Die gladde stiltes in glas deur Louis Esterhuizen: ’n resensie

  • 1

Die gladde stiltes in glas
Louis Esterhuizen
Protea Boekhuis, 2020
ISBN: 978 1 4853 1155 3

Die gladde stiltes in glas is die elfde bundel op die bekroonde digter, Louis Esterhuizen, se kerfstok. Die bundel beloof ’n ryke toevoeging tot ’n digterskap, wat meermale bestempel is as ’n bestendige oeuvre. Die titel is ontleen aan deel 3 in die vers, “Die honger glas” (p 119), ’n elegie ter nagedagtenis aan Helen Martins: “Dood soos net die dood dóód kan wees. / Mure sonder kleur. Die gladde stiltes in glas –”

Beeldhouwerk uit die Uilhuis van Helen Martins (fotobron: https://www.graaffreinet.co.za/listing/owl_house_nieu_bethesda)

Die gedig is tekenend van ’n meditasie, soos dit deur die bundel voorkom; die verse, hetsy gedagtevlugte, besinnings of bewegings, verbeeld die digter-pelgrim se soeke na sin. Die klankryke titel is ’n voorspel tot die musikale intertekste soos dié van Arvo Pärt wat as digterlike toonsettings aan die leser voorgehou word. Die bundelmotto op 5 verwys na ’n aanhaling uit HJ Pieterse se Hertzogpryswennende bundel, Die burg van hertog Bloubaard (2000):

As jy lank genoeg na mure kyk,
sien jy dalk ’n vonk, kristal of glas,
’n venster op dit wat is én dit wat was.

In die Pieterse-bundel word Béla Bartók se opera, A kékszakállú herceg vára (Hertog Bloubaard se kasteel) gebruik as bloudruk vir die bundel, terwyl Esterhuizen se musikale grondtekste onder meer Arvo Pärt se Spiegel im Spiegel en Górecki se simfonie van klaagliedere (pp 108–9) vorm. Esterhuizen se jongste bundel bekoor met ’n besonderse polifoniese kwaliteit.

Tog val die fokus in die inleidende motto allereers op kyk: om waar te neem. Die programgedig, “Eerste lig” (p 11) se versugting is dié van ’n simbiose, ’n “samespel” tussen vorm en inhoud. “Die glas onthou immers die vuur” aktiveer op sy beurt die metafoor van die glasblaser, en ook Esterhuizen se vers, “Die glasblaser” (p 19) tree intertekstueel in gesprek met Petra Müller se gedig, “Glas”:

Op reis
In Tarragona het ek toe gesien
Hoedat die vlam die kwarts bedien
Totdat die glas begin te vloei
En uit die asem van die maker swel
As weerloos liggevulde bel
Wat afskulp sonder grein
Of naat
Jou liefde het my so verlaat.

Uit: Die aandag van jou oë (2002)

Esterhuizen se gedig, “Die glasblaser”, berig oor die glasblaser van ouds, die man wat kaal bolyf langs ’n smeltoond ’n hol pyp na sy mond bring en ingewikkelde geometriese vorms uit die gesmelte glas aan die punt van die pyp vervaardig. Die glasblaser impliseer dan ook die Ars poëtikale prosesse van poësiemaak en van poësie as ambag.

Die eerste gedeelte, “Steierwerk”, is meerduidig en verwys na die bouprosesse van poësie (die reeds gemelde Ars poëtikale aktiwiteit), maar ook na dít wat wankelrig, weerloos en verganklik is. Die suggestie van iets of iemand wat val, is van krag – soos die gepaste motto van Kundera voor in hierdie gedeelte suggereer. Om te val, is om tot niet te gaan – ’n degenerasie waarteen die mens hom metafories deur swaartekrag verset:

[…]
It is the voice of emptiness below us
which tempts and lures us, it is the desire to fall,
against which, terrified, we defend
ourselves.

Uit: The Unbearable Lightness of Being

Ook Ana Blandiana se motto in die derde gedeelte resoneer met die verbygaande tyd as valproses.

Die digter tree intertekstueel in gesprek met Paul Celan in "Ooggetuies" (p 23) wat handel oor ’n ekstremistiese terreurdaad; ’n vers wat opgevolg word met "Brussel: 22 Maart 2016" (p 24) waartydens drie selfmoordbomdraers in België die oorsaak van die dood van 35 mense en driehonderd beseerdes was. Die digter lewer tersaaklike sosiopolitieke kommentaar wat die bundel binne ’n maatskaplike register anker. Nóg ’n ruim skeut sosiale kritiek word gelewer in "Piekniek op Clifton" (p 42) waartydens ’n skaap vir die voorvaders geslag is op die "spierwitte strand", en derhalwe die gaping en konflik tussen onversoenbare kulture belig word. "Klein ballade vanuit ’n veetrok" (p 51) speel uit as die bloedige herhaling van die geskiedenis (heel ironies met verwysing na “Vryheidsdag”), terwyl "Puin en as" (p 61) die skrikwekkende brandstigting van ’n gebou in Wellington – wat ’n klavier insluit – beskryf. In "Skaamte" (p 44) word Versoeningsdag (voorheen genoem "Geloftedag") se post-apartheidbeleid met sy maatskaplike onrus geskets – ’n skitterende vers wat suggereer dat vrees, inperking en mure die finale uitkoms van ’n verloopte historiese tydvak is. Die spanning tussen die drang na behoud versus geweld en aftakeling, en die prosesse van verwording vorm die boustene van “Steierwerk”. "Aanloop tot ’n gedig wat nooit geskryf kan word nie" (pp 46–50) bevat ’n reeks omdigtings in Margaret Atwood se digreeks, “Notes towards a poem that can never be written”. In deel 6 van dié lang vers word daar ingespeel op die wrede en sinnelose moord op die digter en literator, Tom Gouws, in 2018.

 

Die verwysings na gordyne en kantgordyne fokus die leser se aandag op sluiers wat gelig word op verborge werklikhede. Vorige temas, soos bouwerk, sloping en restourasie, of die beskrywing van deure en vensters (inperking), is bestaande tematiek uit die digter se oeuvre, met ander woorde Die gladde stiltes in glas vorm ’n intratekstuele spel met die digter se vorige werk. Die digter skryf ook oor geografiese verskynsels, byvoorbeeld “Aardlesse” (p 31), waarin daar oor die misterie van swaartekrag besin word, en die digter flankeer met die chaosteorie en die skoenlappereffek. Hierdie wetenskaplike verskynsels wat geëkstrapoleer word na poëtiese besinnings herinner aan dié siening van William Wordsworth: “Poetry … is the impassioned expression which is in the countenance of all Science.”

Die liefdesgedigte in die bundel kry momentum met "Kyk, ons reis begin" (p 64): Die spreker gebruik die derdepersoon om na die geliefde (vrou) te verwys, terwyl hy op ’n selfironiserende wyse na homself verwys / op homself inkyk as "jy", in die tweedepersoon.

In die tweede gedeelte, “Buiteligmusiek”, word musiek/klank as kleure in ’n prisma voorgestel en geaktiveer tot spirituele belewenis van die luisteraar/leser, na analogie van die inleidende motto van Arvo Pärt:

“I could compare my music to white light which contains all colours.
[…] this prism could be
the spirit of the listener.”

Die liefde en poësie word verbeeld as lig(-skynsels); en dié lig word op sy beurt klank, soos die openingsvers getuig:

“Die volmaakte akkoord is / ’n gloeidraad in ’n glasbol […]” (p 73)

Ruite, vensters en deure word as fokale punte gebruik om na buite (die buitelig[-musiek]) te kyk óf te luister. Die mooiste gedigte in die bundel kom waarskynlik in hierdie gedeelte voor – en by wyse van Verligting (Enlightenment) en liriek. Esterhuizen is immers ’n digter van liefdesgedigte par excellence, soos die res van sy oeuvre ook getuig. "Vel aan vel lê julle / in mekaar, spiegel im spiegel, // die viool wat spieëlbeeld vind / in ’n klavier se teenwig”, (p 81). Die liefdesverse vloei soos musiekbewegings in mekaar en projekteer die sigbaarmaking van lig as kleur, prismas, of beelde – maar óók beelde ín, of ágter ander beelde.

Pärt van ’n ander kleur, die perfekte
noot, gespeel met foutlose

intonasie: sonder melodie, die stukkie blaar
geel in die drade
van ’n spinnekop se web –

lig wat sneeuberge roerloos kaats
in verbeelde water. (p 77)

Die digter steun mildelik op vrye assosiasie en bewussynstroomtegniek. Hierdie tweede gedeelte musiek-/liefdesgedigte, ’n komposisie met tema en variasie in veertig bewegings, is meditatief en elegies, bedig in dieselfde toonaard as Arvo Pärt se bovermelde komposisie. Esterhuizen slaag om sinestese op drie- en selfs viervoudige vlak in te span – en hierdie verse kan gesien word as ’n viering van sinestese; ’n tegniek wat aldus AP Grové die waarmerk van egte digterskap dra.

Reeds in “Steierwerk” maak die leser kennis met "Tintinnabulasie" (p 36), ’n vers wat na aanleiding van ’n swart-en-wit-foto van Arvo Pärt herinner aan ’n Tranströmer-vers in sy monochrome etsings. Die woord “tintinnabulation” is gemunt deur Edgar Allan Poe in sy 1849-vers, “The Bells”: “Keeping time … / To the tintinnabulation that so musically wells / From the bells, bells, bells …”

Esterhuizen skryf ontroerend, byvoorbeeld: “jou genade sal sy wees, jou vergifnis, / ligkant van ’n ligter bedryf / woord sal sy wees, die lied wat jy sing.” (p 75)

Die derde gedeelte, “Grondwaarts” is die finale gedeelte en soos die titel suggereer, is dit ’n (gr)afwaartse reis. Elegiese gedigte oor die afsterwe van die vader, moeder, suster, skoonmoeder en Helen Martins kom voor. Daar is ook verse oor die prosesse van afskeid en aflegging, die trauma van ’n ou motorongeluk (pp 98– 9) en familietwis. Die verlange na ’n seun word aangrypend na analogie van die Bybelse Koning Dawid beskryf in “Koning Dawid treur oor sy seun” (p106). Hierdie verlange na ’n seun bloei uit in die aangrypende “Lamentasie” (pp 108–9), die slotreëls:

kwasterig bly die aand se klein lament oor water
dryf, versuikerde elikser en bitter,
die grootste stilte denkbaar om die nag
nader te spoel

met ’n janfrederik wat verbaas
kom nagsê, die windpomp se droë geraamte
verder weg

kakelend soos ’n hadeda van iewers
nou volmaak teenwoordig
en alleen.

Esterhuizen (her-)skep alledaagse en bekende leef- en woonruimtes aan die spreker bekend, maar ook verbeelde ruimtes wat in herinnering geroep word in “Grondwaarts”. Die leser ervaar en beleef die verse via verbeelding, visualisering en ’n sterk sintuiglikheid; die aanskoulike en gladde omslagontwerp van Die gladde stiltes in glas nooi mens as’t ware om daaroor te streel – die reëndruppels teen die ruit lyk inderdaad eg! Die bundel bied ook ’n taktiele belewenis waarin kondensasie, sneeu of die sensualiteit van water deur die leser “gevoel” word.

Elders in ’n verwysing na dié merkwaardige bundel noem ek: “Hierdie bundel betrek glas as uitgebreide metafoor in al sy betekenisassosiasies, byvoorbeeld, lig, water, klip, rots, sterre, prismas, kristal, ensovoort. Glas is sterk, dog broos en breekbaar. Dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is en dat die bundel konseptueel, sowel as in die fynere detail, deurdag en afgerond is.” En of die digter se boustof nou klip, grond, rots, bouvalle, holtes grond of geogliewe is, hy skep poësie daaruit. Selfs die oerprosesse van verwering en erosie word veredel in dié verse.

In geheel gesien: Die gladde stiltes in glas is ’n kosbare – nee, noodsaaklike – toevoeging tot die poësieliefhebber se boekrak. 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top