduit. Vir my is ’n belangrike komponent van ’n geslaagde romanse die karakterisering van die held, of manlike protagonis – waarskynlik omdat die verhaal (oorwegend) vanuit ’n vroulike perspektief gelees word. Vroulike voyeurs, inderdaad.

Adrian is ’n tipiese sigmaman. Hierdie tipe is misterieus en enigmaties; ’n “lone wolf”. Alhoewel Adrian ’n introvert is, het hy ’n sterk persoonlikheid met ’n verborge diepte wat Claire (en vroulike lesers) fassineer. Die sigmaman is suksesvol en ’n gerespekteerde individu, sonder om ander se goedkeuring te soek. Sy selfvertroue, krag en charisma kom van binne, en hy is onafhanklik, met ’n aura van geheimhouding; selfs eensaamheid. En natuurlik is Adrian dodelik aantreklik – hoe dan anders?

........
Breytenbach delf dieper as ’n blote verhaal met romantiese en erotiese innuendo’s – sy skryf die goudaar van ware liefde raak.
........

Claire kom voor talle struikelblokke te staan. Adrian se stiefdogter, Lily, worstel met persoonlike uitdagings nadat haar moeder in ’n motorongeluk gesterf het. Sy het ook ’n geskiedenis van verkeerde vriende. Claire, wat uit ’n middelklashuis kom, grootgemaak deur ’n enkelma, is aanvanklik oorweldig deur Adrian se welvaart. Maar superrykes is nie noodwendig gelukkige mense nie, besef sy gou. Dan is daar die pierewaaiers wat soos bye om Claire zoem omdat sy ’n besonder mooi vrou is. (En uiteraard irriteer dit vir Adrian en maak dit hom jaloers, maar dié sigmaman steek sy emosies weg.) Van hierdie mans wat om Claire se aandag meeding, is nié wie hulle voorgee om te wees nie …

Breytenbach delf dieper as ’n blote verhaal met romantiese en erotiese innuendo’s – sy skryf die goudaar van ware liefde raak. Hierdie is ’n hoogs genietlike boek, en as ontvlugtingsfiksie tref dit die teiken sekuur.

2

Wat weduwees weet

Uit rou gebore: Na die verlies van ’n lewensmaat deur Elisma van Zyl (Turksvy Publikasies, 2025)

Uit rou gebore: Na die verlies van ’n lewensmaat
Elisma van Zyl
Turksvy Publikasies, 2025

Ek het die skrywer gevra om die lesers iets van haarself en haar boek te vertel; iets wat hulle nie weet nie. Groot was my verrassing toe ek hierdie tong-in-die-kies skrywe ontvang … wat, te verstane, oorgaan in ’n mineurtoonaard. Ek stel Elisma aan die woord:

“Kloosterkoeke, dis hoe ek en die groepie wat Bybelstudie gedoen het in die Paarl-hospitaal se verpleegsterstehuis, bekend gestaan het. Ja, ek was ’n regte kloosterkoek met die Bybel onder my arm. As ek op telefoondiens was, het ek vir al die manne wat ’n nursie gesoek het vir die aand, duidelik laat verstaan hierdie is nie ’n koekblik nie.

“Die kloosterkoeknursie het haar rooi epoulette met balkies gekry, met haar prins getrou, en hulle het vir 34 jaar gelukkig saam gebly soos hulle beloof het: ‘Tot die dood ons skei’.

“Dood kon ons egter nie skei nie; met al die pyn en straf van Genesis het ek geboorte geskenk aan Rou. Rou was blind en stom en doof. Rou se wêreld was nagdonker. Sy kon net voel, intens voel … elke emosie met elke sinoniem van pyn en hartseer wat op die VivA-toepassing verskyn.

“Rou het gesoek vir woorde vir al die emosies en vrae, woorde wat niemand praat nie, te bang is om te praat uit die vrees vir oordeel. Kloosterkoek het begin antwoorde soek vir Rou, maar kon dit nêrens in die Klooster vind nie. Sy trek toe vir Rou kaal uit, gee vir haar vlerke en vul haar gedagtes met ink, ink wat uitvloei in woorde. Rou het toe vir altyd gelukkig saamgeleef met haar woordpleisters en mooi onthou.”

Sedert 2019 verskyn die skrywer en digter Elisma se Zyl se gedigte op die AVBOB Poësie-webtuiste, in ’n plaaslike digbundel, Digterstemme, en in 2021 in Daniel Hugo en Francois de Jongh se antologie COVID-19-gedigte, Maskers en mure.

........
Dit is belangrik om allereers te noem dat hierdie memoires ’n belangrike leemte in hierdie lesersmark vul.
........

Daar bestaan talle Facebook-ondersteuningsgroepe vir weduwees – neem byvoorbeeld “My husband in heaven – grief support”, met meer as 120 000 lede. En dis maar net een voorbeeld. Maar Elisma sê sy het ná haar man se afsterwe ’n groot behoefte gehad om iets te lees oor die verlies van ’n lewensmaat, maar kon bitter min sulke boeke vind, veral in Afrikaans. Dit is belangrik om allereers te noem dat hierdie memoires ’n belangrike leemte in hierdie lesersmark vul.

Op ’n Vrydagaand kort voor Kersfees 2016 verloor Elisma haar man, Christoffel, ná ’n lang stryd teen kanker. In hul laaste dae saam dink sy aan alles wat sy nog vir oulaas aan hom wil meedeel. Sy sê jammer oor haar foute, bedank hom vir alles wat hy vir haar gedoen het, en verseker hom van haar liefde. “Ek praat en praat tot daar niks meer oor is om te sê nie en lê net so langs hom in stilte.” Hierdie boek met vertellings, gedigte en dagboekinskrywings is gebore uit die skrywer se rouproses ná die verlies van haar lewensmaat. Dit beskryf haar pad van emosionele pyn, aanvaarding en heling. Ten slotte leer sy om weer voluit te lewe, selfs al is sy alleen.

Die boek is nie ’n lineêre vertelling gebore uit rou nie, maar memoires van liefde, verlies, en die moeilike reis na heling ná die afsterwe van Christoffel. Vir vier jaar het Elisma haar man met liefde en teerheid versorg terwyl kanker meedoënloos sy liggaam afgetakel het. Hierdie teks dien as ’n rou en intieme binneblik op daardie tydperk, en die geweldige impak wat sy siekte en dood op haar, maar ook op die geliefdes naby aan hom, gehad het.

Vandag, sewe jaar later, het sy eindelik heling gevind, alhoewel rou ’n proses is wat nooit “weggegaan” nie, bloot draagliker word. Elisma wou haar ervaring met ander deel “sodat hulle kan weet hulle is nie alleen op die pad nie; hulle mag rou soos hulle wil vir so lank hulle wil.” Sy vervolg: “Ek het sedert my man se siekte en dood joernaalinskrywings gedoen en later begin gedigte skryf – dit was vir my ’n uitlaatklep en ’n terapeutiese proses.”

Die achroniese aard van die gedigte, joernaal- en dagboekinskrywings, foto’s en grafika herinner aan ’n collage, wat resoneer met die tema van ’n voortydige dood. Hierdie soort teks is ’n argief, ’n bewaringsplek van ’n geleefde lewe met sy herinneringe. Die gefragmenteerde struktuur van die memoires weerspieël die verwarrende aard van diep verlies, wat iets van die skeppingsproses daarvan vergestalt – en as ’n boek, uiteindelik die vorm van gesamtkunstwerk aangeneem het. Van Zyl maak gebruik van motto’s van ander skrywers, Bybelse verwysings, en ook aanhalings uit die sosiale media en Netflix-stromingsreekse, wat ’n toeganklike en moderne aanslag aan die werk verleen.

Die dagboekinskrywings bied ’n ongefiltreerde blik op die daaglikse realiteite van die versorging van ’n kankerlyer, chemoterapie en die ontwrigting wat ’n geliefde eggenoot se lyding en dood tot gevolg het.

Van Zyl skroom nie om oor die ongemaklike – en meedoënlose – realiteite rondom die rouproses te skryf nie. Eintlik is Uit rou gebore ’n werk wat oor ’n dubbele rouproses handel: die afskeid van Christoffel gedurende die vier jaar waartydens hy siek was, en die werklike afsterwe daarná. Van Zyl ekstrapoleer hierdie verlies na die verwysing van haar doodgebore seuntjie, asook haar dogter, wat met borskanker gediagnoseer was. Die gedig “Padkruise” (62) bevestig dat verlies inderdaad ’n universele verskynsel is wat ons almal op die een of ander wyse raak.

Die skrywer bespiegel oor die verskillende kultuurbeskouings oor die prosesse van die lewe en die dood, byvoorbeeld die rasionele Westerse beskouing versus die meer spirituele of esoteriese Oosterse blik op hierdie komplekse temas. Die praggedig “Sterfbed” (123) is hier van toepassing.  

Die skrywer skryf oor Elisabeth Kübler-Ross se verskillende roufases, maar sy verswaar nie haar memoires met ’n akademiese of verliteratuurde aanslag nie; sy lewer persoonlik verslag oor haar belewenis van laasgenoemde fases.

........
Die boek is outentiek, tot in die fynste vesel. Hierdie poëtiese tussenposes verhef die memoires bó die eenvoudige weergawe van gebeure, en verander dit in ’n liriese verkenning van die blywende krag van liefde te midde van ondenkbare verlies.
........

Daar verskyn talle aangrypende gedigte in hierdie boek. Die verse is rou en sonder pretensie (alhoewel nie sonder meriete nie). Die boek is outentiek, tot in die fynste vesel. Hierdie poëtiese tussenposes verhef die memoires bó die eenvoudige weergawe van gebeure, en verander dit in ’n liriese verkenning van die blywende krag van liefde te midde van ondenkbare verlies.

Op bl 59 verneem die leser: “’n Jaar ná Christoffel se dood, op 2 Desember 2017, het ons sy boompie gaan plant op die plek wat hy self uitgewys het, by Boompie-alleen.”

Boompie-alleen    

    met ’n wintershart
jou in die somer geplant
    sterstof
om jou wortels gestrooi
my trane het jou gevoed
kosmiese kodes bind ons
    jou blare spreek
Lewe

groei, my boompie
       groei
staan sterk teen son en wind
eendag gaan ek in jou skadu sit
              en my hart
            van lente sing
                   kyk!
        daar word ’n ster
                  gebore                      (57)

En al is die reis moeisaam, uiteindelik, na al die jare, kan Elisma van Zyl getuig van ’n brose, maar onmiskenbare heling; die stadige, pynlike proses van om haarself te herontdek – buiten haar rol as versorger en weduwee.

Haar manuskrip is deur drie uitgewers aanvaar, maar Turksvy Publikasies was uiteindelik haar keuse, omdat dit ’n plesier was om met die uitgewer, Marlene Malan, saam te werk.

Uit rou gebore maak aanspraak op die leser se empatie om die skrywer se rouproses te herbesoek. Maar dit is ’n diep bevredigende een. Dit spreek van die blywende krag van liefde, die meedoënlose werklikheid van rou, maar ook die veerkragtigheid van die menslike gees.

Dankie, Turksvy Publikasies, vir hierdie broodnodige publikasie.

Lees ook:

Heil die Leser!: Oor wonderwerke en die antieke gebruik van vas

Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur

Heil die Leser!: Vertaalkuns as tweespraak – Mario Relandini en Rina Cascione

flikker-gram, saamgestel deur Marlies Taljard: ’n resensie

Die langverwagte deur Erwin Mortier, vertaal deur Fanie Olivier – ’n resensie

Romantiese ontspanningsfiksie bly gewildste

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top