Carla van der Spuy vind uit wat die verskille tussen die verskillende liefdesgenres is.
Die liefde is al met elektrisiteit, ’n weerligstraal, ’n donderslag en dronkenskap vergelyk. Jy verkeer in ’n toestand waarin elke sel van jou liggaam vir romanse oorgehaal word. Soos die geval met dwelms is, stimuleer dit die sentrale senuweestelsel en veroorsaak daardie sielsgeluksalige gevoelens van euforie, energie en opwinding. Om ’n liefdesverhaal te lees, het glo dieselfde uitwerking. Daarom sal liefdesgenres altyd gewild wees.
Kenners meen dat selfs die intelligentste en mees intellektuele mense ’n behoefte aan ontvlugting en vermaak in romantiese fiksie vind. Dit laat ’n salige gevoel en ’n gevoel van hoop by die leser wat uit die harde werklikheid weggevoer wil word.
En dit verklaar waarskynlik hoekom die subgenres van liefde onder die gewildste leesstof bly. Maar alle liefdesverhale is gewis nie dieselfde nie. Daar is nogal onderskeide te tref tussen romanses, liefdesromans, vrouefiksie en die sogenaamde chick lit.
Die bekende skrywer Chanette Paul sê vrouefiksie is ’n breë begrip met subgenres, maar dit kan ook genreloos wees. (Meer oor die onderskeid wat sy tref verderaan.)
Romantiese ontspanningsfiksie
Chanette wys daarop dat romantiese ontspanningsfiksie ’n sambreelterm is wat vele onderafdelings omsluit, maar daar is twee hoofkategorieë, naamlik die romanse (romance) en die liefdesroman (romantic novel). Dis landwyd en internasionaal verreweg die gewildste soort fiksie. Maar dis ook die genre waaroor die meeste wanopvattings bestaan. “Dis ’n genre wat mens slegs tot jou eie nadeel onderskat en waar jy as skrywer by uitstek in diens van die leser staan.”
Die gewilde skrywer Helene de Kock sê hieroor: “Na my mening is ’n roman se storie die faktor wat die lengte en die struktuur van die roman bepaal. Die storie self kan byvoorbeeld die roman in ’n sekere genre plaas. Vergelyk byvoorbeeld die simplistiese storie van ’n romanse teenoor die veel meer komplekse en werklikheidsgebonde storie van ’n liefdesroman.
..........
“’n Gelukkige einde is – anders as in die werklike lewe – ononderhandelbaar.”
..........
“Eweneens kan die blote storie van ’n roman dit ook moeilik maak om dit te tipeer as byvoorbeeld suiwer net ’n spanningsverhaal of suiwer net ’n liefdesroman. ’n Liefdesroman kan en moet deesdae ’n redelik stywe spanningslyn handhaaf. Daarby moet deeglik navorsing gedoen word. Lesers weet baie en is weetgierig. Geen skrywer behoort egter die fout te maak om te dink dat ’n romanse makliker sal skryf nie. Inteendeel. Dis ’n gesogte genre met lesers wat presies weet wat hulle wil hê.
“Mens skryf dan ook werklik moeilik aan ’n liefdesroman wat ongeveer ’n honderd duisend woorde bevat.
“Uit watter hoek ’n liefdesroman ook al beskou word, dit bly ’n vereiste dat dit inderdaad goed geskryf moet wees. Dit wil sê die skrywer daarvan moet die leser kan vermaak en terselfdertyd ’n mate van diepgang in sy/haar roman kan inweef sonder om aan toeganklikheid in te boet,” sê Helene.
Wat romanses betref: Daar word dikwels hierop neergesien, maar eintlik, vertel die skrywers (ook dié wat dikwels later ander of meer verwikkelde genres aangedurf het), is dit glad nie so maklik is om ’n romanse te skryf nie. Streng riglyne moet gevolg word. Dit verg kundigheid om ’n romanse te skryf.
En as jy regtig romanseskrywers se bloeddruk wil opjaag, moet jy van “lakenstories”, “swymelromans” en “hygromans” praat. Die stories is skoon. Die karakters vloek nie; hulle gaan nie roekeloos met die liefde om nie; hulle is nie banaal nie; en hulle is allesbehalwe losbandig, al is hulle nie noodwendig so maagdelik soos Barbara Cartland se reiner-as-lenteblomme-heldinne nie. Alles wentel rondom die uitgestelde begeerte en die emosionele belewenis. Die leser weet die held en heldin gaan by mekaar uitkom, maar sy weet nie hoe nie. ’n Gelukkige einde is – anders as in die werklike lewe – ononderhandelbaar.
Charlene Hougaard, opdraggewende redakteur by fiksie by LAPA, sê dit lyk vir haar asof die meeste verwarring bestaan oor die verskil tussen die romanse en die liefdesroman. Die romanse fokus glad nie op die donker kant van die lewe of huweliksontrou nie. Daar is ook geen sprake van geweld nie. Bekende skrywers soos Chanette Paul, Kristel Loots, Elsa Winckler en Alta Cloete (as Marilé Cloete) het al in die verlede baie romanses geskryf.
Chanette skryf die gewildheid daarvan toe aan die feit dat dit sprokies vir vroue is en jou in die liefde laat glo en krag vir die werklikheid gee. Hoewel romanses nie intellektueel van aard is nie, verg dit intelligensie om dit te skryf, want emosie moet op papier vasgepen word.
Charlene wys daarop dat die liefdesroman nie net ’n langer romanse nie. Die basiese vereistes is dalk dieselfde, maar die liefdesroman vra veel meer. Dit het ’n deurleefde kwaliteit wat te doen het met die skrywer se lewenservaring, haar wêreldbeskouing, en of sy dieper as die oppervlak na die lewe kyk.
“Ek dink nie dis moontlik om die verskil op papier vas te vang nie. Daar is ook nie ’n onfeilbare metode nie, want dit het verder te doen met kreatiwiteit en die skrywer se unieke stempel. Die enigste manier om werklik agter te kom wat die verskil is, is om te lees en jou eie navorsing te doen.”
Charlene beskryf die romanse soos volg: “’n Romanse is die storie van ’n liefdesverhouding wat tussen ’n man en ’n vrou ontwikkel vandat daardie chemiese reaksie wat ons verliefdheid noem vonk vat, en duur tot en met die kulminering van hierdie liefde – sy dit die wedersydse verklaring van die held en heldin se liefde vir mekaar, ’n huweliksaansoek, die troue of waarheen die storie ook al lei. Hierdie verhale word in die Romanza-reeks sedert 2005 uitgegee, en Romanza vier in Junie haar vyftiende verjaardag.
Die liefdesroman strek egter veel wyer en beweeg ook nader aan lewenswerklikhede. Soos Chanette, benadruk sy dat dit as enkeltitel uitgegee word, dit wil sê nie as deel van ’n reeks/kategorie nie.
“In die liefdesroman word die minder idilliese kant van die lewe betrek: die onregverdigheid van die lewe soos menslike wreedheid, die struikelblokke wat oor die mens, veral die vrou, se pad kom. Daar loop steeds ’n goue draad van hoop en optimisme deur die verhaal, maar die hoof- en ander karakters word blootgestel – en soms uitgelewer – aan nare werklikhede. Die liefdesroman eindig nie noodwendig idillies nie, maar wel op ’n hoopvolle noot.
“Waar die romanse dus die onaangenamer sy van die lewe grootliks ignoreer of minstens binne ’n kader plaas waar álle kwaad deur die goeie oorwin word, betrek die liefdesroman die lewe in al sy fasette binne ’n baie realistieser konteks.
“Die liefdesroman se plot is baie meer verwikkeld as die romanse s’n en daar is heelwat meer karakters. Die karakters en hulle menswees word ook baie dieper ontgin en dikwels word meer as een karakter se perspektief ingespan. Die liefdesroman is dan ook aansienlik dikker as die romanse.
“Liefdesromans is warm, emosionele stories – feel-good stories, maar stories wat die werklikheid aanspreek. Wyle Cecilia Britz het altyd Donna Baker aangehaal: ‘A story of imagination and passion, with a theme in which real characters live real lives, with a plot that may be simplicity itself or as complex as War and peace.
Charlene sê daar is ruimte vir groei in hierdie genre. Die oes onder Afrikaanse skrywers kan baie verbreed word. Tans is dit hoofsaaklik die volgende skrywers wat gereeld in hierdie genre skryf: Sophia Kapp, Kristel Loots, Vita du Preez, Bernette Bergenthuin, Santie van der Merwe en Wilna Adriaanse (laasgenoemde gee by Tafelberg uit). Die oorsese koningin van die kontemporêre liefdesroman is Nora Roberts, maar dis nie al wat sy skryf nie.
Chanette beskryf die liefdesroman as ’n roman wat “inherent oor ’n vrou se emosionele reis na volwaardigheid gaan”.
Skrywers
Charlene verwys na ’n dokument wat deur Chanette opgestel is wat die verskil tussen ’n romanse en liefdesroman verduidelik, asook een oor fiksiekategorieë en genrefiksie wat uitstippel wat die verkillende genres is wat deur Chanette en wyle Cecilia Britz opgestel is.
Sy noem skrywers soos Dina Botha, Elsa Winckler, Madelie Human en Alma Carstens as voorbeelde van Romanza-skrywers. Dan is daar ook die SuperRomanza-reeks wat langer en meer verwikkeld is. Onder die skrywers wat hierdie genre baasgeraak het, is Madelie Human, Marilé Cloete, Dina Botha, Frenette van Wyk en Malene Breytenbach. Van Maart vanjaar af het hierdie “branding” egter weggeval en gee LAPA gewone langer romantiese verhale uit.
Voorbeelde hiervan is Magdaleen Walters se Ter wille van jou (Maart 2020) en Didi Potgieter se As dit voel soos liefde wat in April 2020 verskyn.
Charlene beskou Sophia Kapp se werk as die beste voorbeeld van die liefdesroman, veral haar boeke Die ooreenkoms, Die tuiskoms en Huis van die wind. Vita du Preez skryf ook liefdesromans. Haar Vinkel & Koljander-reeks is ’n voorbeeld hiervan en sluit in: Solitaire, Woestynroos, Droomland en Wilde klawer.
Sy beskou Santie van der Merwe en Kristel Loots as ons voorste vrouefiksieskrywers. Santie se jongste boek is ’n Goeie jaar vir rose en Kristel s’n Eendag is nou. Sophia Kapp se Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva en Kantelpunt word ook as vrouefiksie gekategoriseer. Een van LAPA se nuwe skrywers, Rozaan de Wet, se Uit die hart van ’n vrou val ook in hierdie kategorie. (Meer inligting oor hoe vrouefiksie gedefinieer word ondertoe.)
Die romantiese spanningsroman
Charlene sê: “Wyle Cecilia Britz het in 2007 begin met die romantiese spanningsroman (romantic suspense) en ná Chanette was daar nog net ’n paar skrywers wat dit suksesvol kon doen: Isa Konrad met Die ondenkbare en Bets Smith met Bloedspoort en Skrikkelmaan. Dis dubbel so moeilik, omdat twee spanningslyne volgehou moet word en is nie aan te bevele vir iemand wat nie al heelwat geskryf het en ’n aanvoeling vir beide genres het nie. Die koningin van romantiese spanningsverhale in Amerika is Sandra Brown.
“In ’n stadium het ons ’n paar romantiese spanningsromans in die Romanza-reeks uitgegee, maar dit het nie gewerk nie en ons het dit gestaak.”
Charlene verduidelik dat die romantiese spanningsromans ’n sterk romantiese element het, gewoonlik met ’n avontuurlustige heldin en ’n stoutmoedige held wat saam ’n raaisel, gewoonlik ’n moord, oplos en in die proses op mekaar verlief raak. Die speurpersoon is gewoonlik ’n amateur in stede van ’n beroepspersoon soos ’n privaatspeurder of polisieman. Dis baie meer realisties as die romanse. ’n Voorbeeld is Isa Konrad se Karibib-reeks, Moord op Karibib en Doodsake op Karibib. Die romantiese spanningsroman is ’n geweldig gewilde subgenre in Engelstalige lande. “Voor in een van die onlangser boeke van Nora Roberts staan daar dat daar 280 miljoen van haar boeke in druk is.”
Sy verwys in dié verband ook na Chanette Paul, wat by skryfskole verskeie lesings oor romantiese ontspanningsfiksie aangebied het en dit ook in Die Afrikaanse skryfgids beskryf.
Vrouefiksie en chick lit
“Vrouefiksie, wat ’n onderafdeling van fiksie is, word geskryf vir vroue deur vroue. Die sleutelkarakter(s) is een of meer vroue wat van aangesig tot aangesig kom met die werklikheid van die lewe en hulle persoonlike stryd oorwin. Dit het nie noodwendig ’n romantiese element of ’n gelukkige einde nie. Vrouefiksie bevat humor en die oorweldigende gewildheid van Rebecca deur Wilna Adriaanse destyds is ’n baie duidelike teken dat daar ’n behoefte is aan dikker en dus verwikkelder boeke, ’n sterk en bekkige vroulike hoofkarakter, ’n sterk, maar meer realistiese romantiese element en ’n sterk humoristiese/komiese element.
Bernette Bergenthuin se boeke, in besonder Lam in wolfsklere, Stiletto’s van staal en Viva la vida neig ook na chick lit.
“Chick lit verskil in verskeie opsigte van die romanse. Dit bied die leser minder formuleagtige verhaallyne, dus kan die taalgebruik swetswoorde insluit, seksualiteit kan realisties onder die loep kom en emosies soos jaloesie en vergelding kan ondersoek word sonder om die leser se verwagtinge geweld aan te doen. Die leser se beloning lê daarin dat die vroulike hoofkarakter haar stryd wen, haar lesse leer en sterk genoeg voel om haar lewe in te rig soos dit haar pas. Dit sluit nie noodwendig ’n vir-altyd-en-ewig- gelukkige-einde in nie, maar eindig wel altyd op ’n positiewe noot.
Wikipedia definieer chick lit soos volg:
Chick lit is a term used to denote genre fiction written for and marketed to young women, especially single, working women in their twenties and thirties. The genre’s creation was spurred on, if not exactly created, in the mid-1990s with the appearance of Helen Fielding’s Bridget Jones’s Diary and similar works; it continued to sell well in the 2000s, with chick lit titles topping bestseller lists and the creation of imprints devoted entirely to chick lit.
Chick lit features hip, stylish female protagonists, usually in their twenties and thirties, in urban settings … and follows their love lives and struggles in business (often in the publishing, advertising, public relations or fashion industry). The books usually feature an airy, irreverent tone and frank sexual themes.
“Chick lit is egter nie die enigste subgenre wat baie potensiaal het vir humor nie; ook humoristiese boeke met ouer vroulike hoofkarakters kan baie suksesvol wees. Daar word selfs al oorsee van Divorce lit gepraat asook Hen lit en selfs Granny lit,” sê sy.
Hier volg meer oor die verskille tussen die romanse en die liefdesroman soos deur Chanette uiteengesit.
Die romanse
Chanette beskryf die romanse as ’n passie vir passie. Die romanseleser is volgens haar ’n streng baas.
“Sy weet presies wat sy wil hê en sy is onverbiddelik. Daarom moet die uitgewer sorg dat die romanses wat hulle uitgee, aan al haar verwagtinge voldoen. Die romanse is presies wat die term sê. Dis romanties, nie erotika nie.
“Die kernverhaallyn is die ontwikkelende liefdesverhouding tussen ’n man en ’n vrou wat, nadat konflik opgelos en struikelblokke oorkom is, uiteindelik op ’n sprokieseinde uitloop.”
Oor die kritiek oor die voorspelbaarheid waarmee romanse afgemaak word omdat die leser heimlik weet die held en heldin gaan by mekaar uitkom, vertel sy dat die leser van die begin af wíl weet wie die held is. Die onvoorspelbaarheid lê egter in die “hoe”, dit wil sê die wyse waarop hulle hul struikelblokke oorkom en so by mekaar uitkom. En dis waarna die leser op soek is. Die verhouding moet ontwikkel. Jou sterkste spanningslyn is dus die vervulling van die uitgestelde begeerte.
Die karakters word geïdealiseer en daar is weinig ooreenkomste met die werklike lewe, maar dis suiwer ontvlugting vir romantiese siele. Swaar onderwerpe soos verkragting, alkoholisme en dwelmmisbruik is taboe, want die romanse is die leser se Prozac teen die lewe.
- Liefdestonele moet spaarsaam en op die regte tyd in die romanse gebruik word. Dit is ook nie noodwendig ’n soen of liefkosing nie, maar kan ’n blik of ’n “gestolde oomblik” tussen twee mense wees. ’n Emosionele belewing kom voor die fisieke.
- Die karakters in ’n romanse is geensins karikature nie, maar die vrou wat ons wil wees – mooi, slim en met ’n humorsin en integriteit. Sy is nie ’n slagoffer of martelaar nie en sy het ’n ruggraat. Die held is ook sag op die oog en het goeie waardes. Hy glo aan beweegruimte vir die vrou in sy lewe. En sy foute is vergeeflik. Die hoofkarakters moet nogtans geloofwaardig wees.
- Konflik kom hoofsaaklik in die verhouding tussen die held en heldin voor. Hulle ontmoet mekaar, bots, voel aangetrokke tot mekaar, maar dit lyk nie asof hulle by mekaar gaan uitkom nie.
- Slegs die heldin se perspektief mag gebruik word en eerstepersoon-perspektief is ongewild. Al die gebeurtenisse word deur die heldin waargeneem. Dis net haar gedagtes wat na vore kom, terwyl dié van ander net vir dialoog geld. Soms word ook die held se perspektief ingespan, maar geen ander karakters s’n nie. Eerstepersoon-perspektief is ongewild in die romanse, maar werk vir chick lit.
- Die romanse se lengte is beperk en die verhaal kan nie oor generasies afspeel nie.
- Taalvaardigheid is ononderhandelbaar Die skryfstyl moet ontspanne wees en in goeie Afrikaans. Dit moet klink na spreektaal, maar daar is tog ’n verskil tussen spreek- en geskrewe taal. Anglisismes is taboe. Engelse woorde en sleng kan slegs in dialoog gebruik word en moet by die karakters pas. Gematigde sterk taal is toelaatbaar, maar nie vloektaal nie.
- Die woordperk op romanses is streng, en 44 000 tot 55 000 is die norm.
Die liefdesroman
Chanette beskryf die liefdesroman as ’n vrou se “emosionele reis”. Die liefdesroman is ’n dikker boek en ’n veel verwikkelder verhaal.
Die manuskrip bevat meer woorde, wat die ritme, struktuur en veelvlakkigheid beïnvloed. Dit verg meer skryftegniese vaardighede sowel as karakterisering en storiemaakvermoëns. Dis dus nie net ’n verlengde romanse met meer gebeurtenisse nie, maar dit verg ’n heel ander aanslag. Daar moet dieper in die karakters gedelf word, want dit gaan oor meer as net die liefdesverhouding.
Dit is ook meer realisties, die karakters is minder geïdealiseerd en dit wat met hulle gebeur is nader aan die werklikheid. Dis ’n vrou se reis na haar eie volwaardigheid met die liefdeslyn ondergeskik hieraan, sê Chanette. Dit sluit nie net romantiese liefde in nie. Die leser wil lag en huil, en die storie moet haar boei. Sy moet voel asof sy self die reis beleef het.
Die hoofkarakters in die liefdesroman is veel nader aan die werklike lewe met hul goeie en swak punte. Mense van vlees en bloed. Die vroulike hoofkarakter is nie noodwendig popmooi nie maar sy is aantreklik, intelligent en volwasse. Wyer verhoudings soos met haar gesin, familie en vriende word deel van die verhaal. Die manlike hoofkarakter is ook meer as net ’n mooi gesig. Vir die vroulike hoofkarakter is hy die ideale man, maar nogtans nie perfek nie.
Elke karakter in die liefdesroman het sy of haar eie stem. Dis belangrik om oorspronklik te wees en nie geykte uitdrukkings en verkleinwoorde te gebruik nie.
Hier volg ’n paar vereistes vir eienskappe van die liefdesroman
- Met die liefdesroman is die belewing van die liefde asook die liefdestonele veel meer aards en realisties, omdat hierdie karakters nie geïdealiseerd is nie maar grotendeels in die werklikheid staan, verduidelik Chanette. Maar die verhouding tussen die twee protagoniste is steeds moreel verantwoordbaar.
- In die liefdesroman strek veral die interne konflik veel wyer en is dit veel verwikkelder as in die romanse. Die konflik is ook nie net tot die liefde beperk nie.
- In die liefdesroman is die vroulike karakter die hoofperspektiefkarakter, maar ander se perspektiewe kan ook gebruik word. Daar moet liefs nie te veel perspektiefkarakters wees nie en hulle moet mekaar ook nie dupliseer nie.
- Die liefdesroman kan oor ’n veel langer tydperk as die romanse afspeel. Tydspronge is aanvaarbaar mits dit behendig hanteer word.
- Sterker vloekwoorde kan in liefdesromans gebruik word, maar nie te kru nie. Dit moet by die karakter en situasie pas.
- Liefdesromans se woordtelling is nie streng beperk nie, maar 80 000 tot 100 000 woorde is die norm. Indien daar ’n drieluik is, moet elke boek nogtans liefs onafhanklik kan staan.
Hoe verskil chick lit van romantiese fiksie? (Ook met erkenning aan Chanette Paul)
Chick lit is die soort vrouefiksie wat in die negentigerjare met die publikasie van Helen Fielding se Bridget Jones’s Diary ontstaan het. Sommige kritici meen egter die term is neerhalend teenoor die skrywers en impliseer dat vroue nie juis die letterkunde kan baasraak nie. Chick lit is in sy suiwer vorm nie ’n subgenre van vrouefiksie of romantiese fiksie nie.
Die groot verskil tussen chick lit en romantiese fiksie lê by die vertellersperspektief en fokalisering. Chick lit word hoofsaaklik uit die eerstepersoonverteller se oogpunt geskryf. So leer die leser die protagonis as ’n goeie vriendin ken met wie sy geweldige empatie het en wie se skades en skandes in haar eie lewe of haar eie vriendinne se lewens kon voorkom.
Wat karakterisering betref, is die protagonis hier gewoonlik ’n moderne, stedelike, enkellopende vrou wie se werk nou nie juis glansryk is nie en haar boonop frustreer. Haar verhoudings werk ook nie lekker nie. Haar sosiale kring bestaan uit haar ma, susters, vriendinne en gay vriende. ’n Romantiese held is nie noodsaaklik nie. In chick lit gaan dit oor die protagonis se vermaaklike belewing van haar omstandighede.
Die trant is lighartig, vrolik, snaaks en selfs soms snydend sarkasties. Dit word nie in tienertaal geskryf nie. Nogtans word die lewensmaat ook beskryf.
Met chick lit is die doelwit om die protagonis se probleme opgelos te kry – by haar werk, met haar vriendinne en al haar verwikkelde verhoudings en eie probleme. Soms kry sy selfs haar droomman, maar dis nie altyd ’n gegewe nie.
Met romantiese fiksie, daarenteen, mag die leser nie wonder of die held en heldin mekaar kry nie. Dis ’n gegewe.
Soos uit bostaande blyk, is alles nie in sement gegiet nie.
Chanette sê: “Daar is nog geweldig baie te sê oor die onderwerp. En veral oor die neiging deesdae dat genres vermeng word – soos ek doen deur liefde met spanning te meng – maar feitlik enige genre kan deesdae met ’n ander vermeng word.
“Nie een van die genres het in elk geval rigiede grense nie. Die indeling van boeke in genres is bloot ’n hulpmiddel vir uitgewers, boekhandelaars en lesers wat sekere soorte boeke verkies bo ander. Dis nie boksies waarin ’n storie gedruk word nie, dis net ’n algemene aanduiding van ’n soort boek. Baie boeke kan ook aan meer as een sogenaamde genredefinisie voldoen.”





Kommentaar
Uitstekende artikel, Cliffordene!