Titel: Amper elders
Skrywer: Louis Esterhuizen
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869196905
Klik hier om Amper elders te koop by Kalahari.com.
Amper elders, Louis Esterhuizen se negende digbundel, het as subtitel “Reisjoernaal” en aktiveer sodoende die reisgegewe wat in die bundel voorkom. Reeds uit die inhoudsopgawe kan die leser aflei dat hier versindrukke oor reise en plekke in Engeland, Vlaandere en Oos-Europa gegee gaan word.
In ’n onderhoud wat Louis Esterhuizen met Marlies Taljard op die webblad Versindaba (Maart 2012) gevoer het, sê hy onder meer die volgende oor die ontstaan van die bundel en die keuse van die titel (ek haal dit volledig aan, want dit kom in etlike gedigte in die bundel voor):
In teenstelling tot Marlise [Joubert] is ek geen reisiger nie. Trouens, hierdie was maar my tweede reis oorsee. Ons moes egter gaan om Marlise se dogter se troue in Cambridge by te woon en omrede ons vorige reis (in 2002) maar ’n tref-en-trap-affêre was, het ons besluit om dié reis die moeite werd te maak; veral met ’n langgedroomde besoek aan Praag as uiteindelike hoogtepunt. Op daardie tydstip was daar nog geen bundel in die vooruitsig nie; Sloper het enkele maande vantevore verskyn en ek was besig om afrondingswerk te doen aan Wat die water onthou. In Antwerpen het ons tuisgegaan by Piet en Anic wat ’n gastehuis met die inspirende naam Amper elders bedryf. Die idee vir die bundel was meteens daar; alhoewel die uiteindelike bundel drasties verskil van dit wat ek aanvanklik beoog het. Temas en indrukke het ek tydens die reis neergepen, maar by die fisiese skryf van die gedigte het ek eers later gekom ná Wat die water onthou afgehandel was.
Wat betref die inhoud en die tipe vers wat hy bedryf, merk hy in dieselfde onderhoud op:
Na aanleiding van die afgelope jare se debat rondom die kwessie van die anekdotiese vers in ons digkuns, wou ek met Amper elders kyk in welke mate dit moontlik is om liriese verse binne ’n streng narratiewe struktuur te laat funksioneer. Anders gestel - die vraag wat myns insiens sentraal staan by ’n narratiewe teks, is: Wat gaan volgende gebeur? In die geval van ’n gedig is dit weer: Wat gebeur hiér?! Met Amper elders het ek dié twee vrae probeer kombineer; enersyds narratief, andersyds besinning. Myns insiens leen ’n reisjoernaal hom uitmuntend hiertoe, want dit betrek (bykans per definisie) albei aspekte.
Naas die strukturele spel met die narratiewe gegewe bevat die bundel die bekende tematiek wat tot op hede in Esterhuizen se werk voorkom. Daar is die besinning oor die skryfproses, die oproep van die verlede, die gesprekvoering met ander digters en skrywers, die voortdigting op ’n reël van ’n gesprekvoerder, die liefde en die outobiografiese interaksie met die geliefde Marlise Joubert. Hy dra ook die bundel aan haar op en beskryf haar as sy “eerste leser & reisgenoot”.
In 1996 het Whitney Chadwick en Isabelle de Courtivron Significant Others: Creativity & Intimate Partnership saamgestel en altyd wanneer ek die gesprekvoering oor bundels heen tussen Louis Esterhuizen en Marlise Joubert lees, vind ek hulle een van die pare wat in so ’n studie opgeneem kon gewees het. In die Inleiding tot hierdie studie noem Chadwick en De Courtivron (1996:9) dat die wisselwerking tussen twee skeppende geeste in een verhouding besonder betekenisvol is, veral met betrekking tot rolverdeling, die strukture wat bestaan binne die verhouding sodat hulle hul werk kan verrig, en hoe hulle die sisteme wat bepaalde manlike en vroulike rolle aan mense toedig, hanteer, maar die belangrikste is die gevoel van gemeenskaplike respek en steun vir mekaar, selfs midde-in die pynlikste van pynlike situasies. Chadwick en De Courtivron (1996:11) ondersoek ook die wedersydse gebruik van voortplantingsmetafore in die werk van paartjies, asook die wisselwerking tussen estetiek en seksuele politiek.
Wanneer Marlise Joubert byvoorbeeld in die waakeenheid van die Vergelegenhospitaal beland, gee dit aanleiding tot die ontstaan van die oorgrote meerderheid verse in haar bundel Splintervlerk, terwyl dit ook die tema word van Esterhuizen se vers “Waakeenheid” (93). Die fladderende duiwe van Esterhuizen se voorblad en die openingsgedig “duiwedanser” (11) skakel weer met die splintervlerk-gegewe. Die duif kom trouens deurgaans in Amper elders voor en selfs die geliefde stel homself in “duifgrys, die liefde” (62) gelyk aan die duif: “en só sonder vlerk of veer – fladder jy/ voor haar neer.”
Maar ons weet dat die kunstenaarshuwelik ook dikwels ’n bloedige slagveld kan wees. In twee gedigte van Esterhuizen skryf hy juis oor die ontmoeting tussen Ted Hughes en Sylvia Plath, en hy voer ’n gesprek met haar in die gedig “Grantchester, tien voor drie” (21).
Amper elders word geraam deur twee verse, naamlik “Vlug BA 58” (16) en “Vlug BA 59” (90), waarin die vertrek en die aankoms van die reis beskryf word. Getrou aan sy aard, maak die digter-spreker in eersgenoemde gedig dit gou vir die leser duidelik dat hier ’n digter in die buik van die vliegtuig is, wanneer “die nag/ gewoon teks word”. In die aankomsgedig, wat duidelik n pendant vorm van die vertrekgedig, word eerder klem gelê op die broosheid van die “ligkokon” wat na die suide terug vertrek.
Om te verhoed dat die gedigte outobiografies net te verval in ’n tipe reisjoernaal vol familiefoto’s en indrukke, begin ’n gedig soos “Rijksmuseum, Amsterdam” (46) met dié woorde: “’n Reis sonder skilderye is ’n reis./ Sonder hoop.” Dit verklaar hoekom daar heelwat verse ingesluit word oor besoeke aan museums, die waarneming en optekening van skilderye en tussendeur ’n besinning oor die menslike kondisie. Af en toe word die byna utopiese meesleuring deur die Europese geesteswêreld wreed ontwrig, wanneer die huisoppasser uit Suid-Afrika bel en vertel dat al die tuinkrane byvoorbeeld gesteel is (55).
Met hierdie bundel verruim Louis Esterhuizen sy oeuvre en betrek hy naas die werk van ander digters ook ander plekke. Struktureel gesproke illustreer hy inderdaad hoe hy die narratief kan volhou sonder om noodwendig verkapte prosa te pleeg. Soms kry ek wel die indruk dat die beginreëls van ’n gedig die indruk van opwarming skep – sodat die gedig eers hier in die middel vaart kry. ’n Gedig soos “katedraal” (22) is vir my heeltemal uit toonaard met die res van die bundel: veral ’n reël soos “in die pilare van ons wanbegrip” hoort nie by `n gesoute digter soos Esterhuizen nie.
Dus moet ek erken: ek verkies die kontemplatiewe, introspektiewe Esterhuizen. Die man wat na die water luister.

