Klaarte deur Louis Esterhuizen: ’n resensie

  • 3

Klaarte deur Louis Esterhuizen (Naledi, 2025)

Titel: Klaarte
Skrywer: Louis Esterhuizen
Uitgewer: Naledi, 2025
ISBN: 978106723456

Louis Esterhuizen is een van ons voorste digters en sy oeuvre oorspan 12 bundels, waaronder die jongste Klaarte heet. Esterhuizen het in 2011 die Protea-prys vir poësie ontvang vir Wat die water onthou. Afgesien van dié bekroning is sy bundels benoem vir die kortlyste van talle literêre toekennings. Etlike van sy verse is opgeneem in bloemlesings, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse poësie en ’n 1 000 en enkele gedigte, Groot verseboek, Nuwe verset, Maskers en mure, flikker-gram en Merang. Hy is ook bekend as medestigter van die webwerf Versindaba, ’n kollektiewe weblog vir poësie wat Suid-Afrikaanse digkuns asook die digkuns van die Lae Lande bevorder. As boekhandelaar van Protea Boekhuis in Stellenbosch was Esterhuizen geliefd vir sy boekpraatjies met skrywers en digters, en het insgelyks die literêre kultuurlewe só verryk.

Volgens die HAT beteken die woord klaarte die volgende: “onbewolktheid; sonnigheid; ligskyn”. Verdere betekenisassosiasies van die woord is “eindigheid en voltooidheid”; “berusting”; en “epifanie”. Die digter se skryfstyl is diafaan, of helder – ’n mens dink ook aan die (glas-) helder verse in sy voorafgaande bundel, Die gladde stiltes in glas (2020).

Meer as in enige digbundel vóór Klaarte lui dié bundel sonder twyfel laatwerk, of laatstyl, in Esterhuizen se oeuvre in.

Laatstyl (of Spätstil) verwys na die eienskappe van ouer wordende kunstenaars, musici, skrywers en digters se werk. Op die terrein van die beeldende kunste is die werk van Kenneth Clarke van belang; op die terrein van klassieke musiek Theodor Adorno; en op die gebied van skryfkuns en musiek die navorsing van Edward Said. Die genoemde drie skrywers het oor laatwerk geskryf, maar die teoretisering is nog yl. Said se postuum gepubliseerde On late style. Music and literature against the grain (2006) vorm die belangrikste teoretiese raamwerk vir laatstyl.

........
Laatstyl word gekenmerk deur die intrinsieke eienskappe van die ouer wordende of bejaarde kunstenaar se werk waarin die subjek toenemend bewus word van sy eie eindigheid en die onversoenbare teenstrydighede van die wêreld.
........

Laatstyl word gekenmerk deur die intrinsieke eienskappe van die ouer wordende of bejaarde kunstenaar se werk waarin die subjek toenemend bewus word van sy eie eindigheid en die onversoenbare teenstrydighede van die wêreld. Hierdie bewustheid kan manifesteer as ’n fragmentering van vorm, ’n konfrontasie met sterflikheid, en biografiese, historiese of sosiopolitieke trauma. Laatstyl word ook gekenmerk deur melankolie en ’n gevoel van verlies. Said beklemtoon dat die kunstenaar téén die grein van alles wat voorheen bekend was, in skep, met die potensiaal om dominante narratiewe uit te daag en alternatiewe perspektiewe te bied, gebore uit die geleefde ervaring, marginalisering en lyding wat die ouderdom teweeg bring.

Kenmerkend van laatstyl is die psigologiese katabasis / ondergang of hellevaart, of die anabasis / nuwe begin of herrysenis uit die doodsgrot.

Elke kunstenaar of skrywer se konteks sien anders daar uit en is uniek, en die skeppende werk wat sulke persone lewer, sal dus van skrywer tot skrywer verskil. Laatstyl weerspieël ’n intense bewustheid van die naderende dood, of eindigheid – en die aflegging en gepaardgaande verwording van alle dinge.

Die ontroerende gedig op die agterflap dra onbetwisbaar die stempel van laatstyl:

Ampertagtig

Op ampertagtig is ek broos, sê sy,
wees daarom versigtig
hoe jy my
kantel en kneus,

en alte soetjies glip ek my hande
om haar gesig, want fragiel
is die mond
van jarigheid, soen

dan langsaam en onhaastig
hierdie lieflike verloop
van tyd.

In Klaarte lewer Esterhuizen berig oor sy digterlike belewenisse in ’n krimpende, kleiner wordende lewensruimte, byvoorbeeld die digter-spreker se huis en tuin, of herinneringe wat uitspeel in denkbeeldige en vergange ruimtes. Die leser verneem in die bundel se binneflap: “Hierdie is gedigte van afsluiting, dog ook ontsluiting; gedigte wat skoonheid wil vind in gebrokenheid en betekenis in imperfeksie, transformasie en verganklikheid.”

........
In Klaarte lewer Esterhuizen berig oor sy digterlike belewenisse in ’n krimpende, kleiner wordende lewensruimte, byvoorbeeld die digter-spreker se huis en tuin, of herinneringe wat uitspeel in denkbeeldige en vergange ruimtes.
........

In die programgedig, “Selfportret” (9), beskryf die digter-spreker ’n skets van homself, wat ook ’n spieëlbeeld vorm – en dié skets is waarskynlik gemaak deur sy vrou, die digter en skilder Marlise Joubert. Hierdie selfportret skakel met “Die blinde oog” (64), ’n meedoënlose en outobiografiese blootlegging van die self. Die reëls “hierdie is ’n gewone verhaal” en “gewis, ’n verhaal soos geen andere nie” (“Selfportret”) staan paradoksaal tot mekaar – en berei die leser voor op deel een, wat handel oor die spreker se aflegging van sy traumatiese jeugjare.

Die volgende gedigte, “In die duiwehok” (12), “Bagasie” (13) en “Die skag” (14), beskryf ’n gewelddadige vader wat ’n mynwerker was en die lewenslange sielkundige letsels wat hy op sy seun gelaat het. In “Die skag” kom daar herhaaldelik die woorde “struikel; val; tuimelend” (14) en “val; vallende” (15) voor om die spreker se pyn en angs te verwoord wanneer hy sy jeugherinneringe aan sy vader en ander gesagsfigure herbesoek. Hierdie vers se openingsreël is ontleen aan Dante se epiese gedig “Inferno”, wat die eerste deel vorm van Die Goddelike komedie. Jeugtrauma vind voorts gestalte in “Die ekke” (17), waar die spreker se verbrokkelde identiteit by wyse van selfironisering aan die leser getoon word. Reëls wat hierop sinspeel, is “Ek, ekke ek-ek!” en “ekke ek-ek, tot satwordens toe” (17). Eindelik neem die spreker besit van sy eie identiteit in “Lord of the rings” (18–9) nadat sy vader hom aangerand het en hy beweer: “ek is ek, ek is ek, / ek is / nie hý nie” (19). In “Die reisiger ontwaak” (21) beleef die spreker ’n epifaniese oomblik, of klaarte, wanneer hy sy eie ontwaking omarm.

........
Deel twee handel oor die liefde tussen die spreker-digter en sy vrou, ’n outobiografiese opgaaf waaruit die leser aflei die geliefde is Marlise Joubert.
........

Deel twee handel oor die liefde tussen die spreker-digter en sy vrou, ’n outobiografiese opgaaf waaruit die leser aflei die geliefde is Marlise Joubert. Hierdie liefdesgedigte binne gerontologiestudies en Esterhuizen se laatstyl is werklik besonders. Dis ’n liefde wat sterk, maar ook ontsettend broos in hul jarigheid verbeeld word, en sorg vir diep ontroerende liefdesverse tussen die twee ouer wordende minnaars. Dit raak dan duidelik dat die geliefde vrou die stukrag en genesing by die spreker beliggaam. Een so ‘n voorbeeld, uit “Murg”, strofe twee (25):

... soveel foto’s
en skilderye

geraam en uitgestal, die omvang
van wat sy as ’n onthou-jy-nog monteer.
In hierdie ruimte voel ek tuis,
het ek besef,
hier wil ek woon.

Die spreker se geliefde word verhef tot ’n argetipiese muse – sy lei hom om deur kuns en estetika heling te vind, en sy is, en bly, sy inspirasie vir die skryf van poësie. Die boustof vir hierdie liefdesgedigte is alledaagse leefervarings, verwysings na die Bybel, (34–5), asook na die mitologie (37). Esterhuizen maak gebruik van intertekstuele spel met Marlise Joubert se bundels, byvoorbeeld in “Die melodie” (28), die inspeling op Joubert se debuutbundel, ’n Boot in die woestyn; en in “Naderby” (29), ’n verwysing na Joubert se bundel, Disteltyd. Bernard Odendaal het op ’n kol verwys na Esterhuizen en Joubert se “digterlike minnetweespraak”, ook na analogie van die egpaar se digbundels Opslagsomer en Lyfsange wat feitlik gelyktydig verskyn het, en waarin hulle intertekstueel met mekaar in gesprek tree. Dít vorm ’n wesenlike kenmerk van beide digters se oeuvres – met die verskil dat Klaarte nou liefdesgedigte binne die konteks van laatstyl huisves.

Die digter-spreker se troebel visie word deurlopend gejukstaponeer met die begeerte tot helderheid van sig, byvoorbeeld in strofe 2 op bl 31

Daarenteen wil ek mý vroulief in klaarte
sien, in volkleur, die baie wat sy is –

Die bundeltitel, Klaarte, lees insgelyks aangrypend binne die digter se outobiografiese leefwêreld van ’n persoon wat gedeeltelik gesigsgestremd is. Ook in “Die blinde oog” (64), wat skakel met die programgedig, beskryf die digter sy vrou se vernuf as waterverfskilder; en dan dié eerlike en onthutsende slotreëls:

dis mý gesig, sien ek,
dis mý portret

wat sy skilder met die een oog helder,
die ander een dof, ’n mankement,
halfblind,
wat houvas kry

op die gebluste papier van
belemmerde sig.

Esterhuizen lê homself volledig bloot op die digterlike altaar, vanaf sy traumatiese jeugjare tot sy begeerte om “helder” te sien. En hy slaag inderdaad volkome daarin om met die digterlike binne-oog kristalhelder te sien.  

Die voorafskaduwing van deel drie, wat eksplisiet die tematiek van laatstyl voorafgaan, word ingelui met “Beenaf” (39) (met die dubbelduidige betekenis). Dit is ’n heerlike vers, skertsend oor die ouer wordende spreker se gesondheidsprobleme.

Maar méér ontstellend, en in die hartsaal van laatstyl, is die donker getinte verse in deel drie. Liefdesgedigte kom voor, maar die spreker verbeeld sy onmag en beklemming oor die verbygaande tyd, vergesel deur prosesse van veroudering.

In “Aljander” (43), die kinderspel en liedjie (met onheilspellende ondertone), blyk die spreker se versugting dat sy geliefde by hom moet bly, intens bewus van die broosheid van hulle liefde in die aangesig van die onafwendbare. Die daaropvolgende “Ouer man” (44) tree in gesprek met Eybers se “Jong seun”, maar die man klim uit die bad, bewus van sy tanende viriliteit. In deel drie skryf Esterhuizen teen die grein van dinge in: Al is daar ’n desperate teruggryp na die lewe, staan laasgenoemde paradoksaal tot ’n oorgawe aan die naderende dood – of anders gestel, die stryd tussen Eros en Tanatos. Ook “Pilverskrik” (46), met sy nihilistiese ondertone, onderstreep die swaarmoedige wete van oudword. “Die gruweltonnel” (47) herinner aan die katabasis, of ondergang, wanneer die twee geliefdes op makabere wyse in ’n ouwêreldse pretpark met hulle waentjie in ’n tonnel tussen monsters deur jaag. Die skoppensboermotief het betrekking.

Verse oor die spreker se geliefde se gesondheidskrisisse kom voor (48–9: “Wat die duif my vertel het”), met die dreigende suggestie van die dood. In “Sonder” (50–2) wys Esterhuizen sy vernuf met poësie as linguistiese spel, terwyl gedigte oor die egpaar se geliefde troetelkatte verder in die gedeelte voorkom. “Skarniermoment” (58–60), in sy drie subdele, is egter ’n ontstellende en ontroerende vers oor die spreker se onmag om sy geliefde vrou te keer dat sy nie val nie – en ook die mediese implikasies, sóú dit gebeur. “Villanelle van die onmag” vorm die sluitstuk van deel drie, en met die vaste versvorm is dit ’n geslaagde vers. Daar is talle aangrypende gedigte en frases in Klaarte, byvoorbeeld in “Magnificat” (53): “Hoe oud, my engel, hoe oud het ons geword / op hierdie erf, prewel ek, en hoe grys / die sooie van ons wanverblyf.”  

Deel vier bevat terugkerende temas oor die liefde, deur die lens van twee ouer wordende minnaars bejeën, en liefdesgedigte oor hul huis, tuin, katte, mitologie, briewe en die Bybel kom voor. Hierdie verse besin oor die liefde in die aangesig van die onafwendbare, en Esterhuizen lewer met Klaarte ’n beduidende bydrae tot die konsep laatstyl in die Afrikaanse poësie, wat nog heelwat braakveld vir toekomstige navorsers bied.

In deel vyf takel die digter kwessies soos natuurrampe, oorlog, geopolitieke brandpunte, die Antroposeen en die verval en verwaarlosing van die omgewing, insluitend in Suid-Afrika: gedigte wat spreek van kommer, geaktiveer uit ’n sosiopolitieke bewussyn. In “Nuusdekking: Julie 2021” (89–92) lewer hy berig oor die opstand in KwaZulu-Natal wat met volskaalse geweld, muitery en chaos gepaard gegaan het. Die digter draai nie doekies om nie, en sy weersin oor hierdie gebeure speel uit in ’n distopiese visie vir Suid-Afrika. In dié vers skryf hy volledig téén die grein van polities korrek wees in. Die inleidende motto tot die gedig is: “En hulle gaan nie bly nie: hulle gaan mishoop word, en óns almal saamsleep na die mishoop.” Die motto is geneem uit NP Van Wyk Louw se gedig “Nuusberigte: 1956” (Tristia). Hierdie vers is die eerlike beskouing van ’n deurwinterde denker wat uit geleefde ervaring ’n spieël ophou na die leser. In die laaste gedig in deel vyf breek die lig weer deur in “Hierdie land” (94), met die slotreël “die restourasie van hoop” – daar ís inderdaad hoop vir Suid-Afrika.

.........
Die verse neem die gedaante van ’n skaakspel aan, en in die gees van laatstyl, debatteer die spreker die waarde en nut van poësie skryf.
.........

Deel ses, met ’n lang gedig, te wete “Eindspel” (96–110), betrek ars poëtikale gedigte, besinnings en meditasies oor die poësie. Die verse neem die gedaante van ’n skaakspel aan, en in die gees van laatstyl, debatteer die spreker die waarde en nut van poësie skryf. Die ironie is dat die spreker besef dat poësie ’n futiele aktiwiteit is, of om Auden aan te haal: “[F]or poetry makes nothing happen.” Tog, desnieteenstaande skryf hy wél poësie. Op bl 102 ontluister die digter dan die poësie: “Poësie is bloot / ’n windlawaai.” Poësie is ’n kunsvorm, ’n aktiwiteit, wat die digter immer onvervuld laat. In hierdie debat/skaakspel is die aangesprokenes in dié verwikkelde redevoering onder meer “Digter” en “Gewer”, ontleen aan Opperman se Negester oor Ninevé, maar stemme soos dié van Sokrates praat ook saam in die betoog. Die slotstrofes:

So was dit nog altyd, en al is ons ’n wedstrydfooi
aan Asklepios verskuldig vir ons deelname,
blyk elke gedig weinig meer te wees

as ’n gifbeker
om enduit te drink.    (110)

Deel sewe se drie gedigte vorm die finale afskeid van, en aflegging van, dinge. (’n Leser sou egter hoop dat Esterhuizen nie die poësie sélf vaarwel roep nie.) Verganklikheid, verlies en melankolie – asook die vervlietende aard van die lewe – word vergestalt. Die laaste gedig heet “Die klarigheid” (114), waarin die spreker berusting vind. Die slotstrofe skakel met die inleidende motto van José Ángel Valente voor in die bundel, dat die afskeidsmoment nutteloos, dog perfek is.

Klaarte registreer ’n besliste hoogtepunt in Esterhuizen se oeuvre; dit is ’n aangrypende en fyn deurgekomponeerde bundel wat tot ’n wye lesersgehoor sal spreek. Let byvoorbeeld op die ontroerende tweede laaste gedig in die bundel:

In die gistertuin

Beminde, luister na die voëls se gekwetter,
die gekweel van soveel kele in ons tuin
wat nog ’n laaste keer die lig

wil bind in ’n prysviering voor die wegwys,
die neerlê, voor die donkerte –
treur saam met my, liefste, ’n laaste keer.

Hierdie is nie ons heenkome nie.
Hierdie is ’n voorlaaste skuif aan ons gegun.
Hierdie is wel die erf van waar ons sal gaan
na wie weet waar.

Die voëls weet dit, so ook die geitjies
teen ons mure. Die lig is al na binne gekeer,
en die ruite dof, maar dit is die verloop
van ons hier,

die opgee van wie-weet-wat en die aan-
beweeg. Maar jý, altyd, altyd –
treur saam met my ’n laaste keer.
Die oogwink is jy.    (112)

Lees ook:

Die gladde stiltes in glas deur Louis Esterhuizen: ’n resensie

Amper elders verruim Louis Esterhuizen se oeuvre

Louis Esterhuizen gesels met Bibi Slippers oor sy Protea-prys vir Wat die water onthou

Louis Esterhuizen (1955–)

Marlise Joubert (1945–)

Disteltyd deur Marlise Joubert: ’n resensie

laatnageilande: ’n onderhoud met Marlise Joubert

Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels

  • 3

Kommentaar

  • Marlies Taljard

    Dankie vir 'n insiggewende resensie! En dankie vir 'n bundel met uitsonderlike en aangrypende gedigte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top