laatnageilande: ’n onderhoud met Marlise Joubert

  • 1

laatnageilande
Marlise Joubert
Naledi
SKU: 978-1-991256-08-9

 ...........
Die digkuns bly vir my ’n baie groot passie en bied naas skilder vir my die beste vorm van skep, selfrealisering en kommunikasie.
..............

Nini Bennett praat met Marlise Joubert oor Marlise se jongste bundel, laatnageilande.

Nini Bennett: Marlise, laatnageilande is jou elfde bundel. Jy is al sedert 1970 werksaam as digter en het ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gemaak as digter, romansier, radiodramaturg, vertaler van kinderboeke en samesteller van die Versindaba-versamelbundels. Jy is ook bekend as skilder. Vertel ons asseblief meer: Hoe het laatnageilande ontstaan?

Marlise Joubert: Nini, dit was maar nog altyd so: Die digkuns bly vir my ’n baie groot passie en bied naas skilder vir my die beste vorm van skep, selfrealisering en kommunikasie. Hoewel ek soms besluit dat dit nou genoeg is, keer ek maar telkens terug na die woord, handgeskrewe in ’n notaboek. Ná disteltyd, die voorlaaste bundel, het die gedigte maar net weer ná ’n rusperiode begin vloei; nie dat ek hoegenaamd van voorneme was om weer te publiseer nie. Vir my was dit in hoofsaak iets om gedagtes te orden en ervarings te verwoord. Ná ’n jaar of twee was daar toe egter soveel gedigte dat ek opnuut besluit het om tog weer ’n bundel saam te stel. Die behoefte om jou skryfwerk te deel, is maar nog altyd daar.

Nietemin. Die inhoud bepaal hoofsaaklik in watter rigting so ’n manuskrip ontwikkel. Omdat ek meestal laat in die nag skryf en die isolasie soos ’n eilandstilte skerper begin ervaar het, het die titel spontaan na vore gedring. Miskien het “laatnag” ook geresoneer met my as iemand van ’n bepaalde ouderdom. Ek werk baie assosiatief en organies. Trouens, ek glo daarin dat daar in elke fase van jou lewe tog ’n singewende struktuur en gegewe ontstaan wat jou gemoed en groeiproses rig en waarmee jy kan en móét omgaan.

NB: Watter rol het die COVID-pandemie in jou digterskap gespeel? Het dit jou digterlike waarneming verander of verskerp?

MJ: Die pandemie het ons almal geaffekteer. Ek dink nie ons het al heeltemal herstel daarvan nie. Dit het beslis ons waarneming en oorlewingsdrang verskerp. Die mens se weerloosheid het meer sentraal in my denke kom staan. Dit was ’n tydperk van onnatuurlike en vreesaanjaende omgang met jou alledaagse ritme en bestaan. Ons was versigtig, het vir die eerste keer kruideniersware laat aflewer, geen vriende gesien nie; nie eens familie nie. Juis omdat ons op ’n gevorderde ouderdom dalk nie so ’n virus sal oorleef nie. En daar is reeds soveel hartseer stories van mense wat weg is. Die onmag het ek soms onder woorde probeer bring.

Egpaar met sonbrille en maskers (foto: verskaf)

NB: Daar word van digters verwag om sosiaal betrokke te skryf, en jy verwoord die angs en onsekerheid van die Russies-Oekraïnse oorlog besonder treffend in laatnageilande. ’n Mens merk ook ’n groter betrokkenheid by sosiopolitieke en maatskaplike kwellinge op in jou laaste drie bundels, grondwater (2019), disteltyd (2021) en natuurlik tans met laatnageilande. Vertel ons asseblief meer.

MJ: Nini, ek bly maar ’n nuuskierige mens, en ek wil weet wat om my aangaan. Hier ter plaatse én wêreldwyd. Ek is egter geen betrokke politikus nie, merendeels waarnemer, en miskien is dit ’n nalatenskap van die tyd toe ek vir ’n paar jaar as joernalis werksaam was. Ek weet nie. Ek het my egter nooit voorheen genoop gevoel om oor aktuele kwessies te skryf nie. Die afgelope jare was dit helaas asof skille van die oë afval en ek meer bewus geraak het van afgryslike misdaad, maatskaplike en politieke probleme, veral in ons eie land. Na aan die been. Onlangs nog het drie gewapende rowers die huis langs ons s’n beroof!

Alle gebeure het my begin ontstel; gebeure wat ek moet verwerk, teen rebelleer, of ’n bewustheid van moet skep. In daardie opsig was ’n vroeëre bundel, passies en passasies (Protea Boekhuis, 2007), waarskynlik ’n keerpunt. Die lot en trauma van mense gryp my aan, of dit nou kind, vrou of man is. Ek probeer die woede wat net onder die oppervlak tussen mense en groepe heers, te verstaan en my daarvolgens te posisioneer ten einde ’n ruimte te skep waar ek ook veiliger voel. Soms wil ek vlug, landuit, woestyn toe, iewers waar die lewe nog rustig en vreedsaam voortstu. Miskien is dit ’n illusie, want Utopia bestaan nie. C’est la vie.

NB: Jy is getroud met die digter Louis Esterhuizen, wat sélf oor ’n ruim oeuvre beskik. ’n Resensent het op ’n kol na jou en Louis se oeuvres verwys as ’n “minnetweespraak” – julle bundels kommunikeer onderling met mekaar. Vertel ons asseblief meer van jou en Louis se digterlike simbiose.

MJ: Ja, dis seker maar te wagte dat ons soms ’n “minnetweespraak” voer! Louis is immers my geliefde, saamleefmaat en klankbord. Hy is my biblioteek, ensiklopedie, musiekkenner, historikus, teksversorger, bronverwysing. Sy geheue verstom my daagliks.

Ons werkswyse met die digkuns is egter totaal verskillend. Ek sal byvoorbeeld nooit sommer iets vir hom wys wat ek pas geskryf het nie; ek wag eers totdat ek voel dat dit nou ’n manuskrip geword het wat ek self saamstel en afrond, met genoeg gedigte, anders mag sy opmerkings en/of kommentaar my van balans gooi. En die gedigte wat nie uit die wegspringblokke kon kom nie, word eenvoudig versaak. Eers dán, na afloop, sal ek sy kommentaar vra. Nogtans is en bly hy my eerste leser.

...........
Ek skryf maar soos altyd oor wat in my onbewuste na die bewussyn deurbreek, sigbaar word. Of dit wat ek direk ervaar, of waarneem. Assosiatief, soos ek voorheen genoem het.
............

Ek skryf maar soos altyd oor wat in my onbewuste na die bewussyn deurbreek, sigbaar word. Of dit wat ek direk ervaar, of waarneem. Assosiatief, soos ek voorheen genoem het. Soos Carl Sandburg gesê het: “Poetry is the journal of a sea animal living on land, wanting to fly in the air.” Vir my is dit byna ’n terapeutiese ritmiese vloei van gedagtes, aanvanklik met weinig vorm of struktuur. Eers later, wanneer ek die gedigte oortik op die rekenaar, kom die struktuur. Dan eers skrap, verbeter, invoeg. Afstand is broodnodig. Soms is dit ’n lekker proses omdat jy onverwags ’n nuwe laag kan in- of uitbou of byskryf. Beslis skryf ek ook meer gestroop as voorheen.

Louis se skryfgrot lyk gelukkig anders. Hy broei besonder lank op ’n vers, onthou dit dan presies so, selfs dae of weke later, en skryf dit dan eers neer! Ek reageer op impuls, en as ek te lank draal daarmee, raak dit net verlore en kan ek skaars onthou waaroor dit nou was. Waarskynlik het ek al duisende gedigte só verloor.

...........
Voordat ek soms aan die slaap raak, sal my gedagtes na ’n gedig dryf. Ek sien die reëls voor my. Dis altyd beeldend. Dis seker ’n vorm van meditasie of simbiose met taal. Die volgende dag het ek dit geheel en al vergeet as ek dit nie toe neergeskryf het nie. Ek sal hoogstens onthou dat dit iets was oor ’n berg, maan of kind, of net een beeldspraak onthou daarin, wat ook al.
.............

Voordat ek soms aan die slaap raak, sal my gedagtes na ’n gedig dryf. Ek sien die reëls voor my. Dis altyd beeldend. Dis seker ’n vorm van meditasie of simbiose met taal. Die volgende dag het ek dit geheel en al vergeet as ek dit nie toe neergeskryf het nie. Ek sal hoogstens onthou dat dit iets was oor ’n berg, maan of kind, of net een beeldspraak onthou daarin, wat ook al.

video call met lente

ek wil jou inskryf op papier
soos ’n tekening in houtskool
blywend ets as ’n geraamde hawe
vir al jou jare wat nog kom –

jou bruin dadelkrulle oor jou kop
jou kykers as blouste hemelinge
tropies onder sysagte wimpers
helder soos die onskuld van ’n skulp

jou mond glimlaggend
met vyf jaar oue asemteue
asof jy reeds alwetend is
dat my stomgestaar na jou
tog so amusant kan wees

jou ganse gesiggie straal
’n tuin waaroor niemand nog
’n skemerspoor getrap het nie
waar geen doringbos
sy wortels ingepen het nie

jou vel kaats die romerige glans
van melk in allerdunste glas

ek hou jou lyfdiep vas
ek skryf jou innig in op papier
en glo met elke reël dat

niks jou ooit in murg
en been sal splinter nie

NB: Hoe verwerk jy kritiek?

MJ: Negatief of positief? Natuurlik is negatiewe kritiek nie lekker nie, veral toe ek nog jonger was en dit pynlik was om te verwerk. Maar ek het nogtans altyd voortgekabbel op my eie pad, met eie styl en wil. Tog, as die kritiek sinvol gemotiveerd is deur ’n kenner, kan dit waardevol wees. Die maak van gedigte bly maar immer ’n leerproses. Jy neem daaruit wat vir jou sin maak, en verwerp die res.

Daar was wel altyd aanmoediging, waardering en goeie terugvoer ook. Ek het later besef daar is soveel soorte poësie op hierdie aardbol as wat daar prosa of skilderye is, en dat mense se voor- en afkeure so radikaal kan verskil. En hulle mag maar. Die subjektiewe oordeel van enige mensgemaakte kuns kan jy tog nie ontken nie. Dit speel ’n rol. As ek egter respek het vir ’n letterkundige wat na my onkundige mening ’n goeie aanvoeling of insae het vir my digwerk, sal ek enige kritiek wat verbetering teweegbring streng ter harte neem. Nogtans bly dit ’n onvoorspelbare, verrassende motivering as jy weet dat jou gedigte wel goed ontvang word. Daar is ook die besef dat ons jonger digters vandag in ’n ander leefruimte funksioneer as toe ék jonk was. Elke dekade het sy fases en ontdekkings. Nuutskeppings, eksperimentalisme. Dit is opwindend om hulle werk te lees, soos oa Odendaal, Slippers, Dreyer, Phillips, ens, al het jy jou eie gunstelinge oor die jare heen saamgesleep.

NB: Jy staan bekend as katliefhebber: Jou katte is ook bekende en geliefde figurante in jou werk. Vertel ons asseblief meer.

MJ: Ja, ek is maar bitter lief vir die katterjasies veral. Maar as kind het ek baie diertjies gehad, soos honde en katte. Budgies en hoenders. Skilpaaie, vlinders, sywurms, goggas en trapsuutjies. Plaasdiere op my oupa se plaas. Baie vakansies in wildtuine deurgebring. Huisdiere is lojaal, liefdevol. Dit kalmeer, gee soveel plesier, en dis vir my noodsaaklik om “ma” te wees vir ’n diertjie wat jou nooit sal verwerp of benadeel nie. Soms skryf ek maar ’n katgedig, as dit hom aanmeld. Hopelik nie te veel nie ...

Ons platsnoetkatgesin: Misha (onder) en Arvo (bo)

En soms skilder ek natuurlik ook ons katte en ander gediertes ...

NB: laatnageilande is die eerste bundel van jou wat by Naledi-uitgewers verskyn. Vertel ons asseblief meer van jou ervaring met hierdie uitgewershuis, ook gegewe die feit dat jy voorheen by ander uitgewers gepubliseer het.

MJ: Nini, soos jy weet het my vorige uitgewer en talle ander besighede in ons haglike ekonomiese klimaat in sakeredding gegaan. En baie van die geliefde boekwinkels moes ook helaas sluit. Ek wou laatnageilande aanvanklik weer vir hulle stuur, maar moes toe verneem dat hulle dit nie vanjaar nog sal kan uitgee nie weens al die probleme en verminderde publikasies, en dalk ook nie eens volgende jaar nie. Ek wou helaas veral nie met hierdie bundel wag nie, en dus het ek dit vir Naledi gestuur om die water daar te toets.

Dit was vir my ’n fantastiese en inspirerende ervaring om saam met die uitgewer Johan Coetzee te werk. Die terugvoer, die stiptelike en professionele beantwoording van e-posse of whatsapps, die entoesiasme en voorstelle – alles het net eenvoudig seepglad verloop en op volle toere. Ek het ontsaglik deel van die hele “boekmaakproses” gevoel. Dankbaar dat hulle ’n gunstelingkunswerk deur Jean Dreyer ook sonder teëstribbeling as omslag aanvaar het. Die vreugdevolle ontvangs van my manuskrip was voorwaar iets baie spesiaal.

Miskien is die boekmark besig om te verander. Dis ’n gesprek vir die kenners. Aanlyn bestellings het glo gewild geword. Ook om boeke by die skrywer self aan te koop. Skrywers is baie meer betrokke vandag by die bemarking van hul werk. Daar skiet ek miskien tekort, want die bene is mos nie meer so hups nie en laatnagaande buite die huis dalk nie so bevorderlik vir ’n ouer persoon nie. Nietemin, ek het net groot lof vir Naledi en die enorme groei en bydrae wat hulle toon. Dis uiters belangrik om ons digters te promoveer, hulle werk uit te gee, en bekend te stel deur middel van resensies of artikels.

NB: Wie lees jy graag? Wie is jou gunstelingdigter(s)?

MJ: Dis ’n moeilike vraag, want daar is werklik so baie en oor jare heen verander dit ook, of nuwes kom by. Ek lees egter soveel en wyd as ek kan. Nuwe digters ook. Daar is gunstelinge soos Neruda, Yehuda Amichai, Octavio Paz, Abdellatif Laâbi, Margaret Atwood, Valente, Anne Carson, NP Van Wyk Louw, Breyten Breytenbach, Antjie Krog en nog baie ander! Ek hou egter veral van bloemlesings met vertalings van spesifiek ander lande se digters, soos die Franse, Hongaarse, Russiese, Italiaanse, Sweedse en Kanadese digkunste, ensovoorts.

NB: Jou verhouding met jou moeder, Ma Didi, wat in 2016 oorlede is, het deurgewerk in jou poësie. ’n Mens dink ook aan grondwater (Protea Boekhuis, 2019) en disteltyd (Protea Boekhuis, 2021) waarin jy roerend berig gedoen het oor haar laaste jare en afsterwe. In laatnageilande sit jy hierdie gesprek voort. Vertel ons asseblief meer.

MJ: Dit was eers toe ek my ma verloor het, dat ek haar totale waarde en impak in my lewe besef het. Dis ’n verlies wat ek nog steeds verwerk. En hoe absurd is dit nie op my ouderdom, self ’n ouma, toe ek onlangs meer as twee weke erg siek was aan ’n borsinfeksie, en dit gevoel het of ek nou naby afsterwe is, dat ek letterlik op ’n stadium myself hoor sê het: Ek wil my ma hê!

Sy was sag, my beste vriendin en ondersteuner. Sy het my aanvaar soos ek is, my foute maklik oorgesien, altyd in my geglo. Ruimte gegee om te groei. Natuurlik, ek was haar enigste kind. Ons het ook ons verskille gehad; sy was “old school”, konserwatief en godsdienstig. Ek was waaghalsig, nuuskierig oor alles, dikwels net ’n avonturier. Soos my pa seker was, wat vroeg op 56 oorlede is. Nietemin, daar is steeds gesprekke met my ma in my kop. Sy voel nog absoluut lewendig in my geheue. Mettertyd het sy natuurlik al hoe weerloser geword. Ophou eet. Onttrek. Ek het haar hier by my versorg tot die einde toe. Met ons rolle ironies genoeg omgekeer omdat ek háár moes versorg soos sy my as kind versorg het.

Saam met Ma Didi op haar 90ste verjaarsdag in 2012 (foto: verskaf)

NB: Ervaar jy poësie as ’n spirituele aktiwiteit? Of dalk as ’n verbeeldingsaktiwiteit, soos in die geval van die surrealistiese digters? Wat is jou beskouing rondom digterlike vakmanskap en die gebruik van taal in jou poësie?

MJ: Nee, dis nie ’n spirituele aktiwiteit vir my nie, maar dan eerder ’n verbeeldingsaktiwiteit of binneverwerking van my omgewing, my realiteit en wisselvallige emosies.

...........
’n Anderste kyk na die lewe, ’n noodsaaklike kunsvorm vir my. Surrealisties veral, omdat ek so maklik beeldend dink, vergelykings skep om die emosie in ’n vers vas te vang. Die woord is klip om oop te kloof en te kyk wat binne is.
..............

’n Anderste kyk na die lewe, ’n noodsaaklike kunsvorm vir my. Surrealisties veral, omdat ek so maklik beeldend dink, vergelykings skep om die emosie in ’n vers vas te vang. Die woord is klip om oop te kloof en te kyk wat binne is. Dis ’n myn om in te delf en iets van waarde te vind. Dis ’n horison om na uit te reik. Dis ’n boom om te omhels.

die verlede loop leeg
                                                        (jbw)

in desember haas die jaar ten einde
soos altyd waai die wind die kapsels
van bome laatmiddag deurmekaar –

soos liewe jan en alle bejaardes
in die kort geleende jare
wéét jy die verlede loop leeg
dat elke dag in barensnood eindig
dat veerwol maranskuikens
jou werf kom deel, saam pik
en wik aan mieliepitgedagtes

want hoe ouer, hoe leër
hoe meer gestroop verledeleef
tot wildernis en verwildering toe

nog voordat die nuus tuimelend
begin rol op my sel wonder ek al
wie is nou weer weg, wie is dood –
miskien iemand wat vriende was
nou die dag nog gesien
nog in ’n winkel gesels
gesien ry op ’n fiets, waai uit ’n kar –
so loop verlede leeg asof dit slegs
visioene nog sal kaats

wat bly dan oor vir daardie dag
as ons so graag herinnering wil kaart
asof bestemming áltyd mededeelsaam is

[l’envoi]
daar’s nie meer ’n lied in dié arena nie
geen laaste dans in samehang
die rei word al hoe meer uitgedun –
die gisterklanke ontheem en leeg

Ek werk nie te veel aan ’n gedig nadat ek dit geskryf of aanmekaargesit het nie. Met die verloop van tyd sal ek wel telkens kyk en herlees, dalk weer iets sien wat verbeter kan word. Soos reeds gesê, het ek doelbewus meer gestroop begin skryf. Vakmanskap is wel vanselfsprekend, in ’n meerdere of mindere mate. Baie verse het ek feitlik niks aan verander nie. Torring jy iewers te veel, moet jy oral begin ruk en pluk om die web weer in balans te kry. Maar, ’n mens kan ’n gedig ook só dood skryf dat dit die aanvanklike magiese resonansie verloor, of nie meer sê wat jy wou nie.

Mag ek nog ’n aanhaling ter illustrasie gebruik? Dit was WH Auden wat gesê het: “The poet marries the language, and out of this marriage the poem is born.” So is dit vir my.

NB: Jy is bekend as skilder, veral van waterverfskilderye. Vertel ons asseblief meer van die simbiose: dig en skilder / skilder en dig.

MJ: Skilderwerk is een van die kunsvorms wat my nog altyd aangetrek het en waarmee ek my af en toe mee bemoei het as ek die tyd kon vind tussen voltydse werk en kinders grootmaak. Ek is eintlik spyt dat ek nie eerder ’n graad in die kunste gevolg het nie. Nadat ek op 60 afgetree het, het ek weer voltyds onder Louis se aanmoediging begin skilder en ook ’n paar uitstallings gehou.

“Stillewe met teepot”

Om in oefening te kom ná baie jare, het ek met waterverf begin, en tot my verbasing gevind dat dit ’n medium is wat my ten volle bevredig. Ek skilder stillewes, naakstudies, landskappe, portretstudies, ensovoorts. Enigiets wat my inspireer of meevoer.

Landskap en huisies

Wanneer ek skilder, skryf ek selde. Dis ’n totale ander vorm van uitdrukking, want dit is visueel, liries, en ’n ononderbroke fokus; waterverf is oombliklik. (Byna soos my gedigte gebeur!) Om waterverf te beheer is nie so maklik soos olieverf of akriel nie. Intuïsie en spontane aanwending is noodsaaklik vir waterverf omdat daar geen tyd is om iets reg te maak nadat die verf droog geword het nie. Met ’n gedig kan jy dit darem nog doen. Jy kan reëls verwyder, of herrangskik. Jy kan waterverf nie sommer uitvee nie, omdat dit onmiddellik deel word van die papier.

By een van my uitstallings saam met my dogter, Marcelle (foto: verskaf)

Louis het die proses nogal raak beskryf tydens ’n openingsrede wat hy eenkeer tydens een van my uitstallings gelewer het. Hy het die proses naamlik vergelyk met NP Van Wyk Louw se bekende gedig “Renboot”: “My boot skiet rasend oor die see, / die vrees vlieg soos ’n wit voël mee: // moet hy nie sink as hy gaan staan? / (iets donkers gryp-gryp onderaan). // My vaart is wankel ewewig / tussen swart see en hoë lig.” Hy gaan verder: “Nog ’n interessante aspek van die akwarel is die wit van die papier; soos dit die geval is met die digkuns waar die wit die gedig tipografies omraam, onderlê die papier se wit ook die akwarel.” Lees gerus sy rede hier.

"Laaste herfs"

NB: Reken jy laatnageilande is jou laaste bundel? Want almal weet jy sê dit van elke nuwe bundel, maar dan is die volgende een reeds op pad ...

MJ: Nee, seker nie. Hoe sal ek weet!? Miskien is daar oor ’n paar jaar weer ’n klompie gedigte, miskien nie. Maar nou ja, never say never. Vir my is die skeppingsproses self relevant, nie die einddoel nie. Ek lees ook selde terug in my werk. As die boek daar is, dan is dit reeds ’n toegemaakte verlede vir my. Ek vergeet daarvan. Vir ’n leser sal dit hopelik vir ’n rukkie ’n nuwe hede wees. Lees ek byvoorbeeld ’n gedig van iemand jare gelede geskryf vir die eerste keer, dan word dit mos soos ’n “in the moment”. ’n Nuutskepping.

NB: In laatnageilande gebruik jy humor en selfironisering as stylgrepe: die voorkoms van (fyn) selfspot in die bundel. Vertel ons asseblief meer.

MJ: Dit gebeur nogal, ja. Dit gee ’n ander ligter lading vir ’n soms ernstige gegewe. Humor is ook verrykend. Om te lewe, is so vol ironieë. En om met jouself te spot is noodsaaklik om te oorleef te midde van soveel chaos en anomalieë.

NB: Watter gedig(te) in laatnageilande het vir jou as digter besondere betekenis, en waarom?

MJ: Dit is werklik moeilik om uit te sonder. Ek geniet dit om verse te maak oor my huis, die digkuns, my nageslag, genderkwessies, die liefde, en natuur. Soms sosiale kwessies. Ek is geen akademikus nie en van al die teorieë weet ek ook weinig. Vir my gaan dit net daaroor om te skep, om die landskap van my en ander se emosies te verken en vas te vang, soms gestroop, direk, of met suggestie en resonansie. Soms blote bewussynstroom. Bygesê, natuurlik het die akademie ook van ons beste en grootste digters gelewer.

Maar dalk ’n laaste aanhaling ter illustrasie? William Butler Yeats het immers gesê: “Of our conflict with others we make rhetoric; of our conflict with ourselves we make poetry.” Daarmee volstaan ek.

NB: Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Marlise!

MJ: Dankie vir hierdie geleentheid!

Lees ook:

Disteltyd deur Marlise Joubert: ’n resensie

Marlise Joubert (1945–)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top